Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 90

23 Maart

Оглавление

God gee uitkoms

Lees Job 5:1-11

“Ellende kom nie sommerso uit die grond uit op nie, swaarkry skiet nie sommer uit die aarde uit op nie. Die mens is vir swaarkry gebore, en sy lewe is kortstondig soos ’n vonk wat opskiet” – Job 5:6-7


Swaarkry is deel van die program van die lewe wat aan ons elkeen uitgedeel word. Job is reg wanneer hy kla dat “die mens vir swaarkry gebore is”. Swaarkry wag vir ons almal, ons kan ons net sowel daarop voorberei sodat ons slaggereed sal wees wanneer dit kom. Daar is darem één troos wat ons reeds bespreek het: God los sy kinders nooit alleen in swaarkrytye nie – al gaan dit hoe moeilik, jy het die waarborg dat jy steeds vir God by jou het.

Job is bitter ontevrede oor die verloop wat sy lewe geneem het, maar sy vriend Elifas het vir hom goeie raad: “As ek jý was, sou ek my tot God wend en my saak aan Hom voorlê. Wat God doen, is groot en ondeurgrondelik, wonder op wonder,” sê hy vir Job (Job 5:7-8).

In swaarkrytye kan jy steeds Elifas se raad volg. Draai jou na God en bespreek jou probleme met Hom. Hy is steeds ’n Bewerker van wonders soos Hy dit in Job se tyd was. Hy kan (en wil) ook vir jou uitkoms bewerk, selfs in die moeilikste omstandighede. “Dit is Hy wat die vertraptes weer optel, wat uitkoms gee aan dié wat ly,” beloof Elifas die beproefde Job (Job 5:11). Vra Hom sommer nou om dit ook vir jou te doen!

Hemelse Vader, ek wil my nou na U draai en mooi vra dat U asseblief vir my uitkoms sal gee. Dankie vir die belofte dat U die vertraptes weer sal optel, en vir dié wat swaar kry uitkoms sal gee.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх