Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 89

22 Maart

Оглавление

Swaarkry as snoeiproses

Lees Johannes 15:1-8

“Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af; maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra. Julle is alreeds reg gesnoei deur die woorde wat Ek vir julle gesê het” – Joh 15:2-3


Jesus vertel hier vir sy dissipels dat Hy die ware wingerdstok is. Sy Vader is die landbouer. Net dié wingerdlote wat vrugte dra, word aan die wingerdstok gelos. Die ander word weggesny en later op ’n hoop gegooi en verbrand (Joh 15:6). Die onvrugbare lote word nie net afgesnoei nie, maar die ander vrugbare lote word rég gesnoei sodat hulle méér vrug kan dra. Dit is nie vir hierdie vrugbare lote “lekker” om gesnoei te word nie, maar die snoeiproses het ’n positiewe doel – dit word gedoen om vrug te verseker.

God se kinders moet ook swaarkry as snoeiproses deurgaan sodat hulle meer vrug vir Hom kan dra. Die doel van die vrug is om die Vader te verheerlik, sê Jesus in vers 8: “My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is.” God se snoeiwerk in ons lewens is sy manier om ons gehoorsaamheid te leer en daardie dinge wat tussen ons en Hom staan, uit ons lewe te verwyder.

Wanneer jy weer seerkry omdat God besig is om jou te snoei, weet dat Hy met hierdie snoeiproses jou eie geestelike groei wil bespoedig sodat jy méér vrug vir Hom sal dra en Hy in die proses verheerlik kan word.

Here, ek verstaan nou vir die eerste keer dat hierdie snoeiproses wat vir my so moeilik is, plaas móét vind sodat ek meer vrug kan dra en U in my lewe verheerlik kan word.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх