Читать книгу Bottelnek - Piet Steyn - Страница 8
» 5 «
ОглавлениеHillbrow het nie verander nie; net meer verniel geraak. Die inwoners dwaal nog steeds saans op die sypaadjies rond op soek na afleiding – enigiets net om uit die oorvol woonstelle te kom. Selfs hierdie tyd van die aand hang daar wasgoed op ’n paar van die woonstelle se balkonne. Die hoere en die pushers staan nog op dieselfde straathoeke op soek na kliënte. Net soos in sy dae.
Die neonoog van die nagklub kan hy van ver sien knip. Joe ry eers stadig verby die gebou waarin die nagklub is, soek parkering. Teen die symuur het die plek klein, hoë vensters met swaar diefwering waaruit ’n oorverdowende lawaai kom. Drie sementtrappe lei van die straat na ’n groot houtdeur met ’n klein luik op ooghoogte.
Op die sypaadjie sit ’n paar kinders, sweerlik ook soos voor ’n hotelkroeg terwyl hulle pa’s binne sit en die maand se grocery-geld uitsuip. Hel, ook dít het nie verander nie!
’n Ent verder in die straat kry hy ’n parkeerplek op ’n geel streep, langs ’n klomp asblikke wat na ’n dooie ding stink – kat, rot of hond? Of dalk iemand wat sy drugs sonder geld probeer koop het. Die aandlug is koel op sy natgeswete gesig. Uit die woonstelle blêr ’n mengelmoes lawaaierige musiek. Iewers bulder ’n swaar manstem en ’n vrou gil skril.
Die reuk van gebraaide uie, kool en dagga hang in die lug. Rook hierdie mense dan nie meer gewone siegrets nie? Oh well, as hy hier gebly het, sou hy seker ook maar so gemaak het. Hy het nog nie vergeet hoe die groen blare die skerp kante kon afgrind as die lewe hom gesweis het nie. Maar hy onthou ook al die ander gemors wat die grinder elke keer laat trip het.
Miskien is dit wat hy nou nodig het, ’n lekker vet zol met baie pitte.
Hy wurm tussen die mense op die sypaadjie deur en hamer ’n paar keer met sy vuis teen die deur. Die luik word oopgeskuif deur ’n kaalkopvent met ’n stukkende gesig. Hel, dit lyk of hy ’n fight met ’n kettingsaag verloor het! “Yes?” grom die stukkende gesig vir hom.
“Ek … ek soek vir Frikkie,” sê Joe, hoes in sy vuis.
“Frikkie? There is no such a person here. Get lost!”
Die luik begin toeskuif. “Sorry, man!” skreeu Joe en klap teen die luik. “I means Freddy!” Fok! Engels was nog nooit sy taal nie.
Die luik skuif weer oop en die groot man bekyk hom agterdogtig met sy half toegeswelde oë. “Are you a cop?” vra hy.
“Ag, no, man!” sê Joe in sy swaar Vrystaatse aksent. “I’m his pa, man! Do I look like a fucking poot?”
“His dad? I didn’t know he ever had one,” brom die gesig in die opening. Maar iets aan Joe se voorkoms, dalk sy aksent oortuig die grote. “OK, come in,” sê hy.
Joe hoor hoe ’n grendel oopgetrek word voordat die deur oop-swaai.
“Stand where I can see you!” beveel die deurwag hom bars. Hy tel ’n telefoon op, skakel ’n nommer en praat gedemp. Joe staan oopmond na die kamer met die rooi mat en rooi meubels en kyk. Hoekom is alles in ’n hoerhuis altyd rooi?
Die man met die kaalkop en die pleisters gee ’n beskrywing van Joe voordat hy die gehoorstuk neersit. “Tony!” roep hy na agter. Joe kan in die dowwe lig iemand sien wat agter ’n tralievenster by ’n tafel sit en geld tel. Hierdie een het ’n poniestert en sy gesig is heel. “Take this guy to the boss,” sê die kaalkop. “He says he’s his dad. You better search him first.”
Poniestert sluit ’n staaldeur oop en toe hy by Joe kom, druk hy Joe se gesig hard teen ’n muur vas. “Spread it,” sê hy bars, klap en voel oor Joe se lyf. Hy ken dié soort ding, van sy tronkdae af. As dié bliksem in sy agterent ook oploer … Gou kry die man die negemillimeter onder sy hemp. “En dié?” vra hy, kyk dan geamuseerd oor Joe se skouer na sy makker en sê. “Check this out, Zoë.”
Joe haal net sy skouers op – hy kan nou wragtig nie sien dat dit iets met dié twee brekers te doen het nie. ’n Man mag mos maar ’n skietding dra in hierdie plek met al sy messtekers.
Tony bly vraend na Zoë kyk wat op sy beurt weer sy skouers ophaal. “Give it to the boss.”
“Kom, ou toppie,” sê Tony, “loop saam met my.”
Joe loop agter die uitsmyter aan deur nog ’n deur met ’n gordyn. Die lawaai klink soos dié van die groot kompressor by die myn. Tussen die rook deur sien hy ’n groot vertrek, meer soos ’n saal, met ’n lang kroegtoonbank teen die een muur. Daar is ’n vierkantige verhoog in die middel van die vertrek waar iemand met oorfone op agter ’n soort toonbank staan en sy kop op die ritme van die oorverdowende musiek knik.
Verder weg op die verhoog is twee vroumense besig om kaal-gatdinge met ’n blink paal te doen. Flitsende gekleurde ligte weerkaats in ’n bal met spieëls teen die dak.
’n Jong man met ’n pienk streep deur sy blonde kuif stamp teen Joe wanneer hy by ’n toilet uitbars, sukkel om sy nou broek se gulp toe te kry. “Fuck off!” snou hy Joe toe. Poniestert moet Joe aan die arm vasgryp om te keer dat hy val. “Kyk waar jy loop, oubaas, jy gaan jou nek breek,” sê hy sonder ’n sweem van ’n glimlag.
Hulle klim met ’n houttrap wat teen die muur oploop, na waar hy ’n deur op ’n soort balkon kan sien. Die harde musiek, die lawaai van die mense en die rook maak sy kop dronk. Hy hou aan die trapreling vas – die dag was te bleddie lank vir hom.
Die uitsmyter klop liggies aan die staaldeur en maak dit dan oop. Hy beduie Joe moet instap.
Joe en Frikkie kyk mekaar oomblikke lank sprakeloos aan. Joe kan nie glo dié Blinkstefaans is sy seun nie. Frikkie soek ewe hard na sy pa in die man met die oogklap, stoppelbaard en vuil boskaas. Waar is die blonde kuif waarop sy pa altyd so gesteld was? Sy hare hang nou ylerig en deurmekaar oor sy voorkop, en waar dit eens blink gebrylcreem agter sy ore ingekam was, hang dit nou in vuil slierte oor sy ore. Sy blou oog sit diep in ’n donker oogkas weggesteek.
Joe takseer sy seun se bleek gelaat, die blinkswart hare, die goue ketting om die pols. Hy hou nie van die manier waarop Frikkie stil en stip na hom kyk nie, van hoe hy sy mondhoeke na onder trek asof hy sooibrand het nie. Joe vee die hare van sy voorkop af en dié langs sy kop agter sy ore in. Hy boor onwillekeurig met sy duim onder die oogklap in – dit jeuk en brand van die sweet.
Frikkie staan agter die lessenaar op, waai Tony met ’n slap hand by die deur uit en druk sy sigaret dood. Die lyfwag kom sit koponderstebo Joe se pistool op die lessenaar neer en stap uit. Frikkie wag dat die deur agter hom toeklik voordat hy praat.
“Yes, Dad. Hoe lyk dit?” Hy gee ’n paar lang, lui treë vorentoe en slaan een arm met ’n wye gebaar om sy pa se skouers, asof daar ’n mantel aan die arm geheg is. Joe weet nie hoe om hierop te reageer nie. Hy kan nie onthou hoe hy sy seun altyd gegroet het nie. Met die hand dalk, maar mekaar omhels, het hulle nooit nie. Hy bring sy hand op, maar Frikkie het hom reeds weer gelos en omgedraai na sy lessenaar toe. “Ek aanvaar dit gaan maar kakkerig met jou, Dad.” Frikkie tel die pistool wat Tony neergesit het op en ruik aan die loop. Hy draai na sy pa toe en beduie na een van die stoele. “Hoekom sit jy nie, Dad?”
Joe sak dankbaar in ’n stoel neer. “Hel, Laaitie,” sug hy, “nou het ek genuine kak aangejaag.” Hy kyk van sy skurwe, knokkerige hande op na sy seun, maar kyk onmiddellik weer weg voor Frikkie se stil blik. En skielik weet hy dat Frikkie weet wat hy gedoen het. Hoe hy dit te hore gekom het, weet hy nie. Het die nuus so vinnig versprei? Het Sophie hom laat weet?
“Ek het die Mazda met sy Fastback netnou op die kassie gesien,” sê Frikkie asof hy Joe se gedagtes gelees het. “Die pote soek heavy na jou, Dad. Maar moenie worrie nie, jy’s nou oukei.”
“Frikkie, ek …”
“So, as ek dit reg het, Dad, is die ou lady amper in haar moer in en die ou wat haar gespyker het sonder sy tools Graceland toe. Cool, man, cool.”
“Fokkit, my laaitie, jy weet nie …”
Maar Frikkie maak hom met ’n opgehefte handpalm stil. Joe weet nie hoe om sy seun se koel reaksie te interpreteer nie.
“Stadig, stadig. First things first,” sê Frikkie. “Wat gehappen het, het gehappen.” Hy loop na die groot boekrak. Met Joe se pistool in sy een hand steek hy sy ander hand agter die Totius-werke in. ’n Klein gedeelte van die rak swaai met boeke en al oop en ’n kluis wat daaragter verskuil is, kan gesien word.
Terwyl Frikkie die slotmeganisme van die kluis draai, vra hy oor sy skouer: “Is dit die yster wat die joppie gedoen het?”
Dit duur ’n paar sekondes voordat Joe besef hy praat van sy pistool. Hy knik. “Ja, maar jy kan die ding nie toesluit nie, ek gaan dit nodig kry.” Joe sit sy elmboë op die stoel se armleunings, druk sy vingerpunte teen sy slape vas. “Ek’s nog nie klaar nie,” sê hy. “Ek’s nog lank nie klaar nie, my laaitie.”
“Relax!” sê Freddy, klap die kluis toe en druk die boekrak weer terug. “Dis net vir nou, jy kan hom netnou weer kry as jy gaan.”
Relax? Joe vee die hare van sy voorkop, vryf sy nek wat weer skeef getrek is van al die bleddie spanning en stront van die dag. Hoe de donder dink sy seun moet hy relax?
“Maar sê my eers, Dad,” sê Frikkie. Hy stap weer met lang, stadige treë na sy lessenaarstoel. “Wat kom soek jy by my? Ek weet nie of jy dit besef nie, maar ek is self nie juis die pote se blue-eyed boy nie. Wat wil jy van my hê?”
Joe besluit om maar by sy aanvanklike plan te hou. “Vir eers sal ek moet laaglê totdat dinge ’n bietjie afgekoel het, en dan wil ek ’n kraak maak, landuit. Zimbabwe of Malawi, of so iets. Ek soek ’n nuwe ID, paspoort, die lot.”
Frikkie kyk Joe weer ’n rukkie stil aan. Tel dan sy sigaret uit die asbakkie op en neem ’n diep trek, druk dit dan vererg dood. Fokkit, sy seun dink hy is in ’n movie, flits dit deur Joe se beangste brein.
“Dis oukei, Dad,” sê Frikkie. “Ek hét die contacts, hulle noem my nie verniet Freddy the Fix nie.”
“Die bere hieronder het so iets gesê, ja. Ek bedoel nou van jou naam.” Joe oorweeg dit om ’n aanmerking daaroor te maak, maar laat vaar die gedagte. “Freddy the Fix,” sê hy dan week. “Ja, dit klink nie sleg nie.”
“Waar is die Mazda?” vra Frikkie skielik skerp.
“Ek het dit onder in die straat gelos,” sê Joe, vervies hom vir die gedienstigheid in sy stem en beur regop in die stoel. “Langs ’n spul asblikke wat stink soos ’n dooie poot,” sê hy dan met ietwat meer durf.
Skielik gaan die deur agter Joe oop en hy spring regop, swaai om. Die lyfwag met die poniestert staan in die deur, kyk hom geamuseerd aan. “Yes, Boss,” sê hy en kyk dan verby Joe na Frikkie.
Hel, sy senuwees is gaar! Joe gaan staan verleë voor die venster wat oor die klub se dansvloer uitkyk, steek sy bewende hande in sy broeksakke. Die twee kaalgatte is weg en in hulle plek probeer ’n paar van die customers hulle in onderbroeke by die paal na-aap, onder die luide aanmoediging van hulle maats.
“Tony,” sê Frikkie agter sy rug, “in die straat staan ’n blou Mazda 626, vat die ding na die chopshop in Alexandra. Sê vir Trevor hy moet hom ’n complete identity change gee. Enjinnommer, chassisnommer, registrasie, die lot, hy sal weet. Hy moet hom wit spray. Vat vir Meshack saam met jou in ’n ander kar, ry die agterstrate, hierdie kar is fokken warm. As die pote julle stop, los die ding net daar en maak ’n kraak.”
Toe Tony uit is, draai Joe weer stadig om. Frikkie beduie hy moet gaan sit. “Waar is die glasoog?” vra hy.
Joe klap op sy hemp se toegeknoopte sak.
“Jy sal dit moet dra. Die pote soek na ’n ou met een oog en ’n Mazda. Die oogklap sal nie werk nie.”
Joe sug. “Oukei, sal netnou,” sê hy. “Die ding krap my, veral as ek worrie.” Hy probeer ’n spits dakkie met sy vingers onder sy ken maak, maar sy vingers bewe te veel. Selfbewus sit hy sy hande weer in sy sakke.
Frikkie steek twee sigarette aan. “Dad, jy kan nie hier in die klub bly nie,” sê hy tussen die rook wat om sy kop draai deur. “Ook nie by my huis nie, dis waar hulle eerste gaan kyk.” Hy kom half regop, leun oor sy lessenaar en hou een sigaret na Joe uit.
Joe vat die sigaret dankbaar en trek die rook diep in sy longe in. Dit laat hom in ’n hoesbui uitbars – dit was te lank laas, maar te hel daarmee. Hy het ’n skyf nóú nodig! Enigiets, sy senuwees is flenters, hy bewe soos ’n riet. Hy vat nog ’n trek, versigtiger dié keer. Die filterlose sigaret se papier sit aan sy droë lippe vas, sy vingers gly daaroor en stamp die kooltjie op die mat af.
Frikkie hou die aansteker na sy pa uit.
Joe se kop draai, ’n lamheid kruip in sy bene op en Frikkie se stem kom nou stadig en van ver af.
“… die pote is gatvol vir my en ek verwag ’n raid, enige tyd. Ons het ’n safe-house in Pretoria, ek sal vir Shorty bel dat hy jou kom haal. Niemand weet van die plek nie, dit is omtrent net hy en ek. Jy sal oukei wees daar.”
Joe strek sy bene voor hom uit, krap die kool met sy hakskeen dood. Hy voel hoe die sigaretrook hom lomerig maak. Fokkit, hy is moeg!
Frikkie staan op. ”Hoe lyk dit met ’n dop?” Hy stap na die tafel in die hoek langs die groot boekrak, lig ’n whiskeybottel tussen die klomp uit wat daarop staan.
Joe beur weer regopper. Wat gaan aan dat ’n simpel Camel hom so skop! Maar ’n knertsie sal help, hy weet. Hy het iets nodig, that’s for sure. “Ja, gooi maar,” sê hy.
Frikkie skink en Joe neem gretig die glas halfvol goue vloeistof by hom, kantel dit teen die lig. “Cheers,” sê hy, “soos in die ou dae, hè, Laaitie? Laat hy val waar hy wil.”
Frikkie sê niks. Bring net die whiskey na sy lippe en staar na sy pa oor die glas se rand.
Kan dit regtig Frikkie wees dié, sý laaitie? Waar kom hy aan hierdie maniertjies van hom? Dis obvious waar hy aan die geld kom, maar fokkit, moet sy eie seun hom aankyk asof hy uit die hond se hol geval het? Joe proeslag skielik skor. “Moenie worrie nie, ou Frikkie, ek’s oukei,” sê hy. Hy sluk die glas met twee slukke leeg en voel hoe ’n bietjie teen sy ken afloop. Die alkohol brand al die pad na onder, val soos ’n graaf vol kole in sy maag. Hy wag vir die ou bekende gevoel van saligheid wat sy bene nog meer sal laat ontspan en sy kop sal stilmaak. Hy hou die glas uit vir nog. “Jy het nie dalk so ’n verdwaalde ou vingertjie dagga ook iewers vir my nie, ou seun?” vra hy toe Frikkie die glas by hom vat.