Читать книгу Bottelnek - Piet Steyn - Страница 12
» 9 «
Оглавление“Jy weet waarvan ek praat,” sê Pine toe hy en Kat by ’n robot stilhou. “Ek’s jammer, and that’s it.” Hy sukkel om sy donkerbril op sy oë te kry. Die son weerkaats van die dakke en vensters van die ander motors af, bak ná die vorige nag se donderbui stoom uit die strate.
Kat skiet die tandestokkie waaraan hy sit en kou deur die oop venster; stel ’n oomblik lank intens belang in ’n stukkie blou wat tussen twee geboue sigbaar is. “Ag, hel, ou Pine,” sê hy, suig lug deur sy kiestande, “vergeet dit. In hierdie jop van ons gebeur sulke dinge.”
Pine trommel driftig met sy vingers op die stuurwiel. “Ek weet dit, maar as ek my stront joune begin maak, pla dit my. Jy kon nou met ’n stuk papier om jou toon in ’n koue plek gelê het, en dit omdat ek nie ’n bliksem wat daarvoor gesoebat het, kon uithaal nie!”
“Moet nie oor my worrie nie, ek kan na myself kyk. En na jou, totdat jy oor die ding van Giel is.”
“Waar kom jy aan die stront!” vra hy bars. “Giel het fokkol met dié saak te doen!”
Kat kyk skerp na Pine. “Wat is dit met jou?”
“Hoe bedoel jy, wat is dit met my? Dis jy wat vol stront is!” Pine laat los die koppelaar te vinnig en die kar se bande gil.
“Oukei! Oukei! Hou jou broek aan! Ek’s nie stupid nie, ek weet wat ek weet,” sê Kat knorrig. Hy steek ’n sigaret aan en draai die venster oop. Hy kou ’n ruk aan die gebruikte vuurhoutjie. “In PE was ek in ’n transito-skietery betrokke,” sê hy.
Pine gaan by ’n vragmotor verby vol skrootyster wat oor die bak se kante hang. Hy kyk in sy truspieël en dan vlugtig na Kat.
“My beste pel is daar faktap geskiet met ’n AK.” Kat skiet die as deur die venster af. “Hulle het AK’s en Uzi’s en R5’s gehad, en ons net twee nine-mills … en die fokken klippe langs die pad.”
Daar is ’n ruk stilte in die motor. Pine sien motors, geboue, bome uit die hoek van sy oog by hulle verbyflits. Hy sien ’n geldwa in vlamme langs ’n teerpad. Magteloosheid gryp aan sy keel. ’n Brandende Casspir op wit sand tussen vaal doringbosse. Die reuk van geskroeide vleis in die lug, die gehoes van AK’s uit die bosse …
Hy moet vinnig rem om nie in die agterkant van ’n silwer Toyota vas te ry nie. Hel, waar is sy kop? Pine vee met ’n vinger onder sy donkerbril in. Hy kyk weer vinnig na Kat en dan weer stip voor hom in die pad. “Het … het jy met die kopkwak gaan praat?” vra hy huiwerig.
“Nee, hel!” sê Kat, sug. “Daardie soort van stront werk nie vir my nie. Brandewyn, my pel. Dit neuk my lewer op maar dit maak my kop skoon.”
Pine skud sy kop. Elke oggend se wakker word met ’n seer kop en ’n babelaasgat; heeldag se loop en dink aan die volgende skelm sluk uit die bottel onder die Ford se sitplek … Ná daardie verdomde oorlog van bloed en derms en landmyne in die sand en bosse van Angola was dit vir hom ook sulke tyd. Ook weer ná Elaine en hulle ongebore kind se dood deur ’n dwaalkoeël op die N1. Hy was daar, ja. ’n Poot met ’n permanente drankwalm. ’n Bewerige poot wat nie sy ouma vir ’n verkeersoortreding kan vang nie.
En nou Giel se ding.
Nie weer dít nie.
» » « «
By die kruising van Westroad en Naudéstraat het die uniformtak reeds die SAPD-bande gespan om die gebied af te sper. By die verkeerslig staan ’n silwer Mercedes alleen in die normaalweg besige straat. Die verkeersmanne is besig om die verkeer om die misdaadtoneel te lei. Nuuskieriges drom op die sypaadjies saam, rek hulle nekke om beter te kan sien.
Pine en Kat wys hulle identiteitskaarte aan die man in uniform wat hulle voorkeer. “Wat het gebeur?” vra Pine.
“Ek weet nie, Sup,” sê die konstabel. “Daar in die Merc sit ’n ou met ’n gat in sy kop. Niemand het iets gesien nie. Krappies en sy manne is daar by die kar besig, dalk weet hy meer.”
Die twee speurders stap na die kar waar die manne van die misdaadtoneel-ondersoekspan besig is om foto’s te neem en na vingerafdrukke te soek.
“Ek het hom net so gelos tot julle kom,” sê Krappies toe hy hulle sien. Hy beduie na die motor waarin ’n man van agter die stuurwiel oorlê na die passasierskant. “Die skoot moes hom laat oorval het na die anderkant, of hy het geskrik. In elk geval, dis net die veiligheidsgordel wat hom nog half regop hou.”
Pine reken die man is so in sy middel veertigs. Sy pak klere is vol bloed. Die skoot moes deur die oop venster aan die bestuurder se kant gekom het. Die ruit aan die passasierskant is vol bloedspatsels, en Pine kan sien waar ’n koeël in die bekleedsel vasgeslaan het. Hy loer by die venster in. Die oggend se Beeld lê op die man se skoot. Hy kan die hoofopskrif tussen die bloedkolle ontsyfer: Misdaad ruk handuit. “Wat het julle?” vra hy kortaf.
Krappies vee met ’n sakdoek oor sy kaalkop. “Dit lyk soos twee skote, die een het die sitplek getref, dit behoort goeie materiaal vir ballistiese toetse wees.”
Pine kyk vlugtig van die motor af op na die forensiese patoloog.
“Dit is eintlik baie vreemd,” gaan Krappies voort, “die man het by die robot stilgehou en net nie weer weggetrek nie. Die koerantverkoper sê die ou het soos elke dag die oggendblad by hom gekoop, en hy het toe verder gestap tussen die karre deur en eers agtergekom iets het gebeur toe die motoriste op hulle toeters begin lê het.”
“Kan hy nie onthou watse motor het in die ander baan langs die vermoorde ou s’n gestaan nie?” Pine buk en korrel deur die venster. “Volgens die trajek van die koeëls lyk dit vir my of die skoot net van hier af kon gekom het.”
“Daar was te veel motors, hy kan nie onthou nie.” Krappies glimlag. “Hy sê hy dink dit was ’n witte.”
“Ag, hel! Dit help bokkerol,” brom Pine. Hy dink ’n oomblik. “Dit moes dan ’n wit kar met donker vensters gewees het.”
“Waar kom jy daaraan, Sherlock?”
“Raai sommer. Die vent in die kar agter hom moes darem wragtig iets gesien het! Ek meen, die ou wat geskiet het, moes met ’n skietding in die hand oorgeleun het voordat hy die skote afgetrek het. Weet julle al wie hy was?” Hy beduie na die lyk in die motor.
“Chris Carstens,” sê Krappies. Hy gee ’n ID-boekie in ’n plastiek- sakkie vir Pine aan. “Het op die dashboard gelê, sy adres is ook daarin.”
Pine draai die plastieksakkie in die rondte voor hy dit teruggee. “En almal wat dálk nog iets kon gesien of gehoor het, is natuurlik nou weg.”
Krappies haal sy skouers op. “Wel, dis ’n besige straat hierdie, as die lig groen word, gee hulle vet. Die koerantverkoper sê hy het ’n slag gehoor, maar gedink dis ’n ding wat backfire.”
Pine skud sy kop in ongeloof. “Dit is net nie verdomp moontlik nie! En die ander verkopers? Dié met die plastiekhangers en die vullissakke en al die ander stront?”
Krappies lag, sy adamsappel ruk op en af. “Jy weet mos: Weg! Die meeste is gewoonlik onwettige immigrante.” Hy beduie met sy kop in die rigting van die straathoek waar Kat praat met ’n vrou met ’n stuk karton om haar nek waarop geskryf staan: Please help! Jobless with 4 children. “Dalk kan sy julle help,” sê hy.
Pine snork. “Gmf! Sy kan haarself nie help nie. Kat kan maar probeer.” Pine draai weer na Krappies. “Die BMW op die N3, nou die oggend, al iets gekry?”
Krappies vee sy hande aan sy wit jas af. “Dit is in Benoni gesteel, maar dit weet jy seker al. Die koeëls wat gekry is, is nege millimeter. Dit lyk mos vir my dis al waarmee hulle deesdae skiet. Die ballistiese toetse is nog nie terug nie. O, ja, amper vergeet ek, kyk hier,” hy gee vir Pine ’n plastieksakkie met ’n 9 mm-doppie in.
“Waar de hel kry jy dit, Aasvoël?”
“Hier op die teerpad. Dit moes by die skieter se venster uit-gespring en onder die Mercedes ingerol het. Dis nie lank terug gebruik nie.”
“Weer ’n nine-mill,” brom Pine. Hy loop om die Mercedes en skop ingedagte teen die bande. Die drie moorde op die N3 is beslis bendeverwant, al drie was ou bekendes aan die Oos-Rand, deel van die O’Reilly-spul. Hierdie ene is iets anders, dit lyk vir hom na ’n gewone moord.
“Hoekom doen jy dit?” vra Krappies. “Senuwees?”
“Waarvan praat jy?” vuur Pine terug. “My senuwees makeer niks nie.”
“Skop teen die wiele, jy doen dit altyd.”
“Ek weet nie, vra my kar se mechanic. Hy doen dit ook altyd, dan fluit hy.” Hy draai doelbewus sy rug op Krappies en staan hande in die sakke en wag dat Kat sy ondervraging afhandel. “Niks?” vra hy toe Kat aangestap kom, maar hy weet al wat die antwoord is.
“Niks,” sê Kat en skud sy kop. “Ek het haar adres,” sê hy met ’n sarkastiese gryns. “Sy sal bel as iets haar byval.”
“Oukei, Krappies. Dankie. Kyk maar of julle nog iets kry. Ek los Kat hier om te help. Ek wil gaan kyk wat by die Carstense se huis aangaan. Is hier nie ’n vrouekonstabel wat ek kan saamvat nie? Net vir ingeval,” vra hy vir een van die uniformmanne wat daar rondstaan.
“Ja, seker, Super, daar staan konstabel Jemima Maseko, vat haar saam. Sy was eers van die maatskaplikedienseenheid.”
By die groot wit dubbelverdieping in New Brighton is daar egter net trane. Carstens se vrou weet van geen rede waarom haar man geskiet is nie. Hy het ’n vervoermaatskappy en insleepdiens bedryf wat deur hom begin is net nadat hy van die grensoorlog teruggekom het. Volgens mevrou Carstens het dit goed gegaan met die besigheid en sy is seker dat hy nie vyande gehad het nie. Carstens was glo besig met ’n boek oor sy tyd op die grens.
Pine en Kat voer onderhoude met Carstens se werknemers, vriende en selfs opposisiemaatskappye. Maar alles dui daarop dat dit niks meer as ’n sinnelose skietery was nie.