Читать книгу Swartskaap - Odette Schoeman - Страница 6

Hoofstuk 1

Оглавление

In the beginning the Universe and everything in it was created. This has made a lot of people very angry and has been widely regarded as a bad move.

DOUGLAS ADAMS

Die moeilikheid het begin nog lank voor die oggend toe ek gebore is. Ek het nie geweet waarin ek my begewe nie. Ek was onskuldig én onwelkom. My ma en pa was natuurlik die twee culprits. Onwillig en moedswillig. Vinkel en koljander.

“Ek was al besig om te kraam, toe wou jou pa nog eers sy hare blow-wave voor hy my hospitaal toe vat,” verwyt my ma my tot vandag toe wanneer sy ook al die geleentheid kry.

Al is my pa vandag ’n ou man met Alzheimers, is hy nog steeds ’n bietjie vain, so ek glo haar.

“Jou ma het jou probeer aborteer terwyl sy met jou swanger was. Sy het ’n bottel brandewyn uitgedrink terwyl sy in ’n vuurwarm bad gelê het, en daarna het sy aanhoudend van die kombuistafel gaan afspring,” het my pa eenkeer vertel.

My ma was nog altyd ’n bietjie mallerig; sy het ’n donker, kreatiewe streep. Ek moes my hele kinderlewe hoor hoe haar kinders se geboorte haar lewe vernietig het, so ek glo my pa ook oor haar D.I.Y.-aborsie.

Maar die Here het my aan hulle toebetrou, soos vir Benjamin aan Fiela Komoetie, en ek het geklou soos ’n neet. Dit sou nog jare vat voor ek ook skuldig geword het, terwyl die onwelkom-voel so deel van my geword het dat ek régtig onwelkom sou voel daarsonder.

Om onwelkom te voel, of om jouself te vertél dat jy onwelkom is, is soos ’n pantser tussen jou en die res van die wêreld. Ek was nie bedoel om hier te wees nie, so ek het niks met julle kak uit te waai nie! Ek dink dis hoe rebelsheid en snobisme in die eerste plek ontstaan het: deur onwelkom te voel. Snobisme is ’n meer volwasse vorm van rebelsheid. Vir my, in elk geval. Die klein rebel het grootgeword. Sy is nou ’n snobis.

My ma en pa was nie jou ordinary ma en pa nie. Maar om te verstaan wie hulle vandag is, moet jy eers weet waar hulle vandaan kom en in watse tye hulle grootgeword het. Hulle is al twee in die 1950’s gebore, in brandarm huise aan die verkeerde kant van die treinspoor, en al twee se pa’s was alkoholiste. So jy kan maar sê teen die tyd dat hulle mekaar as tieners in die hippie-era ontmoet het, het hulle reeds baie in gemeen gehad.

My ma is een van dertien kinders: agt dogters en vyf seuns. My oudste boetie, Bennie, het ’n teorie oor haar donker, kreatiewe streep. Hy sê ’n mens kan nie geboorte gee aan dertien kinders en verwag dat almal normaal sal wees nie. Die wet van gemiddeldes waarborg nie almal se normaliteit nie. Ná vyf raak dit risky. Ná agt raak dit hoogs gevaarlik. Ná tien is dit fataal. My ma is die dertiende kind.

Die laaste paar van my ma se broers en susters is inderdaad ’n bietjie snaaks. My boetie Theuns verwys na hulle as “those we don’t speak of”. Verder staan hulle onder die res van die familie bekend as “die aartappels” – ek probeer nog uitfigure hoekom.

My pa het ook ’n teorie oor die aartappels. Hy sê my ouma- en oupagrootjie was niggie en nefie, en die bloedskande slaan deur in die tweede geslag. Dit het my ’n bietjie laat worry, want ék het gehoor enige sondes wat jou voorvaders gepleeg het, slaan deur tot in die derde en vierde geslag. Maar ná amper dertig jaar kan ek nou met sekerheid sê ek is normaal. Onwelkom maar normaal.

Die twaalfde kind in my ma se gesin is tannie Nina. Sy het die grootste gedeelte van haar lewe in die tronk deurgebring vir diefstal. Sy het my niggie Donna as kleuter al leer steel. Donna het nog skaars verstand gehad, dan sou tannie Nina randomly ’n handsak op die strand kies en vir Donna sê: “Dáár lê my handsak, gaan haal hom gou, asseblief.”

Vandag het Donna ’n formidabele kriminele rekord en tannie Nina word vermis.

My oom Dawie, die elfde kind, het sy eie groottoon bietjie-bietjie afgekap met ’n graaf oor hy gedink het hy het gangreen. Niemand het ooit bevestig of dit regtig gangreen was nie.

Dieselfde oom het eenkeer die plaveisel van mense se oprit met ’n hamer opgekap terwyl hulle op vakansie was. Hy was glo maande tevore in die kontrakteerspan wat die plaveisel gelê het, en hy het ’n tweerandstuk in sy sak gehad toe hulle begin het. Hy het die tweerandstuk verloor en hy was seker hy het dit daar laat val. En toe die nood druk, wel . . .

Die res van die stories wat ek oor die aartappels gehoor het, is almal min of meer in dieselfde trant. Intussen bly hulle those we don’t speak of.

Ek het nooit enige van my alkoholis-oupas geken of gesien nie. Ek het wel my ma se ma, ouma Grové, een keer gesien. Sy was ’n mislike, bemoerde tannie wat gemaak het of sy my nie raaksien nie. Sy is kort voor my vierde verjaarsdag dood aan baarmoederkanker.

Jy kan maar sê my lewe het op driejarige ouderdom begin. En geëindig. En weer begin. Dis in elk geval waar hierdie storie begin – in 1982. Die jaar waarin my eerste ouma dood en my enigste pa tronk toe is.

My oupa aan vaderskant is die rede waarom my pa tot vandag toe nie ’n druppel drank oor sy lippe laat gaan nie. My oupa was glo bitterlik beneuk en het my pa-hulle – hy het ’n ouer en ’n jonger sussie – geslaan tot die bloed loop. My oupa het hom dood gedrink nog voor ek gebore is.

My ouma aan vaderskant was die enigste ouma wat ek geken en liefgehad het. Sy was ’n goeie mens. My lewe lank was sy maar altyd êrens op die agtergrond. Gereed, altyd gereed met wat sy ook al kon bied. Sy is in 2002 oorlede op die rype ouderdom van twee-en-tagtig jaar. Sy het stil en sonder enige drama of opskudding gegaan, soos haar hele lewe was.

My ma is vandag ’n bitter tannie wat God help om ander mense se sondes op te skryf. Veral dié wat sy dink teen háár gepleeg is. Vir in case iets dalk per ongeluk uit God se boekie weggelaat word. Sy het vertroue-issues.

’n Dokter het gesê my ma is skisofrenies en het vir haar pille voorgeskryf wat sy nooit wou drink nie. My pa het gesê geen pil sal anyway help nie, maar volgens my ma laat Valiums en Syndols haar altyd beter voel.

Ek dink ek het my normaliteit van my pa se kant gekry. Nie direk van my pa nie, maar dalk van my ouma. My pa het altyd gesê ek het my ma se breins geërf, want hy het nog al syne. Dan sou ek sê ek weet nie waar ek my looks vandaan kry nie, want dít run definitief nie in die family nie. Dit was maar altyd ons private joke – die min kere wat ons ooit met mekaar gejoke het.

Tot voor sy siekte was my pa ’n siniese ateïs, ’n mislike vrouehater en een van die slimste mense wat ek ooit geken het. Waarom is alle bogemiddeld slim mense altyd ateïste? Ons is as Christene opgevoed by die skool en as heidene by die huis. Christoff was ’n vurige Christen tot in sy laat tienerjare.

“Waarom bid jy voor jy eet?” het my pa een aand sarkasties vir hom aan tafel gevra.

“Om dankie te sê vir die kos, Pa.”

“Vir wie sê jy dankie?”

“Vir Liewe Jesus,” het Christoff in sy amper negejarige onskuld geantwoord.

“Jy moet vir mý dankie sê. Ék het daarvoor gewerk, nie Liewe Jesus nie.”

“Faan!” het my ouma geskok uitgeroep.

My pa het gelag. Christoff het gehuil. En ek het gedink.

Ek het ses boeties en een sussie, maar net een van my siblings – Theuns – is my regte boetie, bedoelende dat ons dieselfde ma en pa het.

My ma het drie ander kinders by twee ander mans, waarvan twee by my pa se beste vriend is. En my pa het drie ander kinders by drie verskillende vroue, waarvan een my ma se sussie is. Met ander woorde, as Christoff nie my boetie was nie, sou hy my nefie gewees het. My brother from another mother. Het ek genoem dat my ma en pa mekaar tydens die hippie-era ontmoet het?

Ek was amper drie jaar oud toe ek die eerste keer kennis gemaak het met goed en kwaad. Alhoewel ek toe nog te klein was om mooi te besef waarmee ek kennis maak. Eers jare later het ek die kwaad besef wat aan my gedoen is. En die goed wat daaruit gekom het.

My ma en pa se huwelik was van die eerste dag af stormagtig. Hulle is getroud toe sy reeds swanger was met die kind van Koos Diago, my pa se beste vriend. Koos wou nie sy vaderskapplig nakom nie, dus het my pa met my ma getrou en pa gespeel vir my oudste halfboetie, Bennie. My pa moes ongelooflik lief gewees het vir my ma. Ek dink dis sy liefde vir haar, saam met dit wat sy aan hom gedoen het, wat hom in ’n siniese vrouehater verander het.

Koos was ook ’n alkoholis. Tot sy dood meer as tien jaar gelede het ek hom amper nooit nugter gesien nie. ’n Jaar ná Bennie se geboorte het my ma swanger geraak met haar tweede en my pa se eerste kind, Theuns. Teen die tyd dat my ma drie jaar later nóg ’n kind by Koos gehad het, Alfie, was sy en my pa reeds meer uitmekaar as bymekaar.

Ek is twee jaar ná Alfie gebore. My pa het toe reeds ’n paar keer in die tronk gaan draai. Die kere wat my ma en pa wel probeer het om civilised saam te wees, het hy in die tronk beland vir diefstal om my ma se habits te support. Of domestic violence om hom teen haar habits te verdedig.

Teen die tyd dat ek twee jaar oud was, het my pa nog twee kinders gehad – Christoff by my ma se sussie, en Jaco by ’n vrou genaamd Mercia, ook ’n hippie girl soos my ma. Ek het Mercia in 2002 op my ouma se begrafnis gesien. Sy het soos ’n visioen uit die 1960’s gelyk met ’n lang, lapperige rok, wilde hare en sandale. Sy het twee banke voor my en Jaco in die kerk gesit.

Toe ons begin sing, het sy die hardste van almal gesing. Uitermatig hard. “Ek kan hoor my Heid-land roep my . . . ”

“Ag jissis, daar kom die dokkemeid nou uit,” het Jaco onderlangs gebrom. Hy werk as ’n forensiese deskundige in Amerika en het net vir die begrafnis Suid-Afrika toe gekom.

“Sies,” het ek gegiggel.

“Waar Hy lei, volg ek gewillig . . . ”

“Sy sing nie ‘ek’ nie, sy sing ‘êk’,” het Jaco ontevrede gesê. “Hoor jy? Regte fokken dokkemeid.”

Sy het inderdaad “êk” gesing. Ek het nooit geweet sy is oorspronklik van die Kaap nie. Maar dan, ek het haar nooit werklik geken nie. Het haar maar twee of drie keer tevore gesien en die nodige Hallo’s en Hoe gaan dit’s geprewel, en dit was dit.

Jaco wou nooit oor haar praat nie. Net soos ek ook nooit oor my ma wou praat nie. Sê dit iets van my pa se bloed wat in ons al twee se are vloei, of sê dit iets van my pa se smaak in vroue?

Theuns en Jaco is omtrent ewe oud: Theuns is in Maart 1973 gebore en Jaco in Oktober 1973. Wat bewys dat my pa nes my ma ’n two-timer was.

My jongste boetie en sussie, Roedolf en Sammy, het eers jare later gekom – heeltemal te laat om werklik deel van hierdie storie te wees. Ek wonder of hulle ooit sal besef hoe gelukkig hulle tydsberekening was. En ek wonder hoe lyk Sammy vandag. Waar sy is, wat sy doen. Is sy gelukkig? Leef sy nog? Weet sy haar sussie soek na haar? Baklei sy ook so hard teen die bloed wat deur haar are vloei soos die res van ons kinders?

Theuns noem ons gene sy demons. “Fighting my demons, sus. Fighting the fight,” sê hy gereeld as ek hom vra hoe dit gaan.

Ek kon nog nie agterkom of hy dit as ’n grap bedoel nie. Met Theuns kan jy nooit seker wees nie. Hy het ’n weird sin vir humor, amper net so twisted soos myne.

Soos ek gesê het, my eerste kennismaking met goed en kwaad was op die ouderdom van drie jaar. Dis een van my vroegste herinneringe. Ek weet nie waar my ma of pa was nie, maar ek en Theuns het vir ’n rukkie by ’n vreemde man en vrou êrens aan die Oos-Rand gebly. Ek kan nie onthou waar Theuns geslaap het nie, maar ek moes op ’n bank in die sitkamer slaap.

Ek het die eerste oggend wakker geword met die man bo-op my. My panty was tot by my voete afgetrek en my nagrok was tot onder my ken opgetrek. Sy harige borskas was teen my gesig en ek kon sy vinnige asemhaling bo my kop hoor. Hy het sy onderlyf aanhoudend teen my kaal lyf geskuur – van onder, oor my maag, oor my bors tot teen my nek, en weer af.

“Hou hom vas,” het die man gesê en my hand om iets gevou. Dit het hard en slymerig gevoel en ek het gegril.

“Nee,” het ek gekerm en my hand weggeruk.

“Hou hom vas!” het hy gesis, dié keer dreigend, en my hand styf teen hom vasgedruk.

Ek het hom vasgehou tot die man begin ruk het. Toe het hy opgestaan.

Ek het nie verstaan wat hy doen nie, so ek het nie ’n bohaai gemaak nie. Ek het gewoond geraak daaraan dat hy elke oggend gekom het sodra die vrou gery het om Theuns by die skool te gaan aflaai.

Ek het nie daarvan gehou nie, maar ek het ook nie daarvan gehou om te bad of vroeg te gaan slaap nie. Dis maar net iets wat jy moes doen sonder om dit te bevraagteken.

Ek onthou sommige gebeurtenisse taamlik helder van my derde jaar af. Ek onthou my derde verjaarsdag goed. Ek en Theuns was in Jubilee Home in Boksburg. Dit moet my ma wees wat ons in die weeshuis gesit het, want my pa het ons daaruit kom ontvoer.

Die Jubilee Home se speelgrond het ’n lang draadheining wat die seuns en die dogters van mekaar skei, want ons is nie toegelaat om fisieke kontak te hê nie. In die rukkie wat ons daar was, het ek elke oggend langs die heining gestaan en histeries vir Theuns gehuil-skree. As hy middae van die skool af gekom het, het hy, magteloos en ook huilend, aan die ander kant van die draad gestaan en my probeer troos. Elke keer het ’n kinderoppasser my voor die heining kom wegsleep. Dan het ek krampagtig aan die draad vasgeklou tot hulle my vingers oopgeforseer het.

Op my derde verjaarsdag het ek my pa gesien, maar hy het my nie gesien nie. Ek het deur die venster geloer wat op die Jubilee Home se ingang uitkyk, en ek het my pa aangeloop sien kom met ’n looppop in sy een hand en ’n verjaarsdagkoek in die ander. Ek was vreeslik bly. My pa kan vandag wees wie hy wil, maar ek weet hy was ongelooflik lief vir my toe ek klein was.

’n Vrou het my pa voorgekeer. Hy het met haar gepraat en ek kon sien hoe skud sy haar kop. Die volgende oomblik gooi hy die koek teen die muur vas. Toe draai hy om en loop weg. Die koek het in stukke teen die muur afgeloop. Ek het daarna gestaan en kyk toe die vrou die looppop vir my gebring het.

“Jy is drie jaar oud vandag, Claudie,” het sy gesê.

Ek wou haar slaan en skop en spoeg, maar ek het nie. Ek het my daardie aand aan die slaap gehuil, die looppop styf teen my vasgedruk. Nes die ander kleintjies het ek in ’n bababed met hoë tralies geslaap wat gekeer het dat ons self uit die bed kon klim.

’n Paar dae later het Theuns op die asblikke gestaan en my oor die weeshuis se muur getel. My pa het my aan die ander kant gevang.

Daarna het ons in Secunda gaan woon: ek, my ma en my pa. My ma het vir Theuns na ’n koshuis op Lagerspoort gestuur waar Bennie en Alfie reeds was, en hulle het net vakansies huis toe gekom.

Ek was gelukkig, maar die huis in Secunda was die begin van een van die baie eindes wat nog sou volg. My ma en pa het baie baklei. Sommige nagte het ek my bed natgemaak. Dan het my pa die oggend vroeg vir my droë beddegoed kom oortrek voor my ma dit kon sien en my slaan. Hy het my na hulle bed gedra en my verder tussen hom en my ma laat slaap.

“Fokkof as jy wil fokkof! Maar jy fokkof alléén! Hierdie keer los jy my kind, verstaan jy, Lisa?” het my pa geskree elke keer as my ma gedreig het sy gaan hom verlaat vir ’n ander man. ’n Beter een. ’n Mooier een. ’n Sterker een. ’n Ryker een.

“Sy’s nie net jou kind nie, sy’s myne ook!” het my ma teruggeskree. “Jou gemors!”

“Ek het vir jou alles gegee waarvoor jy gevra het, so jy los haar net hier! Gaan soek vir jou ’n ander man. Ons sal sien of jy beter kan kry!”

“Met hierdie hare kan ek énige man kry!” het my ma tartend geskree en haar lang blonde hare vermakerig rondgeswaai.

Tot my pa eendag die broodmes gegryp en haar hare stomp afgesny het. My ma het die polisie gebel, en my pa het die naweek in die tronk deurgebring. ’n Voorsmaak van die sewe en ’n halwe jaar wat sou kom.

Ek glo nie my ma het my pa ooit vergewe vir haar hare nie; sy het vyf-en-twintig jaar later nog steeds daaroor gepraat. Ek glo ook nie my pa het my ma ooit vergewe vir die sewe en ’n halwe jaar in die tronk nie; hy het nog nooit daaroor gepraat nie.

Kort ná die hare-episode het my ma getrek terwyl my pa die dag by die werk was. Sy het nie vir hom gesê sy gaan weg nie, sy het net haar tasse gepak en my alleen by die huis gelos.

Ek het op die sypaadjie voor die huis gaan sit en vir my pa gewag om van die werk af te kom. En hy het gekom. Natuurlik het hy gekom.

Ek onthou nie veel meer van daardie dag nie. Net dat ek en my pa langs die snelweg geloop en hike het. Ons moet ver geloop het, en hy moet moeg gewees het, want hy het my kort-kort neergesit om klein entjies self te loop. Ek weet nie waarheen ons op pad was nie.

’n Motor het ons opgelaai, en die seuntjie in die motor het vir my van sy kaaskrulle aangebied. Ek was te skaam om daarvan te vat. Ek het my kop weggedraai en aan my pa vasgeklou. Op sy boarm was ’n groen tatoe van ’n kaal vrou met lang hare en ek het gewonder of dit ’n prentjie van my ma was.

My pa is kort daarna tronk toe gestuur en my hele wêreldjie het inmekaargetuimel. Ek is alleen, sonder Theuns, terug Jubilee Home toe. Voor ek vier jaar oud geword het, het my ma my kom haal, met ’n oorwinnende glimlag op haar gesig en ’n stuk papier in haar hand.

“’n Bevel van die hof,” het sy vir die Jubilee Home-tannie gesê.

My ma het my pa in dieselfde jaar geskei. Die volgende keer wat ek my pa as ’n vry man gesien het, het ek hom “oom” genoem.

Swartskaap

Подняться наверх