Читать книгу Bottelnek - Piet Steyn - Страница 9

» 6 «

Оглавление

Die middagverkeer op die M1 het tot stilstand gekom – ’n skielike oponthoud as gevolg van die een of ander probleem vorentoe. Die lug is bedompig en in die windlose paduitgrawing bak die son neer op die Golfie waarin Pine en Kat sit en sweet. Die skaduwee van die Grayston-afrit se oorbrug is nog twee motors ver. Die bestuurder van ’n oorvol minibustaxi langs hulle se arm hang stywe-elmboog met ’n sigaret by die venster uit, sy duim voortdurend besig om die as af te skud. Die doef-doef van sy radio weergalm tussen die graswalle.

“Wat’s jy so stil?” vra Pine.

Kat vryf sy snor se punte met die agterkant van sy hand uit sy mondhoeke, eers links, dan regs, kyk met skrefiesoë na die opbou van die wolke in die weste. “Jy weet mos ek’s nie ’n ou vir lesings en hierdie nuwe sielkundige stront nie.”

Pine kyk met ’n glimlag na die stilstaande verkeer om hulle. Kat is nog van die ou soort. “Jy kan nie stry nie, dit was interessant,” sê Pine. “Die meisie van die FBI was nie sleg nie.” Hy weet Kat se oë was meer op haar agterstewe as op haar PowerPoint-aanbieding.

Kat snork en draai sy venster groter oop, steek ’n sigaret aan. Toe hy die kar vanoggend by die poel gaan optel het, het ou Mike hom mooi laat verstaan dat dit eers van kommissarisse se rygoed af is dat die aircons moet werk. “As ek so na haar luister, kry ek die idee dat die Amerikaners se serials net groter en sterker en slimmer is as ons s’n – soos met alles.” Hy sit die Golfie in rat en kruie agter die motor voor hom aan. “Hulle kroeks verstaan sielkunde, het hang-ups, ons s’n is te stupid daarvoor. Moor net, sonder om aan hulle profiele te dink.”

Hulle kruie by die flitsende ligte van die voertuie van die metropolisie en die nooddienste verby en dan begin die verkeer vinniger beweeg. Glasstukke lê die pad vol en twee stukkende motors staan skeef in die linkerbaan. ’n Man in uniform is besig om die verkeer verby die ongelukstoneel te reguleer.

“Het jy al met ’n reeksmoordenaar te doen gehad?” vra Pine.

“Ek kom uit die Oos-Kaap, onthou.” Kat grinnik. “Dáár’s omtrent elke bliksem met ’n Okapimes ’n serial. Ons gee hulle daar net nie name en sulke klas van stront nie. Ons gee hulle net gas.”

“Julle het tog seker ook profileerders gehad.”

“O ja, hel! Daar’s ook hierdie slim outjies wat meer grade het as wat ek vuil onderbroeke het.” Kat se glimlag trek sy snor skeef. “Daar was een so ’n girltjie met lang blonde hare. Hel, sy was oukei … ”

Pine wonder oor dié storie se besonderhede, maar vra liewer nie.

“Ek sê jou, Pine, ek steur my nie daaraan nie …” Kat gryp die stuurwiel vas. “Jou bliksem!” skel hy op ’n minibus wat sonder flikkerligte voor hom inswaai. Hy druk die toeter en reik na die sirene-skakelaar.

“Ag, los hom,” sê Pine, “die pad is te besig daarvoor.”

Kat grom nog ’n paar vloekwoorde, spoeg ’n geel blerts by die venster uit wat deur die wind van ’n verbygaande vragmotor teen die Golfie se agtervenster vasgeplak word.

“Wat sê jy van Doep se aftrede?” vra Pine.

“The last great white police commissioner,” sê Kat. “Dit moes kom, hy is al oor ouderdom. Sy kleur is ook nie lekker nie. Maar dis jammer.” Ná ’n rukkie vervolg hy met ’n sug: “Dinge verander te vinnig vir my.”

“Een van die dae is Piet Vermaak dalk ons baas ook,” sê Pine.

“Not ’n hel! Ek gaan pas eerder VIP’s in Irak op. Vir daai skelm maergat bliksem werk ek nie.” Hy blaas ongeduldig toeter vir ’n ou man wat negentig in die vinnige baan ry, swaai weer oor na die middelbaan.

Pine skuif die aanknipholster gemakliker op sy heup. “Wel, soos ek van Doep verstaan, gaan die EGM by Georganiseerde Misdaad ingedeel word onder die nuwe eenheidstrukture.”

“Daar’s nie ’n manier nie,” grom Kat.

Die radio maak ’n kraakgeluid. Pine buk oor na die luidspreker, maar met die oop vensters en die verkeer en ’n los draad iewers hoor hy niks. Hy draai sy ruit op en gee die radio ’n paar klappe. “Ek gaan daai Mike moer,” brom hy. “Hoekom gee hy vir ons sulke kak om mee te ry?”

Kat se snor trek skeef. “Hy sê ‘die jegte motogs wogd gebguik om kgoeks mee te vang, nie vig tee en koekies saam met die hoi poloi nie’.”

“Bleddie Bolander.” Pine peuter aan die mikrofoon. “Beheer, dis superintendent Pienaar hier, herhaal, asseblief.” Hy luister met sy oor teen die instrument. “Goed, ons is naby, sal gaan kyk.”

“Wat is dit nou?” Kat hoop iets het gebeur, enigiets. Sy lessenaar lê vol lêers – hy moet volgende week met ’n paar sake hof toe gaan. Hy hoor al die verdediging: Die ondersoekbeampte is nie gereed nie, Edelagbare. Ons vra uitstel … Ondersoekbeampte! Dit klink soos ’n bleddie spietkop of ’n ding.

“Iets van ’n skietery in Waverley, kon nie mooi hoor nie. Ek bel gou.” Pine loer deur die venster na die padtekens terwyl hy sukkel om sy selfoon uit die denim se sak te kry. “Vat die Corlett-afrit.”

Kat sit die ligte en die sirene aan en swaai voor ’n swart Audi in wat vir hom plek maak in die vinnige baan. “Ek weet waar dit is.”

Met die foon teen sy linkeroor en ’n vinger in die ander kry Pine die besonderhede. “Jy beter jou gat roer,” sê hy met ’n frons.

“Wat is die storie?” vra Kat. Sy oë spring tussen truspieël en pad. Hy sit die flikkerlig aan, soek vir ’n gat in die verkeer. Hy is in die verkeerde baan vir Corlett!

“Huismoles. Pa het glo gesuip by die huis gekom en begin skiet.”

“Bliksem!” ’n Vragmotor met ’n vrag staal versper die baan. Kat vat ’n kans en skiet links op die geel streep verby.

Pine hou met ’n uitgestrekte arm aan die instrumentpaneel vas. “Die dogter kruip in haar kamer weg. Sy’t ons gebel, sê haar pa skiet gate in die deur.” Hy knip die Z88 se magasyn uit, kyk na die blink koperpunt wat voor uitsteek, stamp dit weer terug en vee sy hande aan die sitplek af.

» » « «

Die hek van die groengeverfde betonheining en die voordeur van die huis staan oop. ’n Blou Nissan Levina staan skeef in die oprit, swart remmerke op die grys plaveisel. ’n Klomp nuuskieriges drom aan die oorkant van die straat saam.

’n Dikkerige man met ’n bles en dikraambril kom struikelend en gebukkend uit die erf langsaan gehardloop toe die twee speurders stilhou. Hy sak grootoog op sy knieë agter die Golfie neer en beduie na die moderne klinkersteen-platdak agter digte struike. “Die bliksem is mal! Ek … ek het vir Magda hoor skree toe hy begin skiet het,” sê hy uitasem. Sy sweetpakbroek het afgesak oor sy maag en sy blou gholfhemp het groot sweetkolle onder die armholtes. “Eloise ook … Ek …”

“Whoa! Word eers kalm, van wie praat jy?” Pine probeer die man kalmeer nadat hulle uitgeklim en langs hom agter die Golf gaan kniel het.

“Die ma en die dogter. Daniel, dis die seun, moet ook daar binne wees. Julle sal moet gou maak.”

Skote klink dof vanuit die huis. ’n Vrou gil.

“Gaan eers huis toe, ons sal later praat. Kom Kat!” Pine trek die Z88 uit sy holster en hardloop by die oop hek in na die voordeur.

Skote klap by ’n venster langs die deur, ruk takkies en blou blomme van ’n aartappelstruik wat teen die plaveisel groei. ’n Koeël sing kermend weg van die motorhuis se muur en slaan in die Golf se deur vas. Die twee speurders duik agter ’n rots in wat deel is van ’n visdam. Die mense in die straat skarrel gillend agter bome en geparkeerde motors in.

’n Ruit op die hoek van die huis breek en die verskrikte gesig van ’n jong meisie kan deur die diefwering gesien word.

In die verte begin sirenes loei.

“Ons kan nie vir hulle wag nie.” Kat druk die veiligheidsknip van sy pistool af. “Kom ons gaan haal die bliksem uit.”

Pine knik. Sy lippe is skielik droog. Met sy rug na Kat haal hy weer die magasyn met bewende vingers uit die kolf, stamp dit terug.

“Gee my kans dat ek agter die huis kom,” fluister Kat hees.

Pine knik weer, vee sy swetende hande aan sy broek af. “Oukei, laat waai.”

“Wat is fout?” vra Kat. “Is daar fout met jou wapen?” Hy kyk bekommerd na Pine.

“Man, fokkol is fout. Laat jy weg wees! Ek sal hom besig hou.”

Kat spring op en hardloop na die hoek van die huis. Pine skiet drie vinnige skote in die muur langs die venster van waar op hulle geskiet is en hardloop dan gebukkend na die voordeur. Hy gaan staan met sy rug teen ’n groot porseleinsonneblom langs die oop deur, die pistool regop voor sy gesig. ’n Voël vlieg skellend op van die lamppaal voor in die straat. Pine kyk vinnig na die beweging en weer terug. ’n Kraai? Hy sien Kat met ’n waai van sy hand tussen die struike inhardloop. Hel, demmit! Miskien moet hulle wag tot die ander kom, die sirenes is nie ver nie! “Kat! Wag!” roep hy.

Kat verdwyn egter met sy duim in die lug om die hoek, tussen die huis en die sementheining in.

Bliksem.

Giel maak met sy vinger helikopter bo sy kop, sy T-hemp se punt oor die hanggat van sy denim, die bome wat hom toevou …

Bliksem!

Dis nou te laat om te wag. Hy ken vir Kat, as daar iets oop is, gaan hy nie wag nie. Hy klem die pistool met albei hande vas, haal ’n slag diep asem en storm laag by die deur in.

Mik! Swaai! Mik!

Portaal.

Mure is klinkerstene, soos buite. Blink vernis.

’n Boog na regs, sy oë volg die pistool se loop. Televisie, hi-fi, rusbanke. Gesinskamer. Leeg.

Die vrou lê op haar maag in ’n plas bloed.

Pine kniel, sy oë op ’n boogingang wat die portaal met die dwarsgang verbind. ’n Groot Claerhout-skildery teen die gangmuur … nog sonneblomme.

Iewers in die huis roep ’n meisie om hulp. Waar is die seun? Waar de hel is die seun?

En die bliksem met die skietding?

Waar is Kat?

Pine druk sy middel- en wysvinger teen die vrou se nek. Geen polsslag. Twee bloederige gate in haar rug – sy moes probeer weghardloop het.

Hy staan op en beweeg stadig in die rigting van die gang, die pistool met gestrekte arms voor sy gesig.

En dan is die bliksem daar.

’n Ongeskeerde, vuil, verkreukelde figuur. Sy verwilderde oë wit agter die swart gat van ’n pistoolloop.

’n Donker tonnel waarin hy afkyk …

Hy sien die vlam; die skoot ruk in sy gesig. Agter hom breek glas.

“Skiet die bliksem, Pine!” Dis Kat wat skreeu.

Daar is sweet in sy oë; die loop wil nie stilstaan nie … Hy móét die helse sneller trek!

Nou!

Die koeël maak ’n swart kol op die groot boude van ’n sonneblomplukker in die Claerhout-skildery langs die man. Hy trek die sneller weer en die muurlig bokant die man se kop ontplof. Fok! Sy arms ruk; daar is sweet in sy oë.

“Skiet, Pine!”

Hy sien die verligting in die man se oë, hoe hy begin glimlag, ongelowig. Dan tref Kat se volle gewig Pine en hulle tuimel tussen stoele in. Die man het nog ’n geamuseerde uitdrukking op sy gesig toe die twee skote wat Kat van die grond af skiet hom teen die Claerhout vasslinger. Hy skuif saam met die skildery teen die growwe gangmuur af.

Kat help Pine aan sy arm op, en hulle staan met rokende pistole die toneel en gade slaan.

“Wat is fout? Hoekom skiet jy hom nie?” vra Kat.

Pine staan verbysterd na die figuur teen die skildery en kyk. “Die pistool is nie lekker nie,” sê hy afwesig. Dan draai hy om en stap koponderstebo na buite.

Bottelnek

Подняться наверх