Читать книгу In landsbelang - Quintus van der Merwe - Страница 8

4

Оглавление

Die Suid-Afrikaanse ambassade in Parys is ’n swart marmergebou langs die Seine en staan uit tussen die ouer argitektuur van die omgewing. Binne is dit modern en funksioneel ingerig. Johan Castelyn het ’n groot kantoor aan die kant van die gebou en van sy klein balkonnetjie kan hy die Seine se stadige vloei deur die stad volg.

Een aspek waaraan hy nog moet gewoond raak, is dat hy nou saam met die ander agente agter ’n geslote deur van die diplomate geskei word. Hy het destyds tydens sy eerste plasing in Parys dikwels gewonder wat agter die geslote deur gebeur.

In Afrika was daar nie agente by die missies waar hy gewerk het nie, maar by die groot kantore in die wêreldstede fungeer die geheime dienste afsonderlik van hul Suid-Afrikaanse kollegas. Jy sien die kollegas in die hysbak en selfs tydens etes en by amptelike funksies, maar hulle praat nooit oor die aard van hul werk nie.

Die opleiding in Suid-Afrika het vinnig en sonder probleme verloop. Hy weet nou alles van telefone afluister, hoe om mense te agtervolg en hoe om kantore te “bug”. Dit gaan eintlik teen sy grein in om op sy kollegas te spioeneer, maar ten minste moet hy net op die ambassadeur konsentreer. Hy probeer al sedert sy aankoms twee weke gelede vasstel wie vir hóm monitor, maar is nog nie seker nie.

Saam met hom agter die geslote deur is daar slegs drie ander mense: ’n vrou, Janet, van Durban, en haar man, Essop, wat amper nooit op kantoor is nie. Beide werk vir NIA. Dan is daar ’n man van die weermag se Hoofdirektoraat: Intelligensie, Sipho Motsapi, wat ook die hoof van die afdeling is. Aangenaam op die oppervlak, maar nie iemand wat hy ooit sal kan vertrou nie.

Gelukkig hoef hy ook nie te veel met die Franse en ander geheime dienste te skakel nie, deels omdat dit nie sy opdrag is nie, maar hulle is daarvan bewus dat hy onder dekking as handelsattaché bekend staan. Slegs enkele Suid-Afrikaanse hanteerders weet wat sy werklike opdrag in Frankryk is. Sy ambassadeur, Nerine Cloete, weet dat hy onder dekking werk, maar nie sy óf die Franse Geheime Diens weet wat die fokus is nie.

Johan vind sy ambassadeur professioneel, maar ietwat afstandelik. Met haar swart hare en gladde bruin vel moet sy beslis Oosterse voorsate hê. Sy hou hom besig en is amper elke aand by een of ander funksie. Afgesien van die afluisterapparate in haar kantoor en in die ampswoning, kan hy haar telefoon, rekenaar en selfoonoproepe monitor. Hy hoef haar dus nie fisies in die oog te hou nie, alhoewel hy al gewens het dat hy kameras in haar huis kan installeer.

Die feit dat sy ’n veiligheidswag het wat as haar motorbestuurder dupliseer, kompliseer sake soms. Die ou is nogal suspisieus en doen sy werk goed. Die Franse bestuurder werk al jare vir die Suid-Afrikaanse ambassadeurs en ken Parys en sy boulevards besonder goed, maar die ampsmotor het in elk geval ook ’n mikroskyfie, indien hy haar sou wou volg.

Dit was aanvanklik vir Johan nogal opwindend om iemand so sonder haar medewete af te loer. Om as luistervink so baie van iemand se doen en late uit te vind, en tog geen invloed of bydrae te kan maak nie, is egter ’n vreemde ervaring. Hy wens soms hy kan haar oor sekere aspekte advies gee. Sy is maar nog ’n groentjie in die diplomatieke wêreld. Politieke aanstellings het nog altyd anders as beroepsdiplomate opgetree. Nou, in die derde week van afluister en monitor, is hy klaar baie gefrustreerd dat hy net kan luister en nie kan saampraat nie.

Hy moet homself aanhoudend herinner dat hy nou nie meer ’n gewone diplomaat en kollega is nie, maar ’n spook. Johan vermy dit om oor die moraliteit van spioeneer op iemand te dink. Dit gaan oor wat met die inligting gedoen word. As die staat die inligting sou gebruik om ’n voorsprong op die interne politieke speelveld te verkry, sou dit wel vir hom problematies wees.

Nerine Cloete is ’n lid van die grootste opposisieparty en sou daarom miskien ’n effense risiko vir die regering kon inhou. Hy dink egter nie sy kan veel skade hier in Parys aanrig nie. Hy het nog nie nodig gehad om enigiets suspisieus in sy verslae te vermeld nie. Sy is eintlik skoon en tot dusver was daar nog geen gesprekke of onderhandelinge met betrekking tot sensitiewe sake nie. Die enigste verwysing na wapens was ’n gesprek oor sanksies teen Zimbabwe met die Amerikaanse ambassadeur. Sy het tot nou toe glad nie Suid-Afrika se eie wapenaankope vermeld nie.

Johan dink gereeld oor hoe hy self vroeër in Wes-Afrika by wapenverkope betrokke geraak het. Dit was net alles so maklik. Hy het homself laat glo dat die strydende partye in elk geval wapens sou koop. Hoekom nie by hom nie? Hy het wel moeite gehad om homself te oortuig dat die diamante wat vir wapenaankope gebruik is nie die rede vir die voortbestaan van die oorloë was nie. Hy het self gesien watter verwoesting die voortdurende rebellies en burgeroorloë in Afrika-state veroorsaak. Maar hy het reeds sy straf uitgedien.

Hy is vir dood agtergelaat nadat die rebelle hom tydens hul ontsnappoging uit Togo raakgeskiet het. Sy Suid-Afrikaanse kollegas het vir weke lank probeer vasstel wat met hom gebeur het. Toe die regering formeel navraag gedoen het of hy dood is en of sy liggaam gerepatrieer kon word, het die nuwe Togolese regering die Suid-Afrikaanse regering ingelig dat hy in die gevangenis aangehou word. Na ’n lang tydperk van swaarkry, word hy nou ’n nuwe lewe gegun. Hy wil die beste daarvan maak.

Johan wonder soms by die vergaderings waartydens al die afdelings verteenwoordig is, of die ambassadeur ooit vermoed dat sy dalk dopgehou en afgeluister word. Tot nou toe vermy hy, om meer as een rede, onnodige oogkontak met haar. Hy is nog nie gemaklik met hoe hy haar tydens interaksies moet hanteer nie. Soms wonder hy of hy dalk onnatuurlik optree. Terselfdertyd fantaseer hy soms oor haar terwyl hy gesprekke afluister. Hoe sit sy terwyl sy oor die telefoon praat? Waaraan dink sy wanneer alles stil is in die kantoor? En tuis? Buiten vir die personeel is sy alleen in die groot ampswoning.

“Where do you go to my lovely, when you’re alone in your bed …?”

Johan staan op en stap na sy balkonnetjie. Hy moet vir hom ander afleiding kry. Hier is ’n stad met miljoene vroue aan sy voete. Hy moet net van die Suid-Afrikaners en plaaslik gewerfde personeel wegbly. As jy moeilikheid soek, moet jy met iemand by die ambassade ’n ding begin. Jy het nog nie aan ’n hand gevat nie, dan loop die stories die wêreld vol.

Hy wonder wat van sy Nederlandse lugwaardin geword het. Nadat hulle uit Togo gevlug het en hy deur die rebelle gevange geneem is, het hy eers ’n jaar later via ’n diplomaat wat hom in die gevangenis besoek het, gehoor dat sy steeds in Nederland vir KLM werk. Karien. Hy kon haar egter nooit kontak nie. Een van die dae neem hy ’n paar dae af en vat hy die pad Nederland toe.

Sy dagdromery word onderbreek toe die selfoon op sy gordel vibreer. Hy lees die boodskap, stap na binne en gaan sit voor die rekenaar. Hy sit sy oorfone op. Dis Nerine wat met hoofkantoor praat. Dit kan interessant word.

“Goeiemiddag, ambassadeur. Hoe gaan dit in Parys? Ek hoop jy het al regte sjampanje gedrink.”

“Dit gaan goed, dankie. Net regtig baie besig. Ek hardloop heeltyd rond en werk harder as wat ek ooit as parlementslid in Suid-Afrika gewerk het.”

Johan herken nie die stem van hoofkantoor nie. Dis vir hom opvallend dat die man Afrikaans praat. Dit klink asof Nerine hom ken.

“Ambassadeur, daar is inligting wat ek direk moet herlei. Ek vertrou dat jy dit as uiters geheim sal hanteer.”

“Maar natuurlik. Laat ek hoor.”

Johan sit regop. Sy verklap steeds nie die man se identiteit nie.

“Die staat se hoofaankoper in die wapentransaksies het verdwyn. Jy weet Abdool Pillay staan onder verdenking vir bedrog en dat hy hierdie week in die hof moes verskyn. Die polisie vermoed hy het landuit gevlug.”

Johan het ’n vermoede wat gaan volg. Afgesien van die bewerings van groot bedrae omkoopgeld aan die Duitse ThyssenKrupp in die laat negentigerjare, was daar ook aantygings van omkopery teen Franse maatskappye by die aankoop van wapens deur Suid-Afrika.

“Ambassadeur, Pillay het voor jou termyn belangrike samesprekings met regeringslui in Parys gehad. Ons wil hê enige bewyse van daardie ontmoetings moet opgespoor word. Verstaan? Jy het in die parlement beweer dat jy kennis dra van wie die rolspelers in die beweerde bedrog- en omkoopaantygings is. Wel, jy weet nie. Jy gaan alle moontlike bewyse in die ambassade vind, ons laat weet wat dit is, en ons sal dan opdrag gee wat jy daarmee moet doen. Dis ’n opdrag. En as Pillay op ’n manier by julle uitkom, moet hy sonder versuim aangehou word en jy moet my summier kontak.”

Daar is ruk lank stilte.

“Ambassadeur Cloete, verstaan jy?”

“Ek hoor jou. Ek sal uiteraard laat weet as hy ons kontak. Is daar aanduidings dat hy op pad Frankryk toe is?”

Johan glimlag. Hier kom ’n lekker toets vir Nerine Cloete se lojaliteit. In Suid-Afrika word sy as Ms Clean beskou, die een wat al die korrupsie en bedrog kwansuis sou ontbloot en skuldiges aan die kaak stel. Nou word sy effektief gemuilband. Dit gaan regtig interessant word.

“Ons weet nie. Daar is geen rekord dat hy die land verlaat het nie. Sorg jy net dat daar nie onwelkome inligting uit die Suid-Afrikaanse ambassade lek nie.” Daar is weer ’n lang stilte.

“Daar is nog iets, ambassadeur Cloete.”

“Sê maar.”

“Ons het verneem dat daar foto’s van die staatspresident bestaan wat in Parys geneem is. Jy moet daai foto’s probeer kry. Dis in landsbelang. Niemand anders weet van hierdie opdrag nie.”

Dan beëindig die man die gesprek. Johan hoor hoe Nerine haar gehoorstuk eers ’n paar sekondes later neersit. Hier kom pêre. Hoe gaan sy dít hanteer? Die onbekende beller is beslis een van haar seniors en die ou is nie baie diplomaties en taktvol nie.

Johan gaan staan weer op die balkon. Sedert sy aanhouding het hy ’n konstante behoefte om in die buitelug te wees. Dit is 23 Augustus en die Franse hoofstad is lekker warm. Hy sien hoe mense langs die Seine drentel. Miskien kan hy bietjie in die son kom. Hy stap na Janet Naidoo se kantoor om te sê dat hy uitgaan, toe sy eie telefoon lui. Hy skrik ietwat toe hy die ambassadeur se stem hoor.

“Johan, kan jy asseblief onmiddellik na my kantoor toe kom? Daar is iets wat ons dringend moet bespreek.”

Johan Castelyn kan nie anders as om eers ’n slag in die spieël te kyk nie. Hy stap met ’n vonkel in sy blou oë na die ambassadeur se kantoor toe.

“Die ambassadeur sal jou nou sien.”

Die Suid-Afrikaanse buitelandse assistent, Charize, wat as sekretaresse en persoonlike assistent vir die ambassadeur diens doen, glimlag vriendelik. Sy staan effens terug om Johan die kantoor binne te laat. Johan is so bewus van Charize se borste dat hy oorkompenseer en in die deurkosyn vasloop. Charize bly diplomaties glimlag. Vir Johan het sy die selfversekerdheid van iemand wat gelukkig is met haarself en haar voorkoms. Daar is seker iemand wat haar gelukkig hou. Dit frustreer hom.

Ambassadeur Cloete sit en skryf by haar lessenaar toe hy by die kantoor ingaan. Die vertrek ruik na vars blomme. Sy staan op en nooi hom na die sitkamergedeelte. Hulle gaan sit, ’n glas-koffietafel tussen hulle.

“Johan, hoe gaan dit?” Sy glimlag vriendelik. “Is jy gelukkig met jou plasing hier?”

Die oogkontak is gemaklik en kenmerkend van iemand wat gereeld en maklik met mense omgaan.

“Ja dankie, ambassadeur.”

“Jy is alleen hier, nè? Geen familie nie? Kan ek vir jou koffie aanbied?”

“Graag. Dankie, ambassadeur.”

Sy staan op en stap tot by die deur.

“Charize, sal jy vir ons koffie bring asseblief?” Sy maak die deur toe en gaan sit weer by Johan.

“Johan, ek het ’n opdrag vir jou.”

“Hoe kan ek help? Is dit handelswerk of ander werk?”

Nerine glimlag. Van die diplomatieke personeel by die ambassade is sy die enigste wat weet dat hy onder dekking werk.

“Dis ander werk. Ek wil vir jou, eerder as jou kollegas, vra om my te help. Hierdie is ’n uiters geheime saak en ek vertrou dat dit tussen ons sal bly. Dit móét tussen ons bly.”

“Vertel my meer. Ek kan doen met ’n bietjie opwinding. Ek is reeds ietwat verveeld met die kantoorlewe.”

“Dis ongelukkig nie so opwindend nie.”

Sy swaai haar een been oor die ander en merk dat sy oë die beweging volg.

“Johan, ek het opdrag gekry om alle rekords van ’n besoek aan die ambassade te vind en te vernietig. Dis van omtrent ’n jaar gelede. Jy sal miskien weet dat daar al in die parlement gepraat is oor die aankoop van die wapens en dat daar beskuldigings van omkopery is.”

Sy kyk na die deur toe. Effens senuagtig.

“Ek moet jou in my vertroue neem. Ek weet nie wat jou eintlike opdrag hier in Frankryk is nie. Ek wil ook nie weet nie. Maar ek weet jy is ook nog maar kort hier, en dat jy nie ’n tropdier is wat maar net saam met die stroom beweeg nie.”

Johan vind dit moeilik om verbaas of geïnteresseerd voor te kom. Hy weet reeds wat sy gaan sê, maar nou moet hy toneelspeel. Nerine leun na hom toe en praat sagter.

“Die hoofonderhandelaar in die wapentransaksie het verdwyn. Hulle vermoed hy is landuit. Die Geheime Diens is op sy spoor en ons is gevra om uit te kyk vir hom.”

Dit wil vir Johan voorkom asof die geharde politikus nou ietwat versigtiger optree, asof sy raad wil vra.

“Jy weet dat ek hierdie hele storie aan die publiek wou oopvlek. Die wapenaankope.”

“Ek verstaan. Ek is bewus daarvan.” Hy kyk vinnig na haar en fokus dan op die blomme op die tafel. “Het gewonder hoekom hulle jou uit die land uit wil hê.”

“Ek het nooit gesê ek gaan stilbly nie. Ek is die laaste een wat iets onder die mat wil vee, maar nou word ek beveel om bewyse te soek en daaroor stil te bly.”

Haar stemtoon styg en sy praat al vinniger. Johan kan sien dis vir haar ’n gewetensaak en dat sy nie weet hoe om dit te hanteer nie.

“Ek weet nie met wie ek daaroor moet praat nie. Die ander diplomate sien my as ’n politieke aanstelling en vertrou dat ek met die regering ingeklits is en ’n direkte lyn na hulle toe het.”

Daar is ’n klop aan die deur. Charize verskyn met ’n silwer skinkbord met koffie. Johan se vinnige opstaan om die skinkbord te neem word met ’n mooi glimlag begroet. Hy moet konsentreer om nie die koffie te laat stort nie.

“Maak weer die deur toe, Charize,” sê Nerine ferm. Nadat sy die deur toegemaak het, is dit asof Nerine sukkel om verder te praat.

“Ambassadeur, jy moet doen waarin jy glo. Ons kan nie opdragte verontagsaam nie, maar ek dink jy moet met iemand daaroor praat as jy gewetensbesware het. Onthou net dat daar mense is wat om oorlewing veg en as Pillay dinge laat uitkom …”

“Ek moet alle bewyse van ’n moontlike besoek deur die president vind, dit rapporteer en dan word dit miskien vernietig. Dit beteken seker notules, rekords van besoekers …”

Sy word stil en kyk by die venster uit. Dan weer na hom.

“Boonop is daar skynbaar foto’s van die president geneem toe hy in Parys was. Die opdrag aan my is dat ek moet vasstel of daar foto’s bestaan. Come hell or high water. Is dit nou wat ’n ambassadeur moet doen?”

“Watse foto’s? Is hy ontevrede met hoe hy op die foto’s lyk? Ek neem aan dit was nie toeristiese foto’s voor die Eiffeltoring nie. Miskien was die beligting nie goed nie.”

Sy kyk onthuts na hom toe hy dit met ’n glimlag sê.

“Ek wil dit nie doen nie. Eers wil ek self uitvind wat die storie met die foto’s is, maar ek wil hê jy moet help om bewyse van die besoek op te spoor. Laat my weet as jy iets vind en dan praat ons weer.”

Dis asof sy nie meer die saak verder wil bespreek nie. Sy staan op en gaan staan by die venster. Johan staan op. Hy staan ietwat ongemaklik deur se kant toe, maar weet nie of die gesprek verby is nie. Sy sien hy wag.

“Dankie, Johan. Kyk asseblief wat jy kan vind sonder dat enige van die ander personeel daarvan weet. Moet niks wat jy vind vernietig nie. Jou kollegas sal seker iets op rekenaar daaroor hê. Ek wil dit graag alles eers sien.”

Hy weet die spoke sal beslis oor rekords beskik, maar om dit by hulle te kry, gaan ’n ander storie wees.

“Dankie, dit sal al wees vir nou.”

Johan weet hier kom moeilikheid. As die ambassadeur nie die opdragte uitvoer nie, gaan hulle haar vinnig terugroep. Dit sal ook die einde van sy Europese ekskursie beteken. En hy het soveel om in te haal na sy tyd in die gevangenis.

Hy stap traag terug na sy kantoor toe. Hy weet hy moet wikkel om te hoor vir wie die ambassadeur nou gaan bel, want dit sal haar intensies duidelik maak. Sy verslae moet genoeg vleis hê en hy moet sy eie opdrag op so ’n wyse uitvoer dat hulle tevrede is met sy werk.

Johan stap met die brandtrap op na die vyfde verdieping. Sy knieë voel lui en asof hulle nie lekker wil saamwerk nie. Dis hoog tyd dat hy weer tyd maak vir oefening en ’n tennismaat soek.

Hy is net betyds om te sien hoe Janet, sy kollega, by hul gesamentlike buitedeur uitglip. Sy het hom nie gesien nie en hy wonder waarheen sy so vinnig op pad is. Hy het al gewonder of sý hom dophou of sy oproepe afluister. Wat ’n fokken sirkus!

Hy skud sy kop en tik die slotkombinasie van hul veiligheidsdeur in. Daar is niemand in die ontvangsarea nie en die ander deure is gesluit. In sy kantoor gaan sit hy agter sy lessenaar. Die mikrofoontjie onder die ambassadeur se lessenaar is so sensitief dat dit haar hele kantoor dek. Gelukkig is daar volvloertapyte, anders sou haar hoëhakskoene hom mal maak.

Johan wil sien wat op Nerine se rekenaarskerm aangaan. Hoe laag het hy nie gedaal om nou te moet voyeur speel nie. Hy kan hoor hoe Nerine uit haar privaatbadkamer na die lessenaar stap. Tog jammer hy kon nie kameras laat installeer nie. Hy kan hoor hoe sy gaan sit, ’n laai ooptrek en dan is daar ’n klank soos ’n papiersak wat oopgemaak word of papier wat opgefrommel word.

Enkele minute later is daar ’n oproep op die ambassadeur se selfoon. Johan herken nie die vrou se stem nie. Dit klink nie na ’n Suid-Afrikaner nie, maar dis ook nie ’n duidelike Franse Engels nie. Hy kan kommer in Nerine se stem hoor. Die stemtoon is weer hoog.

“Kan ons dringend ontmoet? Ek moet met julle praat.”

“Sesuur in die foyer van die Hilton. Kom alleen.”

“Ek maak so,” sê Nerine, steeds met ’n ontstelde stemtoon. “Ek sal verkies as niemand ons sien nie. Ek weet nie wie ek kan vertrou nie. Kanse is goed dat hulle al my gesprekke hier afluister.”

Johan glimlag. How right you are. Hy is egter bekommerd dat hy dalk nie die enigste een is wat haar afluister nie. Wie gaan almal by die hotel opdaag? Nie eintlik ’n vreeslik geheime plek nie. Daar moet ’n goeie rede wees. Dit maak dit wel vir hom moeiliker om onsigbaar te bly. Sy weet skynbaar wie sy gaan ontmoet, so hy hoef hom hopelik nie oor haar veiligheid te bekommer nie. Dis in elk geval nie sy werk nie.

*

Dis halfses in die middag. Johan het homself met ’n gin en tonic en ’n Franse koerant in een van die sagte stoele van die Hilton-hotel se foyer tuisgemaak. Eintlik is dit sy tweede gin en tonic. Die eerste het hy in die hotel se kroeg weggeslaan nadat hy die foyer eers goed gefynkam het.

Die beste plek is onder ’n palmboom in die hoek, en die koerant sal hy, soos talle spioene voor hom, as skerm gebruik wanneer nodig. Johan glimlag as hy homself in die spieël sien. Dis soos ’n speletjie vir grootmense. As dit net nie so ’n ernstige storie was nie. Hy het selfs sy vermomming aan, soos hulle hom op die plaas geleer het. Tydens die opleiding het Ms Basset hom onder hande geneem en gewys hoe. Snor en ’n bril, sy hare agtertoe gejel en plat op sy kop. Hy het selfs gekleurde kontaklense in. Hy voel soos iemand in ’n fliek. Sal die koerant maar meeste van die tyd redelik hoog hou.

Sy groot probleem gaan kom as die gespreksgenoot vir Nerine tot in die hotel laat kom, en haar dan na ’n ander bestemming neem. Boonop is die kanse goed dat iemand anders ook die foyer dophou.

Daar is min mense in die foyer. Eintlik is die Hilton meer gewild onder toeriste as sakelui en diplomate. Die onooglike, moderne gebou is reg langs die Seine en naby die Eiffeltoring. Tot dusver het Johan nog net Amerikaanse toeriste in die kroeg en voorportaal gehoor. Hy het sy sitplek so gekies dat hy die ingang kan dophou in ’n area waar niemand verby kan loop nie.

Hy het reeds die enigste kelner vriendelik weggewuif en vir hom gewys hy is nog gelukkig met sy drankie. Tog kyk die man syns insiens onnodig baie in sy rigting. Sou sy Basset-bakkies dalk te opvallend wees?

Teen vyf voor ses begin Johan ongeduldig raak. Daar het slegs enkele mense ingekom en die meeste het weer vertrek. Skuins oorkant hom sit ’n ouer man met ’n jong meisie. Hopelik sy dogter. Naby die klavier is daar nog twee ouer paartjies, duidelik Amerikaanse toeriste. Welgesteld genoeg om nie deur die ongunstige dollar-euro-wisselkoers gepla te word nie. Eintlik is dit nog te vroeg vir skemerdrankies, veral in die somer. Seker hoekom daar nie meer mense is nie.

Stiptelik om sesuur kom Nerine alleen die foyer binne. Met die eerste oogopslag herken hy haar amper nie. Dit is asof sy ook vermom is. Die gewoonlik styfgebinde hare is los oor haar skouers, sy het ’n informele rok en gemaklike skoene aan, en ’n donkerbril wat haar na ’n filmster laat lyk.

Sy kyk rond, dalk vir ’n oomblik te lank in sy rigting, en gaan sit dan ver van die ander mense af by die venster. Sy moes met openbare vervoer gekom het, want hy kan op sy selfoon sien dat die ampsmotor nie onlangs gery het nie.

Waar sy in die groot Louis IV-stoel sit, lyk sy vir Johan terselfdertyd broos en wêreldwys. Die kelner is vinnig by haar. Sy bestel iets, seker water, soos hy haar ken. Sy kyk kort-kort deur die venster na buite. Hy sal haar selfoon kan monitor, maar wat as die geheime kontak haar met ’n briefie elders heen lok?

Hy wonder of haar veiligheidswag weet sy is uit. Omdat die ou ’n plaaslik gewerfde is en haar eintlik net vergesel as sy die ampsmotor gebruik, kan sy hom maklik ontglip. Soos nou.

Johan raak nou moeg vir die kamstige koerantlesery. Nerine sit gelukkig met haar rug effens na hom toe, maar sy kyk gereeld in die vertrek rond. Sy tweede drankie is reeds na binne en hy begin rondkyk vir die kelner. Hy sien hoe die kelner vir die ambassadeur ’n bottel water op ’n skinkbord neem. Sou daar ’n boodskap by wees?

Op dieselfde oomblik verskyn ’n jong vrou in die deur van die foyer. Sy kyk vlugtig rond, talm ’n oomblik, en stap dan reguit na die ambassadeur. Wie op aarde is dit? Johan ken haar nie. Hy sal beslis nie kan hoor waaroor hulle praat nie. Daar was geen manier waarop hy ’n “bug” op Nerine kon plaas nie. Miskien as hy haar beter kan leer ken.

Terwyl hy kyk na die twee vroue met hul koppe dig bymekaar, raak hy skielik bewus van ’n man by die kroeg. Hy het hom glad nie vroeër opgelet nie. Boonop kyk die man sonder om te blik of te bloos na Johan.

Johan besef dat hy nie sy identiteit nou kan bekend maak nie. Hy moet so gou as moontlik daar wegkom. Hy kan later vasstel wie die vrou is. Dat sy en die ambassadeur mekaar al vroeër gesien het, is duidelik. Op een stadium het sy ’n lêer of boek uit haar aktetas gehaal en iets vir die ambassadeur gewys. In ’n rolprent sou hy wat Johan is seker ’n kamera kon uithaal en ’n foto daarvan neem, maar nou moet hy volstaan met die inligting en die hotel verlaat voor iemand hom herken.

Hy stap langs die Seine af. Oral is toeriste wat luilekker langs die stadigvloeiende rivier stap. Dis ’n lekker warm aand en Johan probeer hom verbeel hy is ’n toeris. Onwillekeurig stap hy in die rigting van die Eiffeltoring. Honderde toeriste drom in toergroepe saam en kinders hardloop op die groot grasperke rond. Hy kyk op na die ou struktuur en dink daaraan dat dit eintlik vreemd is dat ’n simpel staalstruktuur die simbool van die hoofstad geword het. Johan merk ’n vrou met ’n klein dogtertjie op haar skoot. Hulle praat en lag met mekaar op die grasperk. Hy sug diep en stap stadig verder.

Hy raak nou moeg vir sy alleenbestaan. Hy het so lanklaas ’n sagte vrouelyf teen hom gevoel dat hy vrees dat sy oordeel hom in die steek begin laat. Hy moes homself ’n paar dae tevore keer om nie aan die vrou voor hom in die trein se hare te raak nie. Dit maak ’n man ongebalanseerd en swak. Gefrustreerd en alleen stap Johan terug na sy woonstel.

Toe hy die deur van sy woonstel oopsluit, merk hy onmiddellik dat iets in die vertrek anders is. Hy stap vinnig en geluidloos na sy slaapkamer, maar daar is niemand nie. Op sy balkon wat op die rivier uitkyk, lyk alles dieselfde. Maar iets is anders. Hy kyk in sy kas en tik die kode van die kluis in. Ook daar is niks vreemd nie. Sy rewolwer en enkele dokumente is soos hy dit gelaat het. Johan is daarvan oortuig dat iemand in sy woonstel was. Hy besluit om daar en dan iets daaraan te doen. Hy bel sy kollega se selnommer.

“Janet, jammer om te pla. Ek bel nie graag na-ure nie, maar kan jy asseblief my woonstel so gou moontlik laat vee? Ek dink iemand het iets kom plant.”

In landsbelang

Подняться наверх