Читать книгу Die val van die dice - Pat Stamatélos - Страница 5
Оглавление2
Sy arm is skielik om my. Hy druk my teen hom vas waar ek aan die verste kant van die bed lê. Sy warm asem blaas my nekhare orent.
“Los my. Los my,” kerm ek. Ek probeer sy arm wegstoot.
“Stop your ‘los my’. You are my wife. I have right to tell you when you are wrong. Kristina’s mother and father ask me why Pattie not sit by us. What I must tell them? My wife is crazy? She like rubbish friends better than family?”
Die dringendheid van sy liggaam maak ’n sluimerende behoefte in my wakker. Maar my woede gooi water op die kole.
“Lettie is nie rubbish nie! Nog minder haar man. Hy is net uitbundig, dis al. Jou Griekse vriende gooi borde op die vloer soos barbare, my pa was bang stukkies glas kan in Panajota se oë spat, maar hulle is nie rubbish nie. Dis vir jou aanvaarbaar, maar nie my vriende nie.”
“Why you talk your Boer language? You don’t want me to understand?”
“Jy verstaan baie goed. You don’t want to accept my friends.”
“What friends? They are not our friends. Your place is with your husband. My brother baptise his child, but you want to sit with Lettie and rubbish husband. You suppose to sit by us.”
Ek sug, maar weier om te reageer.
“Can you tell me: why my brother invite Lettie?”
Stilte. Ek is nie lus om te argumenteer nie.
“I talk to you,” sê hy en druk my stywer vas. “And your sister, why she never come?”
Hy weet, maar ek moet dit weer sê.
“I already told you, Kay and Hansie were invited to a family gathering at Hansie’s parents’ house. You always say family is important. Hansie had to be there.”
Nou is hy stil.
“Kosta ken vir Lettie so lank as wat hy my ken, hy weet ons is beste vriende. Besides, ek het jou vooraf gesê ek gaan by Lettie-hulle en my pa aan die tafel sit. Kristina se familie het gesê daar is nie plek vir ons kinders aan hulle tafel nie. Moes die kinders miskien alleen sit? En my pa? Hy ken nie een van die familie of vriende nie. En anyway, almal praat Grieks. Who must he talk to? Who must I talk to?”
“Oh, so now you don’t speak Greek?”
“Not enough . . .”
Hy lag in my hare vir my flou protestasie. My liggaam verslap effens.
“Turn around,” sê hy en vat aan plekke wat hy liewer moet uitlos.
Die bitterheid stoot op in my keel; die kelkie moet geledig word. Ek hou my lyf stok, maar rol om. Kyk hom vol in die gesig in die donkerte van die kamer.
“Is dit nie snaaks dat ek buite die slaapkamer na vullis en varkmis ruik nie, maar hier, in die bed, is ek moonlight and roses . . .” Ek kom nie verder nie.
“What you say!” lag hy hard en gooi sy liggaam vol op myne.
Skielik meng hartstog en woede op die lakens. Slym en trane op die kussings.
Uitgeput, uitgerafel en opgebruik. Hoeveel langer moet ek hierdie liefde-haat-verhouding nog verduur? Nee, besluit ek, daar is lank nie meer liefde nie.
Ook nie respek nie. Eintlik is daar niks meer oor nie. Net vier kinders.
Dis al.
Ek gly stadig van die bed af, steek my voete in my gaterige pantoffels en staan op. Sy asemhaling is diep en reëlmatig, sy kaal lyf uitgestrek op sy maag onder die gekreukelde laken.
Ek maak die deur saggies oop en toe. Die vloerplanke in die lang gang kraak een vir een. Vir ’n oomblik is ek bang ’n kind word wakker, hulle ma is immers kaal.
Aan die einde van die gang draai ek regs, badkamer toe. Op my knieë in ’n bietjie badwater spoel ek die warm nattigheid oor my onderlyf. Ek droog vinnig af.
Moegheid dreig om my te oorrompel en my van my voete af te ruk. Om my kop bymekaar te kry, sit ek vir ’n paar minute op die toilet seat, my boude kaal en koud.
Die grandfather-klok slaan twaalfuur. My pa se geskenk vir my en Laki se troue. Maar in plaas van ’n troue het ons begrafnis gehou. In die plek van geluk en gejuig was daar treurnis en trane. En nogmaals trane.
Ag, mygod, praat ek, my gesig in my hande, trane in my mond, wat het van my geword? Waar is die mens van twintig jaar gelede? Die vrou wat soveel mooi drome vir die toekoms gekoester het?
Sy is weg, snik ek in antwoord op my eie vraag.
In haar plek is ’n ontnugterde wese van ’n mens vir wie daar geen toekoms is nie. Nie saam met die man in die slaapkamer aan die bopunt van die gang nie.
Ek dink aan Kosta se koevert wat ek oopgemaak het toe ons by die huis gekom het. Drieduisend rand. Ná amper twintig jaar.
Vroeër in die week het ek my lot by Kosta bekla. Gee my blyplek, het ek gesmeek, totdat ek ’n prokureur kan kry om my te help.
Wat nou weer? Bekommernis in sy stem.
I’ve had enough. Vertel hom my treurmare deur snot en trane:
My buurvrou langsaan, die ou Portugese tannie, het my nadergeroep van anderkant die muur. Haar man, oom Manuel, staan langs haar en gooi struike nat. Kan ek miskien môre vir haar die drukpot wat hulle as special adverteer, gaan koop? vra tannie Ana. Haar heupe is van die pyne en sy sal dit nie maak om so ver te loop nie, maar sy is bang die potte gaan uitverkoop.
Sy gee my R200 in R20-note.
By die kombuisdeur loop ek my vas in die man.
Hy is bietjie vroeër tuis as gewoonlik, het my sien staan by die muur. My skrik só groot ek voel ek moet by die toilet uitkom, maar ek kry nie kans nie. Hy is woedend en versper my pad binnetoe. Hy kyk na die geld in my hand.
Prostituut, snou hy my toe, nou lê jy aan by die buurvrou se ou man.
Ek maak my mond oop om te verduidelik, maar my woorde word doodgeskree: How much he pay you, madam?
Sy gesig amper teen myne, ruk my hand wat nog aan die note vasklou met geweld oop. Gryp die geld, frommel dit op, strooi dit die kombuis vol, skeur ’n paar note middeldeur.
Met ’n waarskuwing dat ek moet wegbly van die muur af, “or you know what will happen”, storm hy die huis in. Loop hom by die gangdeur in Meno vas, tel hom laggend op.
Laataand toe almal slaap, gaan krap ek die geld uit my wegsteekplekkie. Plak van die note aanmekaar met sellotape.
“Panajiá moe, Panajiá moe,” sê Kosta oor en oor.
Moeder Maria. Die man word maller by die dag.
Kosta paai en praat mooi: Moenie iets sommer holderstebolder doen nie, kalmeer eers. Môre gaan hy spyt wees, jy ken hom mos. Oor drie dae doop ek my dogter, ek sal dan met hom praat.
Ek hoor Kristina se stem. “Next time I see that madman I shoot him!”
“Mi fonázies!” Moenie skree nie, sê Kosta.
Dan aan my: “Mi kles, Pattie.” Moenie huil nie. “Wait till I baptise my daughter, please wait. I want you there, Pattie. We have to think before we make any move.”
Maar Pattie het in daardie oomblik klaar gedink, klaar besluit.
Baptise the child, then let the Fat Lady sing.
Nog voor ons eerste huweliksherdenking het ek reeds geweet my lewe saam met hom het ontspoor. Vir die afgelope agtien jaar al probeer ek moedig om die wiele weer op die spore en aan die loop te kry. Tevergeefs.
Prisoner of love. Aangewese op die genade van my bewaarder. My sonde: ek is vrou, ek is Boer, ek haal asem.
My vonnis: lewenslank.
Voor die spieël trek ek my vingers deur my hare. My rooi, geswolle oë lyk aaklig in my wit gesig.
Die man se benepenheid sal my nog doodmaak. Dis sý manier of geen manier, dis sý woord teen myne. No compromises. I am the man, sal hy sê.
Maar waarheen kan ek gaan om weg te kom, en hoe? En my kinders. Wat gaan van hulle word as hulle ma haar goed vat en loop? Ek dink en dink, al vir so lank, maar ek kry nie antwoorde nie.
En wat van die ou heer agter in my jaart, die een mens wat nog ’n bietjie vonkel in my lewe bring? Wat sal my pa sê? Nee wat, Dadda sal verstaan, besluit ek. Hy weet van elke knou, elke dolksteek, elke traan. Hy sal my nie verwyt nie.
Met ’n bietjie koue water spoel ek die snot en trane af, vryf my geswolle gesig saggies droog.
Terug kamer toe deur die lang gang. Kraak-kraak.
Hy lê my en inwag. Tugmeester, afknouer, sadis sonder berou.
Met die inklim onder die laken reik hy na my. Sy hande streel en sy lyf koester.
Los my! Ek haat jou aanraking, praat my brein.
“You must never go sleep angry. It is not good.”
Sharrap! Ek haat jou stem, praat my brein.
“Why you cross?”
“What do you think? First you put the knife, in front of the children and my father, and now you want to put the bandage.”
“Stop your nonsense. This is real life. I am your husband, I have the right. You know you always hurt the one you love . . .” En so aan en aan.
Als soveel maal gehoor, soos ’n plaat wat vasgehaak het. As dít die definisie van liefde is, wil ek liewer nie gelief wees nie, baie dankie.
Growwe vingervelle raak trillende senupunte aan en trek my in soos ’n vis aan ’n lyn. Aas is nie nodig om dié vis te laat byt nie. Sy word eenvoudig met ’n knuppel oor die kop geslaan, haak deur die bek geforseer en ingekatrol om oopgesper op die kole te lê, om tydsaam, stuk vir stuk, verorber te word.
Ek soos ’n gewonde dier, maak die rug krom, soek wegkruipplek, maar sy tong rasper, soek die soutigheid van my skouer. Dan laer af oor twee verraderlike borste, dan nog laer, verby die ribbes . . . En sonder baklei trek ek die ou gevoel aan vir die tweede keer vannag.
Woorde word geluide. En ritmies, soos die pendulum van die grandfather-klok wat heen en weer, heen en weer swaai, snoer hy my mond. Ritmies, vir die soveelste keer in negentien jaar.