Читать книгу Bottelnek - Piet Steyn - Страница 7
» 4 «
ОглавлениеDit is goed donker toe hy agter die toring in ou Brixton stilhou voor ’n draadtuinhekkie met die syfer ses op ’n klein ovaalplaatjie. Dis tog die regte straat die? En laas dat hy van Frikkie gehoor het, was dit die plek. Rooibaksteenpilare weerskante van die hekkie, rooibaksteenstoep, sementpaadjie, 7de Laan se kenwysie wat saam met die lig deur gaasgordyne oor ’n verwaarloosde grasperk val. Jy sou sweer jy is in Allanridge se Blesbokstraat!
Hier is ook nie juis meer straatligte nie, en in die lig van dié wat wel werk, kan Joe sien dat dié teerstraat ook maar net een moerse slaggat is. In een van die ligkolle sit ’n swart kat met sy neus in die lug en wag vir die goggas wat om die lig draai om ’n fout te maak. Oorkant staan ’n man in sy oop garage en sweis, vonke spartel en sterf om sy voete op die sementvloer.
Joe beskou die ouerige huisie by nommer ses – die klein stoepie, die pilare wat verskillende kleure geverf is en die kleinerige vensters met die diefwering. Op die sementtrappe wat na die afgeskilferde voordeur met die glas-in-lood-venstertjie lei, roer ’n swart skadu. ’n Hond? Hy draai die Mazda se venster op.
Dan gaan die voordeur oop, die swart ding op die trap beweeg – ja, dis tog ’n hond – en die figuur van ’n vrou met ’n kind op die arm is ’n oomblik duidelik afgeëts teen die helder ganglig. Sy maak die deur toe, sluit dit en stap neurieënd na ’n wit Beatle met ’n rooi deur wat voor die garage staan. Dit is ’n swart vrou, sien hy. Dit kan om die dood toe tog nie Frikkie se plek wees nie. Die buurt is in elk geval te armgat vir ’n man soos daardie laaitie van hom.
Maar waarheen nou? Sy gat is lam, dit was ’n lang dag met baie dinge. Sal die ou met die welder weet?
Hy wil net die Mazda se deur oopmaak toe hy in die truspieël ’n paar figure in die straatlig sien. ’n Paar jong laaities wat in die lig staan en hana-hana, hande in die broeksakke, sigaret in die bek. Die wind waai die rook in sy rigting, hy ken daardie soet reuk. Party het musse en ander agterstevoor kepse. Een gooi ’n springmes van die een hand na die ander, beduie dan in sy rigting.
Fokkit! Joe sluit die deure vinnig. Hy ken moeilikheid as hy dit sien. Hy en sy pelle het netso in Odendaalsrus se strate rondgehang. Die OD-brekers! Altyd iemand gesoek om te moer, om te wys hoe taai hulle is, veral as hulle gerook was. Hy sal moet maak dat hy hier wegkom, maar waarheen? Joburg het baie verander sedert hy met Pa se ou Norton-motorfiets hier agter die girls aan rondgejaag het, hy sal in sy moer in verdwaal.
Joe sit die Mazda in rat, maak ’n U-draai en ry verby die brekers, die boys van die suburbs, soos een of ander ou met ’n kitaar gesing het. Girlie het daai tune kwaai gelaaik.
Hy kry ’n middelvinger van die een met die mes en ’n vuil spoegkol teen die agterruit.
Hel, nou sal hy weer met Sophie moet praat. Fokkit! Wie anders sal hy kan vra waar om Frikkie in die hande te kry? Dis nou ás sy al terug is van die gym of die cocktails of wat se stront ook al.
Hy ry tot by ’n kleinerige winkelsentrum met ’n paar telefoonhokkies op die sypaadjie voor die supermark op die hoek. Hy kan nie anders nie, hy sal net vir Sophie moet bel. Die geur van varsgebakte brood laat hom besef dat hy vanoggend laas geëet het. Die derde tiekieboks gee ’n behoorlike luitoon, hy druk ’n tweerand in die gleuf en skakel haar nommer.
Hy het skaars gegroet of Sophie gil so dat hy die gehoorstuk van sy oor moet wegpluk. Hy druk dit dadelik weer teen sy oor. “Wat de … Sus?”
“Pa, waar de hel is Pa?” gil Sophie.
Daar moet groot fout wees, en as sy so opgewerk is, klink sy hoeka soos haar ouma. Dit kan tog nie wees dat sy …
“Sophie?” blaf Joe in die mondstuk, druk ’n vinger in sy linkeroor om die straatgeraas te doof. “Ek het mos gesê ons gaan Badplaas toe, ek … ek bel net om …”
Maar Sophie gee hom nie ’n kans nie. “Hou op om rubbish te praat, Pa! Ma is nie dood nie, sy is in die intensive care in Welkom, Pa! Sy het gepraat voordat sy in ’n koma is. Hoe de hel kon Pa dit gedoen het? Hoe de fokken hel!” En toe gil Sophie weer lank en allerverskrikliks.
Fokkit! Fokkit-fokkit-fokkit! Girlie leef! En die hele wêreld weet nou wat gebeur het. Hy het gereken dit sal nog dae vat voordat die lyke gekry word, en dan kan hy al ver wees. Dit is natuurlik waarom sy nog nie … Ag, te hel daarmee! Fok hulle, sy en daai lover van haar. Hulle bleddiewil verdien dit. Maar nou … “En loverboy?” vra hy aarselend toe dit weer stil is aan die ander kant.
“O hel, Pa, wat dink jy! Met ’n skoot deur sy kop en een deur sy … deur sy … goeters! Hy het nie juis ’n kans gehad nie, of hoe dink Pa?”
“Sophie, jy weet …”
“Die pote soek Pa. Daar was ’n beskrywing van jou en die Mazda oor die nuus!”
Hel, dis lelik! Hy kyk in die vreemde, donker stad in, die honderde ligte wat uit alle rigtings op hom afstaar. Hy kan wegkruip, maar hy het die kar nodig.
“Sophie, waar bly Frikkie?” vra hy hees.
“O, is dit Pa se plan! Frikkie moet help. Nou, ek het vir jou nuus, Pa. Jy en Ma wou dit nooit glo nie, maar Frikkie is ’n rubbish, was nog altyd ene. Hy is ’n gangster, Pa!”
Joe het genoeg gehad. Hy slaan met sy vuis teen die telefoonkonsole. “Gee my net sy adres!” brul hy, maar hy hoor hoe Sophie onverpoosd aangaan en aangaan, byna histeries. Hy pluk weer die gehoorstuk van sy oor weg en begin die konsole daarmee moker, dwa, dwa, dwa!
“Hey, calm it, man!” sê iemand agter hom.
Hy swaai om en sien ’n jong man met ’n rugbyspelerlyf, ’n inkopiesak in die een hand en ’n bos blomme in die ander. Hy het die jappie-uniform aan: ’n ligblou kraaghemp en ’n netjiese kakiebroek.
Joe buk weer terug in die telefoonskerm in, laat sak sy kop tot op die konsole en druk weer die gehoorstuk teen sy oor.
Stilte. Net die gesuis van die lyn. Hy hoor hoe die jappie sy BMW se deur agter hom toeklap, die motor aanskakel.
“Sophie,” sê hy.
“Pa?” kom haar stem, sag en dun, asof oor ’n baie lang afstand. “Pa, wat gaan aan?”
“Sus,” sê hy, “ek het Frikkie se adres nodig.”
“Pa?” sê sy weer, haar stem nou soos hy dit kan onthou toe hulle nog in die mynhuis in Duikerlaan gewoon het. “Pa, wat gaan van jou … wat gaan van ons word?”
Joe bly stil. Hy onthou hoe Sophie die tuinhekkie gery het. Onthou toe hy haar die eerste keer aan ’n bier laat proe het, hoe sy dit op die kombuistafel uitgespoeg het.
“Sy naam is nou Freddy, Dad.” Dis wat sy hom noem as sy witvoetjie soek – Dad noem sy hom dan. “Die laaste wat ek gehoor het, is dat hy ’n hoerhuis of so iets in Hillbrow het. Die plek se naam is die Ambush. Maar dis al wat ek weet, Pa.”
Joe sit die gehoorstuk stadig terug op die mikkie. “Thanks,” mompel hy, half in die telefoon, half in die suurderige naglug in.
Hy druk nog ’n munt in die telefoon en skakel 1023, vra vir die nommer van die Ambush in Hillbrow. Daarna skakel Joe die nommer en kry die adres van ’n nors bliksem wat net kan Engels praat.
Terug in die Mazda sluit hy die deur en sit ’n ruk voor hom in die straat en afstaar, dan na ’n seun en meisie wat teen die supermark se muur staan en gulpskuur. Die seun het ’n glinsterende blou sweetpaktop aan en hy probeer met sy knie die meisie se bene verder uitmekaar druk. Haar hand kruip teen sy rug op en gryp in sy hare vas.
Die voorman het nie gesê wat hy by die huis moet gaan maak nie, net gesê hy moet gaan kyk wat aangaan sodat die stront kan end kry. By sy huis het ’n Harley met ’n lêgat-sitplek in die straat gestaan, die tuinhekkie was oop, ook die voordeur. Hy het versigtig oor die los blokkie in die gangvloer getree, verby die badkamerdeur, verby hulle slaapkamer. Hulle was in die spaarkamer. Die bliksem het nie eens sy bike bootse uitgetrek nie! Die swart leerbroek het soos ’n opgerolde beesvel om sy knieë gelê, sy bleek boude het gedril.
Joe druk ’n vinger onder sy oogklap in. Hel!
Girlie se wit bene wat opruk om haar enkels bokant die biker se dye te kruis. Haar een arm wyd oor die bed uitgestrek, die hand geklem om ’n rol note. Stamp, stamp …
Hy het stil omgedraai na die hangkas, die boonste laai aan sy kant oopgetrek. Die pistool was in sy hand. Hy het twee tree vorentoe gegee. Girlie se kop was weggedraai, asof sy deur die venster na iets in die straat kyk.
Dwa! Dwa! Dwa!
Hy skud sy kop, stamp dit teen die stuurwiel.
Die twee vryers teen die supermarkmuur verdwyn inmekaar-gestrengel om die hoek. Daar moet gemakliker plekke wees as ’n bloedrooi Coke-advertensie teen ’n vuil muur.
Hy draai die sleutel en sit ’n oomblik stil en luister na die Mazda se oneweredige luier. Hy het van die verdomde Harley ook vergeet – dit staan seker nou nog daar.
In die vuil tronksel in Windhoek het hy twee jaar lank elke oomblik gesit en dink aan Boesman wat opgekerf op ’n tent se grondseil lê, en hy wat in sy moer geskop aan sy eie bloed lê en stik het. Of byna twee jaar lank, want iewers in daardie tyd het die wraakgedagtes hom verlaat. Nou is dit anders.
Hy het werk om te doen, voordat hy die pad vat.