Читать книгу In landsbelang - Quintus van der Merwe - Страница 6

2

Оглавление

“Madam Speaker, this government is guilty of large-scale fraud and corruption! Miljarde rande van ons belastingbetalers se geld word op onnodige wapens uitgemors en individue raak skatryk daardeur. Ek gaan die bedrog voor hierdie parlement oopvlek, al is dit die laaste ding wat ek doen. Ek het name en verklarings van betrokkenes en niemand gaan my stilhou nie! Daar is mense in die parlement wat voordeel trek uit omkoopgeld!”

’n Rumoer en gelag is hoorbaar uit die agterbanke.

“Order! Order! Miss Cloete, I hope you can substantiate your allegations, because …”

Weer eens groot rumoer uit die agterbanke.

“Order! Honourable members of Parliament, order! We cannot continue the debate if you do not give the opposition a chance to state their case.”

Daar is ’n effense bedaring.

“Has the honourable member anything more to say? We need to move on with business.”

Die speaker van die Nasionale Vergadering gluur oor haar brilletjie na die jong parlementslid. Die agterbankers skree so hard dat Nerine Cloete ophou praat en gaan sit.

“Sy sal dit nie buite die parlement sê nie. Sy lieg!”

Toe sy weer opstaan om verder te probeer praat, staan van die agterbankers ook op en begin sing en dans en steur hulle nie aan die speaker se pogings tot orde nie. Sommige begin op die sitbanke toi-toi en skree beledigings vir die opposisielede.

Wanneer Nerine haar handsak vat en uitstap met die ander lede van opposisiepartye agterna, verander die gejou in ’n gejuig. Sy wil met niemand praat nie en ignoreer lede van die media wat haar probeer voorkeer. Buite stap sy weg van haar kollegas en pyl op die parkeergarage af. Sy moet wegkom.

Nerine Cloete is op 33-jarige ouderdom een van die jongste en mees talentvolle politici in die nuwe, demokratiese Suid-Afrika. Sy het nie alleen ’n briljante akademiese agtergrond nie, maar het danksy haar goeie voorkoms en aangename persoonlikheid die vermoë om mense van haar te laat hou en na haar te laat luister. As ’n bruin mens wat apartheid eerstehands ervaar het, het sy egter ook ’n vasberadenheid en hardkoppigheid. Sy is daarvoor bekend dat sy nie skroom om die president en kabinetslede aan te vat wanneer sy van hulle verskil nie.

Net voor sy in haar motor klim, is die parlementêre verslaggewer van die Mail & Guardian voor haar.

“Mejuffrou Cloete, ek moet u gou iets vra …”

Sy kyk geërg na die joernalis.

“Ja, meneer Hubert? Ek het regtig nie nou lus om met die media te praat nie.”

“Mejuffrou Cloete, ons kan dit off the record doen, maar ek moet weet of u nuwe inligting bekom het oor die wapenaankope.”

Sy kyk vinnig om haar. Geen fotograwe of ander joernaliste naby nie. Ivor Hubert is een van die mees ervare verslaggewers in die land. Hy is een van die min joernaliste wat met insig oor die regering se wapenaankope skryf. Sy kan hom gebruik.

“Ek het inderdaad. Nie almal in die regerende party stem saam met die korrupsie en bedrog wat nou die norm geraak het nie.”

“Het iemand inligting aan u gelek, mejuffrou Cloete?”

Sy gaan staan teen haar motor en vou haar arms.

“Kom ons sê iemand uit die inligtingswêreld het inligting aan my verskaf. Maar moenie my daaroor aanhaal nie, want as jy dit doen, sal ek dit ontken.”

“U is nie bereid om die bron bekend te maak nie?”

“Meneer Hubert, ek weet die media is belangrik. Julle mense is ons enigste behoud. Die regering se meerderheid is so groot dat hulle maak soos hulle wil. Die opposisie en parlement het eintlik ’n klug geword. Wat mense soos ek en jy doen, is van die uiterste belang om ons kwynende demokrasie lewendig te hou. Daarom werk ek wel graag met jou saam, maar ek kan nie hierdie inligting nou aan jou bekend maak nie.”

“Ek verstaan, maar ek gaan wel daaroor skryf. Ek het my eie bronne, maar laat weet wanneer jy wél wil praat.”

Sy knik en klim in haar motor. Minute later het die swart Honda Pleinstraat verlaat en is sy op pad N2 toe. Amper twee uur later lê Genadendal se berg wit van die sneeu voor haar. Sy maak die venster oop en ruik die vars lug van die vallei. By die brug op pad na die historiese werf van die Morawiese kerk hou sy eers stil. Die Baviaansrivier vloei sterk. Die geraas van die rivierklippe wat voortgespoel word, voer haar terug na lang somers hoër op in die rivier se poele.

Sy het ’n dag of twee hier by haar ma nodig om weer krag op te bou vir wat voorlê. Sy weet dit gaan ’n moeilike pad wees. Daar is baie rolspelers wat sal probeer verhoed dat sy besonderhede van die inligting wat sy onlangs oor die wapenaankope bekom het, openbaar maak.

Nerine ry tot by die ou kerk en parkeer haar motor onder die bome op die plein. Toe sy uitklim, hoor sy die onmiskenbare klanke van die basuinorkes wat oefen. Haar tuisdorp is onlosmaaklik aan musiek gekoppel en sy het as jong meisie saksofoon in die orkes gespeel. Later het sy weekliks Kaap toe gegaan vir meer gevorderde musieklesse totdat die kerk besluit het bruin mense mag nie in die Groote Kerk oefen nie.

Alhoewel sy aan die Universiteit van Stellenbosch verder kon studeer, het sy nooit vrede gemaak met hoe teenoor haar en ander landgenote gediskrimineer is nie. Dit is grotendeels hoekom sy tydens haar studentejare ’n politieke aktivis was en waar die saadjie vir haar loopbaan gesaai is.

Sy stap na die restaurant en sien langsaan is daar nou ’n gastehuis. Van die rivier se kant kom twee mans aangestap. In die stad sou sy onmiddellik versigtig wees, maar iets in die mans se houding stel haar gerus. Sy wil by die restaurant ingaan om te sien of daar iets is wat sy vir haar ma kan koop vir ete, maar gaan staan as een van die mans haar roep.

“Middag, mevrou. Smart kar. Hulle pay mos goed by die parliament. Is djy hier op biesigheid of net ’n tourist? Nog nie te grênd geword vir ons Genadendalers nie.”

Sy herken nie die mans nie, maar aanvaar hulle het haar op TV gesien.

“Goeiemiddag. Ek kom net vir die naweek by my ma kuier.”

Hulle kyk haar op en af. Sy het nog dieselfde swart broekpak van die parlementsitting aan en voel skielik ontuis in die duur klere.

“Wies djou ma?”

“Hester Cloete. Hester Cloete van Bergstraat. Ek het hier grootgeword. Wie is julle?”

“Nei, ons ken vir tant Hester. Ons weet wie mevrou ook is. Mevrou moet daai politicians goed in hul moer stuur. Vir wat het ons al daai fancy airplanes en skippies nodig? Is hulle bang ou Mugabe val ons aan? Nee, ons wiet mevrou. Dis virrie kickbacks. Ammal wil vinnig ryk raak, maar ons sit hier sonner jobs en die kinners gebruik tik en die grootmense suip. Pleks hulle gee ons hyse. Jy moet ons help, mevrou. Vertel hulle hoe ons suffer.”

“Ek doen my bes. Wat is jul name?” Nerine onderdruk ’n glimlag.

“Dis Willem. En hierie een is Frans, my broer,” en hy wys na sy swygsame broer.

“Ek gaan hulle goed op hul tone hou. Ek belowe.”

Sy groet vriendelik en glip by die restaurant in. Dit raak laat en sy wil haar ma met iets lekkers verras. Soos altyd voel sy op haar gemak by haar ma. Dis die enigste plek waar sy regtig kan ontspan. Sy kon met haar laaste besoek sien haar ma beweeg moeisaam en besef dat sy nie lank meer alleen sal kan woon nie.

Nerine ry stadig deur die arm woonbuurt. Sy waai vir die kinders wat na die vreemde motor staan en kyk. Die huis sit teen die heuwel en daar is ’n mooi uitsig oor die riviervallei. Die nedersetting het sy ontstaan te danke aan die beskikbaarheid van water. Morawiese sendelinge het langs die rivier ’n klein stukkie Europa kompleet met ’n plein langs die kerk probeer herskep. Oor die jare het hulle grotendeels daartoe bygedra dat die inwoners ’n goeie opvoeding gekry het.

Hier kon die bruin inwoners, ver van die stad, goeie onderwys en musiekopleiding ontvang. Die werkloosheid en armoede en gepaardgaande probleme dreig egter om die besondere karakter van haar geliefde geboortedorp finaal tot niet te maak.

Na hulle klaar geëet het, gaan sit hulle op die stoepie.

“Óf ma kom woon by my in die Kaap óf ek kom woon hier. Jy kan nie meer so alleen aangaan nie. Wat as jy val of iets anders gebeur?”

“Ek bly net hier. Ek gaan nie uit die vallei uit nie. Wat moet ek in daai Sodom en Gomorra gaan doen? Ek hoor niks goed …”

Nerine se selfoon onderbreek haar ma. Sy herken nie die nommer nie, maar sien dis van die sentrale deel van Kaapstad en besluit om te antwoord.

“Ms Cloete. The President would like to speak to you.”

Sy stap vinnig na buite. ’n Paar minute later kom sit Nerine sprakeloos by haar ma.

“Ma, die president wil my as ambassadeur Parys toe stuur.”

“Was dit die president? Ambassadeur? Nerine …”

“Wat moet ek doen? Dis ’n groot eer en ek sal graag ons land wil verteenwoordig, maar hoekom kies hy vir my? Ek is een van die regering se grootste kritici.”

Haar ma kyk met ’n glimlag na Nerine.

“As ek dit aanvaar, moet ek binne twee weke vir opleiding Pretoria toe gaan. Hulle wil hê ek moet so gou moontlik begin. Ek moet Maandag al aandui of ek die aanstelling aanvaar.”

Teen Sondagaand en na talle gesprekke en lang wandelings langs die rivier, weet Nerine wat sy gaan doen.

“Ek is bly jy gaan, Nerine. Dis ’n groot eer. Miskien kan jy meer bereik met ’n internasionale gehoor. Dinge begin nou so vinnig agteruitgaan in die land van ons. En die opposisiepartye is so klein, die regering steur hulle tog nie aan julle nie.” Sy kyk trots na Nerine.

“Dan kom kuier ek vir jou daar annerkant in die vreemde.”

“Miskien is ma reg. Ek kan seker altyd terugkom en hier verder vir ons mense kom veg. Miskien is ’n verandering goed.”

Sy klink nie baie seker nie.

“Mense gaan seker sê dat ek my beginsels verloën en ’n meeloper van die regering word, maar ek gaan nie ’n politieke party verteenwoordig nie.”

“Jy gaan jou land verteenwoordig, Nerine.” Haar ma glimlag bemoedigend.

“En ma gaan sommer by my kom woon daar in Parys.”

Hulle sit en gesels nog tot laat op die stoep. Later in haar bed tel sy twaalf slae van die kerkklok. Sy weet sy kan die uitdaging nie weerstaan nie.

In landsbelang

Подняться наверх