Читать книгу Swartskaap - Odette Schoeman - Страница 7

Hoofstuk 2

Оглавление

The child is grown, the dream is gone. I have become comfortably numb.

PINK FLOYD

Dit het so geleidelik by my ingesink dat my pa weg is dat ek met sekerheid kan sê dit was nie ’n skok nie. Miskien het my ma aanvanklik vir my gelieg daaroor, of miskien het my brein die ergste skok van die nuus as ’n tipe beskermingsmeganisme uitgeblok, want ek kan dit glad nie onthou nie.

“Ek gaan vir jou pa skryf hoe stout is jy,” het sy gereeld gedreig.

“Waar is my pa?” het ek gevra.

“In die tronk.”

“Wat is ’n tronk, Ma?” wou ek agterdogtig weet.

“Dis soos ’n koshuis. Net vir grootmense.”

“Hoekom kom hy dan nie ook vakansies huis toe nie?”

“Want hy werk.”

“Kan ek ook tronk toe gaan?”

Theuns-hulle was reeds daar, en ek kon nie wag om te gaan nie. As hulle vakansies huis toe kom, kon ek vir ure na hulle koshuispraatjies luister. Alfie het daardie jaar met graad twee begin en hy kon nie uitgepraat raak oor die koshuis nie. Dit het vir my na die lekkerste ding op aarde geklink.

“Oor twee jaar,” het my ma gesê. “Wanneer jy groot genoeg is.”

“Hoekom is Alfie al in die skool?”

“Want Alfie is al sewe jaar oud,” het my ma ongeduldig geantwoord.

“Hou oud is Bennie en Theuns?”

“Bennie is twaalf en Theuns is amper tien.”

“Hoekom is ek dan nou eers vier jaar oud?” wou ek ontevrede weet.

“Want jy is eers vier jaar terug gebore!”

“Wanneer kom my pa weer huis toe?”

“Wanneer die perde horings kry.”

“Wanneer kry die perde horings, Ma?”

“Eendag op ’n reëndag,” het sy geantwoord, baie duidelik gatvol vir my.

“Kan ek ook vir my pa skryf?”

En so het ek aangehou.

’n Paar dae later: “Dit reën, Ma! Gaan die perde vandag horings kry? Gaan my pa vandag huis toe kom?”

“Ek’t gesê ééndag op ’n reëndag. Dis nie te sê omdat dit vandág ’n reëndag is, is dit eendag nie.”

My ma se logika het my heeltemal ontwapen.

“Wanneer kom eendag, Ma?” wou ek moedeloos weet.

“Op ’n ander reëndag.”

Elke keer nog ’n doodloopstraat. My pa was my hele lewe lank vir my ’n doodloopstraat. Hy is dit nou nog. En Alzheimers het seker gemaak dat hy dit altyd sal wees.

As my ma maar net van die begin af gesê het my pa gaan eers huis toe kom wanneer ek tien jaar oud is, sou sy my baie teleurstelling, frustrasie en geheime trane gespaar het. My ma het dit gehaat as ek huil. Ek weet nie of sy gedink het ek is onnosel nie, maar ek sou verstaan het as sy gesê het eers wanneer ek tien jaar oud is.

In die eerste helfte van my vyfde jaar het ek en my ma in vrede saamgeleef. Ons het in ’n drievertrekwoonstel bokant ’n drankwinkel in Boksburg gewoon. Agter ons woonstel was ’n karwassery en die Boksburgmeer was voor ons.

My ma het by die poskantoor gewerk, en Siena van der Westhuizen, ’n bruin vrou, het my opgepas. My ma het gesê sy is ’n oorlamse kleurling, maar Siena het nie daarvan gehou as jy haar ’n kleurling noem nie. Sy het gesê sy is ’n coloured en was baie trots daarop.

Siena kon soos ’n maer vark skree, soos ’n vis suip en soos ’n matroos vloek. Dáár was nou vir jou ’n regte, egte dokkemeid. Maar vir my was sy net Siena vir wie ek baie lief was. Siena wat vir my stories vertel het terwyl sy my gebad het. Siena wat my ure lank op haar rug geabba het terwyl sy skoonmaak of wasgoed op die draad hang. Siena wat my geconvince het dat as ek nie my kos eet nie, gaan my maag uitval die volgende keer as ek toilet toe gaan.

Siena het my altyd saam met haar afgevat drankwinkel toe as sy skelm vir haar drank gaan koop het. Eenkeer het ’n man met ’n bokbaard my amper onderstebo geloop in sy haastigheid om eerste by die drank uit te kom. Siena moes na my gryp om te keer dat ek val. Sy het die man aangegluur, maar niks gesê nie.

Eers toe ons agter die man in die ry staan om te betaal, het sy my hand styf vasgevat en vir die man gefluister-roep: “Hey djy! Djy met die baardjie! Djy’s ’n póés!”

Die man het vlugtig omgekyk en toe dadelik weggekyk. Seker bang gewees vir public humiliation.

“Wat is ’n poes, Siena?” het ek op pad terug woonstel toe gevra, sy met die bottel drank in bruinpapier toegedraai stewig onder haar arm ingedruk.

“ ’n Hus met lang ore,” het sy geantwoord asof sy by my ma geleer het.

“Hoekom is jy oorlams, Siena?”

“Oorlat die Djirre vir my ’n paar ekstra pitte tussen my se ore gegee het.”

As my ma die dag nie gewerk het nie, het ons twee afgeloop na die Boksburgmeer, rummy of solitaire gespeel, of sy het Danielle Steel-boeke gelees. Sy het gesê sy het my na ’n Danielle Steel-heldin vernoem.

My ma het baie Coke gedrink en baie John Player Special-sigarette gerook. En ek het haar verpes met eindelose vrae.

“Vir wie is Ma die liefste? Vir my, of vir Theuns, of vir Alfie, of vir Bennie?”

“Jy kan mos nie dit vra nie, Claudie. Ek’s ewe lief vir al my kinders,” het sy gelieg.

“Ek’s die liefste vir Theuns,” het ek die waarheid gepraat.

Ek het toe al aangevoel dat sy liewer vir Bennie en Alfie as vir my en Theuns was. Sy het ons kinders in twee groepe verdeel: haar Diago-kinders en haar Thompson-kinders. Sy het net “Diago” mooier gesê as “Thompson” – dié het sy altyd so half uit haar mond gespoeg, asof dit haar tong gebrand het. Hoe ook al, ek was in Theuns se groep, daarom was ek die liefste vir hom.

My ma was vir my mooi. Sy het nooit haar kop by ons woonstel uitgesteek sonder grimering nie. Selfs as ons Sondagmiddae langs die meer gaan stap het, het sy grimering aangesit en hoëhakskoene gedra. Elke Sondagoggend het sy haar gesig oor die wasbak in ons badkamer gestoom, haar naels tydsaam geverf en haar hakke met ’n growwe klip geskuur.

Rye en rye botteltjies gekleurde naellak het in ons yskas gestaan. Soms het sy my toegelaat om die kleur van die week vir haar te kies. Sy wou nooit hê dat ek my naels ook verf nie, al het ek haar baie mooi gevra. Dan het sy met ’n hoë stemtoon gesê háár dogter is nie vroeg ryp, vroeg vrot nie. Wanneer my ma se stem so hoog geraak het, het ek geweet ek moet ligloop.

Dit was ons ritueel om Sondae met ’n ou brood af te loop meer toe. Ons het langs die water geloop en hande vol krummels vir die eende gegooi.

“Wat is ’n poes, Ma?” het ek my vraag aan Siena herhaal.

Ek kon uit die hoek van my oog sien hoe ruk haar kop met die blonde krulle in my rigting. Ek het stil gaan staan om na haar te kyk.

“Haai, Claudie, dis ’n lelike woord! Waar hoor jy dit?” het sy geskok gevra.

“By die hus met die lang ore.” Versigtig om Siena nie in die moeilikheid te bring nie, het ek my ma onwetend van haar eie medisyne gegee. Sy het haar eers bloedig vererg en toe gelag. Ek het saamgelag.

“Hoe oud is Ma?”

“So oud soos die berge.”

“Hoe oud is dit?”

“Dertig.”

“Sjoe, dis oud!”

Saans as ons in die bed gelê het, het sy my rympies geleer. Siembamba, Mamma se kindjie, Siembamba, Mamma se kindjie. Draai sy nek om, gooi hom in die sloot, trap op sy kop dan is hy dood.

My gunsteling was: Baa baa black sheep, have you any wool? Yes, sir, yes, sir, three bags full . . .

Ek het Theuns-hulle vreeslik gemis as hulle by die koshuis was. Wanneer hulle wel by die huis was, het ons teen mekaar opgegang en soos kat en hond baklei. Ek en Alfie het altyd teen Theuns en Bennie opgegang. Die twee jongstes teen die twee oudstes, wat teen daai tyd al ’n meerderwaardige attitude ontwikkel het net omdat hulle ouer was.

Maar as die kak die fan gestrike het, was dit die twee Diago-kinders teen die twee Thompson-kinders. Instink, miskien. Birds of a feather flock together . . .

Ons fights het gewoonlik oor iets onbenulligs begin, maar dan het dit vinnig-vinnig baie persoonlik geraak.

“Jou pa is ’n suiplap, man!” skree die Thompson-kinders.

“En jou pa is tog ’n tronkvoël!” skree die Diago-kinders terug.

“So what? Jy’s ’n poes!”

“Maaa! Claudie sê ek’s ’n p.o.e.s.”

Dit was in dié tye dat ek en Theuns saamgestaan het. Kon nie anders nie, ons moes verdedig wat ons s’n is.

Dit was gewoonlik ook in dié tye dat my ma ons vertel het hoe ons geboortes haar hele lewe vernietig het, en dat ons almal se pa’s losers is. So asof ons hulle self gekies het . . .

Soms het ek en my ma by haar sussie Soekie gaan kuier. Soekie is die tiende kind. Ons het met die trein van Boksburgstasie af tot op Germiston gery, en van daar af twee blokke tot by Soekie se huis gestap.

Ek het van die treinryery gehou, al het my ma gekla as ek my kop by die venster uitsteek. As ek agtertoe gekyk het, het ek die klomp swart koppe aan die agterkant van die trein gesien. Hulle het nes ek by die treinvensters uitgehang. Dan het ek vir hulle gewaai tot my ma my aan my rok teruggetrek het.

“Sit plat, Claudie!”

“Hoekom moet die swartes aan die agterkant van die trein ry, Ma?”

“Want hulle sal die wit mense by die treinvensters uitgooi as hulle tussen ons ry,” het sy nors geantwoord.

“Hoekom het ons nie ’n kar nie?”

“Ek het ’n kar gehad, toe steel hulle hom.” My ma het haar vingers deur my hare getrek. “Kyk hoe deurmekaar is jou hare nou van die wind. Jy kan nie so by Soekie aankom nie.”

My ma het altyd gesê Soekie is met die helm gebore omdat sy een groen en een blou oog het. Met haar twee verskillende kleure oë kan sy in die lewe én in die dood sien.

Soekie se seun, Christoff, is my boetie ook, want ons het dieselfde pa. Hy is twee jaar jonger as ek. Soekie het saam met oom Freek Diago in ’n groot huis met ’n swembad gewoon. Oom Freek se broer is Koos – Bennie en Alfie se pa. Volgens my ma is al die Thompson- en Diago-mans gemorse, maar Soekie het gesê oom Freek het ’n groot hart en hy sorg baie mooi vir haar en Christoff, al is hy nie Christoff se regte pa nie.

Christoff het die bynaam Poena oor sy poenskop gekry. Soekie het sy hare kort geskeer omdat hy die gewoonte gehad het om sy hare om sy duim te draai, dit uit sy kop te trek en dan te eet. Eenkeer toe ons daar gekuier het, het Soekie hom gevang dat hy weer sy hare eet. Sy het vir hom en my twee plekke by die groot tafel gedek: bord, mes en vurk. Vir my het sy twee muffins neergesit en vir hom ’n langhaarpruik.

“Eet!” het sy vir hom gesê, haar oë blitsend.

Ek het Soekie nog nooit voorheen kwaad gesien nie. Sy het altyd baie gelag, en haar hare was altyd in twee poniesterte met twee verskillende kleure rekkies langs haar kop vasgemaak. My ma het gesê dít het niks met die helm te doen nie; dis omdat sy ’n losgat was.

“Jy wil mos hare eet, so eet nou!” het Soekie kwaai gesê en na die pruik op Christoff se bord gewys.

Hy het gehuil en ek het hom jammer gekry. My twee muffins was al klaar geëet, toe sit hy nog steeds met sy kop oor die pruik gebuig en huil. Toe ek opstaan om my bord in die kombuis te gaan neersit, het ek gesien Soekie huil ook. Sy het om die hoek by die wasbak gestaan met haar hande oor haar gesig. Ek kon sien haar mond is vertrek van die huil en haar skouers het geruk van die snikke.

Toe ons een Saterdag weer by Soekie gaan kuier, sê sy met die groetslag: “Ek voel aardig vandag, Lisa. My hart fladder al heeldag hier in my binneste.”

“Waar’s Freek?” het my ma gevra.

“Hy werk op ’n shutdown, kom eers volgende week huis toe. Wil jy en Claudie nie maar vanaand hier oorslaap nie? Miskien is dit net die allenigheid wat my vang.”

“Natuurlik kan ons oorslaap. Dis darem naweek,” het my ma ingestem.

Ek en Christoff was bly. Ons het na sy kamer gehardloop en al sy speelgoed uit die speelgoedkis gepak.

Soekie het elke nou en dan in die deur kom staan en na ons gekyk. “Ek is lief vir jou, Poena,” het sy dan vir Christoff gesê.

“Ek is lief vir jou ook, Mamma,” het hy geantwoord.

Ons twee het al geslaap toe ek my ma se gille iewers in die nag hoor. Eers het dit van ver af gekom, en toe het dit al harder geword. Ek het verskrik opgespring en in die rigting van die gille gehardloop. Poena het nie wakker geword nie.

My ma het in Soekie se badkamer gestaan. Sy het haar kop vasgehou terwyl die een gil na die ander deur die stil, donker huis weergalm het. My knieë het gebewe van skrik; ek het geweet iets vreesliks is verkeerd.

Toe sien ek vir Soekie. Sy het op die toilet gesit met ’n Bybel op haar skoot. Haar hande het slap op die Bybel gelê en haar oë het snaaks gelyk.

Stil. Leeg. Dood.

Soekie was dood.

My ma het later gesê Soekie het aangevoel sy gaan daardie aand doodgaan, dis hoekom sy wou gehad het ons moet daar oorslaap. My ma is tot vandag toe oortuig Soekie is vermoor. Sy sweer dis hulle ander suster, Pina, ook een van die aartappels. Sy was eers met oom Freek Diago getroud en het drie kinders by hom gehad. Oom Freek het toe van Pina geskei om saam met Soekie te wees.

“Sy kan nie haar susters se mans uitlos nie,” het ek mense al oor Soekie hoor sê. “Sy het Lisa en Pina se mans verlei. Eers Lisa s’n en toe Pina s’n. Sy’s ’n hoer.”

“Wat is ’n hoer?” het ek vir Siena gevra.

“Dis ’n vrou wat saam met ’n klomp mans slaap,” het Siena geantwoord. “Selfs saam met getroude mans. Net ’n slég vrou slaap saam met ’n getroude man!”

Arme Poena. Hy het na Soekie se dood by oom Freek aangebly.

Swartskaap

Подняться наверх