Читать книгу Die val van die dice - Pat Stamatélos - Страница 8

Оглавление

5

Die man is kwaad.

“What is wrong with you?” wil hy weet.

’n Ruk gaan deur my lyf. Dan het Kosta tog met hom gepraat.

Maar ek misgis my, soos gewoonlik. Nes ek dink dit gaan oor die hond se kop, gaan dit oor die hond se stert – nie dat jy ooit weet watter kant toe met hom nie.

“Why you cook pasta for second night? Didn’t God give you brain to think?”

“I know tonight it’s macaroni and cheese, but last night it was spaghetti and –” probeer ek verduidelik, verskoning maak.

“Same thing! I tell you many times, but you don’t lesson anything. Make a menu for every day. You don’t lesson if I talk.”

Het jý al ooit geluister as ék praat?

Die kinders word op sy gewone ongevoelige manier aangespreek.

“You stupid boy, you don’t know this is God’s table? Why you eat like pig? You don’t know we pray before we eat? You suppose to eat from rubbish bin.” Hy kyk kwaai na die ander. “Shut up and close your eyes!”

Hy sê die hele Onse Vader in Grieks op, sy kop nederig gebuig, sê hard amen en dan moet almal die kruis oor die bors maak. Hy maak die teken drie keer.

Ek skep op en die kinders praat oor en weer. Te hard, te veel. Dis meesal die seuns wat deurloop. Hulle lag en skerts met mekaar. Hy kyk Janos kwaai aan, wys hom die vinger.

Skásse, gaaithóéri, tha soe kópso ta xéria . . . Hou jou mond, donkie, ek sal jou hande afkap!

Twee minute se stilte.

Kla, kla. Mor, mor.

Ons is almal Kaffers wat in die lokasie hoort. Hy het weer ’n lekkerpapiertjie op die grasperk opgetel. Die kinders aard almal na hul ma, met dieselfde vuil gewoontes, maar wat kan jy verwag van ’n ma wat nie eens volgens ’n menu kan kook nie?

Maar ek weet: vanaand is dit weer moonlight and roses.

Na die hel met hom! Vanaand lê ek agter Meno of Panajota se rug. My klein kamerade sonder besef.

“Tell me,” begin klagte nommer honderd. Eers die mond volprop. Die vurk beduie. “Why you friends with Lettie and that stupid husband? Where you find each other? You know they not white?”

My oë is op my bord kos, stoom in my oë en my pa se boekie in my gedagtes.

“You know they not white?” herhaal hy.

Ek sug.

“You don’t like question, madam? I like answer.”

“Daddy, you always fight when we eat, and you are being racist,” sê Soela. “Tannie Lettie is much nicer than uncle Takos’s stinky wife.”

Die hele etery kom tot ’n stilstand, die kinders skater van die lag, party vee glad trane af.

Takos se vrou se naam is Triandafillo, wat roos beteken. Haar olierige hare hang soos ’n vuil mop oor vet, ongewaste skouers. Die klank tussen naeltjie en knieë ding mee met die klank van sweet en knoffel. Takos se koesternaampie vir haar is Daffy.

Die man is woedend. Kap met die agterkant van die mes ’n paar keer hard op die tafel. Die kinders kan nie bedaar nie, wil hulle doodlag. Vee nogmaals trane af. Ek lag in my mou, saggies, want ek weet wat vir my voorlê.

Hy lig sy gebalde hand op en kap Janos hard teen die kop met sy kneukels.

Janos protesteer luidkeels. “I didn’t say anything! It was Soela!”

“You laugh like a fool. Shut up. You are a big stupid. This is how your mother teach you? You must have respect for people. Aunty Daffy is good wife for uncle Takos. She is not like your mother. You really are big stupid, and your brother and sisters too.”

Janos prop sy mond vol kos. Die groot bruin oë onder die mooi wenkbroue kyk nou stip na sy bord, mes en vurk. Hy weet stilbly is ook ’n antwoord.

“You must lesson if your father speak . . .” dreun die man voort.

Oudergewoonte druk Panajota se handjies haar ore toe. Sy neurie. ’n Kind het sy eie manier om van sy bangheid weg te kom, sy eie manier om dinge te verwerk en uit te wis.

Die vyfjarige Meno se pofferhandjies waai deur die lug.

“Daddy,” sê hy, “you must tell uncle Takos to tell aunty Daffy she must bath every night.”

Nou moet ek ook lagtrane afvee, ek kan nie meer inhou nie.

As ek hier uittrek en by ’n eie woonstel intrek, sal ons daar ook lag? Ek sal net ’n klein plekkie kan bekostig, daar sal nie eens plek wees vir ’n tafel groot genoeg vir al die kinders om om te sit nie. Hoe ver sal ek Kosta se geld kan rek?

Hoekom moet die lewe so hels ingewikkeld wees? Ek wil nie bly nie en ek kan nie gaan nie.

“Meno, my little child, you know nothing. Keep quiet.”

“You tell me to bath every night.”

“Keep quiet!”

Ek vermy sy oë, maar ek weet hulle boor gate in my kop. Ek buk laag oor my bord kos, kou mooi en probeer onskuldig lyk, maar die kraak in die muur word ’n gat. Groter en groter terwyl die verwyte en beledigings uitstroom. Almal gooi wal, van klein tot groot. Tevergeefs.

Skielik kom lê die stilte oor ’n ma en vier kinders asof daar dood in die familie is. Die een is banger as die ander. Sy tong sny, ons lê in repe. Slegter as sy vrou en kinders kan daar nie wees nie.

Die kinders het klaar geëet, hulle wil opstaan, wegkom. Huiswerk moet kamma gedoen word, sê een, daar is ’n program op TV, sê ’n ander. Daar is baie dinge wat gedoen moet word, ver weg van hul pa se tong.

“Soela, onthou dis jou beurt om af te droog!” roep ek haar agterna.

“Mana, ek wil net gou my kamer aan die kant maak, dan sal ek kom!” roep sy terug.

Hy draai en draai om my. Stoele word ’n bietjie rondgepluk, ’n kombuiskas se deurtjie hard toegeklap, brom-brom.

Ons gooi rug en rekriminasies soos kinders balle gooi. Bevuil die hart, bevlek die siel.

“You have no appreciation,” verwyt hy vir die soveelste keer. “I give you everything, but you no appreciate anything.”

Takos se vrou staan heeldag in die kafee, sê hy, en vanaand kook sy kos. Maak nog vir ander mense se kinders klere ook. Daar is altyd gebak in haar huis. Hoe durf ek ’n gek van die vrou maak, en dit voor die kinders? Sy ondersteun haar man en sy is onderdanig aan hom, soos dit ’n goeie, Godvresende vrou betaam.

“Ek het nie ’n woord gesê nie.”

“But you laugh like a fool. I hate that sarcastic laugh!”

Ek trek my asem in. Dis nou genoeg vir vandag. Gooi alle selfbeheersing oorboord.

“Is daar enigiets omtrent my wat jy nié haat nie? Foreigner!”

Nou is dit oorlog. Die streep is getrek. Dié kant is myne, daai kant is joune. My eerste skoot is gevuur, dis nou jou beurt.

“What you say?” vra hy dreigend. Ons ken mekaar se teer punte soos die agterkant van ons hand. Stilbly is verby.

Foreigner, herhaal ek. Uitlander. Vreemdeling. En vir good measure las ek by: Pes!

Hy ontplof. Die oë skiet vuur en die mond spoeg gif.

“Poetána! Poetána! That is your name. You don’t belong in decent home, you belong in gutter. Get out! Get out! Voertsek!”

Iemand klop aan die agterdeur. Die geskree bedaar. Die deurknop word stadig gedraai, die deur versigtig oopgemaak. Bang vir skietery tussen die mure, bloed wat vloei, lyke wat val.

Dankie, my God, vir die ingryping. Dankie, Dadda, gelukkig kom jy net op die verkeerde tyd.

“Hello, my boy. How are you?” groet die ou man hom vriendelik, katvoet.

Hy mompel ’n antwoord, vloek my in Grieks en verlaat haastig die kombuis.

Dadda bêre die skoon bord wat hy saamgebring het. Hy vat die afdroogdoek van die haak af en kyk na die vuil skottelgoed. Ek sal moet was.

“Dankie, Pettie, die kos was heerlik. Jy weet mos ek is lief vir macaroni en kaas. Jy kan dit maar elke aand maak. Dankie, my kind.”

’n Bietjie waardering. Nogmaals dankie, Dadda.

Sy lang, benerige vingers vryf oor my skouer waar ek voor die wasbak staan. Die warmte van sy sagte aanraking laat iets in my knak. Stil snikke in my borskas soos naels wat krap oor muur en ruit, maar ek uiter geen geluid nie, praat nie ’n woord nie. Ek stik in die ou, bekende emosies van verwerping, walglike afsku en uitgerafelde gevoelens.

Sy stem weerklink nog in my ore. Poetána. Prostituut.

“Is hy weer op sy stukke?” fluister my pa.

Ek knik, sluk my trane weg, kan Dadda nie in die oë kyk nie. Nie nou nie.

Hy staan nog geduldig en wag met die afdroogdoek. Ek begin water intap. Laat Soela maar aangaan om kamer op te ruim.

Ek was. Dadda begin die messe en vurke meganies poets. Die stilte is tasbaar, maar hy verstaan. Woorde is oorbodig. Ná die uitbarsting weet hy dis stilte waarna hierdie berouvolle hart smag, my gedagtes vir eers genoeg.

Dis ek wat praat en God wat luister.

Liewe Here, wat het ek gedoen om dit te verdien? Het ek nou nog nie vir my sondes van die verlede betaal nie? Ek het twee seuns begrawe in ruil vir die kwytskelding van my sondes. Onthou U, Here? Poetána! Waarom ek?

Ek bid oor ’n bak vol vuil skottelgoed, maar beskuldigend:

O my God,

Ruk my hart uit my borskas, ek betaal my skuld.

En vat ook my longe, my lewer, my arms en bene.

In plaas van ’n grafsteen, pak net stene.

En skryf: Hier lê die Boer, haar man se hoer.

Poetána is haar naam. Rest in peace.

Dadda pak die laaste borde weg, strek om die glase op die boonste rak te bêre. Oudergewoonte vee hy met sy groot hand oor die kassie se oppervlak. Hy knik tevrede: dis skoon.

Hy gaan sit diep en gemaklik op die harde kombuisstoel. Ek weet hy hou my fyn dop terwyl ek die laaste stoffies en krummels in die skoppie opvang, die vullisblik se deksel met ’n klapgeluid toemaak, als bêre in die regop kas.

“Hoe lyk dit met ’n bietjie boeretroos?” vra ek en klap-klap op sy bonkige knie. Skakel die ketel aan.

Grasserige wenkbroue skiet omhoog, die oë kyk deur se kant toe.

“Gaan jy vir hom ook maak?”

“Ag nee, Dadda, hy is nie eintlik ’n koffiedrinker nie. Dadda weet mos.” My stem word ’n fluistering: “Die vraag is natuurlik: wíl ek vir hom koffie maak?”

Die ou heer se oë kry skielik ’n vonkeling en ek weet: hier kom ’n ding.

Hy steek sy hand met groot gebaar in sy baadjie se binnesak, bring ’n skoon sakdoek stadig te voorskyn, hou die punte vas asof iets daarin versteek is.

“Ek het ’n bietjie arsenic hier by my . . .”

Ons lag saggies soos twee samesweerders.

Die water kook. Ek gooi Nescafé, Cremora en suikerpilletjies in, nes ons daarvan hou. Krap in ’n wegsteekgaatjie en haal twee Oumas uit. Met my rug na Dadda haal ek die botteltjie pille van die boonste rak af, dop dit om en gooi twee in my hand uit.

Ons doop en suig. Koffiedruppels loop oor lip en ken. Lekker. Hou met bakhande die warm koffiebekers vas terwyl ons ’n bietjie blaas, ’n bietjie proe.

Ek bekyk hom en glimlag terwyl hy met ’n krom voorvinger ’n stukkie beskuit uit die warm koffie probeer red. Sy gesig skoongeskeer, dun plooitjies wyd gestrek oor die hoë voorkop en grys hare netjies gekam, soos altyd.

Voor ek die laaste bietjie koffie afsluk, druk ek die twee pilletjies wat langs my beker lê in my mond. Dadda sien dit en sug, maak ’n bietjie keel skoon.

“Migraine?” vra hy.

Ek skud my kop. “Nee, ek het lanklaas migraine gehad. My kop is sommer seer van die man se nonsens. Die pille sal help vir die pyn en die senuwees. As ek kalmeer, sal ek beter slaap, en opstaan.”

Hy tik-tik saggies op die tafel se houtblad.

“Pettie, wat nou weer? Waaroor die groot lawaai?” Sy oë lyk bekommerd en vol jammerte soos hy na my kant toe oorleun. “Is hy nog steeds kwaad oor Karretjies? Dis darem al vyf dae gelede, hoe lank gaan hy kwaad bly?”

Dis my beurt om te sug.

“Ag, Dadda, dis eintlik ’n storm in a teacup. Die kinders het ’n grap gemaak oor Daffy. Soela het haar Stinky genoem en almal het gelag . . .” Ek kom nie verder nie, dis te snaaks vir woorde en ek lag van voor af.

Dadda se glimlag strek van oor tot oor en dit lyk of hy ook enige oomblik kan uitbars van die lag. Sy oë vonkel ondeund. Ek klap hom liggies op sy hand.

“Sjuut, hier kom hy.”

Ons kyk met sedige gesigte in ons amper leë koffiebekers.

Ek sien hoe my hand bewe, voel die beklemming in my bors. Sy teenwoordigheid soos dié van ’n bliksemstraal: vernietigend.

Hy ruk ’n laai oop. Goed vlieg uit en val hard op die keramiekteëls. Hy vloek onderlangs, kyk nie na ons kant toe nie.

“You must enjoy your coffee, madam, for as long as you can. Your time is short. And other people’s time is short too. You think you can do what you like . . .” Brom, brom.

Hy tel die goed van die vloer af op, smyt dit in die laai, kry nie wat hy soek nie en stamp die laai toe. Met sy rug na ons vloek hy in Grieks en storm by die kombuis uit.

My pa loer onderlangs na my. “Wat sê hy?” fluister hy.

Ek weet die man sê ek is ’n prostituut en dat God my sal straf, maar is dit wat ’n pa van sy dogter wil hoor? “Hy praat sommer met homself.”

“En watse peoples se time is short?”

Ek glimlag, wys na hom met die vinger.

“Wie, ekke? Nooit!” fluister hy kamma verbaas. Ons lag stilletjies.

My pa is vir my soos ’n lafenis in die tronksel waarvan die sleutel lank reeds verlore geraak het. Sy tergery kom ’n lang pad. Ek onthou dit van my kinderdae af.

Mamma was baie vergeterig en het alewig haar sigarette verlê. Dan volg ’n groot soektog na die gewraakte pakkie rookgoed. Dadda vind dit eerste, bied haar ’n sigaret aan, sit die pakkie op die saaidbord langs die kombuistafel neer. Nou kom die geterg.

“Hiér is die pakkie, Nel. Sien jy nou? Hiér lê die pakkie. Het jy nou móói gesien? Ek het die pakkie op die kassie gesit, Nel . . .” En so terg hy aan en aan, totdat Mamma hom laggend vermaan om op te hou met sy nonsens. Ander tye steek hy die pakkie sigarette sommer aspris weg om Mamma se siel uit te trek, miskien in die hoop dat sy minder sal rook.

“Willie! Kwit! Waas die sigrets? Het jy dit nou weer weggasteek?” vra Mamma so in die soek.

“Pettie het dit gevat,” sê Dadda en wys na my.

“Nee, dis nie ek nie!” sê ek sommer verskrik.

“Willie, kry nou end. Waas my sigrets?”

As Dadda die pakkie weggesteek het, het hy dit altyd kamma gekry net voor Mamma regtig kwaad word oor die tergery. In al die jare het Dadda nie verander nie.

“Dadda, die ding met Takos wat nou die boekie kom vra . . . Moet ons nie maar plan maak om vir Dadda die witpapiere te kry nie?”

Hy knik fronsend.

“Ek het ook so gedink, Pettie. Maar hoe maak mens nou? Ek bedoel so . . .” aarselend, ’n kuggie, “ek bedoel sonder dat die man iets te wete kom, jy verstaan? Ek wil nie moeilikheid gaan staat en maak vir jou nie.” Die ou neksenings trek styf. “Ek sê nie die wit manier is reg nie, en ek sê nie bruin of swart is reg nie. Maar jy en die man en kinders is nou eenmaal wit . . .”

“Ek verstaan wat Dadda sê, en ek bid elke dag dat die dag sal kom dat ons nie meer hóéf te kies nie. But until then moet ons maar kies om wit te wees. Anyway, daar gaan nie ’n dag verby dat ek nié in die moeilikheid is nie, so what the hell. Let’s start at the beginning. Dadda moet foto’s laat neem. Ek sal die aansoekvorm gaan haal.”

Kindervoetjies kom aangehardloop. Meno klouter op sy oupa se skoot.

“Dis slaaptyd, my sweetie. Gee vir Oupa ’n soentjie en sê good night.” Ek wil nog met Dadda gesels.

Meno hang om sy oupa se nek, onwillig om te gaan.

“Moet Oupa vir jou ’n storie kom lees?”

“Ja!” Hy spring van sy oupa se skoot af en trek die ou man op sy voete.

Dadda praat saggies in my rigting: “Ek maak soos jy sê, my baby girl.”

Hy knipoog en ek knik. The ball is on the roll.

Dadda vat Meno aan die hand en die twee loop kamer toe.

“Mana sal nou-nou ’n bietjie by jou kom lê,” roep ek agterna. Skraap die twee leë koffiebekers bymekaar en plak dit in die wasbak neer, draai die kraan oop.

Ek sien my pa skud sy kop. Hy weet dis al weer sulke tyd.

Die val van die dice

Подняться наверх