Читать книгу God se troos as jy swaar kry - Nina Smit - Страница 9

4

Оглавление

Wanneer die antwoorde uitbly

“Ek roep na U om hulp, maar U antwoord my

nie. Hier staan ek, maar U steur U nie aan

my nie … Al wat vir my oorbly, is ’n treurlied

op die lier, ’n lied van trane op die fluit.”

Job 30:20, 31

Job wil dringend antwoorde van God hê. Hy kan net nie verstaan hoe ’n regverdige God hom so onverdiend kan straf nie. Hy het alles in die wêreld verloor – sy besittings, sy kinders en sy gesondheid. Maar tog hou Job steeds aan Gód vas. Hy vertel vir God van sy hartseer en hy soek na God se antwoorde op sy waarom-vrae.

Oënskynlik steur God Hom nie aan Job se jeremiades nie. Job ervaar persoonlik dat God nie na hom luister nie. En dit maak hom geweldig hartseer. Toe sy vriende probeer om vir hom kitsantwoorde te gee, raak Job net al meer verward.

Eers toe God vir Job aan die hand vat, hom op ’n wandeling deur sy skepping neem en ’n kykie in sy heerlikheid gee, besef Job dat God hom nie ’n antwoord skuld nie. God is almagtig en heerlik. Alles onder die hemel behoort aan Hom. Wie kan van Hom rekenskap eis oor sy dade? Wie kan sê: “U het verkeerd gedoen”? vra sy vriend Elihu (Job 36:23). Toe besef Job dat hy eintlik vermetel was om God te bevraagteken en buig hy in sak en as voor sy Skepper.

Dawid het ook eenkeer by God gaan aanklop vir antwoorde. Antwoord my tog gou, Here, ek is heeltemal gedaan. Moet tog nie van my af wegkyk dat ek word soos dié wat sterwe nie, bid hy in Psalm 143:7.

Miskien is jy ook op soek na antwoorde op jou persoonlike waarom-vrae. Jy wil graag weet waarom daar so baie onverklaarbare rampe in jou lewe gebeur. Dit voel vir jou, soos vir Job en Dawid van ouds, asof God nie na jou luister nie, asof Hy jou waarom-vrae nie hoor nie. Vir jou het dit dan juis nou tyd geword om stil te wees en God van nuuts af te vertrou.

If we insist on pursuing the question “Why?” we shall only increase our sense of frustration and perhaps bitterness. We only add to our injury and block the way for God’s love to reach us, skryf David Watson in Rivers in the desert.

God géé nie altyd antwoorde op ons waarom-vrae nie. Eugenia Price het ’n boek geskryf met die titel No pat answers. Daar bestaan eenvoudig nie gerieflike antwoorde op al die vrae wat ons na God se kant toe slinger nie. Ons wéét nie waarom twee onskuldige Christenmeisies in hul woonstel verkrag word nie. Ons weet nie waarom boere op hul plase vermoor word nie. Ons weet nie waarom mense hul werk verloor nie. Ons weet nie waarom kinders in motorongelukke vermink word nie.

Vir jou waarom-vrae is daar ook nie kitsklaar-antwoorde nie. Maar as jy bereid is om by God stil te word, om al meer tyd by Hom deur te bring, sal jy mettertyd besef dat God die enigste antwoord is. Alles wat met jou gebeur, is deel van sy plan met jou lewe – óók jou pyn en swaarkry. God wil jou deur hierdie pyn begelei tot ’n nuwe ontdekking van sy majesteit en almag, soos Hy vir Job gedoen het. Hy wil jou laat getuig soos Dawid later in Psalm 143:8 getuig: Laat my elke môre u liefde ondervind, want in U stel ek my vertroue. Wys my die pad wat ek moet loop, want my hoop is op U gevestig.

Wanneer jy weer in ’n krisis beland, hou net aan hierdie belofte vas.

Hemelse Vader,

vergewe my dat ek U so bly peper

met my baie waarom-vrae,

dat ek, soos Job en Dawid,

kitsantwoorde van U wil hê.

Leer my opnuut dat U almagtig is,

dat U my nie ’n antwoord skuld nie,

dat ek juis met hierdie vrae u liefde blokkeer

sodat dit nie by my kan uitkom nie.

Dankie vir die versekering dat dié dinge waaroor ek so baie vrae het

onlosmaaklik deel van u plan vir my lewe is

en dat dit my uiteindelik wil lei tot ’n vars, nuwe ontdekking

van u mag en majesteit.

Vader, ek wil nou al hierdie vrae los

en net op U bly fokus –

U wat volmaakte liefde is.

Laat my elke môre opnuut bewus word van u liefde.

Wys my die pad wat ek moet loop,

want my hoop is op U gevestig.

Dankie dat ek nie meer vrae het

wanneer ek op U konsentreer nie

omdat ek weet dat U self die antwoord is.

Amen

Jou reddingsgordel

I lay my “whys” before your cross,

in worship kneeling,

my mind too dumb for thought,

my heart beyond all feeling:

And worshipping realise that I

in knowing You –

don’t need a why

Ruth Bell Graham – Rivers in the desert

God se troos as jy swaar kry

Подняться наверх