Читать книгу God se troos as jy swaar kry - Nina Smit - Страница 6

1

Оглавление

As jou voete wil gly

Toe ek gedink het my voete gly, het u troue liefde

my regop gehou, Here. Toe ek met baie onrus in my

binneste sit, het u vertroosting my tot rus gebring.

Psalm 94:18-19

In die berge bokant die Switserse dorpie Zermatt het ek die heel eerste keer met sneeu – én die glibberigheid van ’n voetpad wat kliphard geys is – kennis gemaak. Ek was só betower deur die wit wonderwêreld om my dat ek niksvermoedend op die gladde voetpad begin aanstryk het. Die volgende oomblik het my voete onder my uitgegly en ek het soos ’n os op die spieëlgladde voetpaadjie neergeslaan.

Gelukkig het ek niks gebreek nie, maar die val was séér. Ek is nou nog seker dat my linkerarm, wat eerste die grond getref het, ten minste gekraak was. Die res van die dag was ek ekstra versigtig. Ek het gesorg dat ek binne grypafstand van Johan bly. Elke keer wanneer ek gevoel het ek gaan weer gly, het ek aan my man se stewige arm vasgeklou, en so darem daarin geslaag om nie ’n tweede val in die sneeu aan te teken nie.

Alle gelowiges ervaar soms dat die seerkry en swaarkry in die lewe as’t ware ons voete onder ons laat uitgly. Daar gebeur dinge met ons wat ons selfs laat twyfel aan God se liefde vir ons – onverklaarbare en onverstaanbare rampe wat ons nie met God se liefde vir sy kinders kan laat rym nie. Veral wanneer hierdie seerkry en swaarkry lank aanhou, is dit baie moeilik om te bly glo en steeds op God te vertrou.

Die digter van Psalm 94 het hierdie soort swaarkry geken. Uit persoonlike ervaring kon hy getuig dat God hom in die verlede in swaarkrytye getrou bygestaan het, en dat hy ook noudat hy twyfel en sy voete onder hom wil uitgly, op God se troue liefde kan staatmaak om hom regop te hou.

Wanneer swaarkry in jou eie lewe soms jou voete onder jou wil uitslaan, kan jy met vertroue, soos hierdie psalmdigter, op God se troue liefde vir jou staatmaak. Sy vertroosting in swaarkrytye maak die verskil. Hy is vir jou die sterk arm waaraan jy kan vasklou wanneer twyfel jou jou balans laat verloor. Wanneer ons baie seerkry of die wêreld om ons in duie stort, het ons as sy kinders dit meer as ooit nodig om na God toe te gaan. As ons weer sy liefde en blydskap in ons lewe wil ervaar, moet ons al ons smart, vrees, woede en verwarring voor Hom blootlê, skryf Juanita Ryan in Iemand het my nodig.

Jy kan die seerkry en swaarkry in jou eie lewe nie ignoreer nie. Dit moet jy self ervaar. Jy moet dit vierkant in die oë kyk en daardeur wérk. Gelukkig hoef jy dit nooit alleen te doen nie. In jou swaarkry is God altyd by jou. Sy troue liefde hou jou regop. Hy is die rots waaraan jy met vertroue kan vasklou. Die pyn is steeds dáár, jou voete kan nog soms onder jou uitgly – maar met God by jou het jy elke dag sy krag en ondersteuning tot jou beskikking.

Meer nog, jy kan vir seker weet dat Hy selfs jou swaarkry tot jou eie beswil kan inspan, juis omdat dit jou nader aan Hom bring. Hy is altyd daar vir jou, gereed om jou regop te hou as jou voete wil gly.

Here,

hierdie seerkry en swaarkry dreig weer eens,

soos so baiekeer in die verlede,

om my voete onder my uit te slaan

en u gesig vir my te verberg.

Ek wil nou hierdie seerkry voor U blootlê, Here –

ek kan dit nie verwerk of verstaan nie,

ek kan maar net op U bly vertrou,

omdat ek al so baiekeer in die verlede ervaar het

dat U die heel beste weet,

dat elke stuk pyn iewers in u meesterplan ’n eie plek het.

Dankie dat ek ook hier in die donker aan u hand mag vasklou –

dié hand wat keer op keer my val stuit

Dankie vir u troue liefde waarop ek kan staatmaak,

dié liefde wat my in alle omstandighede regop hou.

Dankie vir die wete dat dit juis deur seerkry is

dat ek u liefdevolle ondersteuning –

waarsonder ek nie kan leef nie –

elke dag in my lewe ervaar.

Amen

Jou reddingsgordel

A Gaelic prayer

As the rain hides the stars,

as the autumn mist hides the hills,

as the clouds veil the blue of the sky,

so the dark happenings of my lot

hide the shining of your face from me.

Yet, if I may hold your hand

in the darkness,

it is enough,

since I know that, though I may

stumble in my going

you do not fail.

The book of all comfort

God se troos as jy swaar kry

Подняться наверх