Читать книгу Die AA tot OE van seks - Riette Rust - Страница 11

Оглавление

Hy wil, jy wil nie. Jy is eenvoudig te moeg, te gestres, en dalk nog wrokkig ook. Jy het ’n loopbaan, én jy behartig die huis en die kinders alleen. Terwyl jy jou doodwerk, is seks ál waaraan jou maat kan dink. Dié dat jy vir hom sê: “Ek het hoofpyn.”

Jou dag op kantoor was lank. Daarna moes jy vir Boetie help om sy skoolboeke oor te trek, ’n skoolhemp vir Sussie stryk, die kos maak … Seks is die allerlaaste ding waaraan jy wil dink. Deesdae beteken dit in elk geval vir jou net nóg werk.

Welma de Reuck* van Durbanville is een van die vroue wat wrokkig voel omdat haar man saans ná werk “lekker voor die televisie ontspan” terwyl haar werkdag nooit eindig nie. “Dís die oorsaak van my lae libido,” sê sy vies. Welma is 39 en al 15 jaar met Pieter* (42) getroud.

“Pieter is steeds aantreklik en ek is baie lief vir hom, maar ek het nie meer krag vir seks nie. Ons het albei besige loopbane en saans wil ek graag aandag aan ons kinders gee. Natuurlik moet ek dan kos ook maak,” vertel Welma.

“In die begin van ons verhouding het ek nie seks geïnisieer nie, maar genoeg energie daarvoor gehad. Ek het wél soms gesukkel om ’n orgasme te kry, seker oor ek konserwatief grootgeword het.

“Pieter het altyd ’n hoë libido. Wanneer ons vassit, is dit meestal oor te min seks. Deesdae kry ek omtrent nooit meer ’n orgasme nie, ek fake dit selfs soms, net om hom gelukkig te hou. Naweke dink ek net aan rus en slaap.

“Ek kan voel hoe ons uitmekaar dryf. Veral oor sy aanrakings so skaars is; hy raak net aan my wanneer ons op pad is om seks te hê. Al is ons verhouding heel gelukkig, sou ek tog wou hê dat hy die huiswerk en verantwoordelikhede met die kinders deel.

“Dinge kan nie langer so aangaan nie, ek vrees die einde van ons huwelik.”

As jul sekslewe, soos die De Reucks s’n op die vorige bladsy, nie bevredigend is nie, sal julle ’n daadwerklike poging moet aanwend om dit te verbeter. So nie, gaan intimiteit, emosioneel en seksueel, verlore. En kan dit jul verhouding ernstig skaad.

Welma is wrokkig teenoor haar man en hierdie passiewe aggressie kan tot ’n gebrekkige belangstelling in seks lei. Pieter raak buitendien net aan haar wanneer hy seks in gedagte het. Hy is ook nie ingestel op haar ander behoeftes en emosies, soos dat sy ’n orgasme kry of oorwerk is, nie. Dalk vrees Welma soos baie ander vroue boonop ’n swangerskap of onderdruk die verkeerde voorbehoedpil haar libido.

Ja-nee, vroulike seksualiteit is so kompleks dat ’n pilletjie nie sal help as jy voel jou maat gee jou nie genoeg aandag of liefde nie. Seker dié dat daar (nog) nie ’n vroulike Viagra op die mark is nie. Ander pille wat beloof om jou libido ’n hupstoot te gee, soos dié met ginseng, dra eerder tot jou algehele welstand by. Hierdie middels sal nie help as manlief nie die vullisdrom wil uitdra of handjie bysit met die skottelgoed nie!

WAT IS ’N LAE LIBIDO?

Jy het ’n lae seksdrang. Dit beteken dat jou behoefte aan seks maar klein is, of dat jy glád nie ’n behoefte aan seksuele bevrediging het nie. Daar is selfs vroue wat sê dat hulle eerder ’n koppie tee drink of ’n boek lees as om seks te hê!

Daar is nie noodwendig iets fout met Welma hier bo of met jou nie. Dis heeltemal normaal dat jou seksdrang soms wissel. As dit tydelik is, hoef jy nie bekommerd te wees nie. Veral groot fisieke veranderinge, soos swangerskap, die menopouse en siekte, kan ’n rol speel. Ander faktore is meer sielkundig van aard, waaronder stres (en moegheid) en verhoudingsprobleme. Jy en jou maat sukkel dalk om behoorlik te kommunikeer, of jy voel nie veilig in jul verhouding nie, julle vertrou mekaar dalk nie, jy is wrokkig oor onopgeloste konflik, of jul verhouding het ’n gebrek aan emosionele intimiteit.

Indien jou libido ’n negatiewe uitwerking op jul verhouding het, behoort julle professionele hulp te kry. Raadpleeg jou dokter, ’n seksuoloog en/of ’n sielkundige.

Jou libido is nie ’n maklike saak nie, want voor jy seksueel geprikkel kan word, moet jy eers fisiek en emosioneel ontspanne wees – dis in die vroulike aard!

HOEVEEL VROUE LY DAARAAN?

’n Lae libido is die algemeenste seksuele probleem onder vroue. Nagenoeg 40 persent van ons sukkel in die een of ander stadium daarmee. Só sê verskeie bronne, waaronder USA Today, wat hul navorsingsresultate op hul webwerf, usatoday.com, bekend maak. Suid-Afrikaanse statistieke hieroor is nie beskikbaar nie, maar ons seksuoloë reken tussen 80 en 90 persent van die vroue wat hulle kom sien, kla oor ’n lae libido.

Daar is nie so iets soos ’n normale aantal kere wat jy seks behoort te hê nie; dit hang af van hoeveel vir jou en jou maat genoeg is. Health24 se sekspeiling van 2010 onder Suid-Afrikaners wys byna 11 persent van die vroue het in die voorafgaande maand een keer per week seks gehad, net meer as 22 persent tussen vyf en nege keer, en byna 25 persent 10 tot 19 keer. (Net 1,5 persent van die respondente was ware bedatlete wat dit die maand meer as 30 keer gedoen het.)

In dieselfde peiling het 31,5 persent van die vroue hul belangstelling in seks as “gemiddeld” aangedui, en sowat 19 persent het ook hul genieting daarvan as “gemiddeld” bestempel. Daarby inisieer net onder 52 persent van ons “net soms” seks, en 41 persent neem gereeld die voortou.

HOEKOM IS SÝ LIBIDO HOËR?

Omdat jou maat se testosteroonvlak veel hoër is as joune, is hy gewoonlik meer aangevuur tot seks as jy. Dit beteken nie dat jy nie ook ’n seksdrang het of nie seks geniet nie. Jou seksdrang kan vanweë ’n hoë testosteroonvlak – ja, jy het ook dié hormoon – selfs hoër as syne wees. As jou testosteroonvlak te laag is, daal jou libido. Jy kan ’n natuurlike testosteroonroom op jou vel aanwend of ’n inspuiting kry, maar vra eers jou ginekoloog hieroor, want sulke aanvullings is omstrede. As jy dit nie reg gebruik nie, kan jy manlike eienskappe soos hare op jou gesig kry. Testosteroon is ook nie ’n kitsoplossing nie.

WATTER UITWERKING HET JOU LIBIDO OP HOM?

Moet nooit uit die oog verloor dat jou lae libido ’n reuse-effek op jou maat het of kan hê nie. Mans het meestal ’n hoë seksdrang en daarom kan jou gebrekkige libido hom laat skuldig voel. Hy dink dalk hy is nie mans genoeg om jou seksueel behoorlik te kan bevredig nie, of dat hy vir jou onaantreklik is. Hy kan ook skuldig voel omdat sy lyf nie soos Brad Pitt s’n lyk nie. Depressie, stres en onderliggende woede kan ook voorkom.

Só het Johan van Zyl* (52) sy frustrasie per e-pos verwoord: “Daar is altyd duisende verskonings in tydskrifte wat ’n vrou vir haar kilheid kan gee. Maar as sy haarself van haar man weerhou, rig sy emosionele skade aan. Daarby dryf sy ’n wig tussen julle in en breek sy jou manlikheid (asook baie ander positiewe eienskappe) stuk vir stuk af. Nie alle mans wil rondloop om hul behoeftes te bevredig nie.”

OORSAKE EN OPLOSSINGS

Die oorsaak van jou lae libido is kompleks. Dit kan sielkundig óf fisiek wees. In sommige gevalle kan ’n kombinasie van sielkundige en fisieke oorsake ’n rol speel. Julle kan dalk ook verhoudingsprobleme hê. Die geheim is om so gou moontlik vas te stel wat jou gebrekkige libido veroorsaak en oplossings daarvoor te soek. Sou julle jul kwynende seks­lewe ignoreer, kan dit die einde van jul verhouding beteken.

A. SIELKUNDIGE OORSAKE

1. Jou inhibisies

Baie Suid-Afrikaanse vroue is seksueel geïnhibeerd, dikwels vanweë ’n konserwatiewe opvoeding, sê seksuoloë. Hierdie inhibisies is die gevolg van ’n lang geskiedenis van die seksuele onderdrukking van vroue, en tog verwag die samelewing dat ’n vrou, wanneer sy die dag trou, in ’n regte sekskat ontpop!

As jy een van hierdie ongelukkiges is, sal jy nie self jou negatiewe seksuele bloudruk kan verander nie, jy sal vir terapie moet gaan. Jy kan veral hipnoterapie oorweeg. Dis ’n vorm van ontspanning wat dit moontlik maak om die onbewuste – daar waar ook jou seksuele bloudruk vasgelê is – te ontgin. Só kan ongesonde gevolgtrekkings en besluite in gesondes verander word.

In terapie sal julle (ja, neem gerus jou maat saam) onder meer kan agterkom watter dinge volgens julle albei se waardes aanvaarbaar is. Dit sal verhoed dat jy tydens seks hoef te vra: “Jy wil wát?”

’n Lae selfbeeld kan ook ’n rol in jou gebrekkige seksbelangstelling speel. Jy is dalk selfbewus oor jou lyf en kan daarom nie seks geniet nie, maar as jy tuis in jou vel is, is jy vir jou maat aantreklik. Ook wanneer jy jou gedurende seks heeltemal kan oorgee. Hy sien nie jou selluliet raak nie en hou daarvan as hy kan hoor dat jy dit ook geniet!

Indien daardie ekstra kilogramme werklik vir jou ’n probleem is, leef dan net gesonder en oefen – ook vir seksuele energie. Dra klere wat jou sexy en mooi laat voel.

Ken jou lyf sodat jy vir jou maat kan vertel wat vir jou lekker is. (Jy mag – nee, jy moet! – jou plesiersones eers self ontdek.)

Versorg jouself; laat jou naels en hare doen. ’n Spa-besoek, gesigsbehandeling of massering kan ook help om jou in die bui vir seks te sit.

Voel sexy. Spuit parfuum aan, smeer handeroom aan, skaf sexy onderklere en nagklere aan. Dit sal jou daaraan herinner dat jy ’n aantreklike, sensuele vrou is en jy sal seksuele selfvertroue uitstraal.

Moenie van jou siel vergeet nie. Soos baie ander vroue jaag jy dalk so rond dat jy van jou innerlike vergeet. Word ’n slag stil. Of vul jou gees met boeke, toneel of musiek.

2. Jou ingesteldheid

Jou brein is jou belangrikste seksorgaan. Daarom moet jy jou kop reg instel. Besluit dat seks mooi en goed is en dat dit die gom van ’n goeie verhouding is.

Besluit doelbewus dat jy jou lae libido sál oorwin. Sê nou en dan vir jouself: “Ek is nie vanaand so moeg nie, ek gaan ’n bietjie moeite doen.” Gaan lê dan in ’n skuimbad en trek daarna daardie sexy pakkie aan. Jy sal positiewer voel.

Doen opwindende dinge, ook sonder mekaar. Positiewe dinge het ’n groot invloed op jou libido. Gaan spring valskerm of trotseer ’n haai (vanuit ’n hok onder die see, natuurlik). Sien uit na sulke hoogtepunte, leef in die oomblik. En vier prestasies.

Moenie gedurig summier nee sê vir seks nie. Jy sal verbaas wees oor hoe gou aanraking jou in die bui kan sit!

Moenie vir jouself sê “ag tog, ek hoop nie hy wil vanaand seks hê nie”, want dan sál jou lyf negatief reageer. Jy sal sug en onmiddellik dink: Dit beteken net nóg werk.

Pak jou selfoon weg. Jou maat sal goed weet as jy nie heeltemal dáár is nie.

Tegnologie, soos skootrekenaars en die televisiestel, hoort in elk geval nie in jul slaapkamer nie. Skakel ook jul selfone af wanneer julle uitgaan. Fokus dan net op mekaar.

Ondersoek die moontlikheid om buik- of paaldansklasse te loop. (Lees “Kom in voeling met jou innerlike sekskat” in Hoofstuk 11.) Dis goeie oefening, vind nie in ’n nagklub plaas nie maar privaat, en is ideaal om jou in voeling met jou innerlike sekskat te bring. Buik- of paaldansklasse kan vir jou selfvertroue gee en jou gemaklik in jou lyf laat voel.

Beproef ’n seksroom. (Lees “Orgasme in ’n buis” in Hoofstuk 8.) Die vervaardigers van hierdie rome beloof ’n verhoogde libido, groter seksuele plesier, vinniger en intenser orgasmes én veelvuldige klimakse.

Maar onthou, goeie seks is steeds afhanklik van die geleentheid, die omgewing en jul verhouding.

3. Stres

Jy kan nie stres uit jou lewe weer nie, maar jy kan jou lyf leer hoe om dit te hanteer: Leer ontspan, beoefen joga. Oefen gereeld, eet reg, leer om reg asem te haal en doen daagliks asemhalingsoefeninge. Sorg dat jy genoeg rus, slaap en alleentyd het. Mediteer: Raak stil en probeer om aan niks te dink nie.

Kom in die bui vir seks deur vir jouself te sê: “Ek verdien ’n bietjie plesier.” Vergeet dan tydelik van jou verant­woordelikhede.

4. Vorige trauma

Jy is dalk weens seksuele molestering of verkragting getraumatiseer en assosieer seks daarom met pyn, vernedering en/of geweld. Of jy het in ’n vorige verhouding baie seergekry. Wanneer jou maat nou oor iets in jul verhouding kla, kan dit jou herinner aan daardie trauma. Jy voel onbewustelik onveilig en vrees dalk dat hy jou kan verlaat of ’n ander verhouding sal hê. Jy onttrek jou seksueel aan hom.

Sielkundige terapie is noodsaaklik vir die hantering van die trauma. As jy jou gevoelens verdring, kan jou sekslewe, en dus jou verhouding, daaronder ly. Jy kan ook ’n slagoffer van ernstige depressie word.

B. VERHOUDINGSPROBLEME

As dit nie goed gaan in jul verhouding nie, is dit nie so maklik om seksueel geprikkel te word nie. Vir jou as vrou is daar ’n groot verband tussen seks en emosies.

As jy ’n lae libido het, ten spyte daarvan dat jy nog elke maand op dieselfde tyd menstrueer en daarom nie probleme met jou hormone het nie, en ook nie pyn tydens seks het nie, skort daar heel moontlik iets met jul verhouding.

As jy sukkel om ’n orgasme te kry wanneer julle wel die slag seks het, kan dit eweneens dui op verhoudingsprobleme, of daartoe bydra. Jou maat skeep dalk seksuele aanraking af. As jy nie ’n orgasme kry nie, voel jy miskien ook seks bied jou niks nie. Hy weer, voel ontoereikend.

Dalk het jul verhouding ’n gebrek aan intimiteit, seksueel of emo­sioneel. Goeie seksuele intimiteit beteken dat jul sekslewe bevredigend is en dat julle seksueel niks terughou nie. Julle word een in liggaam, siel en gees. Albei voel geborge en het mekaar onvoorwaardelik lief. Julle deel nie net passie nie, maar ook pret en speelsheid.

Goeie emosionele intimiteit beteken dat julle verbind is aan mekaar, gereeld intiem verkeer sonder om altyd seks te hê, jul diepste fantasieë met mekaar deel en weerloos by mekaar kan wees. Wanneer emosionele intimiteit afneem, neem kommunikasie ongelukkig ook af. Sonder emosionele intimiteit kan jul verhouding ernstig skade ly.

Kommunikasie is seker die belangrikste vereiste vir ’n goeie sekslewe. Sê iets soos: “Liefie, ek wil graag meer tyd saam met jou hê, daarom sal dit my baie help as jy saans die kosblikke pak terwyl ek vir Boetie met sy huiswerk help.”

Lees na oor seks en hoe om oor bedsake te gesels. Kry die regte inligting en woordeskat, dan is dit so eenvoudig soos om gewoonweg te praat. Wees slim, neem jou maat uit vir ete en vroetel onder die tafeldoek aan hom. Sê jy wil gesels oor hoe hy jou nog beter kan vervul en dat jy graag sal wil hoor wat sy eie behoeftes is.

Dis normaal om bang te wees vir verwerping, daarom moet jy praat nog lank voordat julle in die bed klim. As jy dit steeds nie kan regkry om oor bedsake te praat nie, kan ’n seksterapeut jou help – ook indien jy nou, ná al die jare, skielik vir jou maat wil sê dat dinge soos hy dit nog altyd in die bed gedoen het, nie vir jou werk nie. Of dat jy nog altyd jou orgasmes nagemaak het. As dié sake nie met professionele hulp hanteer word nie, kan jou maat dalk dink: Waaroor jok sy nóg vir my? Só kan sy vertroue in jou ’n knou kry.

Maak tyd vir seks. So nie, kan jul huwelik intuimel. Tyd saam beteken “ek heg waarde aan ons saamwees, jy is vir my belangrik”. Dit beteken dat julle net op mekaar ingestel is. Julle kan in mekaar se oë kyk, met mekaar flirteer, mekaar verlei, saam lag en gesels. Dink terug aan toe julle pas begin uitgaan het. Jy het baie tyd vir hom gehad (en hy vir jou) en jy het ekstra moeite met jou voorkoms gedoen.

Alleentyd kan maak dat julle mekaar weer vind en ’n gevoel van veiligheid en vertroue skep. Dié tyd, minstens ’n halfuur per dag, ’n weeklikse afspraak en ’n wegbreeknaweek drie keer per jaar, is on-onderhandelbaar.

Stel grense vir jul kinders. Hulle moet weet Mamma en Pappa se kamer is “heilig” en dat hulle nie sommer daar kan inbars nie. Hulle moet besef dat julle alleentyd nodig het. Só leer hulle ook hoe waardevol en belangrik dit is om aan ’n huwelik te werk. (Onthou net om ook alleentyd saam met elke kind – weg van mekaar en van Pa – deur te bring.)

Jul slaapkamer is nie ’n plek vir kinderspeelgoed of vuil wasgoed nie. Maak dit sensueel: Speel mooi musiek, steek kerse aan, laat dit lekker ruik en gebruik pragtige lakens, soos dié van 600-draad- Egiptiese katoen.

WaarskuwingMoet nooit druk op mekaar plaas om seks te hê of net ter wille van jou maat toegee nie. Jou brein kry dan die boodskap dat seks nie lekker is nie, of dat jy dit nie wil hê nie. Só kan jou libido verder verlaag.Fokus eerder soms net op die sensuele, op vashou, soen en streel. Die goedvoelhormoon oksitosien vloei dan. Jou maat moet weet dat jy soms net vasgehou of gesoen wil wees, sonder penetrasie. Dit kan vir afwisseling ook vir hom lekker wees.

C. FISIEKE OORSAKE

Pynlike seks, vaginale droogheid, die menopouse asook siektes en medikasie kan jou libido verlaag.

1. Pynlike seks

Een uit elke vyf vroue ervaar pyn tydens seks. Verskeie mediese pro­bleme kan die oorsaak hiervan wees, waaronder vaginisme (of vaginismus), vaginale infeksies, velsiektes, endometriose, ovariële (eierstok-) siste, blaasontsteking of -probleme, ’n spastiese kolon, of vulvodinie (chroniese pyn in en rondom die vulva).

(a) Vaginisme

Vaginisme (sien “Wat is vaginisme?”) kan ’n sielkundige of fisiek-sielkundige oorsaak hê. Dis ’n groot probleem vir baie pare. Jy het dalk konserwatief grootgeword met die idee dat seks sonde is, of jy het vroeër seksuele trauma beleef, soos dat jy seksueel mishandel is. Dit lei daartoe dat jy seks met pyn assosieer en dat jou knypspiere tydens ’n poging tot penetrasie in spasma gaan. (Lees “Seks is seer” in Hoofstuk 3.) Klop by ’n seksuele gesondheidspraktisyn om hulp aan.


Die vroulike voortplantingstelsel

(b) Vaginitis

Vaginitis, oftewel inflammasie van die vagina, veroorsaak dikwels ontsteking. Die simptome verskil, maar ’n gejeuk, afskeiding en soms ook pyn of irritasie kom voor.

Daar is verskillende tipes vaginitis: Bakteriële vaginose word deur ’n wanbalans van bakterieë (wat normaalweg in jou vulva voorkom) veroorsaak. Sproei-infeksie word deur die (te ruie) gisswam Candida albicans veroorsaak. Dié swam kom in elk geval in jou vagina voor, meestal sonder simptome. Trichomoniase is nog ’n soort vaginitis wat deur ’n klein organisme, trichomonas, veroorsaak word.

As jy ’n afskeiding het waaroor jy bekommerd is, veral as dit jeuk, brand, sleg ruik of ’n snaakse kleur het, moet jy jou dokter of ginekoloog raadpleeg. As dit meer as een keer onsuksesvol behandel is, vra dat ’n vaginale depper vir ontleding weggestuur word. Moenie net blindelings aanhou met dieselfde antibiotikasalf of ander medikasie as dit nie werk nie.

(c) Endometriose

Wanneer endometriële weefsel (weefsel van jou baarmoederslymvlies) op organe buite jou uterus (baarmoeder) groei, soos op of in jou ovaria (eierstokke) en Fallopius-buise (die buise wat die eierselle van die ovaria na die uterus vervoer), op ligamente wat jou uterus ondersteun, of diep agterin jou uterus, het jy endometriose. Dit kan selfs jou organe aan mekaar laat heg. Siste kan ook vorm.

Endometriose word meestal gekenmerk deur erge menstruele pyn, chroniese bekkenpyn, pynlike seks en baiekeer ook onvrugbaarheid.

Die groeisels moet dikwels chirurgies verwyder word. Anti-inflammatoriese pynstillers kan die simptome help verlig. Die Mirena, ’n intra-uteriene apparaat (’n soort veer), die voorbehoedpil en progesteroonbehandeling kan ook help.

(d) Blaasontsteking

Ontsteking van jou blaas of blaaspypies kan jou urien laat brand en skerp laat ruik. Jy kan ook bloed daarin hê en heel moontlik pyn in jou laerug. Jy sal meer gereeld wil urineer.

Te nou blaaspypies, ’n te kort urienbuis, hardlywigheid of sommige antidepressante kan veroorsaak dat urien in jou blaas agterbly en bakterieë daar vorm. Besmetting uit jou eie dermkanaal kan ook ’n oorsaak wees, daarom moet jy altyd wanneer jy toilet toe gaan, van voor na agter afvee, nie andersom nie.

Jy sal meer geneig wees tot blaasinfeksie as jy swanger is, skielik meer as gewoonlik seks het, soos op jul wittebrood, te min sekshormone het vanweë die menopouse, of irriterende onderklere dra. (Katoen is die beste, want dit haal asem.) Sekere sepe, of deodorante spesifiek vir daardie intieme plekke, kan jou vel irriteer en dit kan dan soos ’n blaasinfeksie voel.

Gaan sien so gou moontlik jou dokter. Drink intussen baie water en maak jou blaas so goed moontlik leeg. ’n Urientoets sal bepaal of jy infeksie het of nie. ’n Spesifieke kursus antibiotika sal die infeksie laat opklaar. Navorsing wys dat bessiesap en spesiale bessiekapsules (in ’n vroeë stadium geneem) kan keer dat die infeksie vererger.

As jy herhaaldelik blaasontsteking kry, sal jou uroloog moet ingryp om byvoorbeeld jou blaaspypies onder narkose te rek.

(e) Spastiese kolon

Prikkelbaredermsindroom (spastiese kolon) kan pynlike seks veroorsaak. Simptome sluit in maagkrampe en abdominale pyn, opgeblaasdheid, asook hardlywigheid wat afgewissel kan word met diarree.

Jy kan dalk inflammasie en ’n wanbalans in jou derm hê; baiekeer as gevolg van ’n lang kursus antibiotika vir ’n ander siekte.

Gebruik probiotika om die natuurlike bakteriële balans in jou derm reg te stel. Drink baie water en rus genoeg. Heelwat kenners reken dat stres ’n rol in prikkelbaredermsindroom speel.

Gaan dokter toe as jy vermoed dat jy ’n spastiese kolon het. Jy sal heel moontlik krampwerende medikasie (soos Colofac of Buscopan) moet gebruik. Indien diarree ’n simptoom is, sal jy ’n teendiarreemiddel moet neem. Hardlywigheid kan hokgeslaan word met ’n massavormende middel (korrels wat vog absorbeer, uitsit en dermbeweging aanhelp).

Nuwer medikasie sluit in: pille wat serotonien in die dermkanaal naboots om só dermbeweging aan te moedig; medikasie wat vloeistofafskeiding in die dermkanaal bevorder; en antibiotika wat nie deur die dermkanaal opgeneem word nie (Rifaximin).

Jy sal moet oefen en ook gasvormende kos (soos uie, kool, droë boontjies, avokadopeer, sitrusvrugte, hawermout en klapper) uit jou dieet moet sny. Voldoende vesel is belangrik.

Maak seker dat geen ander medikasie, soos iets wat kodeïen bevat, jou hardlywigheid veroorsaak nie.

Stel vas of jy nie dalk laktose-intolerant is nie, want dan het jou liggaam nie die vermoë om laktose, ’n suiker wat in melk voorkom, behoorlik te verteer nie.

(f) Vulvodinie

Daar is nie een spesifieke oorsaak vir hierdie pyn rondom jou vaginale opening nie. Jy kon dalk die senuwees in die area seergemaak of geïrriteer het. Hormonale veranderinge, allergieë, chirurgie met komplikasies, vorige vaginale infeksies asook seksuele misbruik (ook in jou verlede) kan ’n rol speel.

Vulvodinie is nie gewoonlik ’n teken van kanker nie en is ook nie seksueel oordraagbaar nie.

Jy kan verskeie simptome hê, soos pyn, ’n kloppende en/of brandende sensasie, en/of ’n steekpyn in jou vaginale area. Ander kenmerke is rouheid, ’n gejeuk en pynlike seks.

Dis belangrik dat jy so gou moontlik jou ginekoloog raadpleeg om oorsake soos vaginale infeksie of diabetes uit te skakel. ’n Sielkundige kan help met angs, depressie en slapeloosheid, wat ook uit vulvodinie kan voortvloei.

Daar is verskeie behandelingsmetodes vir die simptome, wat van vrou tot vrou verskil. Bioterugvoerterapie (bio-feedback therapy) is ’n voorbeeld. ’n Sensor word in jou vagina geplaas, impulse word na ’n spesifieke masjientjie gestuur en jy kan na aanleiding van die liggies sien wanneer jy jou bekkenvloerspiere saamtrek en weer laat ontspan. Só leer jy hulle beheer.

Medikasie vir pyn sluit trisikliese antidepressante of teenkonvulsiemiddels in. ’n Verdowende salf (soos Lidocaine) of ’n inspuiting kan ook die pyn help verdoof. Antihistamien kan die gejeuk verminder.

As jy spesifieke plekke kan uitwys waar dit pyn, soos daar waar jou vel of weefsel aangetas is, kan chirurgie dalk help.

Vulvodinie kom redelik algemeen voor. Jy kan maande lank of selfs jare daaraan ly, en dan verdwyn die simptome skielik. Die probleem verg egter gespesialiseerde behandeling deur ’n multidissiplinêre span. Jy het baie goeie mediese en sielkundige ondersteuning nodig om seker te maak jy kry die beste resultaat. Raadpleeg eers jou ginekoloog, en dan ’n seksuele gesondheidspraktisyn of ’n ander kundige wat baie ervaring van dié probleem het.

Volg intussen dié raad

• Plaas koue kompresse (soos dié wat vroue ná die kraamproses gebruik) op jou vaginale area.

• Moenie onnodig druk daarop plaas deur aktiwiteite soos fiets- of perdry nie, tensy dit jou simptome verbeter – dit gebeur ook.

• Gebruik tydens seks ’n smeermiddel sonder geur- of kleurmiddels.

• Was jouself versigtig. Moenie intieme plekke skrop nie en vermy seep asook deodorant spesifiek vir daardie plek. Gebruik liewer akwaroom (aqueous cream) om mee te was.

• Moenie te lank sit indien dit jou simptome vererger nie.

• As sanitêre doekies jou vel irriteer, gebruik eerder tampons.

• Dra katoenbroekies, hulle haal asem.

• Vra jou dokter of jy ’n antihistamien voor slaaptyd kan neem. Dit sal die gejeuk laat verminder en jou beter laat slaap.

2. Vaginale droogheid

Vaginale droogheid kan ’n simptoom wees van ’n laer estrogeenvlak tydens sekere tye van jou menstruele siklus of vanweë die menopouse. Droogheid kan jou angstig maak oor ongemak en pyn tydens seks en daarom tot ’n lae libido lei.

Gebruik ’n smeermiddel, wat ook ideaal is vir wedersydse masturbasie. As julle kondome gebruik, is ’n smeermiddel met ’n waterbasis die beste. Jy kry die gewone jel-smeermiddel, maar ook soorte met allerhande geurmiddels. Met massering word sommige smeermiddels koud en ander warm.

Medisinale olyfolie werk ook goed vir vaginale droogheid. Moet egter nie petroleumjellie gebruik nie, dit kan infeksie veroorsaak (of ’n kondoom laat verswak). Onthou, anti-inflammatoriese middels kan vaginale smering verminder.

3. Die menopouse

’n Gebrekkige libido is ’n algemene simptoom van die menopouse. Volgens die webwerf van Epigee Women’s Health (epigee.org) neem tussen 20 en 45 persent van menopousale vroue se seksdrang af. Simptome soos vaginale droogheid, moegheid, gemoedskommelinge, depressie en ’n lae selfbeeld kan dié situasie vererger.

’n Laer libido in die menopouse word toegeskryf aan onder meer laer vlakke van die hormone estrogeen, progesteroon en testosteroon. Elkeen speel ’n rol in jou libido: Estrogeen verhoog seksuele sensitiwiteit; progesteroon hou jou libido in stand; en testosteroon, ’n manlike sekshormoon, vuur seksdrang (ook joune) aan. Testosteroon dien ook as vaginale smeermiddel.

Praat met jou ginekoloog oor die voor- en nadele van hormoonvervangingsterapie. Dit kan jou simptome verlig en daarom seks minder gekompliseerd maak. Dit kan ook met vaginale smering help en sorg dat seks minder pynlik is.

Vaginale estrogeenroom, -ringe en -tablette kan bloedvloei na die vaginale area verbeter, sensitiwiteit verhoog, en daarom sorg vir makliker orgasmes.

Gesels ook met jou ginekoloog oor (die omstrede) testosteroonvervanging. Omdat dié aanvullings manlike eienskappe soos ’n dieper stem en haargroei op jou gesig kan veroorsaak, moet dit streng volgens voorskrif gebruik word.

As jy nie hormoonvervangingsterapie wil ondergaan nie, klop by ’n gesondheidswinkel of homeopaat aan vir ’n natuurlike middel soos plantestrogeen, of kruie wat nie estrogeen bevat nie maar wel jou hormonale kliere voed.

Menopousale vroue hoef nie met hul sekslewe te sukkel nie. Seksuoloë sê dit help baie as jou ingesteldheid reg is en jy bereid is om aan te pas om só weer ’n vervullende sekslewe te kan hê.

4. Siektes en medikasie

Jy ly dalk aan diabetes, ’n onderaktiewe skildklier of bloedarmoede, wat jou libido kan verlaag. Laat toets jou daarvoor.

Depressie kan ook ’n lae libido veroorsaak. Laat dié siekte so gou moontlik behandel. Omdat baie antidepressante ook ’n rol in lae libido speel of orgasmes kan vertraag, moet jy eerder ’n soort wat dit nié doen nie (soos Cymbalta of Wellbutrin) gebruik.

Sekere ander soorte medikasie, soos dié vir hoë bloeddruk, kan ook jou libido aantas. Moet dit nie summier staak nie. Vra jou dokter uit oor ’n alternatief of aangepaste dosis, of vra of jy dit dalk op ’n ander tyd van die dag kan gebruik.

Jou voorbehoedpil kan ’n rol in jou libido speel. Praat met jou ginekoloog hieroor. Jy kan dalk van pil verander of oorskakel na ’n intra-uteriene apparaat (IUA). As julle nie dadelik ’n baba beplan nie, of jul gesin voltooi het, is die Mirena ’n goeie opsie. Hierdie apparaatjie stel klein hoeveelhede progesteroon vry en het minder newe-effekte as dié wat koper bevat. Die Mirena sal nie ’n uitwerking op jou libido hê nie. Jou menstruele siklus sal normaal wees en jou seksdrang sal rondom ovulasie en menstruasie styg. Jy sal dan ook meer geneig wees om seks te inisieer.

As julle nie nog kinders beplan nie, kan jou man dalk ’n vasektomie oorweeg. Sy saadbuis word verwyder en hy is dan onvrugbaar.

WenkBeproef ’n seksroom. Die vervaardigers van hierdie rome beloof verhoogde libido, groter seksuele plesier, vinniger en intenser orgasmes én veelvuldige klimakse. (Lees “Orgasme in ’n buis” in Hoofstuk 8.) Maar onthou, goeie seks is steeds afhanklik van die geleentheid, die omgewing en jul verhouding.

D. ANDER OORSAKE

1. ’n Baba

Dis normaal dat ’n baba byna al jul krag, tyd en aandag sal opeis. Betrek jou maat by die versorging van jul kind. Kry ook ’n goeie ondersteu­ningstelsel sodat julle tyd het om te rus en selfs op jul eie uit te gaan.

Dink anders oor seks: Seks hoef nie noodwendig penetrasie te beteken nie. Geniet eerder sensuele tye saam.

2. Gebrekkige higiëne en oorgewig

As jou maat nie alte higiënies is nie, bad saam voor seks. Maak dit deel van jul liefdespel. Gesels rustig en nie-veroordelend hieroor. Soms kan jy reguit wees en iets sê soos: “Ek hou daarvan om ’n glad geskeerde man / ’n man met ’n vars asem te soen.”

Indien jou maat oorgewig is, sê vir hom dat vroue ook visueel geprikkel word. Baie mans weet dit nie! Laat die klem op gesondheid eerder as verslanking val. Gaan stap gereeld saam as gesin en maak gesonde maar smaaklike kos. Vra jou maat om sy cholesterol en bloeddruk te laat toets. Dalk skrik hy so groot dat dit hom inspireer om gewig te verloor.

3. Te veel alkohol

Alkohol gee jou sekslus aanvanklik ’n hupstoot (!) omdat dit jou inhibisies laat afneem. Maar te veel daarvan kan jou libido laat verlaag. As julle vanaand seks beplan, moet liefs nie meer as twee glase wyn of een sopie spiritualieë drink nie.

4. Jy is latent gay

As jy in ’n heteroseksuele verhouding is, maar nie seks geniet nie, kan jy moontlik latent gay wees. Gaan sien ’n sielkundige om jou te help om jou seksuele oriëntasie te aanvaar en nie langer ’n leuen te leef nie.

MENEER, DÍT KAN JY DOEN

Help só jou maat met die lae libido:

• Maak haar las ligter: Vra waarmee jy kan help. Of doen dit net. Pak die kinders se kosblikke, bad hulle of maak aandete.

• Belê in ’n huishulp of skoonmaakdiens: Sny eerder ander luukses. Moegheid is ’n groot oorsaak van ’n lae libido.

• Gun vir haar alleentyd: Hou die kinders besig terwyl sy bad. Maak oor naweke kos.

• Gee haar gehaltetyd: Besluit byvoorbeeld Woensdagaande is júl aand. Nie een van julle sal dan die res van die week onder druk voel om seks te hê of verwerp voel nie. Dié afspraak sal julle laat dink oor en beplan vir seks. As julle nie tyd vir mekaar maak nie, sal julle nie seks hê nie.

• Sê vir haar jy is lief vir haar: Sy wil ook graag hoor dat sy mooi en sexy is, dat jy dink sy is ’n goeie ma en/of beroepsvrou, dat jy haar bewonder (as dit so is!) en dat jy graag by haar wil wees.

• Sorg vir romanse: Blomme, kerse en wyn verrig wondere. Verras haar. Bederf haar nou en dan met ’n spa-geskenkbewys “oor jy so hard werk”. Masseer haar, sonder seks. Skryf romantiese briewe of SMS’e. Sy hou ook daarvan as jy vir haar ’n skuimbad tap.

• Raak gereeld aan haar: Maar nie net op ’n seksuele manier nie. Sit jou arm om haar, soen haar saggies in die nek, streel haar arms en vryf haar voete.

• Rek die voorspel uit: Onthou, voorspel begin reeds die oggend. As jy dan al onbehulpsaam of onvriendelik is, sal sy nie vanaand seks wil hê nie. Gee ook baie aandag aan intimiteit. Jy kan haar later selfs vra of sy gereed is vir seks.

• Luister werklik na haar: Sy soek baiekeer nie oplossings vir probleme nie, maar wil eerder net vasgehou word.

• Versorg jouself: Geen vrou hou van ’n sofapokkel met ’n groot boep of bierasem nie.

• Ontdek weer die lekkerte van vry sonder seks of intieme aanraking. Jou maat moenie elke keer as jy aan haar raak, dink ai, hier kom dit al weer nie. Fokus saam op die sensuele.

WenkMoenie aanvanklik ander, opwindender seksposisies voorstel nie. Dit gee jou maat die boodskap dat alles vir jou steeds net oor seks gaan. Sy hou dalk ook glad nie van waag nie, of is bang die kinders hoor julle. Tref vooraf reëlings met jul spruite. Een aand per week is net julle s’n.

MENEER, HOU HAAR IN DIE BUI

Julle het al twee ’n besige loopbaan en minder tyd vir seks as ooit tevore. Daarom is dit belangrik om jou maat in die bui te hou, selfs al sukkel sy nie met ’n lae libido nie. Dit gaan alles oor hoe jy haar buite seksuele tye behandel en laat voel. Pas dié wenke toe en jy is in haar hart. En later in haar lyf!

• Hou ’n foto van haar in jou beursie: Sy sal dit sien wanneer jy vir iets betaal. Dink net hoe dit haar sal laat voel. Net so as jy ’n foto van haar en jul kinders op jou lessenaar hou.

• Sê ’n slag hóékom jy haar liefhet: Om bloot te sê “ek is lief vir jou” kan so maklik soos gewoonte-woorde klink. Sê ’n slag hoekom. Iets soos: “Ek is gek oor jou lag.” Of: “Ek voel so spesiaal as jy hierdie kos maak.”

• Gebruik haar naam of troetelnaam sommer in die middel van ’n sin of skryf dit in pen op jou arm of hand. Dit sê: “Jy is regtig vir my belangrik.”

• Soen haar soms lank en innig sonder dat dit hoef oor te gaan in seks.

• Laat haar verstaan hoe baie jy van ’n drukkie hou – ’n lange wat jy nie wil hê moet eindig nie.

• Soen haar op ander plekke as op die mond: Agter haar knieë, agter haar ore, op haar voete, in haar nek …

• Voer haar sexy kos soos aarbeie of kersies.

• Gee aandag aan die sensuele deel van jul verhouding: Masseer haar. Weer sonder seks. Vryf haar gespanne skouers, haar rug.

• Gesels nou en dan oor hoe en waar julle ontmoet het: Wat het jou eerste aangetrek? Sy sal spesiaal voel as jy die detail kan onthou, soos wat sy aangehad het en hoe jy gevoel het.

• Soen en hou haar in die openbaar vas (maar nie waar iemand julle kan sien nie). Só sal sy saam met jou uitsien na wanneer julle by die huis kom.

• Versorg haar nou en dan: Borsel haar hare, sit selfs haar lipstiffie aan.

• Benut jou kanse: Wanneer ’n ander vrou voor haar met jou flirteer, is sy dalk in die bui om seker te maak jy is net hare … Gebruik dié geleentheid. As sy gelukkig of opgewonde is oor iets, kan sy daardie positiewe energie na seks kanaliseer. Gebruik ook dié kans.

• Stel ander plekke of posisies voor: As jy seker is sy is verveeld met jul sekslewe, gesels oor hoe julle sake kan opkikker. Stel dan ander posisies of plekke voor. (Lees “Sit ’n slag jou bene om my nek” in Hoofstuk 13.)

WenkMoet haar nie vir seks nader net nadat julle gestry het nie. Jy wil dalk só wys jy is nog lief vir haar, maar sy sal dink: Ons het pas baklei, wat dink jy doen jy?
Die AA tot OE van seks

Подняться наверх