Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 91

24 Maart

Оглавление

Krag om uit te hou

Lees Job 6:1-13

“Het ek nog die krag om dit uit te hou? Self is ek tot niks in staat nie. Ek weet nie meer raad nie” – Job 6:11, 13


Job het aan die einde van sy kragte gekom. Hy weet nie meer raad met sy haglike situasie nie. Al wat hy kan regkry, is om op sy eie stuk swaarkry te konsentreer en dit onder woorde te bring: “Die pyle van die Almagtige deurboor my […] Verskrikkinge van God bedreig my” (Job 6:4). Dit neem ’n lang ruk voordat God in Job se situasie ingryp – Hy wil eers hê dat Job tot bekering moet kom voordat Hy sy omstandighede verander. Sodra Job van homself wegkyk en God se wonders in die natuur raaksien, ook sy vriende raaksien en vir húlle bid, verander God Job se omstandighede radikaal. Hy seën hom selfs meer as voorheen.

Soms word ’n mens so verstrik in jou eie ellende dat jy ook wonder of jy die krag het om dit uit te hou, dat jy soos Job voel dat jy tot niks in staat is nie. Kyk dan weg van jou krisis en kyk na God. Wanneer jy Hom raaksien ten spyte van jou omstandighede, sal God jou omstandighede verander. Maar eers moet jy jou eie onvermoë besef – weet dat jy self tot niks in staat is nie. Dan kan jy die teenpool ontdek: Jy is wel tot alles in staat omdat God jou krag gee. En Hy is elke keer gewillig om dit te doen.

Here, vandag voel dit vir my ook asof ek nie meer krag oor het nie. Soos Job weet ek nie meer raad met my omstandighede nie. Dankie dat ek steeds op U kan vertrou en weet dat U vir my die krag sal gee om uit te hou.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх