Читать книгу God se troos as jy swaar kry - Nina Smit - Страница 11

6

Оглавление

Kan God verander?

In my nood soek ek hulp by die Here; ook in

die nag bly my hande in gebed uitgestrek sonder om

moeg te word … En ek sê: “My grootste smart is dat

die Allerhoogste nie handel soos voorheen nie.”

Psalm 77:3, 11

In Psalm 77 wonder die psalmdigter of God sy rug op hom gekeer het. Hy ervaar dat God nou anders optree as in die verlede. Hoewel hy sonder ophou bid, voel dit vir hom asof God sy gebede nie verhoor nie. Snags lê hy wakker omdat hy nie kan verstaan waarom die Here hom bly verwerp nie. Hy vra vrae en vergelyk sy goeie omstandighede van die verlede met die haglike posisie waarin hy nou verkeer. Maar dan verskuif die klem. Wanneer die digter van homself af wegkyk en God se wonderdade raaksien, besef hy dat God tóg nog dieselfde God is. Dat Hy hom weer sal help soos Hy al so baiekeer in die verlede gedoen het.

Een van die ergste seerkry-ervarings in die lewe is wanneer dit só sleg met jou gaan dat jy begin twyfel of God jou nog liefhet, of Hy nog dieselfde God is wat jy voorheen met soveel vreugde aanbid het. As Hy wel nog dieselfde God is, is dit immers onverstaanbaar dat Hy jou só swaar kan laat kry. Dat die kanker wat twee jaar lank “skoon” was, weer hervat het. Dat jóú kind in ’n motorongeluk verlam is. Dat jóú seun se huweliksmaat hom verwerp. Dat jóú kleinkind gebreklik gebore word. Dit is immers ondenkbaar dat ’n God van liefde sulke dinge in die lewe van sy kinders kan toelaat … of is dit nie?

Omdat God God is, kan Hy alle lyding tot ons beswil aanwend. As long as we work through the anger and the rebellion, coming out on the other side, not with resignation, but a true acceptance, the situation can be used, skryf Georgette Butcher in Stemme van geloof.

Ook jy kan jou seerkry-ervarings positief aanwend as jy dit gebruik om jouself, ander mense én God beter te verstaan. Wanneer jy ophou om op God te skree, het jy tyd om te luister wat Hy vir jou wil sê in jou lyding. Wanneer jy ophou rebelleer teen die swaarkry, bring dit ’n verdieping in jou verhouding met God, en ook in jou verhouding met jou naaste.

As jy in die toekoms wéér wonder hoekom God verander het, weet dan met sekerheid: God kán nie verander nie. Hy bly dieselfde, nou en tot in ewigheid. Dieselfde digter wat gewonder het of God nog soos altyd optree, getuig: Ek wil dink aan die dade van die Here, ja, ek wil dink aan u wonderdade van vroeër … U is die God wat wonderdade doen; U het u mag onder die volke geopenbaar (Ps 77:12, 15).

God is steeds dieselfde God van wonders as in die psalmdigter se tyd. Vir Hom is alles moontlik (Mark 10:27). Hy kan steeds in jou slegte omstandighede wonders doen. Glo dit en vertrou Hom daarvoor. God is onveranderlik. Hy bly getrou, al wankel jou geloof en is jy ontrou. Gaan na God toe met groot vrymoedigheid met élkeen van jou waarom-vrae. Vertrou op sy beloftes. Omdat Hy jou liefhet, wil en sal Hy jou bemoedig en versterk in swaarkrytye en aan jou deur sy genade blywende troos en goeie hoop gee (2 Tess 2:17).

Here,

vandag is ek kwaad vir U en teleurgesteld in U.

Dankie dat ek nie daaroor hoef te swyg nie,

dat ek dit maar reguit vir U kan sê.

Soos die psalmdigter roep ek sonder ophou na U,

maar ek kry geen troos of antwoorde nie.

U laat my ook wakker lê, ontsteld en sprakeloos.

Ek kan regtig nie verstaan waarom U hierdie dinge

wat my so seer maak, in my lewe laat gebeur nie.

Ek kan dit ook nie laat rym met u liefde vir my nie.

Ek wil hierdie onvergenoegdheid met U erken en daardeur werk.

In my nood wil ek soos die psalmdigter by U hulp soek.

Dit voel ook vir my asof U nie meer soos voorheen is nie.

Maar, Here, ek wil tog nog aan U vashou

omdat U my altyd in die verlede gehelp het.

Gee dat hierdie seerkry-ervaring my intenser na U sal laat luister,

my net nader aan U sal bring.

Dankie vir die versekering dat U steeds dieselfde liefdevolle God

van voorheen is, al vóél dit nie nou vir my so nie.

Versterk my bitter klein geloof en help my

om al vaster op u beloftes te vertrou

en op u wonderdade van die verlede te bly fokus.

Dankie dat U steeds my Herder bly

wat my uiteindelik veilig deur die pyn en swaarkry sal lei

tot by die Vaderhuis.

Amen

Jou reddingsgordel

I pushed against the pain

the terrible sadness

the dreaded despair.

I said,

“This is no way to live.

Life is too short.

To be victorious

I will rise above the pain.”

But loss said:

“This is no way to live.

Life is too short

to pretend it doesn’t hurt.

To be victorious,

go through the pain

toward the promise.”

Susan Lenzkes – When life takes what matters

God se troos as jy swaar kry

Подняться наверх