Читать книгу Die val van die dice - Pat Stamatélos - Страница 4
Оглавление1
Die bord tref die vloer en spat aan skerwe. Die blinkgepoleerde skoene se hakke kap ritmies op die vloer. Mense juig en die musiek blêr.
’n Tweede bord tref die vloer, harder as die eerste een, die klank oorverdowend. Stukkies wit glas vlieg die wêreld vol. Karretjies wip soos hy skrik, staan op om beter te kan sien. Glas wyn in die een hand, sigaret in die ander, hy beduie met die sigaretstompie.
“Het djulle dit gasien? Hel! Het djulle gasien? Hulle smyt nou die borde oppie vloer!”
Ek en Lettie lag vir haar man. Hy lyk verskrik, soos een wat ’n spook gesien het.
“Dis mos ’n Griekse doop,” verduidelik ek. “Hulle maak so. Jy sal nog sien as een ’n tafel met sy tande optel en begin dans.”
Karretjies slaan met sy plat hand teen sy voorkop.
“Nei, ek glo djou nie! Met sy tanne? Is djy serious?”
My antwoord raak verlore in die gedreun van die musiek. Nog borde spat op die vloer uitmekaar terwyl die dansers hul passies uitvoer.
Die boezoeki’s speel al vinniger, die Grieke raak al plesieriger. Meno sit op my skoot en wip op en af soos my bene en voete saamdans. Hy druk sy lyfie teen my; ek verlustig my in sy seuntjiereuk, sy onskuld, sy warmte.
Sy koppie draai na Karretjies, dan na die dansers, dan weer na Karretjies. Karretjies met sy grasgroen baadjie, groen hemp, groen das en groen broek. Aan sy lapel is ’n roos vasgesteek waarvan die koppie moeg afhang. Die grashalm en sy blom.
Panajota sit op my dadda se skoot. Blonde haartjies kort geknip en deur haar suster gewas, gecondition en toe geblowdry. Ek loer skelm na oupa en kleinkind, sien hoe hy haar pienk rokkie oor haar knietjies trek. Die groot, gerimpelde hand wat haar stewig vashou. Dadda se bos grys hare is gebrylcreem en lê netjies plat, als agtertoe gekam. Langs die ore is die saaidies mooi gelyk geskeer. Sy waterige oë volg die dansers en die nommerelf tap-tap saam. Panajota sit gemaklik op sy lang, maer bene.
“Oupa se kleinkind moet die oegies toemaak as hulle weer goed gooi, gehoor? ’n Stikkie kan in die oegie spat.”
Hy vryf oor haar haartjies wat lyk soos ’n blink vosperd s’n. Sy antwoord nie, kyk net verwonderd na alles om haar. As jy agt jaar oud is, is elke dag en elke nuwe ondervinding ’n belewenis. Dié kind wat so verknog is aan haar ma, asof haar ma enige oomblik gaan verdwyn.
Aan die oorkant van die saal sit die trotse ouers van die dopeling, my swaer Kosta en sy vrou, Kristina, baby in die arms. Kleinding uitgedos in haar nuwe doopklere; die grootouers oe en aa. Die eerste kleindogter in Kristina se familie. Ses kleinseuns, maar hierdie die eerste kleindogter. En die familie het gekom om te kyk, en masse.
Onderlangs loer ek na Kosta. Ons het ’n paar dae gelede oor die foon gepraat. Hy was baie geheimsinnig, het net gefluister: “I have something I must give you, at the baptism.”
Gedurende vanmiddag se doopseremonie is die klein Pappasani met olie gesmeer, van kop tot tone. Volgens tradisie moet die lyfie so glibberig en blink bly tot die volgende dag, selfs die haartjies mag nie gewas word nie.
Die pappás, met welige baard, goue tabberd en yslike seëlring aan, laat die glibberige lyfie behendig in die groot koperkruik afgly, die warm water in. Sy groot hand spat ’n bietjie water oor die koppie. Hy haal die baby uit en hou haar omhoog, boude en fanny vir almal om te sien, dompel haar dan weer in die water.
Eleni, die baby se noená, die peetma, staan glimlaggend en geduldig langs die pappás, die groot wit handdoek oor haar uitgestrekte arms gesprei.
’n Entjie weg, aan weerskante van die koperkruik, staan twee tienerdogters, die een myne. Die yslike kerse word styf vasgehou, die vlammetjies dreig skoon om die wimpers te skroei.
Janos, my dertienjarige seun, se oë is vasgenael op die toneeltjie voor hom. Sy tong lek senuagtig oor sy lippe en kort-kort voel hy aan sy strikdassie. Gejelde kuif staan stokstyf regop, nie ’n haartjie uit sy plek nie, die paadjie badkamerspieël toe en terug deurgetrap. Janos wat die meisietjies se harte week maak; die maats wat my deurdrumpel vol staan. “Waar is Janos?” die alewige vraag.
Ná die doop droog die noená die nat lyfie af met behulp van die ma. Die baby word nuwe kleertjies aangetrek, van bo tot onder, selfs ’n nuwe haakspeld. Eleni neem weer haar plek in langs die pappás, die bondeltjie liefde saggies en snoesig teen haar bors.
Sy glimlag breed. Die naam moet nou gegee word.
Kaljopi.
Vernoem na haar oupa Kaljopas aan moederskant. Kaljopi Pappasani.
Deur die openinkie in die grys baard kom die naam hard en duidelik sodat almal kan hoor. Met sy duim eers in olie gedoop, maak die pappás die teken van die kruis op die klein voorkoppie. Kameraflitse verblind, mense fluister hard, daar is ’n beroering in die kerk.
Die ma en pa in die voorste ry word hartlik gelukgewens deur die mense wat langsaan staan. Vreugde straal uit die gesigte van ouers, grootouers, ooms en anties.
Ek bekyk maar net die gedoente. Dink terug aan die doop van my eie vier kinders. Elke doopplegtigheid anders as die vorige een, maar elkeen spesiaal. Die oudste, Soela, is in Johannesburg gedoop, die middelste twee in Krugersdorp, en die jongste, Meno, in Griekeland, tradisionele spitbraai en al.
My oë flits oor die vier. My vlees, onverdiende geskenke van ’n milddadige Gewer. ’n Warmte omvou my hart. Mý kinders, hulle ma se hande en voete.
Met die doopplegtigheid agter die rug, loop ons almal na die saal langs die Grieks-Ortodokse kerk. Die tafels is belaai met lekkernye soos net die Grieke kan maak. Op die verhogie neem ’n paar musikante hul plekke in. Twee boezoeki’s en die saal se regop klavier is al wat nodig is om die gaste op hul voete en aan die dans te kry.
My blik bly op die bondeltjie aan die oorkant van die kamer. ’n Baby wat lank gevat het om haar opwagting te maak. Mooi bruin ogies beloer die wêreld uit ’n gesiggie omvou met ’n gehekelde kappie. Lang, donker haartjies val oor die sagte voorkoppie. Die wangetjies staan behoorlik bol soos die tuitbekkie aan ’n dummy suig.
Die baby se pa kyk skielik na ons kant toe en sy arm skiet in die lug.
“Kyk, Meno, oom Kosta waai vir jou,” sê ek en wys in Kosta se rigting. Ek vryf moederlik oor sy donkerbruin koppie.
Meno waai terug, gly van my warm skoot af en hardloop na Kosta. Ek hou hom glimlaggend dop soos hy sonder ’n woord op Kosta se skoot klim. Kosta druk ’n stukkie fetakaas in sy mond, wip hom ’n bietjie op en af op sy skoot.
“Kyk da!” skree Karretjies skielik en kraai eintlik van die lekkerte. “Dis Herschel! Wys hulle, boytjie! Lettie, kyk daai kind! Magtag, hy gaat die Grieke ore aansit, sê ek djou!” Karretjies lag weer uitgelate en skree uit volle bors: “Herschel! Herschel!”
Die seun probeer die dansers na-aap. Op maat van Zorba the Greek swaai hy die boude en stamp sy voete. Hy lyk meer soos ’n Zulu warrior wat ’n oorlogsdans uitvoer as ’n Griek; sy energie maak jou moeg net om na hom te kyk.
Die Grieke lag hard. “Bravo! Bravo!” moedig die mense hom aan.
“Lettie, kyk djou laaitie!” kraai Karretjies.
Maar Lettie kan nie praat nie, haar mond is volgeprop met Griekse baklava, die stroop blink op haar lippe. Sy knik net en klap aanmoedigend met haar hand op die tafel.
Ek en Lettie Louw is ou skoolmaats van die Kaap se dae, en die enigste een by wie ek nog kuier. My ander skoolmaat, Dalena Haarhoff, en ek stuur nog Kerskaartjies, maar sy is in die Kaap en ek in Transvaal.
Ek bekyk dié Herschel wat so deur sy pa aangemoedig word.
Hy is ’n klong van dertien, sy pa uitgeknip. Die bakore, klein stukkie neus, groot mond en uitbundigheid. Net die kuiltjie in sy wang is sy ma s’n. Lang bruin krulhare lê soos ’n krans om die mooigevormde kop.
Karretjies klap hande soos ’n besetene en skree aanmoedigend. Hy breek die kooltjie van sy sigaret in die asbakkie af en druk die stompie agter sy oor in; nou kan hy mos behoorlik klap. Ek wens Meno het nog op my skoot gesit sodat ek ’n bietjie kon wegkruip van die baie oë wat na ons kant toe kyk.
Zorba bou op tot ’n crescendo. Vinniger, vinniger, vinniger gaan die bene en voete. Herschel hou by. Karretjies se skril gefluit klink bo die rumoer van boezoeki en mens uit.
Dan is dit verby.
Die dansers loop hygend maar glimlaggend terug na hul tafels. Mense skree hul waardering en klap hard hande. Herschel draf na ons kant toe, skuif ’n stoel nader. Karretjies klap hom vaderlik teen die kop en lag hardop. Soos hy lag met sy groot, vrygewige mond en pêrels vir tande is daar nie veel van die res van sy gesig te sien nie.
“Djy’s ’n donnerse goeie danser, my boytjie. Het djy gasien hoe surprised lyk die Grieke? Djy het hulle gawys, man! Djy het hulle gawys! Nei, ek is somma proud op djou, my boytjie.”
“Thanks, Dad,” lag Herschel. Lettie trek hom nader en gee hom ’n vinnige piksoentjie op die kop. Hy trek sy skouer skaam-skaam op.
“Nee, die mannetjie het goed gedans,” beaam my dadda. “Maar gee hierdie bybie van my nog vyf jaar kans en sy gaan jou uitstof.” Hy druk Panajota teen hom vas.
“Sy’s ’n regte Griekie, nie ’n nagemaakte een soos jy nie!” lag Dadda lekker en klap kamma na Herschel, wat vinnig koes.
“Oor vyf jaar is ek al in die hoërskool, Oupa. Dis mos net vyf jaar, nè, Mana?” vra Panajota en kyk na my vir bevestiging.
“Ja, my sweetie, net vyf jaar,” sê ek.
“Dan sal jy te swaar wees vir Oupa se maer bienkies,” lag my pa.
’n Manstem begin neurie oor verlore liefde en die rumoer neem effens af. Gaste loop heen en weer tafels toe, skep hul borde vol, waiters skink weer glase vol.
Lettie protesteer toe die waiter Karretjies se glas wil volmaak.
“Jy het al genoeg gehad,” fluister sy sag. “Besides, hoe gaan jy drive as jou kop lig voel? Dis tyd dat ons aanstaltes maak om te loop.”
“Ma djy praat shit! Ek kan my drinks vat,” sê Karretjies ergerlik en beduie vir die waiter hy moet skink.
Lettie blaas hard deur haar neusgate en kyk anderpad, tel haar handsak op asof sy wil loop. “Dis laat,” mompel sy en kyk na niemand in die besonder nie. “Ons moet nog ver ry.”
Ek kyk die twee glimlaggend aan. Twee maande ná hul troue het Lettie aangekondig: “Dis divorce, ek kan nie met die mannetjie saamleef nie, hy is impossible!”
’n Paar maande later is die jongetjie gebore. Drie maande later was dit weer: “Divorce, this time for sure.”
Lettie het meer kere haar tas gepak om Karretjies te los as wat ’n mens jou klerekas regpak, maar die huwelik hou. In my hart wens ek ek kan ook so vergewensgesind wees. Maar die nederigheid ontbreek my, tot my spyt.
Lettie het lekker vet geword sedert ons mekaar laas gesien het. Haar donkerbruin hare hang lank en los tot op haar skouers; die gaping tussen haar voortande is bekend en gerusstellend.
Ongelukkig is haar dress sense nog net so beroerd soos twintig jaar gelede. Die shocking pienk bloes is deurskynend en lyk goedkoop, aan die ore swaai plastiekoorbelle. Die skirt span styf oor maag en boude.
Omdat ons goeie maats is, het ek die vrymoedigheid om te vra of sy swanger is, en of dit net ’n bietjie middle-age spread is. Sy lag lekker, maar dis Karretjies wat antwoord.
“Nei, dissie vetgeit nie. My cherry is net biesig mettie sham pregnancy, dis al.” Hy wil hom doodlag vir sy eie grap.
Ek weet Lettie hunker nog al die jare na ’n tweede kind, maar sy sukkel om swanger te raak. Vyf jaar ná Herschel het sy weer swanger geraak, vyf maande later was als verby. Die hoop en gesukkel het van voor af begin.
Lettie lag kamma saam, kyk dan vinnig weg. Dis duidelik Karretjies se woorde laat haar effens krimp. Ek kry haar jammer, vryf so ’n bietjie oor haar skouer.
Vir ’n oomblik kyk ons mekaar aan, knipoog en glimlag. Maar sy weet en ek weet: aan die verkeerde kant van veertig is dit neusie verby met babies. Sy het vrede gemaak.
Karretjies maak klapgeluide met sy tong soos hy aan sy soveelste drankie proe.
Lettie kyk hom kopskuddend aan, vang my blik en sê: “Dié mans, waar kom ons aan hulle? Ons was bieter af sonner hulle, in ons mammas se huis.”
“Relax, sweetness, relax,” sê Karretjies. “Dis die laaste enetjie dié, dan waai ons. Djy ka ma drive, ek mind nie.” Ek hoor die effense sleeptong.
Hy sluk die laaste bietjie wyn vinnig en gulsig, klap weer sy lippe, kap dan met die leë glas ’n paar keer hard op die houttafel.
Mense van die tafel langsaan loer onderlangs na ons.
“Nóú waai ons,” sê hy tevrede. “Baai, Pettie, baai, oom, baai, klein Griekie. Kom-kom, my boytjie.”
Karretjies lyk ’n bietjie onvas op sy voete. Hy hou aan Herschel se skouer vas. Lettie soen almal.
“Julle moet vir ons kom kuier,” smeek sy vir die soveelste keer vanaand.
“Ons kom vir seker,” lieg ek vir die soveelste maal. Wetende my man sal my afslag as hy moet uitvind ek gaan vir haar kuier. Ons sien mekaar skelm so een, twee keer ’n jaar, bel mekaar gereeld.
Dadda tik-tik met sy vinger op die agterkant van my hand. Toe ek sy kant toe kyk, knipoog hy en draai sy oë in Karretjies se rigting. Hy skud sy kop effe, maar glimlag tog. Ek verstaan.
So ver as wat Karretjies deur die mense loop, klap hy mans, onbekend aan hom, op die skouer. Almal word luidkeels gegroet. Voor hy die deur bereik, struikel hy oor iemand se voete – miskien sy eie – en val oor die naaste tafel. Glase rol oor die vloer, mense staan op om te help.
Iemand blaas warm asem in my nek.
“You don’t go with your Kaffir friends?” vra hy sag, die pa van my kinders.
Ek skrik vir die skielike stem agter my. My kop ruk om en vir ’n oomblik kyk ons mekaar die kyk. Ek voel hoe my vingers se greep om die wynglas verstyf. Onmiddellik op my hoede.
Sy lippe raak amper aan my oor, die fluisterstem bewend van woede.
Ek draai my kop vinnig weg, maar hy bly naby. Druk effens met sy skouer teen myne. ’n Knop druk my keel toe. Moenie antwoord nie, sê die stemmetjie in my.
Patricia Pappasani, hou jou mond en bly kalm.
“You hear me, madam?” Hy druk weer teen my skouer, sy stem nog sagter, maar nou pure onheil.
God, help my, bid ek.
Die kinders is stil. Hulle ken.
“Geniet julle die lekker kos?” vra ek vriendelik vir Soela en Janos wat agter hulle pa staan.
Ek wag nie vir ’n antwoord nie en staan vinnig op, bly om van die man af weg te kom.
“Where you going? We go home now,” sê hy bars, sy oë dreigend.
“Ek gaan vir Kosta en Kristina groet.”
Panajota loop agter my aan. ’n Ouma maak geselsies met haar en Kosta vat my aan die arm, stuur my bietjie eenkant toe. Hy glimlag vir die gaste, maar sê onderlangs ek moet my handsak oopmaak. In ’n oogwink druk hy iets in die sak en maak die knippie vinnig toe.
“What . . . what are you doing?” stamel ek, die wind uit my seile.
“I am sorry I take so long, Pattie. I save every month for long time. Kristina she know nothing, so I have to be careful.”
Ek knik dankbaar.
Ek het die dikte van die koevert gesien. ’n Deur is op ’n skrefie oopgemaak, die venster se knippie is afgehaal. Goddank. Uiteindelik.
Panajota sluit by ons aan met ’n bordjie eetgoed. Gaste kom gesels met Kosta en Kristina en ek en Panajota hou ’n bietjie terug. Ek kyk oor haar kop na die man wat ons van die oorkant af aangluur. My gedagtes gaan op loop, na ’n ander tyd, ’n ander plek. Toe was hy net so woedend.
Ná Meno se geboorte het hy gesê hy het Meno aan sy vriend van sy kinderjare beloof, om Meno se noenós te wees. En natuurlik sal sy seun sy vriend se naam dra, volgens die Griekse tradisie.
Ek skop vas. Drie kinders is reeds na sy kant van die familie vernoem sonder dat ek enige seggenskap gehad het. Hierdie keer gaan ék die naam kies.
Meneláos. ’n Goeie Griekse naam. En Meno sal sy noemnaam wees.
“Is not family name!” maak die man beswaar.
“Wil jy hom miskien na my pá vernoem? Hoe klink Willem Pappasani vir jou?”
“My son is not Boer!”
“Meneláos is a good Greek name.”
“He must have his noenós’s name, Vassilios. It is tradition.”
Na die hel met die peetpa se naam! Na die hel met jou tradition!
“Vassilios gaan Basil word in Suid-Afrika,” sê Soela, en voeg by: “Dis ’n aaklige naam.”
Die man word kwater, maar ek en die kinders hou vol: Meno of niks!
Uiteindelik is ons Griekeland toe vir die doop. Dis Julie en die temperatuur is 35 ˚C in die skadu. Maar die hitte is draagliker as die man se ergernis oor sy seun se naam.
Die dag voor die doop sê hy hoe skaam hy gekry het om vir Vassilios te sê ons gaan nie sy naam gee nie. Vassilios was glo só teleurgesteld, wou weet of hy hom dan deur sy vrou laat voorsê. Ek het ’n gek van hom gemaak!
Siestog.
Gedurende Meno se doopseremonie dra Panajota en haar niggies die yslike wit kerse. Die kerkie is klein en die mense dring tot teenaan die pappás, staan hom toe.
Oupa Janos, ouma Soela en drie van hul vyf seuns staan langs mekaar: Dimitri, Panos en die dopeling se pa. Kosta is in Suid-Afrika, Laki begrawe.
Ek staan met ’n skoonsuster aan weerskante van my. Irini, Dimitri se vrou, is die enigste een wat verstaanbare Engels praat. Haar pa was verbonde aan die Griekse ambassade in Egipte en die uitlanders se kinders was almal in die Amerikaanse skool daar.
Dis dié mooi skoonsuster van my wat my oortuig het hoe belangrik dit is om eers al die Griekse vloekwoorde te ken voordat sy my die ander woorde leer. Wat destyds vir my gesê het: “Only mad people marry into Pappasani family. Are you mad, Patoela?” Ek het gelag.
Nieteenstaande die versengende hitte, vererger deur die baie brandende kerse en die gedrang van mense, is die atmosfeer een van feestelikheid. Vassilios en sy vrou staan met uitgestrekte arms, die wit handdoek wyd gesprei om die bondeltjie te ontvang. Hul eerste peetkind.
Meno is nie meer piepklein nie en baklei en skree dat hoor en sien vergaan. Hy stoei behoorlik om weg te kom van die vreemde mense, maar die pappás druk hom behendig in die kruik in terwyl sy handjies gryp na iets om aan vas te hou.
Die kinders se pa staan agterlangs, sy gesig die ene donderweer.
Die pappás lag toe hy die nat lyfie vir sy noenós en noená gee. ’n Bietjie olie oor die voorkoppie.
Dan die naam: Meneláos.
Mense glimlag. Ouma Soela en oupa Janos lag openlik.
Meneláos is ook die pappás se naam, én die kerkie se naam, St. Meneláos, in hierdie klein dorpie teen die hang van die berg Garjitós. Heel toevallig.
Meno word nuwe doopkleertjies aangetrek en sy noená hang ’n groot, goue kruis om sy nek, maar die snot en trane bly totdat hy in sy pa se arms beland.
Ek bekyk pa en seun waar ek oorkant hulle staan, die groot koperkruik soos ’n skeidsmuur tussen ons. Bruingebrande arms omsluit sy seuntjie in ’n troosgebaar. Hy glimlag breed, maar net vir ’n paar oomblikke, toe lyk hy weer bekonkeld en bedonnerd.
En so het hy gebly.
So what’s new? So was dit nog al die jare. Sy buie ry wipplank, afhangende van die weer, die wind, sy werk, sy slaap, sy kos.
Maar nou is ons in Johannesburg, dis ’n koel lenteaand en dis Kosta se baby wat gedoop word. Almal lag en lyk gelukkig, en hy is beduiweld.
By die dooptafel soen ek die ma en pa op elke wang. Ek druk Kristina teen my vas en voel haar harde, ronde magie. Die eerste een sal skaars ’n jaar oud wees dan is die tweede een daar. Twee babies in nappies, dink ek. Arme ding.
“Dankie vir ’n heerlike paartie,” sê ek.
Ek soen Kristina se ouers, ouma, broer, suster, swaer, oom, antie. Bedank almal.
Stássoe, stássoe, parakaló. Bly nog, asseblief, pleit hulle.
Nee, ons kan nie langer bly nie. Môre is Maandag en skool vir die kinders. Randfontein lê nog ver.
Efcharistó pára polí. Baie dankie.
Ek kry Kosta eenkant, tik-tik teen sy bors.
“Thank you, it is not too late,” sê ek sag, maar in my skree dit van blydskap. “If only Laki was here to see you baptise your daughter,” fluister ek skielik hartseer.
Kosta dra dieselfde fluweeldas wat ek twintig jaar gelede vir hom gekoop het toe ek en Laki op trou gestaan het. Laki is net voor ons troue dood, en Kosta het toe nie kans gehad om dit te dra nie. Maar hy het dit vir sy eie troue gedra, en nou vir sy dogter se doop.
Die fluweeldas lyk mooi by sy ligblou hemp, wat helder afsteek teen sy olyfbruin Griekse vel. Swart hare netjies platgekam. Dik wenkbroue maak ’n plooi en gooi skadu’s oor sy mooi bruin oë.
“My brother is dead too long, but he is here. He sees me.” Hy wys na die plafon.
Eintlik na die hemel. Ek verstaan.
Nog soene, nog drukkies, nog dankies. Ek en Panajota loop terug na ons tafel. Dadda staan en wag, Meno se handjie styf in syne.
Nou deur se kant toe.
Die kinders se pa buk diékant toe om iemand te groet, dan daaikant toe om hand te skud. Hy lag uitbundig, asof without a care in the world, almal se pel. Party mans staan glad op om hom te druk en op die wange te soen.
Kaliníchta, kaliníchta. Good night. Jassóé. Koebaai.
Dis met ’n flou, aangeplakte glimlag dat ek vriende en kennisse groet. Ek waai met ’n slap hand diékant toe, daaikant toe. Hy gaan my hel gee oor Karretjies.
Uiteindelik is ons buite. Die kinders maak hul skouertjies krom teen die koue naglug. Hy sluit oop, ons klim in.
’n Harde sug. Hier kom dit.
“Ja. You satisfied? You make my name bad. I feel shame, but you care for nothing.”
“Daddy, it was a nice party, don’t fight with Mana.”
“Soela, pethí moe, my child. How you think I feel? Lettie and her husband are not our friends. Everybody look at them. What they think? Your mother is same as them.”
“No, our mother is not the same,” kom die stemmetjie dun van agter af, duidelik bang vir die aggressie in haar pa se stem. “The people know our mother.”
“Kan ons dit los totdat ons by die huis kom?” sê ek. “My pa wil nie na ’n stryery luister nie. Jy maak elke gelukkige geleentheid onplesierig met –”
“Shut up your language!”
“Jy het geweet watter taal ek is toe jy my getrou het.”
“You are ignorant Boer!”
“Daddy, stop it!” pleit Soela se stem.
Janos praat onderlangs met my pa. Panajota druk haar handjies oor haar ore. Sy wikkel stywer teen my vas.
“My skat, wil jy agter by Oupa-hulle gaan sit?” Sy skud haar koppie.
“If I know then what I know now, I never supposed to marry. I am the fool.”
Nee, dink ek, ék is die gek. Ek moes nooit met so ’n fool getrou het nie.
Vir ’n oomblik sit en luister ek hoe Dadda met Janos gesels. Oor dit, oor dat. Ek weet Dadda probeer die situasie red, olie op die water gooi. Maar hy weet, soos ek weet, dis als verniet. Ek gaan verantwoording moet doen vir Karretjies se gedrag.
Die man mompel voort, skel-skel. Sug. Kla. Verwyt.
Ons ander is stil. In noodgedwonge aanvaarding sit ons ingeryg en luister na ons sondes: goddelose mense met goddelose vriende wat hulle nie by ’n doop kan gedra nie.
Die goddeloses word doodgesteek, opgesny en fyngekerf. Een vir een, van die jongste tot die oudste.
We’ve all been here before.
Ek klou my handsak vas en bid: Dankie, my God, dankie, my broer.
Panajota gly af tot op die vloer tussen my voete, ek voel haar trane teen my bene.
“God is not sleeping, madam. He sees everything. One day you pay.”
Die madam draai haar kop weg en kyk by die venster uit. Twee betraande oë staar terug uit die weerkaatsing.