Читать книгу Swartskaap - Odette Schoeman - Страница 8

Hoofstuk 3

Оглавление

Train the parent and spare the child.

DUANE HAHN

My ma het opgehou werk ná Soekie se dood en alles het sleg begin gaan. Sy het siek geword en Siena het gesê geen dokter of dominee sal kan help nie, my ma moet eerder ’n sangoma laat kom.

“Dis Pina!” het my ma met wydgerekte oë en bleek wange vir Siena gesê. “Sy’t vir Soekie doodgemaak . . . vergiftig. En sy weet ek weet!”

My ma het na die emmer langs haar bed gegryp en weer ’n keer opgegooi. Ek het langs haar op die bed gesit en ek kon die stink van haar opgooi ruik, maar ek was te bang om uit die kamer te gaan. Bang sy gaan ook dood soos Soekie doodgegaan het. Onverwags, onverstaanbaar en onverklaarbaar.

“Ons moet die sangoma laat kom, miesies,” het Siena ernstig gesê. “Ek kan by djou oë sien dis nie die siekte nie, dis ’n curse!”

“Waar gaan ek nou ’n toordokter kry?” My ma het net so bang geklink soos ek gevoel het.

“Daar bly een by die lokasie. Ek sal hom saambring môre.”

Siena het die volgende oggend met ’n vreemde man by ons woonstel opgedaag. Duisende kraletjies was slordig in die vuil slierte van sy lang hare ingeryg en om sy nek was ’n grillerige ketting van vuilwit bene en voëlvere. Die ondraaglike reuk wat saam met hom ingekom het, het my my neus met twee vingers laat toedruk.

“Wys respek, Claudie!” het Siena kwaai gebrom en my ’n vuil kyk gegee. Ek het my hand laat sak en deur my mond asemgehaal.

Die man het in die woonstel begin ronddans en in ’n vreemde taal gesing-skree. In sy hande het hy iets gehou wat brand. Toe hy by my ma se bed kom, het hy met groot gebare gemaak asof hy iets uit haar lyf trek sonder om aan haar te raak. Dit het my bang gemaak en ek het met my rug teen die verste muur gaan staan.

My ma se gesig het verstar gelyk en Siena het dieselfde uitdrukking gehad as wanneer sy die eerste sluk uit die bottel skelm drank vat. Die toordokter het nou met die onsigbare iets op die vloer gestoei en ek het vreesbevange na hom gestaar.

“Dis nie vir kinders se oë nie, Claudie, gaan wag buite!” het Siena my skielik aan die skouer gevat en uit die kamer gedruk.

“Ek wil nie my ma los nie!” het ek soos ’n steeks donkie vasgesteek. “Wat maak hy?”

“Hy baklei met die bose gees. Sy sal orraait wees. Hy gaat vir haar gesond maak.”

“Belowe?”

“Belowe. Toe, uit nou!”

My ma het toe gesond geword, maar sy het nie teruggegaan werk toe nie. Wanneer sy nie geslaap het nie, het sy net voor haar gesit en uitstaar. Sy het selfs opgehou om Sondae haar naels te verf of haar gesig te stoom. Sy het nie meer soos my ma gevoel nie, en hierdie vreemde vrou het my banger gemaak as die toordokter en die onsigbare bose gees.

Dit het finansieel al slegter met ons gegaan en Siena het al minder by ons kom werk – my ma kon haar nie meer bekostig nie. Op ’n dag het Siena glad nie meer gekom nie.

Party dae het my ma my na die karwassery se werkers agter ons woonstel gestuur om by hulle geld te bedel vir brood en sigarette. In die aande het ek fake-tande met stukkies wit papier gevou en dit in my skoen onder ons bed gedruk. Ek het gehoop, gebid, gewens, gesmeek dat ek die tandemuis kon bullshit.

Toe kom Paul Lombaard. Ek moes vir my ma ’n pakkie sigarette by die kafee op die hoek gaan koop, maar het nie genoeg bedelgeld gehad om daarvoor te betaal nie. Terwyl die Griek agter die toonbank besig was om dit vir my te verduidelik, het ’n hand oor my kop gestrek en ’n tweerandnoot voor hom neergesit. Ek het dankbaar die pakkie gevat, want my ma was erg oor haar sigarette. Wanneer sy nie sigarette gehad het nie, het sy vreeslik geïrriteerd geraak en sou sy selfs stompies rook.

“Wat is jou naam?” het die man vir my gevra toe ons buite op die kafee se stoep staan. Hy het blou jeans en ’n dik belt met ’n groot gespe aangehad. Hy het sy twee duime voor by sy belt ingehaak en my sonder ’n glimlag op en af bekyk.

“Claudie,” het ek skaam geantwoord en vir sy skerppuntskoene gekyk. Ek het nog nooit voorheen ’n man gesien wat sulke vroumensskoene dra nie.

“Ek’s Paul. Vir wie is die sigarette?”

“Vir my ma.”

“Waar bly julle?”

Ek het na die woonstelgebou beduie. “Daar, oom.”

“Ek is nie jou oom nie, my naam is Paul.”

“Okay, oom.”

“Het jy ’n pa?”

“Ja.”

“Watse werk doen hy?”

“Hy is ’n tronkvoël.”

“Kom, ek stap saam met jou tot by jou ma,” het hy vriendeliker aangebied.

Ek het nie omgegee dat hy saamstap nie. Ek het onderlangs na hom geloer. Hy was baie lank, met ’n blas vel en ’n krom neus, sy oë amper swart.

My ma het ongemaklik gelyk toe ek saam met die onbekende man in die deur verskyn. Sy het selfbewus aan haar hare gevat en denkbeeldige kreukels uit haar klere gevryf – ’n gewoonte wat sy nog altyd gehad het as sy in ’n vreemde man se geselskap is.

“Paul,” het hy homself voorgestel en sy hand na haar uitgehou. “Ek het jou al voorheen gesien, Sondae by die meer. Vir jou en . . . e . . . Claudie.”

“Haai, regtig?” het my ma gegiggel en sy hand geskud.

Ek het na my ma se hand in Paul s’n gekyk: haar hand was baie wit en dun, ek kon selfs die beentjies en blou are onder haar bleek vel sien. Haar rok het soos ’n sak aan haar maer lyf gehang.

“Wil jy inkom vir koffie?” het sy gevra.

Ek het dikbek eenkant toe gestaan toe hy inkom. Kwaad vir hom oor hy nie sy ry wou kry nie, kwaad vir my ma oor sy hom ingenooi het.

In die weke daarna het Paul tydig en ontydig aan ons woonsteldeur kom klop. My ma het bly gelyk om hom te sien en sy het meer gereeld gelag. Moet wees oor die sigarette wat hy elke keer vir haar gebring het, het ek gedink. Sy het weer begin om haar naels te verf en het elke oggend grimering aangesit, al het sy nie gaan werk nie.

Ek het nie van Paul gehou nie, want hy het die vrede tussen my en my ma heeltemal kom versteur. Wanneer hy by ons gekuier het, het my ma my meestal uitgejaag om buite te gaan speel.

“Maar ek is nie lus om buite te speel nie, Ma!”

“Wat wil jy dan doen? Wil jy ons tande tel?”

“Nee, ek wil rummy speel.” Ek het hoopvol die pakkie verweerde kaarte opgehou.

“Ons kan vanaand rummy speel. Toe, gaan speel buite! En jy kom nie terug voor ek jou kom roep nie.”

Elke keer wat ek by die woonstel uitgestap het, kon ek hoor hoe sluit sy die deur agter my. Dit het my kwaad gemaak. Ek het met ’n stywe rug op die trappie voor die deur gesit tot sy later kom oopsluit het.

Op ’n dag het Paul met ’n groot geel teddiebeer in sy arms by ons opgedaag. Ek het gedink die beer is vir my ma, maar hy het dit na my uitgehou.

“Is dit myne?” wou ek verbaas weet.

“Ja. Vir jou verjaarsdag.”

Ek het dit gretig by hom gevat. “Wanneer is my verjaarsdag?”

“Weet die kind dan nie sy verjaar vandag nie, Lisa?” het Paul oor sy skouer na my ma in die kombuis geroep.

“Ek het haar nog nie gesê nie,” het my ma geantwoord. Sy het uit die kombuis gekom met ’n sjokoladekoek in haar hande.

“Hoekom nie?” het Paul gevra.

“Ek wou eers sien of jy ’n plan kon maak vir ’n geskenk.” My ma het die koek voor my neergesit. “Geluk met jou verjaarsdag, Claudie!”

“Is ek nou vyf jaar oud?” wou ek verras weet.

“Ja,” het sy gelag en die koek in groot skywe gesny.

Paul het min kom kuier toe Theuns-hulle vir die kort Oktobervakansie by die huis was. Bennie was openlik vyandig teenoor Paul, maar dit het nie gelyk of dit hom pla nie.

“Is dit Ma se boyfriend?” het Bennie gevra en onbeskof met sy wysvinger na Paul gewys toe my ma hom aan hulle voorstel. Theuns het met ’n frons na Paul gekyk en Alfie met ’n glimlag.

“Jy is heeltemal te groot vir jou skoene,” het my ma haar vir Bennie vererg. “Groet hom ordentlik!”

Bennie het sy lippe styf opmekaar gepers en anderpad gekyk.

“Verskoon hom maar, Paul,” het my ma verskoning gemaak vir Bennie se slegte maniere. “Hy is nie gewoond aan ’n man in die huis nie.”

Ná die vakansie het Paul se gekuier by ons in ’n oorslapery ontaard.

Ek was gewoond daaraan om saam met my ma op haar dubbelbed te slaap as Theuns-hulle in die koshuis was, en die eerste aand wat Paul by ons oorgeslaap het, het ek ’n bohaai gemaak toe my ma sê ek moet in my eie bed gaan slaap. Ek het só hard en aanhoudend gehuil dat sy later ingestem het dat ek maar by hulle kan slaap.

“Die kind kan nie sáám met ons op ’n bed slaap nie, Lisa!” het Paul geprotesteer en ek het weer begin huil.

“Dis net vir die eerste aand of so, Paul. Sy moet nog daaraan gewoond raak,” het my ma gepaai.

Sy het haar kant van die deken opgelig en ek het langs haar ingeklim. Ek het met my kop op haar skouer gelê en sy het my hare gestreel tot ek aan die slaap geraak het.

Ek het wakker geword van die bed se geskud en snaakse geluide. Vir ’n oomblik was ek heeltemal deurmekaar. Toe sien ek Paul se kaal lyf bo-op my ma. Harde kreungeluide het uit hulle lywe gekom. Ek kon die ritmiese beweging van Paul se boude bo-op my ma sien. Sy mond was oor een van haar kaal borste – hy het gelyktydig gesoen en gelek. My ma het met haar een hand Paul se hare getrek en met haar ander hand teen die bed se kopstuk gedruk. Haar bene was om Paul se rug gevou en haar kop was agtertoe gegooi – haar mond oop en haar oë toe.

Ek het geskrik. Wat doen hy met haar?

“Ma?” het ek bang begin huil.

“Ma!” het ek harder gehuil toe sy erger begin kreun. Sy het Paul se hare gelos en met haar ander hand ook teen die kopstuk gedruk om haar borste verder uit te stoot. Sy het nie eens vir my gekyk nie.

“Hou jou bek en slaap!” het Paul hard vir my gefluister. Sy rug was op ’n boggel getrek en sy boude het nog steeds ritmies op en af beweeg.

“Wat maak jy met my ma?”

“As jy nie slaap nie, beter jy nóú in jou eie bed gaan klim!”

“Ek wil nie my ma los nie.”

“Hou dan jou bek, óf . . . !”

Van toe af het ek hom gehaat. Ek het bang gelê en wag tot die bed stilraak en hy met ’n sug van my ma afgerol het. Hulle onreëlmatige asemhaling het oorverdowend in die stilte geklink.

“Ma?” het ek weer gevra. Ek wou hê sy moet met my praat. Ek wou hê sy moet vir my sê dat sy okay is.

“Van môre af slaap jy in jou eie bed, Claudie!” het my ma skielik hard gesê en van die bed af opgespring. “Jy gun my niks!”

Sy het die badkamerdeur met ’n slag agter haar toegeklap. Ek het my oë styf toegeknyp gehou tot sy weer in die bed kom klim het. Sy het haar rug op my gedraai en ek het tegelyk hartseer en kwaad gevoel.

Paul was reeds weg toe ek die volgende oggend wakker word. My ma was besig om die woonstel skoon te maak. Die oomblik toe ek onthou van haar en Paul die vorige aand, het ek verskriklik kwaad geword. Ek het na die laaikas in haar kamer gehardloop, die laaie begin uittrek en die inhoud op die vloer gegooi. My ma het verbaas na my gekyk. Nog voor sy iets kon sê het ek by die voordeur uitgehardloop.

Daar was ’n wensput by die Boksburgmeer. My ma het eenkeer gesê as jy ’n muntstuk in die water gooi en jy wens regtig hard, sal jou wens bewaarheid word. Ek het na die meer geloop en die eenrandstuk wat Paul die vorige aand vir my gegee het om op te hou huil in die wensput gegooi. Ek het met my hele hart gewens my pa moet huis toe kom.

Theuns-hulle het nie daardie Desembervakansie huis toe gekom nie. My ma het gesê hulle gaan saam met ’n kerkgroep see toe. Ek was teleurgesteld. Ek het weke lank die dae afgetel tot ek hulle weer sou sien. Hulle sou darem die laaste twee dae van die vakansie huis toe kom en ek moes maar tevrede wees daarmee.

Vroeg in Desember het my ma ’n groot boks van haar hangkas afgehaal en ’n plastiekboompie met blink versiersels in ons woonstel opgeslaan.

“Waarvoor is die boom, Ma?” wou ek nuuskierig weet.

“Vir Kersfees.”

“Wat’s Kersfees?”

“ ’n Tyd wanneer jy ’n Kersboom in jou woonstel opslaan.”

“Hoekom?”

“Sommer.”

As ons saans die ligte afgeskakel het, het die Kersboom se liggies mooi gelyk, en ek het besluit ek hou van Kersfees.

Ek was baie bly om Theuns-hulle te sien. Ek weet nie of my ma en Paul dit so afgespreek het nie, maar hy het glad nie daardie twee dae kom kuier nie.

Theuns het vir my ’n canfruit-bottel vol skulpe gebring. Ek dink dit was die eerste skulpe wat ek in my lewe gesien het.

“Hoe lyk die see? Was dit lekker?” wou ek jaloers weet.

“Sjoe, dis gróót, Claudie. Ek het die skulpe spesiaal vir jou opgetel. Hou hierdie een teen jou oor, dan kan jy die see hoor.”

“Wow! Is dit regtig die see?”

Om die see deur ’n skulp te hoor, was vir my ’n wonderwerk. Ek het heeldag met die skulp teen my oor gesit. Dit was van daardie oomblik af my kosbaarste besitting.

Die aand voor my boeties sou teruggaan koshuis toe, het ons almal in ons kamer op die enkelbeddens rondgesit. Bennie en Alfie se aandag was by ’n elektroniese Donkey Kong-speletjie waarmee Bennie gespeel het. Theuns het sy skooltas reggepak en ek het deur sy boeke geblaai. My ma was in die kombuis besig om kos te maak.

“Ek wens ek kan al lees en skryf,” het ek teenoor Theuns gesug.

“Dis my beurt!” het Alfie skielik gegil en die speletjie uit Bennie se hande probeer gryp.

“Jy kan wag tot ek klaar is,” het Bennie gesê en hom weggestamp.

“Maar dis my beurt! Gee!”

“Nee!”

“Moenie baklei nie, julle!” het my ma uit die kombuis geroep. Ek het die hoë klank in haar stem herken en groot oë vir Theuns getrek.

“Maaa!” het Alfie weer gegil.

“Ek sê moenie baklei nie!”

“Maar Ma, Bennie wil nie dat ek ook speel nie! Maaa!”

My ma het met die ketel se koord in haar hand die kamer ingestorm en op Alfie afgepyl.

Hy het met sy hande in ’n biddende posisie op sy knieë neergeval en begin bid: “Here, asseblief, moenie dat sy my slaan nie. Asseblief, asseblief, Here!”

Ek het gewonder of hy dit op die kerkvakansie geleer het. My ma het ’n dik swart Gideonsbybel in haar bedkassie se laai gehad, maar sy het dit nooit gelees nie en ek het haar nooit soos Alfie sien bid nie.

Alfie se gebed is nie verhoor nie. My ma het geslaan. En geslaan. En geslaan. Sommer terwyl hy nog gebid het. Sy het nie omgegee waar sy slaan nie; dit was asof haar kop haar gelos het. Die houe het orals op Alfie se lyf neergereën en hy het al harder geskree.

Ons ander drie het verskrik toegekyk en toe dit duidelik word dat sy nie gaan ophou nie, het ons saam met Alfie begin skree. Toe my ma uiteindelik stop, het Alfie kermend op die vloer bly lê. My ma het haar vir die res van die aand in haar kamer gaan toesluit.

Swartskaap

Подняться наверх