Читать книгу Swartskaap - Odette Schoeman - Страница 10

Hoofstuk 5

Оглавление

In three words I can sum up everything I’ve learned about life: It goes on.

ROBERT FROST

Ek het my eerste skooljaar sommer onverwags ’n week ná Sammy se geboorte begin. My ma en Paul het my met ’n gehuurde motor koshuis toe geneem in die helfte van my vyfde jaar. Ek dink dit was vir haar moeilik om te cope ná Sammy se geboorte, en nog moeiliker met my in die omtrek.

Ek was in elk geval baie opgewonde om na Theuns-hulle se skool te gaan. Uiteindelik! Ek het vir jare daarna uitgesien. Ek was te opgewonde om hartseer te wees oor ek my ma nie weer voor die Junievakansie sou sien nie. En ek was baie bly om van Paul af weg te kom.

Lagerspoort was ’n klein plaasskooltjie in die middel van nêrens in die Oos-Transvaal. Ons was omring deur die mooiste berge, en waar jy ook al gekyk het, het jy mielie- en sonneblomlande gesien.

Aan die begin was die koshuis alles wat ek gedink het dit sou wees, en meer. Ek het ’n kamer gedeel met vier ander meisies, wat vir my wonderlik was. Elke kamer het ’n ouer kamerhoof gehad, en my kamerhoof was Bennie se meisie, Lorraine. Sy moes in die oggende my hare vasmaak, en kyk dat ons ons beddens ordentlik opmaak, ons ore was en ons tande borsel.

Die koshuis het nege kamers aan weerskante van ’n langerige gang gehad, met vyf meisies in elke kamer. Op die punt van die gang was die tiende deur, wat gelei het na die toesigjuffrou se woonstel – verbode terrein vir ons. Die skool se juffrouens het om die week beurte gemaak om aan diens te wees en in die woonstel te kom woon.

In die middel van die gang was ’n groot klok bo teen die muur. Dit het met ’n skril geluid elke aktiwiteit of verpligting aangekondig. Die klok het vyf keer elke oggend gelui: opstaan- en aantrektyd, bedopmaak- en kasteregpaktyd, inspeksietyd, ontbyt, tandeborsel- en skooltoegaantyd. Saans het hy drie keer gelui: badtyd, Bybeltyd en slaaptyd.

Ons het op staalbeddens geslaap tussen twee vuilwit lakens met stekelrige komberse, grys dekens en gelerige kussings. Die vloer was met grys novilonteëls geteël, die mure spierwit geverf en daar was heldergeel gordyne voor die vensters. Ons het ons klere in grys staalkaste gepak en ons skoolskoene self Maandagoggende met shoeshine gepoleer.

Ons het net op Maandae skoolskoene gedra, want dan moes ons buite die skoolsaal op aandag staan terwyl die hoofmeisie en hoofseun die oranje-blanje-blou vlag hys. Geen kind sou toegelaat word om kaalvoet te wees terwyl die vlag gehys word nie. Die res van die week het ons kaalvoet skool toe gegaan – dit was gemakliker én lekkerder.

Die mees gesogte koshuiskamers het ’n uitsig op die parkie, die seunskoshuis of die skool gehad. Die ander kamers het uitgekyk na die agterkant van die koshuis en het geen son gekry nie. Al wat hulle kon sien, was wasgoeddrade en mielielande. Ek was in een van die beste kamers, met ’n uitsig op die skool, sonneblomlande én netbalbane. As ek my kop deur die diefwering gesteek en my nek gerek het om skerp links te kyk, kon ek die parkie ook sien – of in elk geval ’n gedeelte daarvan.

Die koshuise, skool en eetsaal was van rooibakstene en al die dakke was van maroengeverfde sinkplate. In die somer was dit mooi: ongelooflik groen en geel en pers en blou van die jakarandabome se blommetjies en die sonneblomlande. Onder by die tennisbane was daisies in al die kleure van die reënboog. Dit het baie gereën in die somer en die reën se geluid op die sinkdak was oorverdowend. Dit was vir my ’n lekker-voel-geluid. Gerusstellend.

In die winter was dit vaal, lelik en stowwerig. Dan het die wind snags met hoe-hoe-geluide om die koshuis se hoeke gehuil. Dit was vir my ’n hartseer geluid. Haunting.

Ek het my heel eerste oggend op Lagerspoort wakker geword met die skerp reuk en taaiheid van tandepasta in my hare lank voor die opstaanklok gelui het. Ontgroening, het die ander kinders verduidelik en vir my gelag. Elke nuwe kind in die koshuis gaan daardeur.

Ek was die jongste in die koshuis, en ook die jongste in my graadeenklas. Die meeste van my klasmaats was reeds sewe jaar oud, of sou nog in dieselfde jaar sewe word. En omdat ek die jongste was, was ek ook die domste.

“Claudie, wanneer verjaar jy?” het my juffrou op my eerste skooldag vriendelik gevra. Sy het van my gehou en ek het van haar ook gehou. Sy was mollig, met ’n goedige, ronde gesig, groen oë en kort, rooi hare. Juffrou Van Zyl.

“Ek weet nie, juffrou,” het ek skaam geantwoord.

“Hardloop gou na Bennie se klas toe en gaan vra vir hom.”

Bennie was toe in standerd vyf en hoofseun van die koshuis én die skool. Ek was trots om sy sussie te wees, want dit het jou nogal status gegee om familie van die hoofseun te wees. Ná skool het die gatkruipers opgeline gestaan om die eer te hê om Bennie se tas vir hom te dra.

Die skool was in twee groepe verdeel: koshuiskinders en huiskinders – die kinders van die ryk boere in die omtrek wat uit die huis skoolgegaan het. Die koshuiskinders het van oral in die land gekom en is meestal deur die Welsyn daar geplaas. Vir ’n koshuiskind om die skool se hoofseun te word pleks van ’n huiskind, was ’n helse prestasie. Elke koshuiskind het dit as sy of haar persoonlike oorwinning oor die huiskinders gesien.

Dit was maklik om die koshuiskinders van die huiskinders te onderskei: koshuiskinders het altyd harder by almal gatgekruip as die huiskinders. Huiskinders het nuwe, donkergroen skooldrag gedra; koshuiskinders het verbleikte, uitgewaste, tweedehandse groenes gedra – meestal die huiskinders se hand-me-downs.

Huiskinders het pouses in rye by die snoepie gestaan; koshuiskinders het in rye die paadjie afgehardloop na die koshuis se eetsaal, waar die koshuismoeder met ’n skinkbord vol peanutbotterbroodjies gestaan en wag het. Ons koshuismoeder se naam was tannie Marie. Sy was fris, oud en moederlik.

Bennie en Alfie was die gewildes op skool, selfs tussen die huiskinders. Ek en Theuns was maar altyd van die stil, eenkant, minder gewilde soort. Ons vier het ’n stille ooreenkoms gehad: As julle nie vir iemand vertel ons pa is ’n tronkvoël nie, sal ons nie vir iemand vertel julle pa is ’n suiplap nie.

Wanneer verjaar ek? So vinnig soos my bene my kon dra, het ek oor die grasperk na Bennie se klas gehol.

“88 Asjas,” het hy met ’n ernstige gesig geantwoord, terwyl die ander kinders onderlangs geproes het. Ek het my nie aan hulle gesteur nie en teruggehardloop na my eie klas.

“Ek verjaar op 88 Asjas, juffrou!” het ek trots en uitasem gesê.

Die ander kinders het gelag en juffrou Van Zyl het geamuseerd gelyk. Ek kon nie verstaan wat so snaaks was nie, tot sy vir my verduidelik het daar bestaan nie so ’n dag nie. Ek was die moer in vir Bennie oor hy my naam so gat gemaak het. En die moer in vir myself oor ek nie soos die ander kinders geweet het wanneer ek verjaar nie. Juffrou Van Zyl het my teruggestuur na Bennie se klas om die regte datum te kry.

Hulle was dié keer sonder toesig. Toe ek by die klas instap, het die kinders openlik gegiggel en ek het hierdie keer geweet hoekom. Ek het bloedrooi gebloos en vir Bennie die vuilste kyk gegee wat ek met waardigheid kon bemeester.

“My juffrou sê jy moet ophou probeer snaaks wees!”

“Jy verjaar op 15 September! Jy’s lekker onnosel, huh?” het Bennie gelag.

“En jy’s ’n poes, man!” het ek bitsig teruggekap.

Die reaksie op my woorde het nog ’n kenmerkende verskil tussen koshuis- en huiskinders uitgelig. Die huiskinders het na hulle asem gesnak en geskok gelyk; hulle monde het oopgehang in totale stilte. Die koshuiskinders se lywe was behoorlik dubbel gevou van die lag. Ek het meer van die koshuiskinders gehou. Soort soek soort.

Ek was skaars ’n week in die skool toe meneer De Jager, die prinsipaal, vir my, Bennie en Lorraine na sy kantoor ontbied. Ek was die eintlike sondaar, maar Bennie en Lorraine was in die moeilikheid – Bennie oor hy my oudste boetie was, en Lorraine oor sy my kamerhoof was. Volgens meneer De Jager het hulle nie hulle werk behoorlik gedoen nie: my lang blonde hare was vuil en gekoek en my skoolrok was besmeer met modder en kos. Terwyl meneer De Jager hulle uitgetrap het, het hy met oordrewe gebare die kos van my vaalgroen skoolrok se kraag afgekrap: vanoggend se oatspap, gisteroggend se scrambled eiers, en so aan.

“Dink julle dat, tussen die twéé van julle, julle dit sal kan regkry om te kyk dat sy in die vervolg skóón en met gekámde hare skool toe kom?” Meneer De Jager se stem was swaar van die sarkasme en ek het ineengekrimp van verleentheid.

“Ja, meneer,” het Bennie en Lorraine soos een man geantwoord.

“Julle seker? Dis nie te ver gevorderd vir julle nie?”

“Ja, meneer. Nee, meneer.” Weer soos een man.

“Nou toe!” het hy ons uit sy kantoor gejaag.

Daarmee was die oordeel oor my uitgespreek. Lorraine het my elke aand ná badtyd bekyk asof ek ’n insek onder ’n vergrootglas was. Sy het my ’n paar keer teruggestuur. “Gaan was jou nek! Gaan skrop jou voete! Was onder jou naels! Was jou ore!”

Soggens het sy my kop geruk en gepluk om my hare in ’n netjiese poniestert te kry.

“Eina!” het ek gekerm.

“Staan stil, man! En hou jou blerrie bek!” het sy gesis en my kop ’n ekstra harde pluk gegee.

Met die eerste geleentheid wat ek gekry het, het ek ’n skêr gevat en my lang hare kort afgeknip. Dit was vol happe, maar tannie Marie het dit agterna so reguit moontlik gesny.

Toe Theuns-hulle my kort hare sien, het hulle die wysvinger op en af geswaai om te beduie hoe my ma my gaan slaan as ek die vakansie met kort hare by die huis kom. Sy was baie erger oor my hare as ek. Maar dit was nog lank voor die vakansie, so ek was nie bekommerd nie.

My graadeenmaatjies was Carla du Bruyn en Pieter Bokdrol – ons kon nie sy snaakse van uitspreek nie en het hom Bokdrol gedoop. Carla het lang bruin hare en bruin oë gehad, en sy was ’n huiskind. Pieter was ’n koshuiskind nes ek en sy gesig was vol sproete.

Carla was presies die teenoorgestelde van my; sy was alles wat ek nie was nie. Sy het ook alles gehad wat ek nie gehad het nie. Sy het fancy klere gedra, haar ouers was die rykste boere in die omgewing en haar pa het in die skoolraad gedien. Sy wou met poppe speel; ek het meer belanggestel in karretjies. Sy wou nie op die parkie se swaai ry nie; ek wou kyk hoe hoog ek kon swaai. Sy het gegril vir modder en paddas; ek het modderkoekies gebak en paddas as troeteldiere gesien. Sy was verskriklik netjies en fyn; ek was ’n regte rabbedoe. En sy het sekerlik nog nooit die woord “poes” gehoor nie.

Sy was die ouer, slim een en ek was die dommerige een. Maar ons het goed genoeg oor die weg gekom om pouses saam te speel.

Party naweke het sy my na hulle huis genooi en dit was ’n fees. Hulle het in ’n groot huis met ’n groot swembad gewoon en het baie Walt Disney-video’s gehad. Ek het gedink sy bly in die hemel. Vir die eerste keer het ek gesien hoe lyk ’n normale gesin, met ’n normale ma en ’n teenwoordige pa. Dit was vir my baie vreemd.

Pouses by die skool het ek met Carla gespeel, en die res van die middag saam met Bokdrol by die koshuis. Hy het van alles gehou waarvan ek ook gehou het: modder, paddas, krieke, sprinkane en swaai. Verkieslik so hoog en so rof as moontlik. Ons het bendehuisies gebou, verkleurmannetjies gevang en akkedisse gejag. Ek het hom geleer hoe om sandleeus te vang deur hulle gaatjies liggies te blaas, en hy het my geleer hoe om balbytermiere uit hulle neste te lok met ’n stukkie gras.

Juffrou Van Zyl het baie moeite gedoen om my te leer lees en skryf. In die klas het ek meer aandag gekry as die ander kinders, en ná skool het sy my ’n uur of wat langer agtergehou. Party naweke het sy my na haar huis op ’n plaas in die distrik geneem en my vreeslik bederf met nuwe klere en speelgoed. Haar man is glo jonk oorlede en sy het nie kinders van haar eie gehad of weer getrou nie.

“Haar man het selfmoord gepleeg,” het die kinders onder mekaar geskinder. “Hy het homself in hulle badkamer opgehang.”

Toe ek eers die basics van lees geleer het, was ek onkeerbaar. Ek het alles gelees waarop ek my hande kon lê. Ek het begin met die Padda-sit-op-die-wal-en-dis-al-boeke, later Baas en Mossie, en toe vinnig oorgeslaan na moeiliker boeke soos Liewe Heksie. Soms het juffrou Van Zyl vir my voorgelees, ander kere moes ek vir haar voorlees. Sy het lekker gelag as ek van die woorde verkeerd uitgespreek het. Ek het nie kwaad geword as sy vir my gelag het nie. Haar lag was anders – aansteeklik.

As ek naweke by haar gekuier het, het ons tot laat Monopoly gespeel, musiek geluister en Rice Krispies met gekookte kondensmelk geëet. Juffrou Van Zyl se gunstelingsanger was Gé Korsten. Elke keer as ’n liedjie van hom gespeel het, het haar hande stil geraak en haar oë het ’n veraf, afwesige uitdrukking gekry.

Dan het ek gewonder of sy na haar man verlang, soos ek na my ma verlang het saans as die klok lui vir slaaptyd. Ek het gewonder of my ma okay is. Of sy en Paul nog so baie baklei. Of sy darem sigarette het om te rook. Ek het aan my pa ook probeer dink, maar hy het so onwerklik gevoel dat dit moeilik was. En soms het ek aan Sammy gedink.

“Kan jy ’n geheim hou?” het ek een middag ná skool vir Theuns gevra terwyl ons onder die palmbome voor die koshuis gelê het. Dit was al winter, maar die sonnetjie was lekker warm. Ek het my verwonder aan die oranje dadels hoog bo in die palmboom. Ek wou dit graag proe, maar dit was te hoog om by te kom.

Een ding van die koshuis wat ek vinnig gewoond moes raak, was dat jy omtrent altyd honger was. Aan die begin het ek my neus opgetrek vir die koshuiskos, maar nou het ek nes die ander kinders met ’n spoed eetsaal toe laat vat as die klok vir etenstyd lui. Nes hulle het ek angstig gewag vir die “Amen” sodat ek ook kon gryp na die kos in die middel van die tafel. My ma sou haar doodgeskaam het vir ons, maar my ma was nie daar nie.

“Sure.” Theuns het nie baie belangstellend geklink nie.

Ek het na sy vinger gekyk wat in ’n wit verband toegedraai was. Hy het die vorige dag by die snoepie probeer inbreek. Hy het die swaar staaldeur bo die toonbank oopgeforseer en sy hand deur die opening gedruk om ’n ysie te vat. Die deur het gegly en sy vinger het in die slag gebly. Hy was nie in die moeilikheid nie; almal het gedink dis ’n groot grap.

“Belowe eers jy sal nie vir Ma sê ek het jou gesê nie. En belowe jy sal ook nie vir Bennie of Alfie sê nie,” het ek hom maak belowe, al het ek hom vertrou.

“Belowe my poephol is vol rowe.” Theuns het vir sy eie grappie gelag.

“Nee, man! Sê eers belowe, of ek gaan jou nie vertel nie,” het ek my vererg en regop gesit.

“Okay, ek belowe.”

“Pinkie sweer,” het ek dit nog meer dramaties gemaak en my pinkie na hom uitgehou.

Hy het sy pinkie by myne ingehaak en plegtig gesê: “Pinkie sweer.”

“Ma het ’n dogtertjiebaba gekry terwyl julle in die koshuis was en haar naam is Sammy.”

“Jy lieg!” Theuns het nou ook regop gesit.

“Ek sweer! Die baba was in Ma se maag!”

“Waar’s die baba nou?”

“Ma het haar vir ander mense gegee.”

“Jy lieg!” het hy weer ongelowig gesê.

“Ek sweer! Ek het haar self gesien die dag toe Ma uit die hospitaal kom.”

“Is dit Ma en Paul s’n?”

“Ja. Die tannie het gesê haar naam is Sammy.”

“Wow!”

Theuns het deur sy tande gefluit en met sy hand deur sy hare gevryf. Sy hare was donkerder as myne, ligbruin. En dit het altyd deurmekaar gelyk. My ma het gesê dit lyk of ’n koei hom oor die voorkop gelek het, want sy kroontjie het gemaak dat sy kuif altyd regop staan. Hy het dieselfde ligbruin oë as my pa gehad. Dit het my aan sjokolade laat dink.

Theuns het weer plat op die gras gaan lê. “Het Ma vir jou gesê jy mag nie vir ons sê nie?”

“Nee, maar asseblief, moenie vir haar sê ek het jou gesê nie. Sy gaan kwaad wees vir my. Asseblief, Theuns, jy het belowe!” het ek paniekerig gesê.

Al het my ma nie gesê ek mag nie vir hulle vertel nie, het ek geweet sy wou nie hê hulle moet weet nie, anders sou sy hulle gesê het. En ek het lojaal gevoel teenoor haar. Dit het gevoel soos óns twee se geheim, nie net hare nie.

“Relax, ek sal nie vir haar sê nie. Was haar maag groot gewees?” wou Theuns nuuskierig weet.

“Ja, jislaaik, báie groot.”

“Wie was die mense vir wie sy die baba gegee het? Ken jy hulle?”

“Nee, ek het hulle nog nooit gesien nie. Behalwe die dag toe Ma Sammy vir hulle gegee het.”

“En sy sê ons niks. Wow!” Hy het weer deur sy tande gefluit.

Ons het nooit weer daaroor gepraat nie.

Swartskaap

Подняться наверх