Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 85

18 Maart

Оглавление

God rus jou toe met krag en genade

Lees Petrus 5:8-11

God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ’n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak – 1 Pet 5:10


Petrus roep die gelowiges van sy tyd op om wakker en nugter te wees omdat hul vyand, die duiwel, soos ’n brullende leeu rondloop op soek na iemand om te verslind. Hy maan hulle om standvastig te bly en met geloof terug te veg. Petrus bemoedig ook die gelowiges deur vir hulle te sê dat daar nog baie ánder gelowiges is wat in dieselfde stryd gewikkel is en troos hulle dat hul swaarkry nie meer lank sal aanhou nie. God sal hulle self, nadat hulle ’n kort rukkie gely het, weer oprig en hulle moedig, sterk en standvastig maak.

Indien jy, soos die gelowiges in Petrus se tyd, op die oomblik onder die versoekings van die duiwel steier en swaarkry aan jou lyf ervaar, mag jy maar hierdie belofte vir jouself toe-eien. Wanneer ’n mens swaar kry, voel dit soms of die swaarkry nooit sal verbygaan nie. Maar God belowe om jou hand te vat soos Hy met Petrus gedoen het toe hy op die stormsee wou sink. Met jou hand in God s’n sal geen probleme ooit vir jou te veel wees nie. Hy belowe om jou ook met sy krag en genade in krisissituasies toe te rus en jou ná die krisis weer op te rig. Vertrou Hom daarvoor!

Here Jesus, op die oomblik voel ek ook asof ek aan die sink is in die stormsee van my omstandighede – vat my hand asseblief en rus my toe met u krag en genade.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх