Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 81

14 Maart

Оглавление

Uitklophoue

Lees 2 Korintiërs 4:1-18

In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie, op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie – 2 Kor 4:8-9


Jesus het self negatiewe emosies ervaar toe Hy op aarde was: Hy is woedend wanneer die handelaars in die tempel die huis van sy Vader as ’n handelshuis gebruik; Hy huil by sy vriend Lasarus se graf; in Getsemane is Hy so benoud dat sy sweet soos bloeddruppels word; aan die kruis wil Hy weet waarom God Hom finaal verlaat het …

God het sy eie Seun nie van negatiewe situasies gevrywaar nie en Hy doen dit ook nie met óns nie. Maar Hy belowe dat Hy self by ons sal wees wanneer die lewe sy uitklophoue uitdeel.

Paulus vertel die gemeente in Korinte hoe hyself in krisissituasies optree: “Ek kry dikwels swaar, maar ek raak nooit mismoedig nie. Ek weet nie elke dag presies wat ek moet doen nie. Tog is ek nooit radeloos nie. Ek word vervolg, maar ek weet God los my nooit alleen nie. Soms word ek onderstebo geloop, maar ek staan elke keer weer op” (2 Kor 4:8-9, Die Boodskap).

Wanneer jy in Jesus glo, sal jy ook soos Paulus aan sy lyding deel hê. Maar God sal jou nooit alleen los nie, Hy gee jou die krag om elke keer weer op te staan wanneer die lewe jou voete onder jou uitslaan. Te midde van jou swaarkry kan jy aan Hom vashou en weet dat Hy jou uiteindelik sal red.

Hemelse Vader, dankie dat ek kan weet dat, hoewel U my nie van swaarkry vrywaar nie, U my nooit alleen sal los nie, en dat ek die versekering het dat U my deur die swaarkry sal dra.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх