Читать книгу Die val van die dice - Pat Stamatélos - Страница 9
Оглавление6
Nog ’n Sondag. Nog ’n uitbarsting.
Kristina bel, hulle bring die kóta me lemóni ke patátes, suurlemoenhoender en aartappels, met rooiwyn. Dis 11 November en Kosta se verjaarsdag.
My maag slaan bolmakiesie, die broers kom nie oor die weg nie. Wat lê voor?
Ek sal groente maak, sê ek, en poeding. Kom gerus, so twaalfuur se kant?
Die man is bly hulle kom. Hy is gek na Kaljopi. Het ’n absolute swak vir ’n klein kind, en die wêreld se geduld met hulle . . . solank hulle klein bly.
Kosta-hulle kom en almal groet, die tafel is reeds gedek.
Kristina is stroef, op die man af. Vra hoe dit met die malman gaan: “Ti kánis, trelé?”
Hy soen Kristina op albei wange en lag. “I was born trelós, now you only realise it?”
“But you are getting more trelós every day.”
“Shóppa tóra, shóppa . . .” sê Kosta en gee die carrycot vir sy broer aan.
“Don’t tell me to be quiet. Éla, Pattie, come, let’s put the food on the table.”
“Soela, gee vir my die pyrexbak aan om die hoender uit te skep.”
“Mana! Ek wil net gou vir Kaljopi ’n bietjie vashou. Daddy, give her to me.”
“No, ásti tóra. Leave her. Go help your mother, and take your brother with you.”
Die kos word uitgeskep en tafel toe gedra. Vandag eet ons in die eetkamer, ons is te veel vir die kombuistafel. Mense skuif in, kinders word gesê om stil te bly, hy kap met die mes op die tafel, Kaljopi styf in die waai van sy arm.
“Se parakaló me ton Páter Imón!” sê Kristina. Hou tog op met jou Onse Vader.
“Daddy, we know the Our Father, you say it every –”
“Skásse, pethí moe. Quiet, this is your father’s house. We are not Kaffirs.”
Is ons nie? Dadda het jare ná Mamma se dood met antie Mona getrou, Tswana-bloed en al. As hy haar gekies het voor hy my ma gekies het, wat was ék dan?
“Your house? Ke i jienéka soe?” And your wife? wil Kristina weet. “This is not her house also?”
Ek word yskoud. Nie nou nie, laat ons net eers eet.
Sy hoof gebuig. Páter Imón, o en tis oeranís. Onse Vader in die hemele.
Is onse Vader ook vir die other skins? wonder ek.
Kristina begin opskep. Agiasthíto to ónomá soe, laat u Naam geheilig word, sy kap hard met die lepel vol kos in ’n bord, ignoreer die man se geprewel totaal en al. Elthéto i vasilía soe, laat u koninkryk kom. Sy skep voort.
“Kristina moe, sshhh . . .”
Os en oeranó ke epí tis jis. Soos in die hemel, so ook op die aarde.
So het Mamma en Dadda ook gebid, én onse Vader het hulle gehoor.
“Thósmoe to piáto soe,” sê Kristina vir Meno. Gee my jou bord.
Hy gee aan, giggel.
Die man ploeter voort. Ton árton imón ton epióésion thos imín símeron. Gee ons vandag ons daaglikse brood . . .
“Ameeeen!” sê Kosta kliphard.
“Ameeeen!” skree Meno agterna.
Die kinders lag kliphard, die Onse Vader val uitmekaar. Kaljopi begin huil.
Die Sondagete het begin.
Die hoenders is verslind, aartappels opgeëet, groente verorber, en ons lê weg aan soet poeding en nog wyn. Die gesprek is belaglik beleefd, die atmosfeer dodeliker as gifgas.
Die kinders staan op, dek deels af, gaan speel, gaan kamer toe, verdwyn.
Toe die roerlose stilte, ons monde gesnoer asof met kleefband. Soveel te sê, maar suutjies-suutjies. ’n Trein jaag verby, die vensters rammel in hul kosyne en ons sit asof ons luister.
Ek en Kristina staan op en gaan kombuis toe. Ons gooi die bríki leeg, Griekse koffie in klein koppies, genoeg skuim vir elkeen. Ons gaan sit weer.
En die stilte word verbreek.
“Pappasani, ti épathes?” begin Kristina. Wat is verkeerd met jou? “You don’t love your wife?”
Die mis tref die fan, ek koes.
Sy gedrag by die doop, sy gedrag met die geld, sy gedrag. Sy gedrag.
Ag mygod, hou op, ek gaan dit ontgeld!
Dié een skree, daai een skree. Dié een kap op die tafel, daai een ruk ’n stoel.
Aan en aan en aan.
Hulle gaan huis toe en dit gaan aan en aan en aan.
Laatmiddag drink ek ’n Migril vir die pyn, ’n Valoid vir die naarheid. Ek gaan lê op Panajota se bed en druk die kussing oor my kop, bid om dood te gaan.
Panajota trek die gordyne toe, Meno bring ’n emmer, net in case. Die deur word saggies-saggies toegemaak. Sjuut, Mana het ’n migraine, hoor ek iemand fluister.
Ek wens ek het iemand met genade gehad om my na Bertus Pretorius te vat vir ’n inspuiting. My dokter meer erbarmlik as die man van my trou, maar ek weet ek sal moet uithou.
Dis ’n pyn wat alles om my en in my verdring. Gevoelens en denke word weggespoel en ek sweef op die vlerke van sinsbedrog en selfmoord. In die wegraak hoor ek nie die verwyte nie, sien nie die oë nie, net die krone van konings, geboë ligte en ’n stemmetjie wat geluidloos snik: My God, hoekom het jy my verlaat?
En ek wonder: waar is my balk, waar is my tou?
Later raak ’n sagte hand skrams aan my skouer.
“Mana, hier is ’n bietjie tee en toast met heuning.”
Genade.
Die volgende oggend is my gesig opgeswel, my oë toegeswel en my brein beneweld.
“Tell your mother to get up before she die.”
Dinsdagmôre loop ek in by Roy Harris Estates in Randgate. Meneer Van den Berg groet vriendelik.
“Ek soek ’n flat,” sê ek. “Maar nie te groot nie, nie te duur nie, dis net vir my.”
Hy praat met Rose, die Engelse vrou, tel ’n boek op, blaai blaaie en praat pampoene.
Ek kyk die vrou vas in die gesig. “Either you get me a flat, or there’s going to be a murder. I have to get away.”
Meneer Van den Berg staan vinnig op. Hy het so pas onthou: sy buurman oorkant die straat het ’n leë woonstel. Dis nie duur nie. In Langermanstraat. Hy skryf haastig die adres neer en druk die papiertjie in my hand.
My glimlag is een van dankbaarheid, dankbaar vir die kans om van ’n malman te kan ontsnap. Syne een van verligting, verlig dat hy my die moord op ’n malman kon spaar. Ons is kwits.
Die woonstel op die erf van Andries Wie-ook-al pas my. Die plekkie is ’n hanetreetjie van sy groot baksteenhuis, kompleet met ’n wit varkhond en ’n groot bruin hond. Slaapkamer, klein kombuisie, badkamertjie. Dis genoeg.
Ons praat oor die huur, kibbel ’n bietjie en bereik ’n ooreenkoms. Oorhandig die geld en kry die kwitansie. Die besluit is geneem en die daad is gepleeg, met behulp van Kosta se geld.
Ek kan die volgende dag intrek. Dit pas my, dis ’n weeksdag en die man is by die werk. Nie dat ek regtig gaan intrek nie, nie nou al nie, maar ek kan tog ’n paar goed aanry.
Voor die huis in my ou Toyotatjie sit ek ’n paar oomblikke en dink diep. Hoe op aarde gaan ek elke maand alles betaal?
Die kinders se klereskuld, kinders se sakgeld, Panajota se musieklesse, skoolgeld, en nou nog die huur ook. Al die dinge wat ek goedgunstig deur die jare betaal het omdat hy so suinig is, word skielik ’n meulsteen om my nek. Wat van die huishulp wat die afgelope paar jaar so gereeld kom skoonmaak? Sal hy haar laat aanbly en haar betaal?
Van die eerste jaar af het ons oor geld baklei, of die oënskynlike tekort daaraan. Ek moes baie gou gewoond raak aan die goedkoopste van alles. Baie dinge begin ek teësinnig betaal uit my karige salaris. Hy koop grond om te spekuleer en sit geld weg teen hoë rentekoerse. Kamma als vir die kinders.
Tydens my swangerskappe en die maande daarna wanneer ek nie werk nie, sê hy gedurig, sodat almal kan hoor: “The Bible says if you don’t work, you don’t eat.” Van die min reëls uit die Bybel wat hy ken, want hy haal nooit andersins uit die Bybel aan nie, behalwe dat God sê hy’s die baas, ek die klaas.
Die tye wat ek wel gewerk het, het hy aan almal verkondig watter slegte ma ek is. Ek werk en gooi my kinders weg, gee nie om vir hom of die huis nie. Met ’n verslae gees handig ek my bedanking in. Daardie aand is hy woedend. Die volgende dag moet ek my fout by my baas bely en mooi broodjies bak. Tot die volgende keer.
My etenstyd is verby, ek moet terug werk toe. Ek mag nie laat daar aankom nie; ek moet die winkel oopsluit vir die ander twee werkers.
Bekendes wag my voor die winkel in: Kay, Faantjie en Willem.
Ek is absoluut verheug om hulle te sien.