Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 83

16 Maart

Оглавление

In die sorg van God

Lees Deuteronomium 8:1-8

“Hy het jou laat swaarkry, laat honger ly en toe met manna gevoed […] Hy het dit gedoen om jou te leer dat ’n mens nie net van brood leef nie, maar dat hy leef van elke woord wat uit die mond van God kom” – Deut 8:3


Moses roep hier die volk op tot gehoorsaamheid. Hy vertel hulle dat hulle altyd moet onthou hoe God vir hulle gesorg het toe hulle deur die woestyn geswerf het. Juis as gevolg van hul swaarkry in die woestyn het God vir hulle geleer hoe om Hom te gehoorsaam. Hy het hulle in die woestyn op ’n wonderlike manier versorg en hulle van kos en water voorsien. Nou staan hulle op die drumpel van die beloofde land en ook hier onderneem God om hulle te help en vir hulle te sorg.

In die woestyn moes die volk leer dat alles nie altyd uitwerk soos húlle beplan het nie. Omdat hulle ongehoorsaam was, duur die woestynreis veertig jaar lank. Dit kon nie vir hulle maklik wees nie, tog gebruik God hierdie stuk swaarkry ten goede in hul lewe – hulle leer sy versorgende liefde veel beter ken as wat die geval sou wees as die reis net ’n kort rukkie sou duur.

In jou eie lewe verloop dinge óók nie altyd soos jy graag sou wil hê nie, tog kan God rampe gebruik om jou meer van Hom te leer, en jou ’n gehoorsamer kind van Hom te maak. Dit is veral in negatiewe situasies dat jy God se liefde en sorg vir jou op ’n nuwe manier ervaar.

Here, dankie dat ek weereens kan besef dat U vir my sorg wanneer dit moeilik gaan, én dat die stuk swaarkry van die oomblik my leer om aan U gehoorsaam te wees.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх