Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 92

25 Maart

Оглавление

Wanneer jy God bevraagteken

Lees Eksodus 17:1-7

Hy (Moses) het die plek Massa en Meriba genoem omdat die Israeliete daar met Moses rusie gemaak het en ook omdat hulle die geduld van die Here op die proef gestel het toe hulle gesê het: “Is die Here by ons of nie?” – Eks 17:7


Dit gaan so sleg met Israel in die woestyn dat hulle nie meer mooi weet of die Here nog by hulle is nie. Vandaar hierdie moedelose vraag wat hulle na die arme Moses slinger: Is die Here by ons of nie? Ten spyte van God se wonderdade en die manier waarop Hy telkens in hul behoeftes voorsien het, vertrou hulle Hom nog nie heeltemal nie – miskien omdat hulle nie hul omstandighede met sy verbondsbeloftes kan laat rym nie.

Die probleem met die Israeliete was dat hulle van God vergeet het omdat hulle net hul eie stuk swaarkry kon raaksien. Volgehoue swaarkry laat God se kinders vandag steeds twyfel oor sy teenwoordigheid in hul lewe. Wanneer negatiewe omstandighede jou weer God se liefde vir jou laat bevraagteken, kan jy vir seker weet dat God wel by jou is, net soos wat Hy by sy ongehoorsame volk in die woestyn was. Hy sal vir jou sorg soos wat Hy dit vir hulle gedoen het. Soos die Israeliete na die beloofde land uitgesien het, kan jy ook uitsien na die hemelse vaderland wat God aan sy kinders beloof het, waar alle aardse lyding eens en vir altyd verby sal wees. Kyk gerus wég van jou negatiewe omstandighede en kyk na God. Hy is by jou, en Hy sal jou help!

Hemelse Vader, vergewe my dat my swaarkry van die oomblik my selfs al laat wonder het of U nog by my is. Dankie vir die belofte dat U my nooit sal verlaat nie en altyd vir my sal sorg.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх