Читать книгу God se troos as jy swaar kry - Nina Smit - Страница 7

2

Оглавление

Niks hou vir altyd aan nie

“Dié dinge sal vergaan, maar U bly bestaan; soos

’n kledingstuk sal alles verslyt; soos klere sal U dit oprol;

ja, soos ’n kledingstuk sal dit vervang word. Maar

U, U bly dieselfde, en u jare het geen einde nie.”

Hebreërs 1:11-12

’n Koning het eenmaal lank, lank gelede sy wyse manne na sy paleis laat kom om vir hom ’n inskrywing vir sy seëlring uit te dink. Hierdie inskywing moes die ganse lewe in ’n paar woorde opsom. Toe antwoord een van die wyse manne: Die heel belangrikste ding in die lewe is die feit dat alles uiteindelik verbygaan. Die koning laat graveer toe op sy seëlring: This, too, shall pass.

Alle dinge gaan verby. Niks in hierdie wêreld hou vir altyd aan nie. Dit is vir ’n mens heeltemal moontlik om die grootste pyn en lyding te verduur, mits jy weet dat dit nie vir altyd sal aanhou nie.

Maretha Maartens vertel in ’n Geskenk van vertroosting dat William Gurnall geskryf het: Al is jou lewe troebel van probleme, bly dit kort. ’n Paar tree en ons is uit die reën. As dit dus nou besonder moeilik met jou gaan, hou vas aan die feit dat dié seerkry ’n eindpunt het. Jy kán dit met God se hulp verduur, juis omdat dit weer sal verbygaan. Jy het ook die versekering dat God beslis van jou swaarkry weet: En die hele tyd het U dit gesien, die lyding en verdriet. U let daarop en maak daar ’n einde aan, getuig die psalmdigter in Psalm 10:14.

In die wêreld waarin ons woon, is daar bitter min dinge wat nie voortdurend verander nie. Tog is daar één ding te midde van ’n veranderende wêreld wat volkome konstant bly – God en sy troue liefde vir ons. God bly dieselfde en sy jare het geen einde nie, sê die skrywer van die Hebreërsbrief (Heb 1:12). Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid, getuig hy. God is altyd daar vir jou. Hy dra jou dag ná dag. Daarom is dit vir jou moontlik om selfs die grootste pyn te hanteer – een dag op ’n slag.

Die manier waarop jy jou persoonlike pyn hanteer, kan ook ánder mense meer van God leer. Wanneer hulle na jou kyk en sien dat jy dit regkry om ondanks seerkry, swaarkry, siekte en pyn steeds vas op God te vertrou, sal hulle weet dat jy ánders is. Hulle sal weet dat daar iets in jou lewe is wat hulle nog nie in hul eie lewe het nie. Wanneer ons vir ander wys dat God ons ondersteun, verkondig ons ons vertroue in Hom. Hy gebruik lyding om ons te verfyn, om ons tot groter afhanklikheid van Hom te lei, en elke keer, terwyl ons so saam met Hom vorentoe stap op ons lewenspad, besef ons dat Hy vir ons sáám met die pyn sy vrede gee. Ons mag dus nooit dink dat geloof in God ons van pyn en lyding vrywaar nie. Slegs wanneer ons lyding erken en dit na God bring, kan dit deurgewerk en uitgewerk word, skryf Georgette Butcher in Stemme van geloof (vry vertaal).

Hemelse Vader,

ek weet nou dat my geloof in U

my nie van pyn en lyding vrywaar nie.

Dankie vir die versekering

dat my seerkry ’n einddatum het,

dat dit nie vir altyd kan aanhou nie,

dat ek mag weet dat U uiteindelik

vir altyd ’n einde daaraan sal maak,

dat dit op die ou end vir my sal uitloop

op dié hemelse heerlikheid wat alles sal oortref,

dié heerlikheid wat U aan u kinders belowe het.

Help my om my seerkry met U te deel

en gee vir my u vrede te midde van my pyn.

Maak dit vir my moontlik om ook wanneer ek swaar kry,

vir ander wat na my kyk te wys

dat ek steeds op U vertrou.

Vader, dankie vir u bystand in swaarkrytye.

Dankie dat U my dag ná dag en uur ná uur dra

sodat selfs die ergste swaarkry verlig word omdat ek weet:

die uitkoms is net om die draai.

Amen

Jou reddingsgordel

Here, ek stel my geheel en al in u hande.

Maak met my wat U wil!

U het my vir U geskape.

Wat wil U hê moet ek doen?

Loop u eie pad met my.

Wat dit ook al is, vreugde of pyn, ek is bereid.

Ek offer aan U hierdie wense,

hierdie genoeëns, hierdie swakhede,

hierdie planne, hierdie neigings

wat my van U af weghou

en my terugwerp op myself …

Ek wil wees waarvoor U my wil hê,

ek wil word wat U my wil maak.

Ek begeer om U te volg

en bid maar net om krag van dag tot dag.

John Henry Newman, in Jörg Zink – Pad na die gebed

God se troos as jy swaar kry

Подняться наверх