Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 84

17 Maart

Оглавление

Straf lei tot bekering

Lees Jesaja 26:16-21

Here, in hulle nood het hulle hulle toevlug tot U geneem, toe U hulle met swaarkry gestraf het, het hulle U aangeroep – Jes 26:16


As jy self kinders het, weet jy teen hierdie tyd dat daar net een ding is wat werklik vir ongehoorsaamheid help en dit is die regte strafmaatreëls! Indien jy nie bereid is om jou kinders te straf wanneer hulle verkeerde dinge doen nie, is dit onwaarskynlik dat hulle ooit sal leer om gehoorsaam te wees.

In die profeet Jesaja se tyd word God se ongehoorsame volk as straf vir hul baie sonde in ballingskap weggevoer. Daar in die vreemde land begin hulle weer aan God dink. Omdat hul omstandighede so moeilik is, besluit hulle om ’n U-draai terug na God toe te maak. In hul nood neem hulle weer hul toevlug tot God, soos ons teksvers berig. Wanneer God sien dat sy strafmaatreëls hul doel bereik het, ontferm Hy Hom oor sy ongehoorsame kinders. Hy stuur vir hulle ’n troosboodskap deur die profeet Jesaja: “Bring vir Jerusalem die goeie tyding, sê vir hom sy swaarkry is verby, hy het geboet vir sy sonde, hy het van die Here die volle straf ontvang vir al sy sondes” (Jes 40:2).

Swaarkry in jou eie lewe het meermale die gevolg dat jy jou sonde laat staan en na God terugkeer. Wanneer dit gebeur, kan jy daarop staatmaak dat God, soos die pa van die verlore seun in die gelykenis, altyd reikhalsend op jou terugkeer wag, en dat Hy elke keer bereid is om jou al jou sondes te vergewe en jou as kind terug te ontvang.

Hemelse Vader, U luister elke keer na my wanneer ek U aanroep en my eie swaarkry my na U toe laat terugkeer. Dankie dat U altyd bereid is om my terug te ontvang.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх