Читать книгу Swartskaap - Odette Schoeman - Страница 9
Hoofstuk 4
ОглавлениеWe are born wet, naked and hungry. After that things just get worse.
ANONIEM
Alfie is nie die volgende dag saam met Theuns en Bennie terug koshuis toe nie. Miskien het my ma skuldig gevoel. Of miskien wou sy nie hê iemand moet die blouswart hale op sy rug, maag en bene sien nie. Miskien albei.
Ons het ’n paar dae later Vanderbijlpark toe getrek: ek, my ma, Alfie en Paul. Dit was die begin van ons jare lange nomadiese bestaan. My ma het saam met die bakkie gery wat ons paar meubelstukke vervoer het om solank die nodigste goed by die nuwe huis te begin uitpak. Ek, Alfie en Paul het laat die aand met Paul se motor gevolg.
Ek moes voor langs Paul sit. Alfie het op die agtersitplek gelê en slaap, die Donkey Kong-speletjie wat Bennie vir hom gegee het in sy hande. Dit was pikdonker en die pad was stil. Skielik het Paul sy hand tussen my bene ingedruk en my panty met sy vingers probeer wegskuif.
“Nee,” het ek gesê en my bene toegeknyp. ’n Aaklige gevoel het in my maag opgestoot. Ek kon nie sy gesig in die donker uitmaak nie.
“Jy sal daarvan hou. En ek sal jou betaal.”
“Ek hou nie daarvan nie.” Ek het begin huil en my knieë so styf as moontlik teenmekaar gedruk.
“Maak oop jou bene en hou jou bek, of ek laai jou nét hier af,” het Paul gedreig en my knieë met sy linkerhand oopgeforseer.
Ek was bang hy laai my regtig af en het onwillig stilgesit. Ek het gewens Alfie word wakker, maar hy het soos ’n klip geslaap. Die pad Vanderbijlpark toe het soos ’n ewigheid gevoel.
Toe ons voor die nuwe huis stop, het Paul ’n eenrandstuk in my hand gedruk en in my oor gefluister: “Waag dit net om vir jou ma hiervan te sê, dan wys ek jou wat doen ek dán met jou.”
Ek sou anyway nie my ma vertel het nie, ek sou te skaam gekry het.
My ma se gesig het soos ’n donderwolk gelyk toe ons instap. Sy het my en Alfie reguit kamer toe gestuur om te gaan slaap. Sy het stowwerige gordyne oor ons gegooi om ons toe te maak, want sy het nog nie die komberse uitgepak nie.
“Ek kan nie wag om terug koshuis toe te gaan nie,” het Alfie in die donker vir my gefluister. Ek kon my ma en Paul se stemme êrens in die huis hoor. Dit het geklink of hulle stry oor iets.
“Ek wens ek kon ook gaan,” het ek teruggefluister. “Wanneer gaan jy terug?”
“Ma het gesê Paul sal my volgende week vat.”
“Ek hou nie van Paul nie.”
“Ek ook nie. Ek hou ook nie meer van Ma nie.”
“Hoekom nie?” wou ek verdwaas weet.
“Het jy gesien hoe hard het sy my geslaan?” het Alfie verwytend gefluister en sy rug op my gedraai.
Ek het vir ’n rukkie na sy asemhaling geluister. Mag ’n mens nie van jou ma hou nie? het ek gewonder. Ek het my ma onder in die gang hoor lag. Of sy kon dalk gehoes het.
“Alfie?” het ek weer gefluister.
“Hmm?”
“Wanneer kry die perde horings?”
“Nooit.”
“Nóóit?”
“Perde kan nie horings kry nie, stupid.”
“Hoekom nie?”
“Omdat varke nie kan vlieg nie.”
Toe ek aan die slaap raak, het ek gedroom ek is alleen in ’n vreemde, donker kamer sonder vensters. Ek het my ma hoor skree en ek wou na haar toe gaan, maar toe ek die deur probeer oopmaak, het die handvatsel afgebreek. Ek het natgesweet wakker geskrik.
Die nuwe huis was so te sê leeg, het ek die volgende oggend gesien. Net my ma se slaapkamerstel, ons kinders se enkelbeddens, die kombuistafel en die televisiestel.
Nadat Paul Alfie die volgende week koshuis toe gevat het, was dit net ons drie in die nuwe huis. Daar was darem een troos vir my: die vorige inwoners het ’n hond en ’n katjie agtergelaat en ons het hulle aangeneem. Ek het die kat Missy en die hond Bonnie gedoop. My ma het gesê die kat mag saans by my op my bed slaap en ek was bly daaroor.
In die weke wat gevolg het, het ek gesorg dat ek nooit alleen saam met Paul was nie. Dit was nie moeilik nie, want hy het bedags gewerk en my ma was altyd by die huis.
Ek het ook ’n vriend gemaak en dit was ongewoon vir my, want ek was net aan my boeties gewoond. Ons bure se seuntjie, Johan, was omtrent Alfie se ouderdom. Hy het ook pas met standerd een begin. Ons het die meeste middae in die straat voor ons huise gespeel met yo-yos en karretjies. Ons het daarvan gehou om ander mense se perskes te steel, bal te skop en mekaar te tart.
Johan het klappers gehad wat hy oor sy voete getrek het en dan het dit sulke klap-klap-geluide gemaak as hy loop. Ek was vreeslik jaloers daarop en het Theuns se canfruit-bottel vol skulpe daarvoor geruil. ’n Dag later het dit vir my gevoel asof ek my siel verruil het. Ek het na Theuns verlang en wou die skulpe terughê, maar Johan wou nie terugruil nie.
Ek het so sleg en skuldig gevoel oor ek Theuns se skulpe verruil het dat ek nagte om gehuil het. Toe sien ek die bottel een weeksoggend in die vensterbank van Johan se kamer staan. Ek kon my geluk nie glo nie en het die heel eerste diefstal van my lewe gepleeg.
Ek het daardeur ’n vriend verloor, maar darem my skulpe teruggekry. Theuns het weer naby gevoel en skielik was die lewe weer mooi. En ek het darem nog vir Missy en Bonnie gehad; ek het nie vir Johan nodig gehad nie.
Paul het elke nou en dan iets huis toe gebring: ’n sitkamerstel, ’n langhaarmat vir die sitkamer, ’n nuwe kombuistafel . . . Hy het selfs vir my ’n inkleurboek en vetkryte gekoop.
My ma het nie eens gelukkig gelyk oor al die goed nie. Sy het elke dag misliker en misliker geword. Sy het nooit meer gelag nie en het weer in die vreemde, starende vrou van ná haar siekte verander. Haar eetgewoontes het ook vreemd geword. Sy het my gereeld na die supermark bo in die straat gestuur om vir haar heuning en ’n botteltjie gherkins te gaan koop.
Dit was omtrent ’n kilometer ver en ek was elke keer bang om te loop. Bang iemand steel my. Bang iemand steel my ma terwyl ek weg is. Ek het skielik bang vir alles geword. Dan het my ma belowe sy sal by die hek staan en vir my kyk tot ek terug is.
Ek het dikbek geloop en elke twee sekondes omgekyk of ek haar nog kon sien. Sy en Bonnie het by die hek gestaan soos sy belowe het tot ek terug was. In die kombuis het sy heuning oor die suur gherkins gegooi en nie opgehou eet voor alles op was nie.
Saans kon ek hoor hoe skree sy en Paul op mekaar. Daar het nie meer ’n dag verbygegaan dat hulle nie baklei het nie. Ek was bang hy doen iets aan haar, of dat sy iets sal oorkom en dat ek alleen saam met hom sal wees. Dan het ek Missy se warm lyfie styf teen my vasgedruk en beter gevoel.
“Watse kleur is ’n vark, Ma?” het ek een middag gevra terwyl ek op die sitkamermat gelê en inkleur het. My ma het met haar bene voor haar uitgestrek op die bank gesit en televisie kyk. ’n Sigaret het in die asbakkie langs haar gelê en wegbrand, maar dit het nie gelyk of sy dit agterkom nie. Haar rok wat in Boksburg so los aan haar lyf gesit het, het nou styf om haar maag gespan.
“Pienk,” het sy geantwoord.
Ek dog sy is sarkasties. “Moenie lieg nie! Hoe kan ’n vark piénk wees?” het ek gefrustreerd uitgeroep. “Watse kleur moet ek die vark maak?”
“Maak hom pienk! ’n Vark is pienk!” het sy vir die eerste keer in ’n lang tyd weer gelag.
Ek het my gruwelik vererg, opgespring en die inkleurboek teen die muur gegooi. Toe ek by die sitkamer uitstorm, het sy nog steeds gelag. Ek was kwaad oor sy nooit meer gelag het wanneer ek wou hê sy moes lag nie, maar dan lag sy die een keer wat ek wou hê sy moes ernstig wees. Ek was kwaad omdat ek nie kon verstaan hoekom sy altyd kwaad was nie. Sy was kwaad as Paul iets huis toe bring, én sy was kwaad as Paul weer iets weggevat het.
So vinnig soos hy die meubels en goed huis toe gebring het, so vinnig het hy dit weer verkoop. Ons huis was gou leër as toe ons daar ingetrek het. Paul het selfs sy kar verkoop. Hulle bakleiery saans het erger en erger geword.
“Ek het ’n goeie werk by Yskor, Lisa! Maar dit sal tyd vat om my op te werk. Dinge gebeur nie sommer oornag nie!” het Paul geskree.
“Góéie werk? Jy’s ’n kommin kokkolol, man!” het my ma teruggeskree.
“Darem sorg hierdie kommin kokkolol dat jy en jou kind ’n dak oor julle koppe en kos in julle mae het!”
Teen dié tyd kon ek glad nie meer my pa se gesig onthou nie, maak nie saak hoe hard ek probeer het nie. Ek kon hóm skaars onthou. Hy was nie meer vir my ’n realiteit nie, net ’n gedagte: Ek het ’n pa. Êrens. In die tronk. Wat ek weer eendag op ’n reëndag sal sien.
Toe ons Vanderbijlparkhuis omtrent leeg was, het ons weer getrek, hierdie keer na Westonaria. Paul het sy werk verloor en ons kon nie meer die huur bekostig nie, het ek afgelei uit hulle rusies.
Ons het vir Missy en Bonnie agtergelos, nes die vorige inwoners. Snags het ek gedroom ons ry terug en ek sien hulle langs die pad loop, op soek na ons. Dan het ek teleurgesteld wakker geword. Of ek het gedroom hulle gaan dood van die honger of iemand slaan hulle. Dan het ek verlig wakker geword. Ek het erger gevoel oor Missy en Bonnie as toe my pa tronk toe is.
Ons het in ’n gemeubileerde tweevertrekwoonstel agter in mense se tuin gaan woon. Daar was nie ’n kombuis of sitkamer nie, net twee slaapkamers en ’n badkamer. Dit het sleg met ons gegaan. Paul het by ’n hotel werk gekry en daar was nie genoeg geld vir ’n beter blyplek nie.
“Dis net tydelik, Lisa,” het ek hom by my ma hoor gatkruip. Hy het met sy hand oor haar groot maag gevryf.
“Jy sê dit al vir maande!” het sy bitsig geantwoord en sy hand weggeklap.
Hulle bakleiery het nou gewelddadig geraak. Paul het een aand ’n wit trourok huis toe gebring en my ma gevra om met hom te trou. Sy het hom met ’n glasbord deur sy gesig geslaan.
“Jou fokken bitch!” het hy gesis en haar aan die hare gegryp.
Ek kon die bloed op sy gesig sien en het histeries begin gil: “Los my ma uit! Los my ma uit!”
Ek het gehoop die mense in die hoofhuis sal dalk die geskreeu hoor en kom help, maar as hulle dit gehoor het, het hulle besluit om nie in te meng nie. Soos al die vorige kere.
“Los my, jou useless bastard!” het my ma geskree en wild na Paul geslaan.
Hy het haar gelos en die woonstel se deur hard agter hom toegeslaan. Ons het hom die res van die aand nie weer gesien nie en ek was dankbaar daaroor.
Die trourok was die mooiste iets wat ek nog gesien het, vol sagte satynvalle en met fyn kraletjies daarop vasgewerk. Ek wou hê my ma moes dit aantrek sodat ek kon sien, maar sy het dit aan die brand gesteek.
Paul het die volgende dag teruggekom en dinge het soort van na normaal teruggekeer – as ’n mens die lewe in ’n tweevertrekwoonstel sonder ’n kombuis agter in mense se tuin normaal kan noem.
Theuns-hulle sou die Aprilvakansie ook nie huis toe kom nie. My ma het gereël dat hulle weer saam met die kerk op ’n kamp gaan, want die woonstel was te klein vir ses mense.
Gedurende die vakansie het my ma my beveel om vir die dag saam met Paul hotel toe te gaan. Sy het nie lekker gevoel nie en wou heeldag in die bed bly sonder om oor my bekommerd te wees.
Ek was bang en het geweier.
“Jy gáán saam met Paul hotel toe, Claudie!”
“Nee, Ma, ek gaan nie, ek wíl nie, ek sál nie!” het ek hardegat geprotesteer en my voet op die grond gestamp.
Toe klap sy my teen die kant van my kop, só hard dat ek begin opgooi het.
“Gaan vee jou fokken gesig af!” het sy geskree en ek het begin huil.
Ek was só geskok dat ek sonder ’n verdere woord saam met Paul hotel toe is. Op pad daarheen het ons stil langs mekaar geloop. Ek het heelpad saggies gehuil en snot oor my hele gesig gesmeer in my pogings om my trane af te vee. Ek was bang en benoud en hartseer oor my ma. Ek het nie gehuil oor die klap so seer was nie, ek het gehuil oor sý gehuil het. Oor ek geweet het dis mý skuld dat sy gehuil het.
En ek was bang vir Paul. Gaan hy weer iets met my probeer? Dit was die eerste keer dat ons weer alleen saam was.
By die hotel het hy my na ’n kamer gevat en my beveel om op die groot dubbelbed te sit. Ek het met ’n stywe rug op die randjie van die bed gaan sit. Ek was naar, my oë het gebrand van al die huil en my kop was nog seer van my ma se klap.
“So, wat gaan ek heeldag met jou aanvang?” het Paul met ’n smerige glimlag gevra. “Aangesien jou ma jou nou op mý gedump het.”
Hy het omgedraai en ’n wit hemp en swart broek uit die kas agter hom gehaal. Toe hy begin om sy jeans uit te trek, het ek ongemaklik afgekyk na my hande op my skoot en met my vingers begin speel. Lank terug, in die Secundahuis, het my pa my ’n rympie geleer vir my vingers: duimpie, duimpie-se-maat, langeraat, fielafooi, piepie-in-die-kooi. Ek het my vingers dié name gegee en my verbeel hulle is mense wat met my kan praat.
“Niks nie,” het ek hoopvol geantwoord.
Hy het gelag. Nadergekom en reg voor my kom staan. “Kyk vir my. Of ek los jou vanaand hier as ek huis toe gaan.”
Ek het opgekyk. Hy het sy penis uit sy onderbroek gehaal en met hom begin speel. Ek het skaam gekry.
“Laaik jy dit?” het hy uitasem gevra. “Wil jy proe?”
“Nee.”
“Proe, man! Hy proe lekker.”
“Ek wil nie.”
“Ek dink jy wil,” het hy gesê en sy penis in my gesig gedruk.
“Ek gaan vir my ma sê as jy weer aan my vat.” Ek weet nie waar ek die moed vandaan gekry het nie, maar ek het skielik roekeloos en uitdagend gevoel.
Toe druk hy sy penis vinnig terug in sy onderbroek en klap my hard deur my gesig. Op dieselfde plek waar my ma se hou van vroeër nog gepyn het.
“Vertel dít vir jou ma, jou klein brat! Jy wou my mos afloer terwyl ek aantrek!”
Ek het my brandende wang vasgehou en van voor af begin huil. Eers toe ek die deur hoor toegaan, het ek dit gewaag om weer op te kyk. Ek was verlig om alleen in die kamer te wees. Ek het nog steeds gehuil. Oor my ma. Oor Theuns. Oor Missy en Bonnie. Oor my pa. Oor my seer kop en gesig.
Ek moes aan die slaap geraak het, want toe Paul my aan my skouer wakker ruk, was dit al donker buite.
“Gaan was daai snot van jou gesig af. Sies, man, jy lyk soos ’n tramp! Jy loop nie so saam met mý nie.”
Ek het Sammy net een keer gesien. Vinnig. Sy het geel klere aangehad en was ’n piepklein bondeltjie in ’n kombers toegevou. Toe my ma met haar uit die hospitaal stap, het sy haar dadelik vir ander mense gegee. Die vrou het haar gretig uit my ma se arms gevat.
Ek het nadergestaan en verwonderd na haar gekyk. “Is dit ’n dogtertjie of ’n seuntjie?” het ek gefluister.
“ ’n Dogtertjie,” het my ma geantwoord, haar gesig totaal uitdrukkingloos.
“Wat is haar naam?”
My ma het vraend na die ander vrou gekyk.
“Sammy,” het die ander vrou geantwoord.
Al het my ma niks vir my gesê nie, het ek verstaan dat dit haar baba en my sussie was. Ek het net nie verstaan hoekom sy haar vir ander mense gegee het nie. Paul het eenkant gestaan en rook, so asof hy nie deel wou wees van die gebeure nie, al was dit sy kind ook. Wou hy dalk vir Sammy gehou het, het ek later gewonder, dié dat hy my ma gevra het om met hom te trou?
Sammy is op 20 April gebore, in dieselfde jaar wat ek ses sou word. My ma het my hele kinderlewe nooit oor haar gepraat nie – dis asof sy Sammy se hele bestaan ontken het. Of miskien het sy net gedink sy skuld my nie ’n verduideliking nie.
“ ’n Privaat aanneming,” het sy jare later gesê toe ek haar oor Sammy se aanneemouers uitgevra het. Ons het ná my matriekjaar by ’n klein restaurantjie in Johannesburg gaan koffie drink. Ek het na haar hande gekyk – die naellak wat plek-plek besig was om af te skilfer het my hartseer gemaak. My ma was altyd erg gesteld op haar naels. Sy het seker opgehou om om te gee.
“Die mense se van was Smith.”
Net dit. Nie ’n naam nie, nie ’n adres nie. Dis al wat sy kon onthou van die mense vir wie sy haar jongste kind gegee het. Siembamba, Mamma se kindjie . . .