Читать книгу God se troos as jy swaar kry - Nina Smit - Страница 10

5

Оглавление

Nóú weet jy …

Daarna het Job vir die Here gesê:

“Nou weet ek dat U tot alles in staat is en

dat U kan uitvoer wat U besluit.”

Job 42:1-2

Toe Job die Here peper met sy waarom-vrae het sy vriend Elihu vir hom goeie raad: Luister hierna, Job, staan stil en dink na oor die wonderdade van God, raai hy hom aan. Weet jy hoe Hy … die lig deur die wolke laat breek? Weet jy hoe die wolke sweef? Dit is die wonderlike werk van Hom wie se kennis volmaak is. Ons kan by die Almagtige nie kom nie, sy krag is groot (Job 37:14-16, 23).

Daarna is dit God se beurt om Job met vrae te konfronteer en op antwoorde aan te dring: Ek sal vra, antwoord jy My, sê Hy. Waar was jy toe ek die aarde se fondamente gelê het? … Wie het die aarde afgemeet? … Wie het die see opgedam … ? Hoe loop die pad na die plek waar die lig woon? En die donkerte, waar is sy woonplek? (Job 38:3-5, 8, 19). Toe God hom hierdie vrae vra, besef Job dat hy uit sy beurt gepraat het. Dat ’n nietige mensekind nie vir God waarom-vrae kan vra oor sy eie stukkie pyn in die lewe nie.

Job se lyding bring hom in direkte konfrontasie met God. Dit laat hom God persoonlik opsoek sodat hy vir Hom vrae kan vra. Dit is ook waar van ons pyn en hartseer. Wanneer ons swaar kry, laat ons negatiewe omstandighede ons opnuut na God soek – al het ons gerieflik van Hom vergeet toe dit net goed met ons gegaan het. Maar Job se lyding maak ook dat God met Job in gesprek tree, dat Hy vir hom wys presies hoe magtig Hy werklik is.

Toe eers besef Job hoe groot God is, en hoe nietig hy self is. Toe staan hy in verwondering voor hierdie heilige, almagtige God en bely: Nou weet ek dat U tot alles in staat is en dat U kan uitvoer wat U besluit … Ek het oor dinge gepraat wat ek nie begryp het nie: u wonderdade was te groot vir my … U het mos gesê: Luister terwyl Ek praat, Ek sal vra, antwoord jy My. Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien, en nou verag ek myself, nou sit ek vol berou, in sak en as (Job 42:2-6).

Eers ná ’n seerkry-ervaring besef ’n mens werklik hoe groot God se genade in jou lewe is. Ná die egskeiding van ons dogter het ek die eerste keer besef hoeveel ánder mense voor my al deur dieselfde swaarkry moes gaan, sonder dat ek hulle raakgesien het. Ek het ná hierdie pynlike ondervinding baie meer deernis as ooit tevore met die mense om my gehad. Ná hierdie pyn in my lewe kon ek soos Job sê: Nóú weet ek … Tot nou toe was my kennis van U net hoorsê, maar die seerkry het gemaak dat my oë nie net vir U raakgesien het nie, maar ook al die ander mense wat my nodig het. Daardeur het my ore opnuut oopgegaan vir u stem en my oë vir u wonders.

Hemelse Vader,

wanneer ek kyk na alles wat U gemaak het –

die sterre en die son,

die maan en die berge en die see –

staan ek opnuut verwonderd voor u almag en majesteit.

Vergewe my dat ek soms van U vergeet

wanneer dit net goed met my gaan.

Ek besef nou dat hierdie stuk seerkry

wat ek so sukkel om te verwerk,

eintlik die bril is waardeur ek op ’n nuwe manier na U kan kyk

en U vir die eerste keer werklik kan raaksien.

Ek besef ook dat my eie pyn my leer

om u stem soveel helderder met my te hoor praat en

om die seerkry van ander mense duideliker raak te sien.

Ek besef dat dit my ook gewillig maak

om uit te reik na hulle en ’n helpende hand na hulle uit te steek.

Dankie vir die pluspunt van pyn, Here,

dankie vir u onmeetlike genade in my lewe,

vir u liefde wat my in my seerkry omvou,

vir u arms wat altyd om my is, al gaan dit hóé moeilik.

Omdat ek nie genoeg krag het om aan U vas te hou nie,

moet U my asseblief nooit laat los nie.

Amen

Jou reddingsgordel

Wanneer swaarkry verby is, kyk ons skaam na die opstandigheid wat in ons gewoed het. Dan roep ons uit: “Wie is dit wat u bedoelinge wou dwarsboom sonder dat hy die insig gehad het?” Ek het oor dinge gepraat wat ek nie begryp het nie: u wonderdade was te groot vir my, ek het dit nie verstaan nie.

Ons genadige God, begryp ons opstandigheid en bring ons by die belydenis: “Toe nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien.”

Maretha Maartens – ’n Geskenk van vertroosting

God se troos as jy swaar kry

Подняться наверх