Читать книгу Swartskaap - Odette Schoeman - Страница 11
Hoofstuk 6
ОглавлениеReality can be hell when you’re only visiting.
JOHN BARTH
Die wintervakansie het vinniger aangebreek as wat ek verwag het. Die drie weke wat voorgelê het, het swaar op my hart gedruk; ek was bekommerd oor Paul, Sammy en my hare. Ek het so veilig op Lagerspoort gevoel dat ek diep in my hart gewens het ek hoef nooit weer huis toe te gaan nie.
Gedurende skooltyd sou daar soms onverwags ’n harde sirene by die skool afgaan. Dit was die noodsirene, en dan moes ons plat op ons mae na die mielielande toe seil en daar wegkruip, tot ’n volgende sirene vir ons sê dis veilig om uit te kom. Dit was net om te oefen, het meneer De Jager gesê, om voorbereid te wees ingeval ons deur terroriste aangeval word.
Dit was die enigste ding van Lagerspoort wat my onveilig laat voel het. Dit het my bang gemaak, net soos my ma my partykeer bang gemaak het. Theuns het gesê hulle was áltyd bly om vir ’n vakansie huis toe te gaan, maar hulle was ook áltyd bly om na ’n vakansie terug te kom koshuis toe.
Ons koshuiskinders is met ’n bus aangery tot op Denneburg, waar ons op die trein gesit is Boksburg toe. Die koshuiskinders wie se ouers nader gebly het, het hulle al op Denneburgstasie gekry, maar die ander, soos ons, het tot in Boksburg gery. Die koshuisbus se bynaam was Broodblik. Hy was groen, lelik, baie stadig en het dieselfde vorm as ’n brood gehad.
Ons het omtrent die hele oggend gery van Lagerspoort af tot op Denneburg. Ek was heelpad bekommerd oor my hare. Gaan my ma kwaad wees? Gaan sy my slaan? Gaan sy huil? Sy kan my maar eerder slaan, solank sy net nie huil nie.
En ek was bekommerd of my ma sal agterkom dat ek vir Theuns vertel het van Sammy. Ek het onderlangs na Theuns geloer. Hy het in die middel van Broodblik met sy kop teen die venster gesit en slaap. Sou hy dalk vir Bennie en Alfie vertel het?
Ek het na Bennie en Alfie agter in die bus gekyk. Hulle het die ander kinders met natgekoude stukkies papier deur die buise van hulle geel Bic-penne geskiet en hard gelag as iemand verskrik opspring en sy oor vryf. Peashooters, het hulle dit genoem. Dit het darem nie gelyk of hulle iets van Sammy weet nie.
Op Denneburg het ons elkeen met ons yslike tas op die trein geklim. Van daar af sou dit die hele middag tot donker vat voor ons op Boksburgstasie sou kom. Ons is in kompartemente ingedeel en dit het soos ’n malhuis op die trein gegaan – hy was propvol uitgelate kinders wat bly was om huis toe te gaan vir die vakansie.
Ek was saam met Bennie, Theuns en Alfie in ’n kompartement. Ek sou die treinrit baie geniet het, maar ek was te bekommerd.
“Nip jy?” het Bennie tergend gevra. Hy en Alfie het onmoontlike helderblou oë, anders as my en en my ma s’n. Ons oë was donkerder; half grys, half blou.
“Ja, jis, ek nip erg.”
“Jy wou mos! Ma gaan jou hárd donner!” het hy gelag.
Ek het hom ’n vuil kyk gegee. Hy het ’n paar sproete op sy neus gehad en sy blonde hare het regop gestaan. Dit het by sy windgathouding gepas. Alfie se vel was melkwit en vlekloos. Sy hare – blond soos myne en Bennie s’n – was altyd netjies gekam.
Die kondukteur het vir ons kospakkies uitgedeel wat tannie Marie vir die lang treinrit ingepak het – ham-en-kaastoebroodjies, hardgekookte eiers, hoenderboudjies, vrugte en koeldrank.
Hoe langer ons gery het, hoe stiller het dit op die trein geword. Die kinders het een vir een met vol mae omgedop en aan die slaap geraak. Ek het ook aan die slaap geraak, maar kort-kort wakker geskrik as die trein rukkerig by ’n stasie stop.
Ons het donker eers op Boksburg aangekom, maar my ma was nog nie daar nie. Ek sou dit teenoor niemand erken nie, maar ek was verlig. Dit het gevoel asof ek nog ’n rukkie tyd present gekry het.
Ons het eers gedink my ma is net ’n bietjie laat, maar die stasie het al meer leeggeloop hoe later dit geword het. Nog steeds het ons op ’n bankie vir my ma gesit en wag, elkeen met ons tas netjies voor ons. My ma het ons name met ’n kokipen in groot sierskrif voor op ons tasse geskryf.
Ek het met my kop op Theuns se skouer gelê en na die maan gekyk. ’n Liedjie wat juffrou Van Zyl my geleer het, het deur my kop gemaal: I see the moon and the moon sees me. And the moon sees somebody I wanna see. So God bless the moon and God bless me. And God bless this somebody I wanna see.
Ek het gewonder of die maan my pa en Sammy kon sien. En ek het gewonder of God hulle, en vir my, sou bless.
“Wat beteken bless, juffrou?” het ek gevra toe sy die eerste keer die liedjie vir my gesing het. Ons het op die stoep voor haar huis gesit en saam gekyk hoe die son ondergaan, sy met ’n glas rooiwyn en ek met ’n blikkie Fanta Grape.
“Dit beteken seën.”
“Wat is seën?”
“Seën beteken jy wens iemand mooi en goeie goed toe en dat daar niks slegs met hulle sal gebeur nie.”
“Hoekom sê mense altyd vir mekaar ‘Bless you’ as hulle nies?”
“Want baie, baie lank terug was daar die Groot Griep wat baie mense doodgemaak het. As iemand genies het, het hulle geweet hy het die griep en dan het hulle vir hom ‘Bless you’ gesê ingeval hy dalk doodgaan.”
Sy het meer geduld met my eindelose vrae gehad as my ma.
“God werk op misterieuse maniere, Claudie,” het sy gesug.
Ek het my kop bevestigend geknik, al het ek nie verstaan wat sy bedoel nie. Sy was die enigste mens vir wie ek ooit vertel het my pa is in die tronk, hoewel ek dink sy het dit reeds geweet.
“Weet jy hoekom is jou pa in die tronk?” het sy gevra.
“Ek dink dis omdat hy my ma se hare met ’n broodmes afgesny het.”
“Mis jy hom?”
“Nie eintlik nie. Ek kan nie meer onthou hoe hy lyk nie.”
“Skryf jy vir hom?”
“Nee . . . ”
“Hoekom nie?”
“Ek weet nie wát om vir hom te skryf nie, juffrou.”
“Skryf vir hom jy mis hom en vertel hom van die skool en jou maats. Ek dink hy sal baie daarvan hou om ’n briefie van jou te kry,” het sy my aangemoedig.
“En sê nou hy hou nie daarvan nie? Sê nou hy skryf nie vir my terug nie?” het ek onseker gevra.
“Natuurlik sal hy terugskryf. Hy’s jou pa!”
Ek het toe nooit vir my pa geskryf nie. Wat skryf jy vir ’n vreemdeling?
Bennie het skielik opgestaan. “Ma is laat. Ons kan nie heelaand hier buite sit nie, dis te koud. Kom ons gaan sit eerder in die wagkamer daar binne.”
Ek het bang geraak. Sê nou my ma kom haal ons glad nie?
’n Kondukteur het langs die wagkamer gestaan en skeef opgekyk toe hy ons sien. “Wat maak julle nog hier?” het hy met ’n ontevrede frons gevra.
“My ma is laat, oom,” het Bennie gesê en op een van die houtbanke in die wagkamer neergeval.
“Dis dan al ná agtuur!” Die kondukteur het agterdogtig gelyk. “Moet ek die polisie laat kom?”
“Nee, dis orraait, oom. My ma het gesê sy gaan laat wees.”
Ek het later met my kop op Theuns se skoot aan die slaap geraak. Dit was ’n lang, koue nag. Met elke trein wat vlak voor die wagkamer gestop en weer weggetrek het, het ek wakker geskrik en dan weer bang aan die slaap geraak.
Alfie het hom op die oorkantste bank uitgestrek en met ’n baadjie onder sy kop aan die slaap geraak. Bennie en Theuns het heelnag wakker gebly, kort-kort opgestaan en heeltyd gesels.
Die volgende oggend het nog kouer gevoel as die nag.
“Moet ons nie maar die polisie laat kom nie?” het Theuns gevra.
“Ons kan ’n taxi kry om ons huis toe te vat.” Bennie het rondgekyk asof hy ’n taxi op die stasieplatform verwag.
“Maar ons weet nie waar sy bly nie,” het Theuns geïrriteerd gesê.
“Die taxi kan ons na my pa se huis toe vat,” het Bennie geantwoord. “Hy sal weet waar Ma bly.”
“Hoekom het jy nie al gisteraand daaraan gedink nie?” het Theuns uitgeroep.
Alfie het wakker geword en verbaas om hom rondgekyk. “Ek’s honger,” het hy gesê.
“Wag hier, ek gaan ’n taxi kry,” het Bennie gesê en om die hoek verdwyn.
“Het ons op die stásie geslaap?” het Alfie ongelowig gevra.
“Ja, genius. Staan op. Bennie het ’n taxi gaan soek,” het Theuns geantwoord.
“Het Ma ons dan nie kom haal nie?” Alfie het weer oor sy oë gevryf.
“Lyk dit vir jou of sy het?”
“Ek vra maar net, asshole,” het Alfie gemompel en opgestaan.
Bennie het ná ’n paar minute verskyn. “Kom, julle! Die taxi staan hier voor.”
Ons het ons tasse agter ons aangesleep tot by die wagtende taxi. Bennie het voor langs die taxibestuurder ingeklim en vir hom Koos se adres gegee. Ek, Theuns en Alfie het agter gesit. Toe ons voor Koos se huis stop, het Bennie alleen uitgeklim en die voetpaadjie opgedraf.
“Wil jy nie ook jou pa gaan groet nie?” het Theuns oor my kop vir Alfie gevra.
“Nee.”
“Hoekom nie?”
“Ek kry te koud om uit te klim.”
Bennie het na ’n paar minute teruggekom met die adres – my ma het weer in ’n woonstel oorkant die Boksburgmeer gewoon.
By die woonstelblok het ons die trappe twee-twee opgehardloop tot by nommer 23 op die tweede vloer en hard aan die deur geklop. My ma moes nog geslaap het, want ons moes ’n tweede en ’n derde keer klop. Sy was nog in haar pajamas en deur die slaap toe sy die deur oopmaak. Sy het geskrik en aan haar hart gevat toe sy ons sien.
“Haai! Bennie? Wat maak julle hier?” het sy opreg verbaas gevra.
“Dis vakansie, Ma! Die skool het gister gesluit en ons het heelnag op die stasie gesit en wag, maar Ma het ons nie kom haal nie!” Bennie se stem was vol verwyt.
“Ag my Here, nee! Ek dog die skool sluit eers vandag,” het sy geskok gesê.
“Toemaar, Ma,” het ons almal gelyk probeer troos toe dit lyk asof sy gaan huil.
“Hoe het julle hier gekom? Waar is julle tasse?”
“Met ’n taxi,” het Bennie geantwoord. “Die ou soek eers sy geld voor hy ons tasse gee.”
Ek het gehoop my ma sou so skuldig voel oor sy ons op die stasie vergeet het dat sy my hare sou oorsien. Maar sy het óf nie skuldig gevoel nie, óf sy was nog heiliger op my hare as wat ek gedink het, want sy het my tog geslaan. Met haar belt. Hard, ritmies en aanhoudend. Dit was die eerste ordentlike pak slae wat ek in my lewe gekry het.
Ek het deur daardie pak slae van lettergrepe geleer. “Hoe,” eerste hou. “Kom,” nog ’n hou. “Het,” nog ’n hou. “Jy,” nog ’n hou. “Jou,” nog ’n hou. “Fok,” nog ’n hou. “Ken,” nog ’n hou. “Ha,” nog ’n hou. “Re,” nog ’n hou. “Af,” nog ’n hou. “Ge,” nog ’n hou. “Sný?” nog ’n hou.
“Ek is jammer, Ma! Ek is jammer, Ma!”
Ek het soos ’n maer vark geskree, maar sy was genadeloos.
“Jam,” die hoeveelste hou. “Mer,” nog ’n hou. “Se,” nog ’n hou. “Moer,” nog ’n hou. “Jy,” nog ’n hou. “Lyk,” nog ’n hou. “Nou,” nog ’n hou. “Soos,” nog ’n hou. “ ’n,” nog ’n hou. “Fok,” nog ’n hou. “Ken,” nog ’n hou. “Seun!” nog ’n hou.
“Dis Lorraine se skuld, Ma! Sy wou nie my hare vasmaak nie en sy het dit elke oggend aspris getrek en geruk,” het ek gehuil.
Ek het die waarheid gepraat en sy moes my geglo het, want sy het haar belt laat sak. Of miskien het haar arms net moeg geword van al die geslanery.
Toe die hare-worry eers agter die rug was, het ek die res van die vakansie geniet. Paul was nie meer daar nie en ek was eindeloos verlig. My ma het weer by die poskantoor begin werk en dit het goed gegaan met haar, wat tot my verligting bygedra het.
Aan die einde van die vakansie het my ma ons stasie toe gevat vir die rit terug na Lagerspoort. Ek was baie opgewonde om terug te gaan, maar my moed het in my skoene gesak toe Lorraine naderkom om vir Bennie te groet. Ek het geweet wat gaan kom.
My ma het op haar afgepyl en haar aan haar rooi poniestert nadergepluk.
“Kom hier, jou klein tert! Kyk hoe lyk my kind se hare. En dis jou skuld! Omdat jy te fokken lui was om dit vas te maak!”
“Ma, moenie,” het Bennie benoud probeer keer. “Asseblief, moenie ’n scene maak nie!”
Sy het hom geïgnoreer en haar vinger omtrent in Lorraine se oog gedruk. “Jý! Dis jóú skuld!” het sy gegil soos Siena op haar beste.
“Ek is jammer, tannie!” het Lorraine verskrik uitgeroep.
Verbygangers en koshuiskinders het stil gaan staan en die petalje oopmond aanskou. Theuns en Alfie het ongemaklik eenkant gestaan en anderpad gekyk.
“Jammer gaan nie haar hare terugbring nie, man!” het my ma gesnou en Lorraine só skielik gelos dat sy amper haar balans verloor het.
Ek kon aan haar en Bennie se gesigte sien ek gaan nie die treinrit óf die res van die jaar in die koshuis geniet nie.
In September het ek my sesde verjaarsdag in die koshuis gevier. Ek het hierdie keer darem geweet dis my verjaarsdag. Die hele koshuis het die oggend in die eetsaal vir my “Lekker verjaar” gesing, en al my klasmaats weer ’n keer in die klas.
Ons koshuismoeder, tannie Marie, het vir my ’n koek gebak met ses kersies op, en juffrou Van Zyl het vir my ’n dik storieboek met al Grimm se sprokies gegee. Carla het vir my ’n pienk handsakkie met ’n spieëltjie en lipstiffie in gegee, en Bokdrol het pouse vir my sy peanutbotterbroodjie aangebied. Net ’n koshuiskind van Lagerspoort sal verstaan watse groot gebaar dít was.
Die res van die jaar het sonder enige drama verloop. Ek het uit Lorraine se pad gebly en gesorg dat ek altyd skoon en netjies by die skool opdaag. Ek het nog steeds naweke om die beurt by juffrou Van Zyl en Carla gaan kuier.
By Carla het ons geswem en video’s gekyk. By juffrou Van Zyl het ons gelees en gelees. Meestal Grimm se sprokies, Huisgenoot se artikels, en Trompie en Saartjie. Juffrou Van Zyl het nie van Danielle Steel se boeke gehou soos my ma nie. Sy het gesê dis te soetsappig en sy hou ook nie van Engelse boeke nie.
Toe ons vir die Oktobervakansie in Boksburg van die trein afklim, het my ma reeds vir ons op die platform gewag. Ek was bly om haar te sien en sy het bly gelyk om ons ook te sien.
In daardie kort vakansie het Bennie ons geleer shoplift – hy was toe al ’n pro. Ons het meestal tjoklits en ander lekkergoed uit verskillende kafees gesteel. Hou een tjoklit met jou regterhand in die lug en maak of jy die prys bekyk, terwyl jy met jou linkerhand ’n ander tjoklit onderlangs in jou hemp of broek indruk, het Bennie ons geleer.
Partykeer is ons gevang, partykeer nie. Die kere wat ons gevang is, het die eienaar ons gedreig met die polisie en ons sy kafee in die toekoms belet. Ons het twee goue reëls gehad: ons mag nie dieselfde kafee twee keer raid nie, en as jy gevang word, is jy op jou eie.
Teen die einde van die vakansie was daar al ’n groterige hoop lekkergoed onder Bennie se bed, en ek was seker die polisie soek al na ons. Ek was so ongelooflik dik vir tjoklits dat ek vir maande sonder een kon bly. Maar hulle het goed te pas gekom op Lagerspoort, waar tjoklits tussen die koshuiskinders skaarser was as reën in die Kalahari.
Ek het my skoolrapport gekry toe die Desembervakansie aanbreek. Juffrou Van Zyl het my deurgesit na graad twee en ek was in die wolke daaroor. Theuns was ook in die wolke, want hy is as skoolprefek gekies vir sy standerdvierjaar. Ons skool het ses prefekte gehad: vier standerdvyfs en twee standerdviers.
Bennie was hartseer, want hy sou nie terugkom Lagerspoort toe nie; hy moes hoërskool toe gaan. Tydens die laaste skooldag se pouse het hy dat al die kinders wat wou met koki’s op sy skoolhemp teken. Ek het gretig nadergestaan om ook ietsie op sy hemp te teken, maar hy het sy hemp voor my gesig weggepluk en gesê dis net vir vriende, nie vir family nie.
Voor elke Desembervakansie het tannie Marie ’n afskeidsete vir al die koshuiskinders gehou. Dit was tradisie en terselfdertyd legendaries. Ons het dit die Groot Ete genoem, want dit was wraggies ’n groot ete. Die lang tafels in die eetkamer het gekreun onder al die kos wat daarop gepak was. Die eetsaal was versier met kleurvolle ballonne en linte. Op die tafels was enige kos waaraan jy kon dink: hoenderboudjies, kouevleise, toebroodjies, koeksisters, poedings, koeke, terte, pannekoek, slaaie, kaas en nog baie meer. Dit was asof tannie Marie wou opmaak vir die hele jaar wat ons honger gely het.
Van die stasie af het ons reguit na Koos se huis gery in die taxi waarin my ma ons geboender het. Sy woon nou daar, het sy vir ons verduidelik. Ek kon aflei dat sy al weer nie werk nie.
Koos het in ’n piepklein huisie met twee slaapkamers aan die verkeerde kant van Hazyview gewoon – waar al die white trash bly, het my ma vroeër eenkeer gesê. Was ons ook nou white trash?
My ma het ons verseker dis net tydelik. My ouma het vir haar werk gekry op Vaaloewer, en ons trek aan die begin van Januarie daarheen. My ouma het toe al jare lank op Vaaloewer gewoon in ’n massiewe wit huis, gedeeltelik baksteen, gedeeltelik sinkplate. Ek het geweet dit gaan baie lekker op Vaaloewer wees, veral met my ouma daar. En die Vaalrivier!
Koos se huis het ’n klein sitkamer gehad waaruit al die vertrekke behalwe die badkamer geloop het – dié het uit die kombuis geloop. Koos het in die een slaapkamer geslaap en ek en my ma in die ander kamer. Bennie-hulle moes in die sitkamer slaap.
Koos het bedags gewerk, en saans en naweke was hy meestal dronk. Maar hy het nie luidrugtig geraak soos ander mense wanneer hy dronk was nie, hy het net stiller en stiller geraak tot hy omgedop het. Party aande het hy vir ons spookstories vertel. En hy kon ’n muntstuk agter jou oor uithaal of hom heeltemal wegtoor. Koos het vir ons ’n swart hondjie gegee wat ons saam met ons Vaaloewer toe kon vat, en Bennie het hom Malansky gedoop.
Die naweke wat Koos nie dronk was nie, het hy die mooiste skaakstelle uit hout gekerf. Hy het die swart blokkies op die bord kunstig met ’n vergrootglas uitgebrand – hy het ure lank geduldig in die son gesit om dit te doen.
Geld was nie volop nie. My ma kon sommige dae vir ons net slaptjips en gebraaide aartappelskille gee om te eet. Sy het gedink dis vreeslik om vir haar kinders aartappelskille te gee, maar dit was eintlik baie lekker, veral met hope Aromat en tamatiesous op. Vandag kan jy dit so in ’n restaurant bestel.
Laat een aand kom Bennie met ’n grênd blou resiesfiets by die huis aan. ’n Gesteelde fiets. Dit was omtrent ’n week voor Kersfees en Vaaloewer was net om die draai. Bennie en my ma het in die kombuis op mekaar geskree oor die fiets. My ma was kwaad en het gesê hy moet die fiets terugvat. Bennie het geweier.
“Jy kan nie loop en fietse steel nie, Bennie. Waar leer jy dit? Dis nie hoe ek my kinders grootgemaak het nie!”
“Ek het hom nie gestéél nie, Ma. Hy het net daar gelê,” het Bennie die verskil tussen steel en optel uitgewys.
“Waar het jy hom opgetel?” wou my ma agterdogtig weet.
“By die munisipale swembad. Iemand het hom daar gelos.” Selfs ék kon hoor hy lieg.
“En wat as die polisie hom hier kom soek?”
“Niemand het my gesien nie, Ma.”
“Maar wat van Theuns-hulle?” My ma was nog steeds nie tevrede nie.
“Wat van hulle?” het Bennie hom opgeruk.
“Hoe gaan hulle voel? Dis nie reg dat jy met ’n fiets sit en hulle het niks nie! Jy kan nie die fiets hou nie,” het my ma voet by stuk gehou.
“Ek gaan nie die fiets terugvat net omdat hulle nie fietse het nie, Ma!”
“En ek sal nie toelaat dat jy jou broers en suster vermaak nie! Oor my dooie liggaam. Dis amper Kersfees en hier’s skaars kos in die huis. Ek kan nie eens vir hulle iets vir Kersfees koop nie en nou val jy hier uit met ’n donnerse fiets! Dis erg genoeg dat ander kinders hulle vermaak, maar jý gaan dit beslis nie ook doen nie!”
Bennie het die aand daarna met nog ’n gesteelde fiets by die huis aangekom. ’n Silwer BMX. Vir Theuns. Vir Kersfees.
“Nou nog net twee fietse vir Alfie en Claudie ook,” het ek my ma en Bennie die volgende oggend om die kombuistafel hoor saamsweer soos twee ou kriminele.
“Julle kan nie met die fietse ry terwyl ons nog hier bly nie, netnou herken iemand dit. Julle sal dit moet wegsteek tot ons Vaaloewer toe trek,” het my ma gesê. Ons almal het saamgestem dis die veiligste.
Ek het die dag daarna vir Bennie die fiets gaan wys wat ek wil hê: ’n pienk een met ’n wit mandjie op die stuurwiel.
“Jis, jy’t baie ambisie,” het Bennie gelag. “Ek sal my beste try.”
Ek het nie geweet wat ambisie is nie, maar ek het besluit ek wil dit vir altyd hê.
Kersfees was in die lug; die strate was vol uitgelate kinders en Kersversierings. Groot Kersbome het in die winkelvensters gepryk en die mooiste Kersliedjies het oor die radio gespeel. Skielik het ek ook uitgesien na Kersfees.
“Ek het klaar fietse vir Alfie en Claudie gespy,” het ek gehoor hoe Bennie twee dae later vir my ma fluister. “Ek sal vanaand Alfie s’n gaan kry en môreaand Claudie s’n. Alfie s’n gaan maklik wees, hy’s op die eerste verdieping.”
“Hoe lyk Alfie se fiets?” wou my ma weet.
“Presies dieselfde as Theuns s’n, net groen. Claudie s’n gaan moeiliker wees, hy’s op ’n balkon op die derde verdieping. Is ook ’n BMX. ’n Rooie.”
“Issit?” het my ma teruggefluister. “Moet jy dan nie maar eerder ’n ander fiets vir Claudie kry nie? Hoe gaan jy tot bo klim? Sê nou jy val?”
“Ek sal maklik van die een balkon tot op die boonste balkon kan klim, dis nie so hoog nie. Daar’s nie tyd om vir Claudie ’n ander fiets te soek nie, Ma, dis oormôre Kersfees. Die ander woonstelle se balkonne is nie so maklik om te klim nie. En ek sien nie ouens met fietse by die woonstelle waar dit maklik is om die balkonne te klim nie. Ek het twee dae gesoek, ek sal daai een móét gaan kry.”
“Ek weet darem nie, Ben. Drie verdiepings is hóóg,” het my ma onseker gesê.
“Ouens wat op die grondvloer of in huise bly, sluit hulle fietse met kettings vas, Ma. Hulle is nie stupid nie.”
“Wat van daai pienk een wat sy wou hê? Die een met die mandjie voor?”
“Nee, jislaaik, Ma. Daai een sit seker op die tiende verdieping. As ek daar val, breek ek my nek.”
“Okay. Hoe gaan jy die fiets van die derde verdieping afkry?”
“Ek sal hom moet afgooi. Theodore sal hom onder vang.”
Theodore was een van Bennie se vriende wat van graad een af saam met hom op Lagerspoort was.
“Haai, Ben, ek weet darem nie. Gaan dit nie te gevaarlik wees nie? Sê nou jy val?” het my ma weer gevra.
“Relax, Ma. Myne was ook op die derde verdieping,” het Bennie geantwoord.
Toe ek Kersoggend my oë oopmaak, staan die mooiste, rooiste fiets voor my bed. Hy het nou wel nie ’n mandjie op die stuurwiel nie, maar dis ’n fiéts! Ek het opgeklim – my voete het skaars die grond geraak. Toe weet ek ek sal hom jare lank kan ry.
Dit was die beste Kersgeskenk wat ek nog ooit gekry het. Ek is al deur nege-en-twintig Kersfeeste, en nog nooit kon enigiets dit top nie.
Ons eerste huis op Vaaloewer was ’n groot rondawel. Dit sou nog maande vat voor ’n regte huis sou oopgaan waarin ons kon intrek, maar ná Koos se huisie was die rondawel vir ons ’n paleis. Dit was groot en ruim, met klipvloere en skewe kamers. In die middel was ’n ronde kombuis waaruit die drie slaapkamers, ’n sitkamer en ’n badkamer geloop het, almal ewe skeef in die vorm van ’n V. Die rondawel was van klip gebou en het ’n groen sinkdak gehad. Buite was ’n mooi tuin met ’n paar vrugtebome, ’n groot, ronde, leë sementdam met krake in, en ’n windpomp.
Hierdie keer het ek en my ma ons eie kamers gehad. Bennie, Theuns en Alfie moes deel. My ouma was daar toe ons intrek . . . met ekstra meubels, toebroodjies, koffie, en baie raad en doepas. Die rondawel het lank leeg gestaan en was vol goggas en ander creatures. Muskiete het in die toilet nes gemaak en vlermuise in die dak.
Vaaloewer was ’n fees. Dit was ’n klein, rustige, plattelandse dorpie met geen teerstrate of verkeersligte nie. Almal het almal geken en alles van almal geweet. My ma het dadelik as sekretaresse by oom Piet Bosman, eienaar van die enigste eiendomsagentskap op die dorp, begin werk.
Ons kinders het vroeg soggens vir ons handdoeke in rugsakke gegooi en met ons gesteelde fietse deur die dorp se grondpaaie afgery tot by die Vaalrivier. Daar het ons geswem, kleilat gegooi, resies gejaag en vis gevang met handgemaakte visstokke tot die son saans sak. Vir die eerste keer was ’n plek vir my lekkerder as Lagerspoort en het ek nie terugverlang nie.
Ek het gereeld by my ouma aan die ander kant van die dorp gaan koffie drink en dan het ons ure lank gesels. Haar huis was reg oorkant die poskantoor en stadsaal. Sy was altyd bly om my te sien en het my oorlaai met vetkoek, pannekoek of beskuit. By haar het my pa weer vir my lewend geword, want sy het baie oor hom gepraat. Sy het graag vir my staaltjies uit sy kinderlewe vertel of foto’s van hom gewys. Sy het een maal ’n jaar vir hom gaan kuier en gereeld vir hom geskryf.
“Hoekom is my pa in die tronk, Ouma?”
“Dis grootmensdinge daai, Claudie,” het sy ontwykend geantwoord.
“Maar ek wil weet!”
“Jou pa moet maar eendag self vir julle verduidelik.”
“Dis wat my ma ook altyd sê as ek haar vra,” het ek dikmond geantwoord.
Nie dat ek my ma al baie gevra het nie; my pa was soort van ’n verbode onderwerp in ons huis. Die een keer wat ek haar wel gevra het, het sy amper my kop afgebyt.
Ek het my stiefoupa, oupa Klaas, omtrent nooit gesien nie. Hy was bedlêend en het net op Sondae uit die bed opgestaan om saam met my ouma middagete te eet. Sy het maar die pot aan die kook gehou met hulle pensioengeld en haar kapokhoenders. Hoewel ek nie dink sy het juis geld gemaak met haar hoenders nie, want sy het hulle name soos Bettie en Boela gegee en hulle soos troeteldiere behandel. Hulle het orals agter haar aangedrentel as sy in die tuin besig was en dan het sy met hulle gesels.
Bennie en Alfie het ook vir my ouma Ouma gesê, al was sy nie hulle regte ouma nie. Sy het hulle ook nie anders behandel as vir my en Theuns nie. Wat haar betref, was ons almal haar kleinkinders, en sy het vir ons elkeen ’n spaarboekie by die poskantoor gaan oopmaak. As sy vir my en Theuns truie gebrei het, het Bennie en Alfie ook elkeen een gekry. Sy het ons om haar groot kombuistafel geleer tolletjiebrei met ’n houttol en ’n hekelnaald. Haar oorskietwol is gelykop tussen ons verdeel. As ons geval het met ons fietse, het sy ons wonde met Mercurochrome gedokter en vir ons canfruit-perskes met roomys gegee om ons te troos.
Sy sou ons nooit honger laat huis toe gaan nie, daarom weet ek nie hoekom het Bennie en Theuns haar troetelhoender daardie vakansie gaan steel en hom in die sementdam agter ons rondawel gebraai nie.
“Hoe kan julle ’n hoender opvreet wat ’n naam gehad het?” wou ek geskok weet toe ek die bekende swart vere in die dam sien lê. My ouma het net een swart hoender gehad . . . “Haar naam was Bettie!”
“Môremiddag eet ons vir Boela!” het Bennie gelag en nog ’n hoenderbeen vir Malansky gegooi.
“Sies, jou vark! Ek gaan vir Ma sê. En ek gaan vir Ouma sê dis julle wat haar hoender gesteel het!”
“Ou klikbek,” het Theuns met ’n mond vol hoender gemompel.
“Nee, Claudie. Asseblief, moenie. Ons sal nie regtig vir Boela gaan steel nie, ek maak sommer ’n grappie,” het Bennie gekeer. “Dè, kry vir jou ook ’n stukkie,” het hy vrygewig Bettie se boudjie vir my aangebied.
“Ek wil nie hê nie. Sies, man! Julle is varke!”
“Gaan jy nou vir Ouma sê? Onthou wie’t vir jou ’n fiets gesteel vir Kersfees, nè?” het Bennie op my emosies gespeel.
“Hou jou bek!” het ek kwaad gesis en omgedraai om vir Alfie te gaan soek.
Ek het toe nooit hulle geheim verklap nie, maar ek het lank daarna nog naar geword as my ma hoender maak vir ete.
Die atmosfeer tussen my ma en my ouma was nooit lekker nie. Dit was nie openlik vyandig nie, maar dit was ook nie juis gesellig nie. Hulle het altyd baie formeel met mekaar gesels, en hoewel ek nooit my vinger daarop kon lê nie, het ek geweet hulle sou nooit saam Tupperware-paarties hou nie.
Ek het eers jare later agtergekom dis omdat my ouma my ma verwyt het dat my pa in die tronk was. My pa sou weggekom het as my ma nie die polisie gebel het nie. My ouma het nie vir my ma se onthalwe vir haar werk by Piet Bosman gekry nie; sy het dit vir ons kinders se onthalwe gedoen. Sodat sy darem namens my pa ’n oog oor ons kon hou.