Читать книгу Die val van die dice - Pat Stamatélos - Страница 7

Оглавление

4

Ons ontmoeting was spectacular, stof vir ’n Hollywood movie.

Dis by Laki se begrafnis dat ons mekaar die eerste keer sien. Familie, vriende en kennisse sit ingeryg om hulle laaste eer te betoon aan die geliefde jongman wat so skielik in ’n motorongeluk dood is. Die roudiens is nog nie klaar nie, toe kom die vreemdeling die kerk binne.

In sy beige broek en blou kortmouhemp loop hy reguit na die oop kis waar my kersie vrolik in sy houertjie brand. Die pappás se gesing word ’n geneurie, en al sagter hoe nader die vreemdeling aan die kis kom.

By die kis staan hy ’n oomblik stil, kyk af na die stil figuur met sy mooi strikdas. Die pappás se stem raak weg, die kerkmense stil. Jy kan amper die dooie hoor asemhaal, so stil is dit tussen baksteen en bank.

Almal hou asem op toe hy vooroor buk. Hy soen my geliefde. Een hand vroetel in sy broeksak en bring ’n sakdoek te voorskyn. Of hy oor sy oë daarmee vee of sy neus afvee, kan ’n mens nie sien nie.

Maar toe hy omdraai, weet ons almal wie hy is.

Hy en Laki kon net sowel ’n tweeling gewees het. Ek bekyk hom goed deur betraande oë: selfs hul manier van stap is dieselfde, die gesig net ernstiger, ’n diep plooi tussen sy wenkbroue.

Ek en Dadda sit reg voor, ons vingers inmekaar verstrengel. Dadda se greep verslap effens toe die vreemde man geluidloos langs my inskuif. Die reuk van gamomíli en rígani bereik my neus. Kamille en orego. Met ’n sweempie knoffel en olyfolie daarby. Die Griekse reuk. Laki se reuk.

“You Pattie?” fluister-vra hy in ’n bekende, sagte stem.

Sy growwe hand vat myne styf vas, asof dit van ouds sy gewoonte is. Sy liggaamshitte word my liggaamshitte soos sy arm teen myne druk, my bewerasie gestil deur sy teenwoordigheid. En so bly ons roerloos sit. Die vertrooster en die vertroosde.

Ná die begrafnis sit ons in my woonstel. Ek en hy, sy broer Kosta en my suster Dorie. Ek en Dorie beplan om so gou moontlik Engeland toe te gaan en daar aansoek te doen vir permanente verblyf. Dorie se ou werk wag vir haar in ’n Londense hospitaal, en ek wil ’n nuwe lewe begin. Ver weg van bekende gesigte, ver weg van die seer herinneringe.

Die vreemdeling hou my hand vas en kyk diep in my oë.

“Laki write me and he talk about you. He love you very much. He say you very good woman.”

Dorie en Kosta sit en betrag ons in stilte, asof hulle weet wat gaan kom.

Soos ’n voëltjie met ’n gekneusde vlerk maak ek nes in sy oë. Maak my bekkie oop om sy geskenk van vet spyse te ontvang. Verwarm my in sy nabyheid asof dit donsvere is.

My oorgawe is volkome. My hartseer verdof met die aanhoor van sy stem, die aanraking van sy vingertoppe vertroos my. Dis Laki se stem, Laki se oë. My Laki lewe!

Kleintyd gaan my susters Kay en Dorie een Saterdagaand oorslaap by ’n vriendin vir ’n troue die volgende dag, al twee strooimeisies. Sonder my susters in die kamer voel ek bang. Mamma kom troos. “God is altyd by ons om die bang weg te ja,” sê Mamma, druk die kombers styf om my lyf.

Maar dis min troos vir ’n kind van sewe jaar. Ek snik met lang trane, druk my gesig diep in die sagtheid van die kussing. “Ek wil vel hê,” fluister ek jammerlik. Dié aand slaap Mamma agter my rug.

Met hierdie stuk Griekse vlees wat langs my sit, teenaan my sit, het God die troos gestuur wat ek nodig het. Ek hang aan sy woorde. Sy simpatie en medelye is aandoenlik, sy oë klam en sy stem krakerig. Dis immers ook sý geliefde, sy broer, vlees van sy vlees wat vandag begrawe is.

Die volgende dag is hy terug Griekeland toe. Hy bel my drie keer per week. Ná net ’n paar weke het ek en Dorie paspoorte en is ons plek op die vliegtuig bespreek. Ons is skaars ’n maand in die losieshuis in Londen, toe stuur hy vir my ’n vliegtuigkaartjie Griekeland toe.

Sy ouers bly ’n uur se ry van Athene af, in ’n klein gorjó. Small village, sê die man. Hulle onderdak is niks meer as ’n groterige kaia nie, hulle meubels oud en karig. Die geyser het nie ’n termostaat nie. Dit word aangeskakel vir warm water in ’n primitiewe stort, ’n uur later word dit afgeskakel.

Sy ma trippel heen en weer op kaal voetjies wat lyk asof hulle nog aan ’n tiener behoort. Die ou mense is vriendelik, arm maar vergenoeg. Hulle dra my op die hande, ook sy broers en hul vrouens.

In ’n liefdevolle, troostende gebaar word ek elke tweede dag na die kerkie geneem om vir Laki ’n kers op te steek. Eers is dit net sy besorgde hand wat aan my arm of rug vat, toe my hand vashou, toe vir my vashou.

Drie weke later raak ons verloof.

Alles so informeel, so vinnig. Hy kap met die mes op die tafel waar die hele familie en ’n klompie vriende bymekaar is vir middagete. Hy vat my hand met groot gebaar, glimlag mooi, en voor ek kan protesteer, steek hy ’n ring aan my vinger. “I always look after you,” sê-vra hy die jawoord.

Sommer net so, voor die hele familie.

Ek het dit nie verwag nie, kyk grootoog na die troupand, na die baie oë wat op my rus.

’n Stilte sak om ons neer, asof die mense asem ophou. Hulle wag vir my antwoord, en ek besef dit moet in Grieks wees, almal moet kan verstaan. In my kop flans ek die woorde saam.

Griázome keró. I need time, pleit ek saggies.

Almal knik instemmend. Natuurlik het ek tyd nodig, dis te verstane.

Oupa Janos hou sy glas omhoog. Ek het ’n seun verloor, maar ’n dogter gekry. Dankie, Patoela.

Daar is geen twyfel dat hy die regte man vir my is nie. Geen twyfel oor my gevoel vir hom of sy liefde vir my nie. Sy woorde drup soos heuning van sy mooi lippe, sy aanraking is sag en innig. Balsem vir ’n siel wat nog rou en ’n ander se aanraking onthou.

Ek luister na hom terwyl hy gesels met sy broers en vriende, die stem soms hard en opgewonde, tog anders as Laki wat selde sy stem verhef het, selfs in die geselskap van ander Grieke.

Is ek ’n verraaier? wonder ek stilletjies. Nee, kom die antwoord, is hy dan nie ’n stukkie van Laki se vlees nie? Is die bloed in sy are dan nie dieselfde as Laki s’n nie? Sou Laki nie bly wees as hy kon sien . . .

Nee, ek is seker. God het Laki aan my teruggegee, en aan hierdie geluk sal ek vashou. Woorde ontbreek my om my dankbaarheid uit te spreek. Net God weet.

Die tyd wat ek nodig gehad het en wat almal my gegun het, hou net ’n paar minute. In die loomheid van die Griekse herfsmiddag vier ons die verlowing. Altans, die familie vier die verlowing. Psári en karpóézi. Vis op die kole en waatlemoen vir nagereg.

Dan kom die bíra, óúzo en krasí in oorvloed te voorskyn, en my aanstaande skoonfamilie en nuutgevonde vriende sing tot die oggendure, tot ek nie meer my oë kan oophou nie.

Skoonma Soela vee trane af en soen my en vee weer trane af. Sy hou my hand vas en lag as sy na die ring kyk. Dan wys sy na haar swart gewaad en huil van nuuts af.

“My dear brother-in-law, your grandmother’s wedding ring is not engagement ring,” maak Irini later beswaar, wys hom die vinger. Die ander stem saam.

“Diamond,” sê Panos en hou sy duim en wysvinger omhoog om die grootte van die diamant aan te dui wat hy moet koop. Die mense lag.

Skoonma Soela beduie na haar hand.

Irini leun na my kant toe. “She says she is still waiting for her engagement ring.”

Oupa Janos maak ’n handgebaar asof hy ’n vlieg verwilder. “Ásto! Ásto tóra!” roep hy uit. Los dit nou. Sy kinders lag kliphard.

Met herinneringe van hartseer in my kop en emosies van geluk in my hart word ek meegesleur. Daar is nie meer omdraaikans nie.

My kop knik teen sy skouer en hy neem my en lê my neer op die ysterbedjie met die dun matrassie in die voorhuis.

Ná ons verlowing neem hy my nooit weer om ’n kersie vir Laki op te steek nie. Tóé die knippie twyfel.

’n Week later bel Kay om te sê antie Maggie, wat my kleintyd aangeneem het ná my ma se dood, het skielik siek geword. Ek klim inderhaas op ’n vliegtuig, terug Suid-Afrika toe.

Maggie se beroerteaanval laat haar gedeeltelik verlam. Ek, Kay en mevrou Soes, in wie se losieshuis Maggie bly, kyk om die beurt na haar. Enige planne van emigreer word vir eers on hold gesit en ek begin werk soek. Maggie het 24-uur-sorg nodig en ek werk net ’n paar uur soggens, vir ’n klein salaris.

My verloofde bel my dikwels. Moenie terugkom nie, sê hy, moet ook nie Engeland toe gaan nie. Hy het aansoek gedoen om na Suid-Afrika te immigreer. Daar is nie werk of geld in Griekeland nie. Kosta het gesê hy kan vir hom ’n werk organise deur ’n contact op die Railways.

Ek voel skielik verskrik. My verlede die vlieg in die salf.

Kleurling is ek gebore, en as Kleurling is ek grootgemaak. My oumas aan beide kante bruin, my oupas al twee wit.

Met my bruin ouma Appels se troue met wit oupa Fourie het hulle naderhand deurgegaan as wit mense en is as sulks aanvaar. Daardie jare was mense nie so behep met die kleur van jou vel nie, so het Dadda altyd vertel.

Maar oupa Fourie was skaam en kwaad toe hy hoor my dadda sleep vlerk by ’n Kleurlingvrou, Nel Wernich. Toe verander Dadda sy van om my oupa die skande te spaar, en verklaar onder eed hy is Willem Adrian Peters, ’n Kleurling.

Jare later het ek uitgevind van my twee wit oupas. Met dié was dit nie moeilik om my te laat herklassifiseer van bruin na wit nie. Kosta ken my geheim, hy weet van my aansoek vir die witpapiere sodat ek en Laki kon trou. Ons het ’n goeie verhouding, soos broer en suster. My vriende is sy vriende, vriende soos Lettie.

In my binneste het ek ’n worstelstryd gevoer: moet ek my verloofde sê? As hy vir Maggie sien, sal hy weet. As hy my broer sien, sal hy weet. Laki het my so aanvaar, ek is seker hy sal my ook aanvaar. Later berus ek my daarin. Is hulle dan nie broers nie?

’n Paar weke ná my aankoms in Suid-Afrika, en ’n week voor sy aankoms, sterf Maggie. Al die mense van die losieshuis is by die begrafnis. My broer Stewie kom van Pretoria af, saam met twee maters wat hom bring. Kay bring ook twee maats, kennisse van Maggie. Ons staan twintig stuks om die kis wat stadig wegsak.

Die Kleurlinge trek los en sing die een mooi liedjie ná die ander, en nat sakdoeke word weer en weer uitgehaal. Ek en Stewie hang aan mekaar, dis die eerste keer in ’n baie lang tyd dat ons mekaar weer sien.

Dorie moes ook hier gewees het, sê Stewie.

Engeland is ver om te kom vir ’n begrafnis, verdedig ek.

Ons suster moes ma’ gekom het, sê Kay ook.

Toe huil ons weer saam oor Maggie.

My grootmaakma, vanaf my agtste jaar. Ek is die jongste van vier en my pa het destyds nie kans gesien om my so klein sonder ’n ma te los nie. Die dag ná my mamma se begrafnis is ek weg saam met die twee anties Strand toe, en daar, in ’n klein plekkie naby die see, het ek grootgeword.

Maggie, opstroppelis en eiewys maar regverdig tot die dood, en bang vir niks of niemand. Eers opstandig en ontevrede oor die Griek wat by my kom vlerksleep, maar later tog die erkenning: Jy en Laki lyk rég vir mekaar. Sy huil lang trane by sy begrafnis.

Ek dink terug aan ’n voorval kleintyd in die Strand. Ons buurvrou is agter met haar meubelpaaiemente en die winkelbaas wil nie uitstel gee nie. Die anties hou om die beurt kywie by die venster.

“Die aasvoëls is hierso,” sê Kitty, antie Maggie se suster, toe die bakkie oorkant die straat stilhou.

“Ek is ready vir hulle,” sê Maggie en gaan vee kamma ongeërg die voorstoep.

Die mans dink nog hulle kom die repossessed goods oplaai, toe storm die antie met die besem op hulle af.

“Jirre, die mense vrek vannie ellende en djulle donnerse goed willie bed onner haar yt vat. Daai bed issie die geld werd wat djulle haar gecharge het nie, djulle donnerse skelms. Voertsek! Voertsek!” en die antie slaan woes.

Twee jaar later loop ek en Maggie oor na die einste antie, bakkie vetkoek in die hand wat Kitty gebak het. Ons klop en klop, maar kry nie antwoord nie. Miskien het sy ’n bietjie gaan lê, sê Maggie.

Sy draai die deurknop, ons loop in en Maggie roep na die antie. Haar slaapkamer is langs die voordeur en ons loer in, maar die antie lê nie op haar bed nie, sy hang aan die enigste balk in die huis.

“Liewe Jirre in die jimmel!” skree Maggie en laat die plastiekbak met vetkoek en al val.

Ek staan verwonderd, my oë vasgenael op die hangende figuur.

Op die vloer lê ’n bar stool, en bo die bar stool hang die slap lyf, kop effens vooroor gebuig. Die mond oop soos iemand wat om hulp wil roep, maar sonder stem. Haar sandale staan netjies langs mekaar, haar voete is kaal.

Ek onthou die bruin straaltjie wat aan die binnekant van haar bene afloop, die klonterige aanpaksels, hard en stink teen die ligbruin vel. Sien die gestolde druppels op die vloer en ’n papiertjie wat bo by haar bloes uitsteek.

Maggie beur vorentoe, voel die antie se pols, sê sy is dood en gaan bel die polisiestasie. Ek bly staan versteen in die deur.

“Tel op die goete!” skree Maggie en wys na die bak en vetkoek. Sy draai weer na die antie toe, trek die papier tussen haar borste uit. Sy lees die brief, sê dan in ’n kalm stem: “Pettie, gaan hys toe, ek wag vir die poelieste.”

Die polisie kom en verwyder die lyk.

Ons sit om die kombuistafel, nog dronkgeslaan oor die dag se gebeure, Maggie met die brief in haar hande.

“Lat ek vi’ djulle lies wat hier staat,” sê sy vir my en Kitty.

Die brief is van die antie se dogter oorsee. Dié is met ’n wit man getroud daar anderkant. Sy skryf om vir haar ma te sê hulle kom Suid-Afrika toe, maar hulle sal ongelukkig nie by haar aankom nie. Sy is mos nou wit, met ’n wit mannetjie, en dis beter dat hy nie van haar ma weet nie. Ek is nog lief vir Ma en sit ’n geldjie in, ek hoop Ma verstaan.

“Jirre, what a shame, what a shame,” sê Kitty oor en oor. “Sy het net die een kind en dié is skaam vir haar ma. What a shame.”

“Pettie, wat djy vandag gasien het, moet djy vir die rest of your life onthou. As die mens eers airs en graces kry oorie kleur van sy vel, vergiet hy maklik van sy eie bloed. Tot hy sy dooie bloed moet lossny vannie tou. And then it is too late.”

Maggie het klaar gepraat, sy vee met ’n sakdoek oor haar oë. Steek ’n sigaretjie op, blaas die rook ver uit. Hou die velletjie papier bo die brandende vuurhoutjie, stoot die asbak onder die vuurtjie in om die as op te vang.

“Die poelieste weet nie vannie brief nie, en djulle hou djulle bek.” Sy gee ’n snorkgeluid. “Die haat en skaamte oorie kleur vannie vel maak seer ganoeg sonner dat mens nog vinger wys oor wat wie se skuld is.”

Ek en Kitty sit in stilte. Kitty knik haar kop en toe ek myne. Die assies lê die asbak vol en Maggie staan op om dit oor die agterdeur weg te blaas. Sy kom terug en tel haar koerant op. Sy lees: “Mandela sê vanuit Addis Abeba: ‘South Africa is a country torn from top to bottom by fierce racial strife and conflict, where the blood of . . .’ ”

Dit was Januarie 1962.

Die antie aan die balk sal ek nooit vergeet nie. Maar op daardie dag het ek ’n diepe respek gekry vir my anties se sense of justice.

Trane loop oor my wange waar ek langs Maggie se graf staan. Sal ek ooit dié herinneringe met my trouman kan deel? Sal ons kan saampraat daaroor? Wat sal hy sê as hy my nou moet sien – die enigste sogenaamde wit mens onder die huilende kopdoeke?

’n Dierbare kennis, antie Smiley, het haar huis oopgestel vir die begrafnistee. Ons kry iets te drinke en te ete, en ek en Stewie gesels om in te haal. Ek nou wit, hy steeds Kleurling. Ons beloof mekaar om kontak te hou en om altyd lief te wees vir mekaar, ons anderse wêrelde ten spyt.

Toe die man in Suid-Afrika aankom, is hy haastig om te trou, maar hy moet eers permanente verblyf en ’n werk kry. Al dié dinge is uiteindelik afgehandel en ’n datum binne weke word vasgestel. Hy dring daarop aan dat ek ’n wit trourok koop, veil en al.

Ek skop vas. Liewer ’n wit pakkie as dit dan wit moet wees, en ’n bypassende hoedjie of blomme in die hare, smeek ek, maar nie ’n trourok en veil nie.

Hy verstaan nie my afkeer nie en my protestasies val op dowe ore. Maar ék weet. Dit voel nie vir my reg nie. Ek het reeds ’n baba by geboorte verloor, gebore ná net vyf maande se swangerskap. Laki se baby. Maar die man weet nie daarvan nie, en ek is vasbeslote dat hy nooit sal uitvind nie.

Oor die trourok is hy onversetlik. Dit moet ’n wit trourok wees. Dit moet ’n veil wees, niks van ’n hoedjie of blomme in die hare nie.

Teësinnig koop ek die wit materiaal en net. No compromises, besef ek. Dit moes my wake-up call gewees het.

Kay maak my trou-uitrusting, kompleet met die veil. Kay, Kosta, Kosta se vriend Peter en sy Afrikaanse nooi is die enigste gaste by die troue. Agterna hou ons ses paartie in ’n smart Griekse restaurant.

Ons is man en vrou tot die dood ons skei. Sonder dat ek hom iets oor my verlede vertel het.

Binne die eerste jaar is ons seun gebore en dood. Ons begrawe hom in Benoni. Drie maande later probeer ek selfmoord pleeg. Sewe jaar later verlaat ek hom. Hy spoor my op, bring my terug. Twee jaar daarna verlaat ek hom weer, maar dié keer is ek met die lyf – vir die vierde keer. Ek gaan druipstert terug.

Die val van die dice

Подняться наверх