Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 75

8 Maart

Оглавление

Tel op jou kruis!

Lees Markus 8:34-37

Jesus het toe die menigte mense saam met sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, want wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou” – Mark 8:34-35


Daar is niemand wat die kruis van swaarkry in hierdie wêreld kan vryspring nie. Een of ander tyd kom daar so ’n kruis oor elkeen van ons se lewenspad. En, so sê Jesus, indien ons Hom wil volg, sal ons maar mooitjies hierdie kruis moet optel en aanhou om Hom te volg. Hierdie teks beteken nie dat ons fisiek sal sterf wanneer ons Jesus volg nie, maar wel dat ons gewillig sal wees om aan ons sélf, aan ons sondige natuur, te sterf en gewillig sal wees om alle ander dinge prys te gee sodat ons Jesus voluit kan gehoorsaam.

Swaarkry hou byna altyd die voordeel van geestelike verryking in. In die Kerkbode van 25 Februarie 2005 skryf ’n berader onder die tsoenami-slagoffers: “Te midde van al die gebeure op die eiland, leer ek dat ek eers in die krisisse van die lewe werklik vir God van naderby leer ken. Nou word sulke tye vir my die geleentheid om die Here op sy woord te neem, om te waag in die geloof.”

Wanneer jy van aangesig tot aangesig met jóú persoonlike kruis kom, vra dat die Here jou die sin en betekenis daarvan in jou eie lewe sal wys en volg Hom!

Here Jesus, ek wil my kruis optel en U volg vir die res van my lewe. Leer my asseblief die sin en betekenis van my eie stuk swaarkry.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх