Читать книгу Bottelnek - Piet Steyn - Страница 5
» 2 «
Оглавление“Ek wonder waar dit gaan eindig,” sê John Makoba met ’n vroegoggendkrakerigheid in sy stem.
“Wat?” vra Kat Harmse sonder om na sy kollega te kyk.
“Die bende-oorlog.”
Kat beduie met ’n olierige aartappelskyfie na ’n vuilwit twee-verdiepinggebou met ’n klein traliedeur in die middel van die grondverdieping en groot swart vensters op die tweede verdieping, ooglopend eenrigtingglas. Bokant die deur is ’n swart elektriese naambord met die woorde The Ambush in rooi vlamletters daarop; daaronder in dunner pers skrif: Striptease and Lapdancing. Bar 24 Hours. “Die einde is in daardie hool,” sê Kat.
Die twee speurders sit sowat honderd meter van die ingang van die Ambush-nagklub in ’n ongemerkte wit Nissan. Niks roer dáár nie, dit is nog te vroeg vir dié plek se bedrywighede. Twee slapende bondeltjies mens lê op die sypaadjie teen die nagklub se trappe. ’n Geel hond met uitstaanribbe en -heupbene ruik aan ’n stuk bruinpapier wat tussen hulle lê en lek aan ’n nat kol by die een se kop.
Die Griek se kafee op die hoek, verder af in die straat, is wel al oop, die Ola-roomysbord op die sypaadjie draai stadig in die wind. Onder ’n verflenterde gazebo is straatverkopers besig om vrugte en groente uit te pak. Een skreeu iets na ’n vrou wat uitbuk tussen moeë wasgoed in ’n balkon van ’n ewe moeë woonstelblok. In een van die ingange van die vaalblou baksteen-blok lê ’n paar straatkinders nog en slaap onder die kartonboks waarin ’n Defy-yskas verpak was.
Agter hulle dreun Claimstraat se verkeer en ’n ambulans gil weg in die rigting van die hospitaal. Kort-kort druk ’n taxi-bestuurder ’n kort sein op sy minibus se toeter, en in sy truspieëltjie sien John ’n koerantverkoper ’n plakkaat aan ’n paal vasmaak. Hy moet na dieselfde koerantplakkaat voor die kafee kyk om dit te ontsyfer: Bendeoorlog kring verder uit.
John knik. “Hel, dis vroeg al warm,” sê hy. Anders as Kat, wat ’n denim en T-hemp aan het, is hy netjies aangetrek. Wit hemp, rooi das en kakiekleurige chino. Sy gladgeskeerde kop blink.
’n Ou vrou stop met ’n winkeltrollie by ’n asblik en begin daarin krap, die waentjie hoog gestapel met platgedrukte karton-bokse, knobbelrige plastieksakke en vuil lappe. Die geel hond kom snuffel aan haar hakskene en sy slaan verwoed na hom met ’n stuk plank wat sy uit die asblik trek. John voel die motor skommel en weet dis sy kollega se ingehoue lag. “Ja-a, Kat,” sê hy en trommel met sy regterhand se vingerpunte op die stuurwiel, glimlag dan self. Hy vee met sy sakdoek oor sy kop. “Hoe sê julle? Elke hond kry sy dag.”
“ ’n Brak kry twee en ’n teef kry ’n hele fokken week,” brom Kat.
Hy gooi die vuurhoutjie waaraan hy gekou het by die venster uit, steek ’n sigaret met die kar se aansteker aan.
John vat ’n sluk van die koue koffie wat hulle met sonsopkoms by die Griek gekoop het. Hy gooi die res by die venster uit en frommel die papierbeker op.
Kat haal nog ’n paar olierige slaptjips uit die stuk wit papier wat op die instrumentpaneel lê, steek dit in sy mond. Dit is al wat oorgebly het van die Griek se hamburger en tjips. “Sies hel!” brom hy tussen die kouery deur, “gebruik hy gearbox-olie?” Hy gooi die laaste paar geoliede aartappelstukke deur die venster vir die hond wat intussen oor die straat gehardloop het om aan die Nissan se wiele te kom ruik en vee sy vingers aan sy sokkies af.
“Watch,” sê John.
’n Groot swart motor hou voor die nagklub stil. Twee mans klim weerskante voor uit en die een maak die deur links agter oop. Die man wat agter uitklim, is, in teenstelling met die ander twee, nie groot nie, maar die swart hemp met die wit pêrelknopies, die swart broek en swart leerbaadjie wat los oor sy skouers hang, laat geen twyfel dat hy die hoofhond van die buurt is nie. Hy staan ’n rukkie in die straat en rondkyk voordat een van sy lyfwagte die deur agter hom toeklap.
“Freddy, Freddy, Freddy,” sê Kat saggies terwyl hy sy asem stadig uitblaas.
John se mond vertrek in dieselfde skewe glimlaggie wat hy gegee het toe die geel hond pak gekry het. Ook hy het die man onmiddellik herken – Frikkie Smit, deesdae bekend as Freddy the Fix.
Freddy steek ’n sigaret aan en loer met skrefiesoë deur die rook na die twee wat op die sypaadjie lê. Hy dra ’n wit gholfpet laag oor sy oë, ’n Oakley-sonbril op die pet se sonskerm. Hy maak ’n ongeduldige beweging met sy hand langs sy kop en ’n goue polsketting skitter ’n oomblik in die son. Die twee lyfwagte tree vinnig vorentoe en pluk die slapendes hardhandig uit die pad. Freddy draai sy rug op sy wagte se gestoei met die swetsende straatmense. Toe een van hulle die traliedeur oopsluit, gee hy afgemete treë teen die trappe uit en by die donker deur in.
“Windgat!” brom Kat. “Kyk hoe loop die bliksem, eintlik so half op sy tone van belangrikheid!”
John beduie na die twee wagte wat ’n ruk voor die deur bly staan het om te sorg dat die straatslapers nie nog moles maak nie. “Die grote met die kaalkop is die een wat vir Sipho so gebliksem het,” sê John. “Die ander een met die poniestert het hom vasgehou.”
“Donners!” grom Kat weer, spoeg ’n straal deur die venster na die geel hond wat nog met hangore staan en bedel. Hy maak die deur oop, klim stram uit. “Kom ons gaan hoor of Freddy nog orraait is.”
Die deur van die Ambush is toegetrek, maar nie gesluit nie, en toe die twee polisiemanne dit oopdruk, kom hulle te staan voor ’n rooi fluweelgordyn wat die gang afsluit. Kat trek die gordyn opsy en in ’n dofverligte sitkamertjie waarin die mat en al die meubels van dieselfde rooi fluweel as die gordyn is, kom die twee uitsmyters soos een man regop uit twee van die rooi gemakstoele.
“The place is closed, bugger off,” sê Kaalkop vermakerig. Die kolf van ’n pistool steek voor by sy belt uit.
“Zoë, don’t mess with these guys. I know them, they’re cops,” waarsku Poniestert en probeer hom terughou.
Albei uitsmyters het styfpassende jeans en swart T-hemde aan, die woorde The Ambush in vlamletters skuins oor die borskas. Die hempsmoue span om bo-arms vol tatoeëermerke van slange en vuurspuwende drake.
“Fuck them,” sê die een met die Kojak-haarstyl en ’n ring-baardjie om sy mond, maar verander sy deuntjie so effens toe die speurders ID-kaarte in sy gesig druk. “Have you got a warrant?” vra hy, sy kake besig met ’n stuk kougom.
Kat druk by hom verby. “Ek het ’n afspraak met die hoofhond van die plek,” sê hy. “Ek weet sy edele is in residensie, so gee pad, ou grote. Moenie worrie nie, ek ken die pad.”
Kaalkop maak die fout wat Kat gehoop het hy sal maak. Hy gryp die speurder aan sy linkerskouer en pluk hom terug. Kat bied nie weerstand nie; hy laat hom omtol en gebruik die momentum om die uitsmyter met die regtervuis in die maag te slaan. Kaalkop klink soos ’n ballon wat afblaas en vou dubbeld. Kat pluk sy knie op en die impak van knieskyf op kaak laat die uitsmyter weer regop ruk en teen die muur vas steier, bloed wat oombliklik die sirkel om sy mond vul en teen sy keel af lek.
Kat gee ’n tree vorentoe en pluk die pistool uit die man se belt, ’n Colt 45. Hy druk die swaar wapen agter by sy jean in en staan vinnig terug. “Jy kan die ding terugkry wanneer jy afgekoel het, asshole,” sê hy deur geklemde kake, kyk vinnig na regs waar dit lyk asof John en Poniestert ’n vreemde soort dans uitvoer, en onmiddellik weer terug na Kaalkop. “Dis te sê as jy ’n lisensie het.”
Kaalkop staan swaar hygend en staar na wat met sy kameraad gebeur. John het hom aan sy lang hare beet en dit lyk asof hy sy Z88 se loop in Poniestert se neus probeer opdruk. “Leave it, Zoë!’ pleit hy, sy oë wydgerek. “I told you not to mess with these two. They’re hell on wheels!”
Kaalkop druk met sy een hand teen die muur en met die ander vat hy aan die sny aan sy lippe, sy asem kom nog met rukke uit sy bors, hy staar momenteel na die bloed aan sy vingerpunte. Dan druk hy hom weg van die muur, swaai sy skouer terug en klap sy hande voor sy gesig bymekaar. Dramaties druk hy ’n vuisyster oor sy regterhand se vingers. “Fuck you!” bulk hy en swaai ’n wilde hou na Kat. Hy verloor sy balans en beland met sy gesig teen die muur, trek ’n donker bloedstreep daarteen voordat hy hom met albei arms kan stabiliseer.
Kat hou hom geamuseerd dop, sien nou die vertwyfeling in die klein swart ogies. En dan verander Kaalkop inderdaad weer sy deuntjie. “I’m going to report you, you big ape!” steun hy. “This is police brutality!” Hy druk ’n sakdoek teen sy mond.
Kat gee weer ’n tree vorentoe, en toe die man sy regterhand opruk, gryp Kat sy vuis vas en pluk hom om sodat hy met sy gesig teen die muur beland. Kat druk die grote se hand tussen sy blaaie op, die vingers nou slap in die vuisyster. “Ek sal jou sê wat,” sê Kat teen sy agterkop vas, “kom ek maak dit vir jou maklik. Wat van ‘assault with a deadly weapon’? Dit klink altyd goed en die koerante hou daarvan.”
Hy stamp Zoë se kop dat dit met ’n hol klank teen die muur kap. Bloed en iets wits en drellerig spat. Kat laat los hom en staan vinnig terug sodat Zoë agteroor struikel en tussen die rooi stoele inval. “That comes from Sipho Sibanyoni, you big piece of shit,” snou Kat die groot homp vleis toe wat onvleiend tussen die stoele probeer regop kom.
Kat vee sy snorpunte met die agterkant van sy hand plat, eers links, dan regs. Vestig dan sy aandag op Poniestert, wat witgeskrik en swygend die drama staan en aanskou, John se pistool teen sy neus. “Hoe lyk dit?” vra Kat, en stap op hom af, sy kop agteroor gegooi, sy oë wild. Poniestert krimp ineen, en Kat swaai weer om na Zoë wat hande-viervoet tussen die stoele orent sukkel, pluk sy beursie uit sy jean se gatsak. Hy klap die beursie oop en haal die rybewys en wapenlisensie uit. “Johannes Zacharias Coetzee,” lees Kat hardop. “En toe besluit jou mamma om jou sommer net Zoë te noem!” Hy gooi eers die beursie en dan die lisensie voor Zoë op die tapyt, draai dan na Poniestert wat weer agter sy skouer probeer inkrimp. “En luister jy: If any of your clan organises any reprisals against me or any other policeman, I’m coming back to rip your balls out!”
Kat hou sy blik op Poniestert, sy oë gemaak waansinnig. Hy knik in die bloeiende man se rigting. “Hou hom hier, ek soek julle nie daar bo nie.” Dan stap hy na die gangdeur regoor die deur waar hulle ingekom het, dié een ook met ’n rooi fluweelgordyn afgeskerm. “Kom, John,” sê hy. “Ontwapen hom, ons moenie vir Freddy laat wag nie.”
Agter die gordyn is ’n kort, breë gang, helder verlig deur buisligte. Regs is twee deure langs mekaar, ooglopend badkamers, en links ’n houttrap teen die muur op. Die mure is met glanswit teëls bedek, die vloer kaal beton. Die plek stink na ou sigaretrook en bier.
Freddy se kantoor is op die boonste verdieping, wat eintlik ’n galery is van waar ’n mens kan afkyk op die dansvloer en kroegtoonbank onder. Die kantoor is ooglopend dié deel van die galery wat deur eenrigtingglas afgeskerm is. Kat wag voor die metaaldeur van die kantoor op sy kollega terwyl hy afkyk op ’n skoonmaker wat besig is om met ’n besem gemors voor hom uit oor die dansvloer te stoot.
Toe hy John se voetstappe op die trappe hoor, kom Kat regop van waar hy op die galery se keermuur leun en gaan staan met Zoë se pistool voor sy gesig langs die deur. John verstaan die swaaibeweging wat hy met sy kop maak baie goed, neem ’n aanloop oor die laaste paar meter en tref die staaldeur met een plat voet reg in die middel. Die deur klap verbasend maklik oop en Kat glip in.
Freddy kom regop agter ’n groot lessenaar teen die oorkantste muur, agter hom is skrefies daglig wat deur swaar gordyne breek. Hy probeer ’n laai oopruk, maar Kat se blaf laat hom verstar.
“Hou jou pote waar ek hulle kan sien!”
In teenstelling met die gehawendheid van die res van die nagklub is die kantoor weelderig. Regs van die deur is die eenrigtingvenster wat oor die klubvloer uitkyk. Links is ’n vol boekrak tot teen die plafon. Langs die rak staan ’n tafel met drankbottels voor ’n groot spieël wat die plek groter laat lyk. Twee diep leunstoele staan voor die lessenaar. Die mat is rooi en diep en sag; die ligte dof en half verskuil.
Die nagklubbaas bring sy hande stadig tot op die lessenaarblad. Hy leun ’n oomblik op sy vingerpunte, sy oë waaksaam op die twee speurders, lig dan sy hande skouerhoogte en pak tande uit. Met sy oë steeds waaksaam, sy glimlag wyd, skuif Freddy om die lessenaar en stap met uitgestrekte arms na die speurders. “Kattie, Kattie. My friend,” koer hy. “John! It has been too long.” Die goue ringe aan sy vingers, sy polsketting en groot Rolex-horlosie blink in die dowwe skynsel van ’n daklig wat in die plafon versink is. Die swart hemp se moue is halfmas opgerol, die knopies skitter wit.
“Gee pad, Freddy. As jy my soen, moer ek jou,” grom die groot speurder.
“But Kat, Kat,” sê Freddy gemaak verbaas en skakel sy glimlag af. “That’s no way to speak to an old friend.”
“Freddy, hou jou bek. Jy is nie die Godfather nie. Gaan sit op jou gat agter daardie lessenaar dat ons kan praat, en hou jou pote waar ek hulle kan sien. Die knoppie op die vloer mag jy maar trap, maar ek dink nie dit gaan jou nou help nie. Jou twee werfbobbejane is besig om hulle wonde te lek.”
Van naby lyk Freddy nog kleiner. Sy gesig is skraal, bleek, en sy donker hare is blink agteroor geolie. Hy het ’n dun swart snorretjie, en onder sy onderlip hang ’n klossie hare. Sy donker oë het ’n energieke lig wat ’n mens laat vergeet van sy tenger bou. Op sy regtervoorarm steek die rooi punt van ’n getatoeëerde meslem met ’n slang wat daarom krul onder die hempsmou uit.
Die nagklubeienaar gaan sit en maak seker dat hulle sy hande goed kan sien. Dit is duidelik dat hy nie wil hê dinge moet onnodig skeefloop nie. Hy probeer ontspanne voorkom, asof hy die situasie onder beheer het, maar hy vat-vat aan die goue ketting om sy nek, vee met ’n vinger onder ’n oog.
Die speurders trek die leunstoele tot teen die lessenaar en gaan sit. Kat knip Zoë se pistool se magasyn uit en gooi die leë wapen op die lessenaar neer.
“Oukei, oukei, Kat.” Freddy sug dramaties. Hy tas met sy oë vraend op Kat versigtig na ’n pak sigarette en aansteker wat op die lessenaar lê, en nadat Kat sy kop goedkeurend geknik het, steek hy ’n sigaret aan. Hy loer deur die rook na die twee speurders. “Wat is jou probleem?” vra hy dan. “Piet Vermaak van Organised Crimes het laas week ’n moerse raid hier gehou en niks gekry nie. So, wat soek jy nóú weer?”
“Tja, Freddy,” sê Kat, sug, kruis sy bene en krap aan iets op sy knie. “Uit dankbaarheid vir die inligting wat jy altyd in sy oor fluister, het Piet natuurlik nie baie hard gesoek nie. Maar die mense in die onderwêreld begin skinder, Freddy. En ek hoor hulle dink jy sing soos ’n kanarie om jou eie agterent te red elke keer as jy vir Piet sien.”
Freddy haal sy skouers op, tik die as af. “Nou wat wil jy nou eintlik hê?” sê hy. “I’m fighting crime! Julle behoort bly te wees.”
Kat staan op en stap na die boekrak, trek een van ’n reeks dik rooibandboeke uit. Totius. Versamelde werke. Hy blaai deur die boek, skuif dit weer terug op sy plek. “Gmf! Hier is selfs boeke van Shakespeare en Milton!” Hy loer sydelings na die skraal man agter die lessenaar. “Was hulle ook gangstas, Freddy?”
Freddy skuif sy stoel vinnig agteruit en kom regop met ’n wye armgebaar wat kennelik uit Mafia-flieks kom. “Wat de hel soek jy, Kat? Jy is nou besig om my die moer in te maak. Jy mors my tyd.” Hy druk die halfgerookte sigaret vererg in die asbak dood.
John leun vorentoe, tel die Colt op, trek die sluitstuk oop en loer deur die loop. “Your tame gorilla Zoë last night bliksemed a very promising Wits engineering student, one Sipho Sibanyoni, right into intensive care,” sê hy en loer deur die loop na Freddy. “Hulle dink nie hy gaan lewe nie, Freddy. Die dokter sê ás hy daar opstaan, sal hy dalk nie weer kan lees of skryf nie. We don’t like it, Freddy.” Hy trek die leë pistool se sneller, ’n harde skerp metaalgeluid klap deur die vertrek.
Freddy haal nog ’n sigaret uit die pakkie, tik die filterent senuweeagtig op die lessenaar voor hy dit in sy mond steek. “Ek weet daar was ’n commotion op die pavement, maar dit was nie my boys nie,” sê hy by die sigaret verby. Hy gaan sit en steek die sigaret aan, blaas die rook in die rigting van die lig. “Die studente het mekaar self gemoer. Neuk mos altyd met mekaar se girls rond.” Hy haal ’n stukkie twak van sy tong af, “Zoë-hulle het gesukkel om die spul uitmekaar te maak.”
“Wat presies het gebeur,” vra John en maak sy sakboekie oop.
“Hel! Moet nie vir my vra nie, vra vir Zoë!”
“Is jy doof? Ek vra vir jou.”
Freddy kyk John uitdagend aan, blaas stadig en berekend die rook oor die lessenaar uit.
John lê die agterkant van sy pen op sy onderlip. “Meneer Smit,” sê hy en beklemtoon “meneer” sarkasties. “Kom ons probeer weer, hoe laat het dit gebeur?” Hy hou die pen in sy groot vuis in die lug en Freddy se oé flits vinnig daarheen en dan weer na iets voor hom op die lessenaar.
“Oukei, oukei!” sê Freddy, maak weer die Mafia-gebaar. “Al wat ek weet, is dat daar so om en by twaalfuur ’n moerse commotion was. ’n Paar studente het gesuip geraak en wou die plek afbreek.” Hy vat ’n diep trek, blaas die rook deur sy neus en druk die sigaret in die asbak dood. “Zoë en van die ander bouncers het hulle reggesien.”
“Ja, en toe?” vra John.
“Ja, wel, toe gaan moer hulle mekaar verder in die straat. Dit was so ’n helse lawaai dat ek Zoë-hulle gestuur het om dit te gaan stop. Dis nie goed vir besigheid nie, weet julle?” Hy kyk van die een speurder na die ander, byna pleitend maar steeds berekend. “Die bouncers het nie saam baklei nie. Dis die lot, verder weet ek niks.”
Kat kom staan reg voor die lessenaar en leun vooroor. “Luister, Freddy,” sê hy, “jy weet dis nie wat gebeur het nie. Die mense is almal te bang om te praat, maar ek weet wat ek weet en ek sê nou vir jou: Hierdie stront beter stop.”
“Of wat?” vra Freddy uitdagend. “Ek ken ook ’n paar vet katte in high places. Customers, hier by die Ambush. Dit is nie so maklik om my bang te maak nie!”
“Freddy,” sê Kat, gemoedelik nou, en gaan sit op die rand van die lessenaar langs hom. Hy knyp hom speels aan die wang. “Freddy, ek is nie Piet Vermaak nie.” Kat gee hom so ’n paar ligte klappies teen die wang, soos in die Mafia-fliek wat Freddy so goed ken. “Ek verstaan die O’Reilly-broers van Springs soek na die voëltjie wie se gesing hulle pa, ou Pat, tien jaar gebêre het. Dis rowwe perde daardie, was almal glo in ’n stadium laksmanne van die IRA voordat hulle Suid-Afrika toe gekom het.” Hy glimlag in die nagklubbaas se gesig. “Vat sommer ’n voëltjie se eiers onder hom uit en los hom netso om hom dood te treur.” Hy knik vir John en stap deur toe, draai weer om. “O, ja, nog iets, daar is van jou gorillas hier onder wat van vergelding en hofsake praat. Sê vir hulle, ek is nie lus vir moeilikheid nie.” By die stukkende deur draai hy nog ’n keer om na Freddy, wat hulle nors agternakyk. “As ek jy is, sal ek ’n stewiger deur hier insit, jou vyande word al hoe meer!”