Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 71

4 Maart

Оглавление

Drie sugte

Lees Romeine 8:22-23

Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting. En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees ontvang het as die eerste gawe van God, ons sug ook – Rom 8:22-23


Ons lees in Romeine 8 van drie “sugte”: Die skepping sug omdat dit gebroke en verganklik is; gelowiges sug om dieselfde rede en sien uit na dié dag wanneer God se gebroke wêreld weer heel sal word.

En laastens sug die Heilige Gees sáám met die skepping en die gelowiges omdat Hy ons seerkry en swaarkry intens saam met ons voel.

Ons weet dat God aan die begin die wêreld goed en mooi gemaak het; ons weet óók dat die hemel vir ons wag. Tog het almal van ons klinkklare redes waarom óns sug: die heersende misdaad; oorloë en natuurrampe; vigs en armoede. Wanneer ons begin lysies maak, wil dit lyk asof ons heelwat meer redes het waarom ons behoort te sug as wat ons het om oor bly te wees!

Maar as die Heilige Gees werk, werk Hy deur mense. Óns maak die wêreld heel deur die dinge wat ons doen. Die “sug” waarvan Paulus hier praat, is ’n sug wat ons tot aksie moet laat oorgaan sodat ons iets sal dóén aan die gebrokenheid van die wêreld. Daar is ’n pragtige belofte in Romeine 8:23: “Hy sal ons van die verganklikheid bevry.” Ten spyte van ons huidige gesug, kan ons uitsien na die nuwe hemel en nuwe aarde waar God ons van alle verganklikheid sal bevry en ons vir altyd sal lewe.

Hemelse Vader, soms raak ek moeg van al die dinge in die wêreld wat my laat sug! Dankie vir die belofte dat U my uiteindelik van my verganklikheid sal bevry sodat ek vir altyd saam met U sal leef.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх