Читать книгу In landsbelang - Quintus van der Merwe - Страница 5

1

Оглавление

“Ek gaan sukkel om aan te pas.”

Johan buk om sy sak van die vervoerband op te tel en gooi dit oor sy skouer. Hy sien die lughawe word nou O.R. Tambo genoem. Johannesburg O.R. Tambo Internasionaal? Hy was meer as vyf jaar gelede in Suid-Afrika.

Oral staan mense met naambordjies en hoor hy “taxi taxi”. Hy wonder wat sal gebeur as hy op een van die naambordjies reageer en hoe lank hy met ’n ander identiteit sal kan wegkom. Sy naam is nêrens te sien nie. Hy stap na buite. Nog steeds die reuk van Sasol-uitlaatgasse. Hy is glad nie haastig nie. Hulle kan maar laat wees. Dit sal vir hom maklik wees om in die massas te verdwyn.

“Meneer Castelyn. Welkom terug in Suid-Afrika.”

Die man het hom waarskynlik heeltyd dopgehou. Hy het ’n duur swart pak aan en geniet dit skynbaar om Johan te verras.

Die twee mans takseer mekaar vir ’n oomblik. Johan se ses voet vier is ietwat te groot vir die klere wat ambassadepersoneel inderhaas in Togo vir hom gekoop het. Hy is 41 jaar oud en het lang, donkerblonde hare wat in ’n poniestert vasgemaak is.

“Ek het lanklaas Afrikaans gehoor. Gaan ons direk deur plaas toe?”

Johan kan nie die skraal man se oë agter die donkerbril peil nie. Hy het egter steeds ’n effens spottende glimlag as hy in die rigting van die parkeergarage wys.

“Volg my. Ons kan in die motor verder praat.”

In die motor wag ’n man agter die stuur. Hy wend geen poging aan om te groet nie, maar op die pad Pretoria toe betrap hy die swart man se oë meer as een keer deur die donkerbril op hom in die truspieëltjie. As hy met dié mense gaan saamwerk, sal hy seker ’n donkerbril moet aanskaf.

Tydens die rit is die mans doodstil. Die grynslag het verdwyn. Die Mercedes gly vinnig by stadiger verkeer verby, terwyl Johan hom verkyk aan die oorweldigende ruimte. So baie vrugbare grond. Hoekom bondel almal in die stede saam as daar soveel plek is? Verby Midrand maak die lang, geel gras plek vir nuwe geboue en stoorkamers. Johan sien ’n heuwel waar talle ou militêre voertuie parkeer is. Is dit te koop of afgeskryf? Weer voel hy die bestuurder se oë op hom.

“Ek het gehoor ons gaan direk Musanda toe. Hoekom ry ons nou stad toe?”

“Meneer Castelyn, jy gaan nog genoeg tyd op die plaas deurbring. Vir eers het jy ’n belangriker takie om af te handel.”

Die middestad van Pretoria het talle nuwe geboue en die strate is vol lewe met kleurvolle voetgangers. Hulle ry teen Edmondstraat se bult uit. Die Uniegebou lyk nog dieselfde. Voor hy Togo toe is, het hy vir twee jaar ’n sonnige kantoor aan die agterkant van die gebou gehad. Hy wonder hoeveel van sy oudkollegas nog hier werk.

“Buitelandse sake is nie meer in die Uniegebou nie,” asof die man sy gedagtes kan lees. Johan kyk skepties na die skraal man. Hy wens die ou wil sy bril nou afhaal.

“En dit word nou Internasionale Betrekkinge en Samewerking genoem. Feitlik net die minister en die direkteur-generaal sit deesdae hier. Die president en sy personeel het die hele gebou oorgeneem.”

“So wat kom maak ons hier?”

“Die minister wil jou sien voor ons plaas toe gaan. Sy het skynbaar ’n belangrike boodskap vir jou.”

Binne in die Uniegebou het niks verander nie. Hulle stap oor die binneplein waar Johan soms met kollegas die winterson opgesoek het. Die minister sit steeds bo in die oostelike hoekkantoor en hulle stap met die groot sandsteentrap boontoe. Die swaar houtdeur na die sekretaresse se kantoor is oop.

“Ek wag hier vir jou.”

“Mister Castelyn, please have a seat while I inform the minister that you are here.”

Die sekretaresse is modieus aangetrek en het ’n vreemde Engelse aksent. Na ’n paar woorde in Sotho oor die telefoon word hy binnegelaat. Dis die eerste keer dat hy in persoon met die minister te doene het.

“Welcome back in South Africa.”

Sy staan en wag hom in met ’n breë glimlag. Hulle gaan sit in die sitkamer.

“Let me get straight to the point. Ons kon jou nog langer in Togo gelos het, maar daar is jy vir ons niks werd nie. Terselfdertyd kan jy nie verwag om weer normale diplomatieke werk te verrig na wat jy in Wes-Afrika aangevang het nie.”

Sy wag ’n rukkie asof om te sien of hy wil reageer.

“Ons erken die goeie dinge wat jy gedoen het, en die feit dat jy kollegas help ontsnap het. Daarom het die regering moeite gedoen om jou vrylating te bewerkstellig. Maar na twee jaar in die Togolese tronk is dit nou weer tyd om iets vir jou land te doen.”

Johan kyk vraend na die minister.

“Jy sal verstaan dat ons nie jou vrylating aan die groot klok wil hang nie. Daar is nie sprake van ’n mediakonferensie of fotograwe nie en ons wil dit so lank as moontlik stil hou. Eerstens omdat jou volgende opdrag geheim is, en tweedens omdat jy dit waarskynlik ook so verkies.”

“Dankie, minister. Dit was regtig ’n aangename verrassing,” sê Johan met ’n glimlag om sy dankbaarheid te demonstreer.

Hy wonder wat die geheime opdrag is. Hy is beslis nie uit medemenslikheid vrygelaat nie.

“Jy verstaan dat jou teenwoordigheid in die land geheim is. Jy mag dus nie met die media of vriende of oudkollegas praat nie. Is dit duidelik?”

Daar is ’n onderliggende dreigement in haar stemtoon.

“Mag ek my suster in die Oos-Kaap laat weet?” vra Johan.

“Ons het haar reeds laat weet. En sy het ’n ooreenkoms onderteken dat sy tot verdere kennisgewing nie met jou of enigiemand anders daaroor sal praat nie.”

Johan kyk by die venster uit. Dan weer na die minister.

“Wat het julle vir haar gesê? Dis my enigste familie wat nog …”

“Ons weet, meneer Castelyn.” Die minister se stem is amper simpatiek.

“Ons het vir haar gesê ons stuur jou op ’n geheime sending. En dat jy fine is.”

Sy verval in ’n hoesbui. Johan moet wag voor hy weer kan praat.

“Minister, ek is dankbaar vir die Suid-Afrikaanse regering se rol in my vrylating. Die kos in Togo se tronke is nie aan te bevele nie. En ek is bly as julle reken ek is bruikbaar, maar hoe gaan ek vir die departement werk as ek nie as diplomaat kan fungeer nie?”

Die minister gee ’n wrang laggie. Sy is ten volle ingelig oor Johan Castelyn se smokkel met wapens en diamante in Afrikalande en kontak met buitelandse agentskappe.

Sy huiwer voor sy verder praat.

“Meneer Castelyn, jy weet dat ons jou nou na die Nasionale Intelligensie-agentskap vir opleiding stuur. Die regering het ’n spesiale projek vir jou,” haar stem nou hees na die hoesbui.

“Jy gaan steeds as diplomaat geakkrediteer en uitgeplaas word, maar jou opdrag gaan ietwat anders wees. Dis ’n uitsonderlike situasie en jy gaan slegs drie maande opleiding ontvang. Dan gaan jy Parys toe om ons nuwe ambassadeur te monitor.”

Sy wag om te sien hoe Johan reageer. Hy kyk net vir haar.

“Jy ken die omgewing en jou Frans is goed. Boonop weet niemand van jou nie en het jy geen ander lynfunksie-verantwoordelikhede behalwe om ons oor die ambassadeur op hoogte te hou nie.”

“Maar …”

“Dis ’n sensitiewe saak. Ons wil nie NIA of die agente van die Suid-Afrikaanse Geheime Diens hiervoor gebruik nie. Maar hulle sal jou behoorlik touwys maak.”

Johan het ’n vae idee wat die touwys maak behels. Hoe om kollegas se telefone af te luister en hulle bewegings dop te hou en daaroor verslag te doen. Hy weet nie of hy daarvan gaan hou nie.

“Ek gaan net een mens monitor?”

“Ja, die ambassadeur.”

“En vir hoe lank?”

“So lank as wat nodig is. Dis ’n vierjaar-aanstelling,” sê sy met ’n sug.

Johan besef dis ’n geleentheid om weer Europa toe te gaan. In elk geval is enigiets beter as die haglike omstandighede van die gevangenis in Togo. Hy het soms gewonder of hy ooit weer daar gaan uitkom.

“Ek veronderstel … beggars can’t be choosers,” sê Johan. Hy vee met die agterkant van sy hand oor sy voorkop.

“Ons is bewus van hoe jy die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Togo se lewe gered het. Jy is ’n bate vir ons land. Jou agtergrond maak jou spesifiek geskik om enige verwysing na, of navrae oor wapenverkope of onderhandelings oor wapens deur die ambassadeur, aan jou hanteerder te laat weet.”

Die minister staan op. Sy bied hom haar hand aan. Einde van die ontmoeting.

“Sterkte met jou opdrag. Dis in landsbelang en jou lojaliteit is baie belangrik. Jy sal gereeld verslag doen aan ’n senior beampte by NIA en indirek aan my. Ons maak staat op jou.”

Johan het gemengde gevoelens wanneer hy saam met die agent na buite stap. Dis nie vir die minister nodig om vir hom te sê dat hý ook dopgehou gaan word nie. Hy weet ook dat sy betrokkenheid by NIA ’n lewenslange verbintenis beteken, maar hy het duidelik nie veel van ’n keuse nie.

Buite is daar nou ’n swaar wolklaag oor Pretoria. Vreemd vir April. Eintlik sou hy graag eers sy land weer wil ervaar, maar is tog bly hy kan Europa toe gaan. Dit spaar hom die verduidelikings aan kollegas en familie oor wat in Togo gebeur het. Die redes vir die monitor van die ambassadeur en wat alles van hom verwag gaan word, sal hy moet uitvind soos dinge ontvou. Een ding is seker, die Franse vroue gaan hul keer moet ken. Twee jaar is ’n lang tyd.

In landsbelang

Подняться наверх