Читать книгу Die val van die dice - Pat Stamatélos - Страница 6
Оглавление3
Sy voete doef op die plankvloer. Hy gaap luidkeels en ek hoor hom uittrek, aantrek.
“Get up! I think you enjoy last night too much.”
Ek trek die kombers oor my gesig.
“My mother always get up four o’clock. She milk the goat and start the fire. When everything is ready, she call the children.”
Hy trek die beddegoed terug en ek sit met moeite regop.
“We have electricity and we don’t have a goat,” sê ek ergerlik en nog deur die slaap.
“That is not the point. A wife must get up early. The Pappasani family is not lazy people. My mother work very hard. Now she is old, she still work hard. And you? What you do?”
Gaan vrek. My lyf is seer. En dis jou skuld.
Hy maak die deur hard agter hom toe.
Ek lê terug teen die kussings, trek die beddegoed ’n bietjie op. Ek dink aan gisteraand se dooppartytjie, die verwyte oor Karretjies se gedrag. Dit sal weer opgehaal word. En weer en weer. Your rubbish friends.
Ek weet Karretjies kan soms skurf wees, maar ek en Lettie is lief vir mekaar. Ons loop ’n lang pad saam. Maar sy is bruin en ek is nou wit. En dis waar die seer lê.
Trane begin brand agter my ooglede. Ek vryf saggies oor my seergekniede borste. Die kamer stink. Ek moet opstaan voor hy terugkom en die vensters oopmaak voor die kinders inkom.
My oë verken die klonterige bed, die stille getuie van oeroue gevoelens en dade in die donker gepleeg. Ek moet die bed skoon oortrek. Ek skuif die gordyne opsy en maak die vensters oop. Dis November en die belofte van ’n lekker warm lentedag vul my neusgate.
“Get up! Get up! Lazy people sleep late,” kom die stem gang-af.
Kinderstemme protesteer. Selle ou storie, dag ná dag.
Ek vat my dagboek; die storie moet vertel word.
Kosta en Kristina doop op Sondag, 4 November 1990.
My besluit nou vasgemaak:
Soek woonstel, prokureur. Egskeiding. Finaal.
Die agterdeur gaan oop en my pa se stem roep. Ek haas my na die badkamer, skoon pantie in die een hand, bra en rok in die ander. Ek wonder of die meisies skoon, gestrykte skoolrokke het om aan te trek.
By my werk in die meubel-cum-pandjieswinkel sit ek agter die lessenaar en skryf verder in my dagboek. Gedagtes wat draaie loop. Ná die lente is dit somer, en met die somer kom Krismis. Wat ’n verfoeilike tyd van die jaar! In mý huis, anyway.
Die vraag wat ek moet beantwoord, is: Gaan ek nog ’n Krismis saam met hom kan deurmaak? Die walging stoot op in my keel. Nee! skree dit in my. Hoe gou kan ek ’n prokureur gaan sien? Hoe gou kan ek ’n woonstel kry?
Krismis, Easter, verjaarsdae en nou selfs ’n doop – op dié dae is hy op sy beste van sy slegste. Daar is iets aan ’n spesiale dag en gelukkige samesyn wat sy kop laat uithaak. Die vorige Krismis het hy Soela se portable radio, wat ek gekoop en betaal het, weggeneem omdat sy nie haar hare wou vasmaak nie.
Sy het niks gesê nie, nie eens probeer protesteer nie, dit eenvoudig aanvaar: sy die oortreder, hy die gereg, sy die sondaar, hy die god. Nes ek dit nog al die jare noodgedwonge aanvaar. My hart het gebloei vir my kind.
’n Paar dae later het hy die radio teruggegee. He proved his point, wat dit ook al was.
Ek en sy het nooit daaroor gepraat nie. Wat kon ons vir mekaar sê? Maar ek wonder nog steeds wat sy van my stilte gedink het. Miskien dat haar ma nie omgee nie.
Maar sy gedrag daardie dag het my tot stilswye geskok. Soos altyd het almal deurgeloop. Dimitri en Irini-hulle was by ons vir Kersfees. Hulle het van Griekeland gekom vir ’n vakansie, hul eerste in Suid-Afrika. Irini het my nog vertel hoe plesierig hulle in hul huis is dié tyd van die jaar, hoe hulle heeldag musiek speel, saam dans.
In ons eie huis is die geskenke vroegoggend oorhandig. Kinderoë het gestraal, daar is dankie gesê. Toe begin die gekerm, oudergewoonte. Eers kla hy oor die geskenkpapier wat oral op die vloer rondlê. Toe oor sy lui vrou wat nie brekfis maak nie, die kinders wat te hard skree en lag, dan dit, dan dat. Aan en aan.
Verwyte, beskuldigings, dreigemente. Uiteindelik bang kinders en verskrikte grootmense. Irini hardloop weg, laaf haar in die kombuis.
“How do you live with this man?” vra sy geskok.
Ek glimlag wrang.
“If he is my husband, I kill him the first day!”
“Oh, Irini, it’s wishful thinking,” lag ek verleë. Maar saggies, bang hy kan my hoor.
“Patoela, my dear sister,” sê sy net so sag, “you are a floormat only because you choose to be one.”
Haar woorde spook dag en nag by my.
Twee weke ná hulle vertrek ontvang hy ’n brief van Dimitri. Sy keel roggel van die lag toe hy my die brief wys.
“My brother is crazy. You know what he write? If I don’t look after my wife, I will lose her. Better he look after his own wife!”
“Better you look after your own wife,” sê ek met ’n tong wat sny.
“Hey, you don’t have fridge full of food? What more you want?”
Ek skud my kop. “Nothing.”
“So why you complain, madam?”
Hy is reg, ek het niks meer nodig nie. Die Bybel is verkeerd: ’n mens kán op brood alleen lewe.
Ek draai my kop weg van sy beskuldigende blik, buk om borde weg te pak. Hy klap die agterdeur hard agter hom toe.
Kameraadskap, vriendskap, begrip, geneentheid, teerheid, respek . . . liefde! Dammit, ek wil dit áls hê! En vir die lekkerte ook nog knieë wat klou en hande wat hou.
Die foon se gelui bring my terug na die pandjieswinkel.
“Pettie, dis Dadda. Die poelies was hier.” Sy stem klink gejaagd, en vir ’n oomblik sak my hart in my skoene.
“Dadda, kalmeer ’n bietjie. Wat wil hulle van ons hê?”
Die oukêrel skraap ’n bietjie keel, kom tot verhaal.
“Hulle sê hulle soek die illegals. Hulle vra almal se boekie.”
Ek lag verlig, verseker hom dat nie een van ons illegal is nie. Selfs sy skoonseun is lankal ’n Suid-Afrikaanse burger – dit was die voorwaarde van die Railways toe hy destyds by hulle aansoek gedoen het. Maar ek weet hy het nog sy Griekse passport.
“Pettie, jy verstaan nie. Die poelies was ’n swart konstabel en Takos.”
Ek sluk, stom geskrik.
Die anties wat my ná my ma se dood grootgemaak het, het altyd gesê: God se meule maal stadig maar seker. Liewe Here! Eers verloor ek my ma, toe vir Laki. En nou my pa?
Takos en die man is vriende, hulle is ewe rassisties, ewe ongevoelig. Nou wil hy my pa se boekie sien. As Takos uitvind Dadda is classified as Cape Coloured, sal hy vir die man sê. Dié sal my pa summier wegja – hy haat die “other skins”. En wat dan van my!
Amper veertig jaar gelede toe ek nog ’n kleinmeid was . . . Ek hou aan my ma se roksbande vas terwyl sy gebukkend oor ’n sinkbad staan. Sy vryf en vryf die hemp terwyl sy onderlangs vir my loer.
“Onthou, Pettie,” sê sy vir my, “jou mammie en daddie kan jou verlaat, maar die Heretjie sal jou nooit verlaat nie. Hou net so aan Hom vas.” Kort daarna is sy dood.
Twintig jaar gelede het Laki my in die oë gekyk en gesê: “Remember, God is love.” Kort daarna is hy dood.
En nou is my geloof die size van ’n peanut!
“Wat het Takos gesê?” vra ek versigtig.
“Hy vra my boekie. Hy het gesê: ‘Ek ken vir oom, maar ek doen net my werk.’ Ek het vir hom gesê ek het die boekie vir jou gegee, Pettie. Hy moet vir jou vra. Ek is so jammer, my kind, ek is jammer as dit vir jou moeilikheid . . .”
My pa hyg weer ’n bietjie, kom tot verhaal.
“Hy het gesê daar is baie illegal Mosambiekers wat skelm oor die grense kom en hy sal jou annerdag vra virrie boekie.”
“Moenie worrie nie, Dadda is mos nie ’n Mosambieker nie. Die man weet dit mos.” Ek lag vir die gedagte. “Dadda het reg gedoen. Hy ken ons mos, ons is huisvriende, watse boekiewysery is dit nou? Dis tyd dat ons die ou boekie wegsmyt, anyway. Ons doen aansoek vir ’n nuwe een, trek ’n paar toutjies en siedaar! Dadda is ’n First-class Citizen.”
Toe ek die foon neersit, sit ek ingedagte en herkou aan Dadda se woorde. Aan die verlede en ander se woorde. Ek weet ek moes die man destyds gesê het, maar ná amper twintig jaar is dit nou te laat. There can be no damage control and no going back.
“I am Cape Coloured,” moes ek gesê het. “Your brother insisted that I apply for white citizenship so that we could get married. My father’s father was a white man,” moes ek gesê het, “his mother a Coloured. I applied and became white. If my background bothers you, hou verby, ou swaer.”
Maar ek het niks gesê nie, ek sou met my geheim graf toe gaan. Nou vra die man se beste vriend my pa se boekie. Hy sal die waarheid uitvind, daardie klein boekie die vingerwyser.
Dadda moet so gou as moontlik geherklassifiseer word, maar hoe gemaak dat die man nie uitvind nie? Die authorities sal miskien na my huis wil kom, kom kyk waar hy bly, kyk hoe hy lyk, hulle sal mý boekie vra. Elkeen van die worst case scenarios gaan opnuut deur my kop.
Ons hét al gepraat oor die kwessie van herklassifikasie, maar altyd net verlangs. Daar was nooit sprake van witpapiere terwyl Dadda met antie Mona getroud was nie – sy het allesbehalwe wit gelyk. En Dadda se kleur was nog nooit ’n issue by ons nie. Tot nou toe.
Mygod, skielik voel dit of my wêreld in duie stort! En dit oor ’n belaglike boekie wat bepaal of hulle jou hotnot of meneer noem.
Wat sal die man sê as hy moet weet?