Читать книгу God se troos as jy swaar kry - Nina Smit - Страница 8

3

Оглавление

God kán jou nie vergeet nie

Hoe lank gaan U my nog bly

vergeet, Here? Vir altyd? Hoe lank gaan

U nog van my af weg kyk?

Psalm13:2

Wanneer dit regtig baie sleg met jou gaan, voel dit soms vir jou asof God nie meer na jou gebede luister óf hulle beantwoord nie. Dan wonder jy heimlik of God dalk van jou vergeet het. Gelukkig is dit absoluut onmoontlik.

Kan ’n vrou haar eie baba vergeet … ? Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie. Ek het jou naam in my handpalms gegraveer, belowe God sy volk (Jes 49:15-16). En hierdie belofte rig God vandag steeds persoonlik aan jóú.

Ander kere dink jy dalk dat al hierdie probleme waarmee jy nou moet worstel, God se skuld is. Hoekom los Hy dan nie jou probleme vir jou op as Hy jou liefhet nie? Dan word jy, soos Job, kwaad omdat God sulke dinge met jóú laat gebeur. En jy bevraagteken God se liefde vir jou.

Aan God se liefde hoef jy egter nóóit te twyfel nie. Die Bybel verseker jou van sy ewigdurende liefde vir jou. Talle mense in die Bybel het immers ook die indruk gekry dat God ver van ’n mens is in krisistye, dat Hy doof geword het vir jou gebede.

Die digter van Psalm 28 bely sy ontreddering voor God: Ek roep na U, Here, my Rots, moet tog nie doof wees vir my nie. As U bly swyg, sal ek wees soos ’n sterwende. Hoor my smeekstem as ek na U roep om hulp, as ek my hande in gebed uitsteek na die allerheiligste deel van u tempel (Ps 28:1-2). Aan die einde van hierdie psalm (28:6-7) getuig hy egter: Aan die Here kom die lof toe, want Hy het my smeekstem gehoor. Die Here is my sterkte en my beskermer, op Hom het ek vertrou. Hy het my gehelp. Daarom is ek bly en wil ek Hom loof met my lied.

Hoewel sy volk Hom keer op keer verlaat het, het God getrou gebly aan sy ongehoorsame volk. Waarom? Omdat sy liefde vir hulle ewigdurend en standhoudend is. In Jesus het Hy ook sy liefde vir jou persoonlik bewys. Wanneer jy swaar kry, mag jy aan hierdie liefde vashou.

Daar is saadjies ín ons pyn – saadjies wat mettertyd begin groei en ’n ryk oes oplewer, skryf Jane Grayson in die boek Stemme van geloof (vry vertaal). In plaas daarvan dat ons, wanneer ons ly, tyd mors deur na redes vir die lyding te soek, behoort ons eerder te soek na die oes wat die lyding uiteindelik vir ons gaan meebring. Juis wanneer jy swaar kry, reik jy op ’n nuwe, meer intense manier na God uit, klou jy verbete aan sy genade vas, probeer jy verstaan wat Hy vir jou met hierdie swaarkry wil sê. En dit is in hierdie omstandighede dat die saadjies van geloof en vertroue in Hom ontkiem en begin groei.

God weet van jou swaarkry. Hy sien elke traan raak. Hy sal ook op sy regte tyd ’n einde daaraan maak. Vertrou Hom gerus!

Here,

vergewe my dat dit nou vir my voel

asof U koud staan teenoor my hartseer,

asof U my glad nie verstaan nie,

asof U ver van my af is,

asof U u gesig van my weggedraai het,

asof U nie meer luister wanneer ek bid nie.

Dankie vir die versekering dat U van my swaarkry weet,

dat U my nooit sal vergeet nie,

dat U elkeen van my trane raaksien,

dat u liefde vir my so sterk brand dat U nooit ver van my kán wees nie.

Ek bid dat U my nou met u liefde sal omvou,

dat U die saadjies van my hartseer een vir een sal laat ontkiem

sodat hulle uiteindelik vir my ’n ryk geestelike oes sal oplewer.

Dankie dat ek kan weet U hou my vas,

dat ek in u arms veilig is vir altyd,

al vrywaar my geloof my nie van seerkry nie.

Ek wil U loof, Here, omdat U my smeekstem gehoor het,

omdat U my gehelp het

Amen

Jou reddingsgordel

Here, ek kry op die oomblik swaar,

maar dankie dat ek weet dat U nie net ons God is

wanneer dit goed gaan met ons nie.

Dankie dat U U al oor en oor as die getroue God bewys het

wat altyd daar is, ook as ons pad deur die donker dieptes loop.

My arms is op die oomblik swak,

ek het nie krag om aan U vas te hou nie,

maar ek het U nodiger as ooit.

Hou U my vas, Here.

Ek voel soos ’n kindjie wat bang is vir die donker.

Ek het u bemoediging en u nabyheid ontsaglik nodig.

Moet my asseblief nie nou aan myself oorlaat nie,

maar bewaar my van opstandigheid en twyfelvrae.

Help my deur elke nuwe dag wat soos ’n berg voor my lê,

maar veral bid ek, Here,

dat U my sal help om selfs in hierdie moeilike omstandighede

tot u eer te lewe.

Al lyk dit op die oomblik vir my amper onwaarskynlik, Here,

bid ek ook dat u dag weer oor my lewe sal breek

en dat U weer my trane sal afdroog.

Al kan ek dit nie voorsien nie, vertrou ek U tog daarvoor!

Here, ek kan nie wág dat U weer moet kom

om die hartseer en trane vir goed uit ons wêreld

weg te neem nie.

Kom tog gou, Here Jesus!

Hannes Burger – Stemme van geloof

God se troos as jy swaar kry

Подняться наверх