Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 73

6 Maart

Оглавление

Hoop met volharding

Lees Romeine 8:24-30

Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop. Wat ’n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds sien? Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding – Rom 8:24-25


Soos Jesus se liggaam aan die kruis gebreek is en met sy opstanding weer heel geword het, sal die gebroke skepping ook ééndag met Jesus se wederkoms weer heel wees. Wanneer dit baie swaar gaan, kan jy dus jou swaarkry vergelyk met die hemel wat vir jou wag en dan ervaar dat die swaarkry glad nie teen die heerlikheid opweeg nie. En dit is op hierdie hemel dat ons hoop gerig is.

“Hoop is die radarstelsel wat op sy eie ’n herlewing kan bespeur. Wanneer ons niks anders kan sien as dit wat ons verloor het nie, dan is hoop die innerlike aanduiding dat iets anders op die horison verskyn. Iets helders, iets nuuts. Iets anders as dit wat ons ooit tevore geken of moontlik verwag het,” sê Robert Crosby by geleentheid.

God vra van sy kinders om te bly hoop, ook in daardie tye wat hulle nie ’n tree vorentoe kan sien nie. Dat hulle aan sy beloftes sal vashou, al het dit nog nie waar geword nie. Daar is ook ’n verdere belofte om aan vas te hou in Romeine 8:30: “En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik.” God wil vir jóú sy radarstelsel van hoop gee sodat jy ten spyte van seerkry en swaarkry seker kan weet dat die hemel naby is.

Hemelse Vader, baie dankie dat ek weet dat ek kan hoop op die hemel wat vir my wag. Help my om met volharding te bly hoop.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх