Читать книгу Bottelnek - Piet Steyn - Страница 6
» 3 «
ОглавлениеVroegdag al het die westewind stof van die mielielande af opgeraap en in die son se gesig gesmyt. Laatmiddag het alles weer op die vaal vlaktes afgesak, ook op die dakke van die myndorp wat rommelrig in die voue van die landskap gestapel is.
Die beplanners van dié myndorp het destyds nie ’n groot verskeidenheid bouplanne gehad nie. Baie van die rooibaksteen-huisies in die oudste deel van die dorp het presies dieselfde grondplan, met net die plasing van die stoep wat hier en daar verskil. Sommige huise se tuine is netjies en met sorg uitgelê, maar meestal is daar nou net ’n pad wat van oprit na die voordeur oopgetrap is deur wilde struikgewas en wat eens ’n grasperk moes gewees het.
Hier in Blesbokstraat speel ’n klomp kinders met oorgroot truie en te klein broekies sokker in die straat, ’n paar leë verfblikke die doelpale. ’n Klomp brakke is besig om die boomstamme en die hoekpale van die draadhekke te inspekteer en te merk. Grassnyers stotter hul geraas bokant die luidrugtige argumente van die sokkerspelers. Iewers kerm ’n slypmasjien weemoedig.
Op die stoep van nommer 46 skuif ’n maer man die oogklap oor sy linkeroog met sy duimnael op en boor met die kneukel in die leë oogkas. Maar Joe Smit se bloedbelope regteroog sien nóg kinders nóg brakke – hy staar nikssiende na die groot draaiende staalwiele bo in die myntoring wat lyk asof dit uit die plaat skilferende dakke uitgegroei het. Die laatmiddagwind kom groet nou ook hier op sy stoep en die paar blond-grys hare wat oor sy voorkop hang, roer asof in halfhartige erkenning. Joe se regterarm hang slap af, sy hand half onder die sitvlak van die stoel verskuil. Daar, in die skadu van die stoel, hang ’n pistool los in ’n willose hand.
Wat Joe tot beweging bring, is heeltemal onduidelik, want sy blik bly op die ewig draaiende wiele van die mynskag toe hy die pistool stadig van onder die stoel uitlig en op die lendelam tafeltjie voor hom neersit. Die vingers van sy linkerhand waarop sy kop rus, krul oor sy voorkop, sy neus en dan af oor die bitter mond en die baardstoppels op sy ken. Dan ruk hy effens orent, asof hy uit ’n droom ontwaak. Hy vee die hare van sy voorkop weg, maar dit val net weer terug oor sy wenkbroue van waar die riem van die oogklap na agter span en waaronder sy gesonde oog traag roer.
As die kopseer hom net wil los. Die verdomde steekpyn in sy agterkop waar ’n flenters geskopte nekwerwel sy kop skeeftrek. Hy laat sak sy gesig weer in sy hande, sien die rooigeverfde stoep soos bloed onder sy voete.
Iemand móés tog betaal! Hel, hulle kan mos nie te kere wil gaan soos bleddie jags katte op ’n sinkdak nie! Iemand móés betaal.
’n Gesketter ruk Joe uit sy beswyming. ’n Windgat op ’n 1 000 cc-Kawasaki sonder baffles swenk tussen die sokkerspelers deur, ’n blondine met ’n stywe wit broek wat aan hom vasklou. Nou raak Joe ook bewus van die slyper se gekerm. Dit moet ou Spike langsaan wees. Maak seker weer diefwering, dis al hoe hy vir sy dop kan betaal.
Joe vryf met ’n harde mynershand oor sy gesig, druk die oogklap weer terug. Hy vat die pistool vas, kom regop, staan ’n ruk koponderstebo voordat hy omdraai en die sifdeur agter hom laat klap. Die huis is donker binne. By die sitkamerdeur struikel hy oor die los houtblokkie in die gang se vloer.
In die badkamer skeur hy ’n paar hoofpyntablette uit ’n foelie-omhulsel en gooi dit in sy keel af. Hy gaan sit op die geroeste bad se rand. Dit sal nie help nie, dit weet hy, niks help verdomp ooit nie. Hy kom steunend regop en net voordat hy die badkamerdeur agter hom toeklap, val sy oog op die liggroen erdepot met die varing op die rakkie bokant die bad. Girlie se varing. Girlie se pot.
In hulle slaapkamer gaan sit hy op die deurmekaar dubbelbed met die rooi fluweelkopstuk waarin goue knope eweredig gespasieer is. Die koperolifant met die horlosie in sy pens sê dis amper vieruur. Hy sal sy gat moet roer! Daar’s nie nou tyd vir hana-hana nie. Hy sal fokweet moet kophou.
Wat eerste? Eerste moet hy vir Sophie bel, dit sal hy net móét doen, want sy gaan na hulle soek. Sy en haar ma lê alewig op die foon. Hy haal die selfoon uit sy oorpak se bosak en druk haar nommer met ’n bewende vinger. Hy kug.
“Hallo, Sus?” Hy moenie so onseker wees nie, maar met haar weet jy nooit nie, sy kan vol stront wees.
“Hallo, Dad!” Sy klink heel opgecharge, en, ja, daar kom dit: “Nie Sus nie, Dad,” sê sy soos ’n regte skooljuffrou. “Onthou tog. Sofí, met ’n strepie. Ek bly nie meer in Allanridge se mynkamp nie.”
Hy luister geduldig. Tik-tik met sy skoenpunt op die harige vloermatjie aan Girlie se kant van die bed. Nie nou sy moer strip nie, nie nou nie. Hy kom orent, druk die selfoon met sy kop teen sy skouer vas en begin hom uit sy oorpak wikkel.
Hy hoor hoe sy stoom verloor en dan stilbly. “Hoekom sê jy niks nie, Dad, is daar fout?”
“Nee, nee, niks nie, Sophie, my girl, nee, ek’s orraait. Ek … um … ek bel net om te sê jy moenie die naweek na my … na óns soek nie. Ek … ek en die ou lady gaan bietjie Badplaas toe.”
“Jis, Pa, dis goeie nuus!” Sy klink nogal opgetrek. “Dalk is dit net wat julle nodig het om dinge weer reg te kry.”
“Ja, wel … ’n Man moet seker maar try, ek meen …” Wat de donner kan hy anders sê?
Gelukkig verwag Sophie nie veel meer van hom nie. “Nou maar geniet dit, dink aan ons wat by die huis moet sit,” sê sy.
“Nee, um, thanks, ons sal.”
Joe wil aflui, padgee. Dis wragtag nie die tyd vir geselsies maak nie, maar sy dogter gee hom nie kans nie. Terwyl sy praat oor vakansies en restaurante en plasmaskerm-TV’s, haal hy met sy een hand ’n skoon hemp en ’n blou denim uit die hangkas. ’n Oomblik lank bekyk hy die beeld van sy vervalle lyf in die kasdeur se spieël. Wat het van sy spiere geword? Is dié bleek maergat wragtig al wat oorgebly het van Joe die breker? Waar is sersant Joe, die roekelose bliksem op die Casspir in die bosse van Angola nou? Dis mos Ma se gesig wat hier uit die spieël na hom kyk, soos sy gelyk het die dag toe Avbob haar kis toegespyker het. Haar gesig was net nie so stukkend gemoer nie. Sy’t nie die oogklap gehad nie. Dis net die een blou oog wat nog iets van Pa in het, van sy beneukgeit. As hy oor sy vuiste na jou geloer het … óf na Ma.
“… wil hê George moet ons volgende jaar Seychelle toe vat,” dring Sophie se stem weer tot hom deur, “ek is nou moeg vir die Durban-vakansies. Waar’s Moeks? Kan ek met haar praat?”
“Sy, um, sy is al by die kar.” Dit was vinnig gedink! “Ek het net gou gebel om te sê.”
“Oukei, Dad, sê groete.”
“Cheers, my girl,” sê hy, en dan, voordat hy hom self kan keer: “Onthou net, wat ook al gebeur, ek is … ek is baie … ” Wat gaan nou met hom aan? Wat de hel laat hom so iets sê?
Maar Sophie het reeds haar selfoon doodgedruk. Hy gooi sy eie foon onder in die kas in en buk om onder die bed ’n ou weermag-toksak uit te trek. Hy pluk ’n paar kledingstukke uit die kas en smyt dit in die toksak.
Hy moet die geld in die trommel onthou, Girlie sal dit nie meer nodig kry nie. Dit behoort hom ’n rukkie te hou. Hy moet ook onthou om die huis te sluit. Onthou, onthou … Hel, daar is so baie dinge wat hy nou reg moet doen; anders is dit ’n bokkerop.
Stupid! Hy was so bleddie stupid! Wat de hel het hom makeer? ’n Man beplan mos eers voor jy sulke dinge aanvang. Was dit nie die eerste les wat hy destyds in die tronk geleer het nie?
Hy sluit die deur agter hom en stryk aan na waar die Mazda op die oprit staan. Net die toksak in die kattebak gooi, dan is hy weg.
“Hei, one-eyed Joe!”
Fokkit! Hy swaai om en slaan byna die man wat reg agter hom op die flenter heining leun met die toksak onderstebo. “Fokkit, Koos!”
Hy het sy buurman glad nie gesien nie.
“Stadig, Joe, swaer, stadig. Wat het jy nou weer aangevang? Waarheen so haastig?”
Joe voel na die pistool se kolf wat hy onder sy hemp in sy broek ingedruk het. Hy knyp sy oog eers styf toe en maak dit dan weer oop om die man met die groot pens wat oor sy denimbroek hang behoorlik in fokus te kry. Hy het ’n moulose T-hemp aan, hy noem dit sy “wife beater”. ’n Oranje Cheetah-keps sit skeef op sy kop. Hy hou ’n bierblik ver van sy lyf af, asof hy wil keer dat die bier op hom mors, ’n sigaret hang aan sy onderlip wat verbaas oopgeval het.
“Koos, ek is haastig, ek het nie nou tyd vir kakpraat nie,” sê Joe en draai om om sy toksak in te pak.
“Nou waar neuk jy nou weer heen? Wat van die dartskompetisie vanaand by die klub, ou swaer?”
“Ek’s nie hier nie,” sê Joe met sy rug na sy buurman. “Badplaas toe, ek en Girlie.”
“My-y bliksem! Badplaas? Waar kry ’n gewone carpenter soos jy die geld vir sulke dinge, swarie? Ek hoor dis nou bleddie duur daar, en pikswart. Werk jy overtime?”
Joe bly in die kattebak vroetel, probeer oogkontak met sy buurman so lank moontlik vermy. “Aag hel, Koos. Jy weet ek is net op gewone maintenance, skyt nes jy om die dinge aan die gang te hou!” Hy klap die Mazda se kattebak toe, en stap om na die voordeur.
“Jy moet vir jou ’n rooikaart kry, ou pel!” steun Koos goedig. “Ondergrond, dis waar die pitte is: by stoping of development, nie geysers en kakpotte regmaak nie.”
“Nie met ’n glasoog en ’n opgefokte nek nie, ou Koos,” brom Joe en sak in die motorsitplek in. “Dink jy ek het nie probeer nie? Cheers, ek’s weg.” Hy klap die deur toe, sien in die spieëltjie hoe Koos weer die heining se ondersteuning opsoek, sy hand met die bierblik steeds ver sywaarts, asof hy ’n slang vashou.
“Nou waar’s Girlie dan?” vra Koos toe Joe die ruit afgedraai het.
“Klaar weg, saam met Sophie. Cheers, ek moet nog daar ander-kant gaan tent opslaan,” sê hy en laat die Mazda brul.
“Oukei!” skreeu Koos. “Onthou om daai glasoog van jou saam te vat. Jy kan nie die kinders op Badplaas loop skrikmaak nie!”
“Ag, fok jou,” brom Joe, sien in sy truspieël hoe Koos die bierblik hoog hou in ’n afskeidsgebaar. Hy swaai die Mazda links in Blesbokstraat in, bly om van sy simpel buurman ontslae te wees. Koos van Staden kom elke middag vieruur van die myn af en dan lê hy op die skewe voorhekkie, rook sy Texan, drink sy bier en kyk wat die ander mense in die straat aanvang. Die hek se ogiesdraad het al ’n gat waar hy sy mynerstewel se staalpunt indruk.
“Net nie aandag trek nie,” mompel Joe toe hy versigtig tussen die sokkerspelers deurry. Een van hulle het die plastiekbal opgetel en almal staar hom oopmond aan, gretig om hul spel te hervat.
Uit Blesbok draai hy regs tot by die stopstraat in Buffaloweg, ry by die motorhawe verby en versnel dan dorpuit. Hy bestuur werktuiglik, robotagtig. Verby Bothaville tot by Kroonstad waar hy afdraai op die N1 Johannesburg toe. Die landskap is besig om te verdonker.
Wat de hel het hom besiel!
As hy net by Frikkie kan uitkom, sal hy orraait wees. Daardie laaitie van hom is nie stupid nie. Hy het die een of ander besigheid aan die Rand, maak glo pitte soos bossies. Frikkie het nie moeilikheid nie, hy sal iets organise. Hy sal kan help dat hy ’n kraak kan maak, oor die grens of iets. Sophie is egter ’n regte fokken lady. Mos met haar gat in die botter geval, met ’n mynkaptein van Welkom getrou. Bo haar omgewing uitgestyg, deur harde werk en studies, vertel sy altyd. Se fokken gat! Sy moes in standerd 8 vir haar ouma in Suidwes gaan kuier, soos Ma altyd gesê het as ’n girl op die paal geraak het. Die vent móés met haar trou of hy en Frikkie het hom stukkend gebliksem! Nou sit sy in ’n windgat mynkapteinshuis met twee toilets, en Katharina Sophia Magdalena het nou skielik Sofí geword, mét ’n fokken strepie! Wat de hel maak jy anyway met twee toilets? Het hulle dan maagprobleme van al die cocktails en sundowners en al die stront op stokkies wat hulle op die dek sit en vreet as die son sak?
Maar sy’s oukei, sy sal hom nie drop nie.
Hy stuur die Mazda links van die geel streep om ’n metaalgrys BMW wat met flitsende ligte op hom afpyl te laat verbykom. Fokken windgat!
Langs die pad het die grys mynhope en geel slikdamme begin plek maak vir mielielande en plakkerskampe wat soos roeskolle op blinkgetrapte grond opskiet. Is dit nie maar soos dinge met hom ook begin het nie, in ’n klein, kak huisie met ’n geroeste sinkdak en omvalmure? Pa wat die spul met drade en kabels probeer regop hou en Ma met ’n siegret en ’n glas OBS in die deur.
Blou borde wys die afrit na Sasolburg; die “o” net ’n verflenterde gat. Wie de fok skiet op padtekens en wanneer? Die AWB? Of is dit mense soos Pa wat laatnag gesuip uit die huis uit storm met ’n skietding in die hand? Ma wat agter hom aan gil hoe fokken sleg hy is. Deure wat klap, ’n kar wat spin, Ma wat bottels en borde stukkend gooi. Dwa! Dwa! Dwa!