Читать книгу Die AA tot OE van seks - Riette Rust - Страница 8

Оглавление

Afrikaanse vroue is in bestuursposte en voorsitterstoele, op baie terreine voor in die koor, maar wat ons seksualiteit betref, is baie van ons nog Voortrekkers. Ons is maar erg geïnhibeerd, praat moeilik oor seks en kan nie eens die V-woord sê nie. As ons dit wél doen, is dit baie saggies: vagina…

Maar, as jy ’n goeie verhouding met jou seksualiteit kan opbou – vagina ingesluit – kan jy jou ten volle uitleef en gelukkig en vervuld wees. Al wat dit verg, is dat jy ontslae raak van jou inhibisies – die grondslag van die meeste van ons seksuele probleme. As jy dit kan regkry, is jy seksueel bevry. En sal jy:

• jou lyf mét sy beperkinge aanvaar. As jy, soos verreweg die meeste vroue, nie met penetrasie ’n orgasme kan kry nie, aanvaar dié beperking. Maar weet ook dat dit nie ál manier is waarop jy ’n orgasme kan kry nie.

Maak vrede met hoe jou lyf lyk. Jou maat sien nie jou selluliet raak nie. Dis beslis nie waar sy gedagtes is wanneer julle saam in die bed is nie!

• positief dink oor ál die dele van jou lyf, trouens, jy sal jou vagina bewonder. Dis immers net jy, nie ’n man nie, wat ’n klitoris het – die enigste orgaan wat uitsluitlik vir plesier gemaak is. Dis ook net jý, en nie ’n man nie, wat veelvuldige orgasmes kan kry en kinders in die wêreld kan bring – nóg ’n rede waarom jou lyf (en jou vagina) bewondering verdien.

• die woord “plig” skrap uit die sin waarin “seks” staan. Omskep seks in pure plesier. Dit beteken dat jy jou maat se lyf sal bewonder en geniet. Michelangelo sou tog nooit sy Dawid-beeld geskep het indien ’n manlike lyf nie die allermooiste proporsies gehad het nie.

• nie toelaat dat mensgemaakte reëls jou terughou nie, want jy is seksueel bevry. Jy leer byvoorbeeld deur masturbasie hoe jou lyf werk en wat vir jou plesier verskaf, want jy glo lankal nie meer dat jy “nie daar onder mag vat nie”. Jy behoort ook te weet presies wat om te doen vir daardie perfekte klitoris-orgasme, en jy sien boonop kans om eers self jou G-kol* (sien “Soorte orgasmes”) te ontdek. Want wie anders sal vir jou maat leer hoe?

• seks opwindend hou én gedurig eksperimenteer. Soos met seksposisies, selfs al is jy dalk nie soepel genoeg om die fikswiks of die soepel-woepel reg te kry nie. Tog sorg jul probeerslae elke keer vir groot pret in die bed.

• nie ander summier oor iets veroordeel voordat jy dit self beproef het nie. Dís ’n goeie verhouding met jou seksualiteit. Jy dink heel oopkop oor seksspeelgoed en beplan dalk selfs om gesamentlike orale seks – dus die 69-posisie – te probeer.

• kans sien vir seks op ongewone plekke. Jy wil tog nie elke dag ’n rou appel eet nie, appeltert is soms heerlike afwisseling. Net so met seks. Wie het gesê dit mag net in die bed gebeur? So, span die kombuistafel, die swembad of die motor se enjinkap in.

• jou maat op seksuele gebied geïnteresseerd hou. Liewer dood as dat iemand jou in ’n ou sweetpak en Crocs sien. Kant-lingerie is jou moet-hê-item.

• selfs gewillig wees om te leer paaldans, want jy wil nie weer jou seksualiteit iewers tussen die lakens, die kinders se geboortes, die skottelgoed en die werk verloor nie.

Kortom, as jy ’n goeie verhouding met jou seksualiteit het, is jy, soos die Franse sê, ’n sensuele vrou wat tuis is in haar vel. En seksuele inhibisies is hoofsaaklik die ding wat in die pad staan van ’n tuisheid in eie vel. Trouens, Suid-Afrikaanse seksuoloë sê tussen 80 en 90 persent van die vroue wat hulle met seksprobleme kom sien, wroeg oor inhibisies!

Ons konserwatiewe ingesteldheid het ’n lang geskiedenis. Kom ons kyk kortliks ver terug – na waar hierdie sieninge ontstaan het. As jy dít weet, sal jy sien hoekom dit so belangrik is om heeltemal nuut oor seks te dink.

WAAR KOM ONS INHIBISIES VANDAAN?

Voordat jou ouers hul negatiewe seksuele bloudruk aan jou oorgedra het, bewustelik of onbewustelik, het hulle en hul voorvaders met dieselfde voorbehoude geworstel: Seks is daar om kinders te verwek, het hulle geglo. Jy is tog sekerlik nie veronderstel om dié sondige aktiwiteit te geniet nie … Jy mag ook, groot asseblief, nie masturbeer nie, want jy kan hare op jou hande kry of blind word. En seks voor die huwelik? Dis taboe! Daar word tog van jou verwag om ’n maagd te bly tot jy trou. Trouens, jou verloofde mag nie eens aan jou borste raak nie, wat nog te sê van “daar onder” – selfs al beteken dié weerhouding dat jou wittebroodsnag katastrofies is. Want, wees realisties: Hoe kan ’n kloosterkoek in een nag in ’n sekskat ontaard as sy nie eers self geleer het hoe haar lyf werk nie?

Ons hang so maklik ons jare lange voorbehoude, mites en wanpersepsies aan die Calvinisme op. Maar eintlik is Calvyn, daardie belangrike Protestantse teoloog en hervormer van die sestiende eeu, glad nie so skuldig nie. Die oorsprong van ons negatiewe opvattinge oor seks is lank reeds voor Calvyn geleef het (1509 tot 1564) deur sommige kerkvaders en filosowe gevestig. Dink maar aan Plato en Augustinus. Calvyn se sieninge was inderwaarheid “liberaler”. Ja, sowaar! (Sien “Die tradisioneel Christelike siening van seks”.)

Pa se woord is wet

Ons kan ’n vinger wys na iets wat baie ouer as die Christendom is, naamlik die oppergesag van die man, oftewel die patriargaat (eenvoudig gestel: beheer deur die pa). Dit het die grootste invloed op baie Protestantse Christene se siening van seks gehad en is diep in die Christelike geloof gewortel.

Die Bybel word vandag nog dikwels vanuit die patriargale beskouing benader. Só word ’n streng verdeling van geslagsrolle as ’n Christelike norm voorgeskryf. Talle Christene interpreteer die tweede weergawe van die skeppingsverhaal (Genesis 2:18) – dat Eva ná Adam geskape is – as die rangorde wat God aan mans en vroue toegeken het. Die man is die hoof van die huis en die vrou sy ondergeskikte. Ons sien dikwels steeds dat die jong professionele vrou, sodra sy in ’n ernstige seksuele verhouding betrokke raak of trou en ma word, in die tradisionele vroue­rol met al sy voorskrifte terugval. Sy dink: My man is die hoofbroodwinner, ek gee my loopbaan prys, hy neem die besluite, ek kook die kos.

In antieke samelewings is die vrou selfs as haar man se eiendom beskou, in so ’n mate dat verkragting as ’n oortreding van ’n man se eiendomsreg gesien is! Dit het dus glad nie oor sy vrou of haar trauma gegaan nie, maar oor sy eiendom …

As ’n getroude man seks met ’n getroude of verloofde vrou gehad het, is dit as egbreuk beskou, nie omdat die man ’n oortreding teenoor sy vrou begaan het nie, maar wel oortree het teenoor die mán (of verloofde) van die sondige vrou!

Vroue se seksualiteit is streng beheer. Sedert antieke beskawings moes hulle tot hul troue ’n maagd bly. Só was die man seker die kinders wat daarna gebore word, is syne. (Bloedtoetse was daar mos nog nie.) As haar pa se besitting, moes ’n dogter ’n maagd bly sodat hy ’n goeie bruidsprys vir haar kon kry. Die voornemende bruidegom moes sy aanstaande skoonpa vergoed vir die huishoudelike dienste van sy dogter wat hy met haar troue sou moes verbeur.

Die tradisioneel Christelike siening van seks

Vele filosowe voor Calvyn het die Protestantse Christene (asook die samelewing in die algemeen) se siening van seks beïnvloed. Die Griekse filosoof Plato (circa 427 v.C. tot 347 v.C.) se opvatting dat die mens uit liggaam én gees bestaan, en dat die liggaam eintlik niks meer is as ’n soort houer vir die gees nie, het wye aanhang geniet. Vir Plato was die gees die belangrikste element, want deur die gees kon die mens nader aan God kom. Daarteenoor het alles wat die liggaam betref, die potensiaal gehad om mense in die verderf te lei. Seks het dus baie gou verdag geraak.

Plato se idees was invloedryk, maar dis eintlik die kerkvader Augustinus (354 tot 430) wie se sieninge die psige van die Christendom en alle ander Westerse samelewings beïnvloed het. (Dié teoloog en filosoof, wat algemeen gereken word as een van die grootste Christelike denkers, is in Noord-Afrika gebore, maar het sy middeljare in Italië deurgebring waar sy filosofie lank ná Plato sy beslag gekry het.)

Voor die sondeval was daar nie iets soos seksuele genot nie, het Augustinus geglo. Sperma het op ’n soortgelyke manier by ’n vrou se uterus ingevloei as wat menstruele bloed daaruit vloei, het hy beweer. Dalk het die verskynsel dat seks vandag nog deur soveel vroue as ’n plig gesien word, uit hierdie beskouing ontstaan.

Augustinus het gereken dis weens die sondeval – Adam en Eva se opstand teen God – dat mense die eerste keer bewus geword het van seksuele impulse, wat hulle tot “onbevredigbare wellus” verdoem het. Dié kerkvader het ook geglo dat alle genetiese materiaal in sperma gesetel is, terwyl ’n vrou se liggaam net ’n broeikas is. As die fetus nie voldoende warm gehou is in haar uterus nie, sou ’n baba gebore word wat fisiek swakker, intellektueel minderwaardig en moreel verdag was. Hierdie soort skepsel was ’n vrou!

Calvyn se rol

Streng gesproke was Calvyn nie negatief oor seks nie. Calvyn en Martin Luther, die bekende Duitse teoloog en hervormer (1483 tot 1546), het teen die vroeë kerk se lering van selibaatskap kapsie gemaak. Hulle het ook geglo dat seks nie net vir voortplanting is nie, maar ook as ’n vorm van intimiteit binne die huwelik geniet kan word. Maar nét binne die huwelik. Sommige geloofsgemeenskappe het verkeerdelik uit hierdie siening afgelei dat Calvyn negatief oor seks was.

Die Calvinisme het wél betaamlike optrede en beheerstheid sterk beklemtoon en as die Christelike norm voorgehou, maar dié filosoof het ook, anders as die meeste patriarge, die vrou as lewenslange vennoot van die man beskou. Sy was dus nie net die “broeikas” van sy kinders nie.

Die huwelik is as ’n sosiale instelling tot voordeel van man én vrou gesien. Seksuele plesier binne dié instelling was moreel en ordentlik, solank dit net nie oorgegaan het in oordrewe passie of pure lus nie!

En vandag?

Eeue later sien ons steeds die uitwerking van die sieninge van die filosowe van die antieke tyd. As jy een van baie is wat nou nog die negatiewe seksuele bloudruk aan jou lyf voel, is dit haas tyd om jou seksualiteit terug te eis. Daar is ander, meer bevryde maniere om na seks te kyk en dit sonder skuldgevoelens uit te leef en te geniet.

Gooi net eers daardie seksuele inhibisies oorboord!

RAAK SÓ VAN SEKSUELE INHIBISIES ONTSLAE

1. Maak ’n kopskuif

Een van die groot probleme waarmee baie van ons op seksuele gebied worstel, is ons ingesteldheid. Seks is nog te veel kere ’n plig – swaar, moeite of werk. Dít terwyl ons eerder op seksuele vervulling én plesier ingestel behoort te wees.

In Health24 se sekspeiling, wat in 2010 onder 10 000 Suid-Afrikaners gedoen is, het sowat 19 persent van die vroue, dit wil sê amper een uit vyf, laat blyk hul genieting van seks is net “gemiddeld”. ’n Mens sou kon aflei dat ingesteldheid ’n rol speel by die vroue vir wie seks so min bekoring inhou. Daarby het 16 persent van die vroulike deelnemers gesê hulle het die voorafgaande maand “glad nie” seks gehad nie.

Sien tog jou vagina vir wat dit is: ’n poort tot liefde en geluk. Sonder hierdie besonderse deel van jou lyf sou jy nie kinders – of veelvuldige orgasmes – kon kry nie. Dis voorregte, beslis nie iets om oor skaam te wees nie.

2. Praat en praat reg

Seks hoort lankal nie meer (net) in die donker nie. As jy ’n onder­werp verswyg, word dit ’n taboe – ’n monster. Dis ook waar die stigma aan seks vandaan kom. Praat eerder daaroor. En praat reg. Só kan jy verseker dat seks net so ’n normale en belangrike deel van jou lewe soos asemhaal en eet word.

• Gebruik die regte terminologie: Jy behoort eintlik eerder van jou vulva as jou vagina te praat, want jou vagina is inwendig geleë, terwyl jou vulva bestaan uit jou labia minora (klein skaamlippe), labia majora (groot skaamlippe), klitoris én vaginale opening. Dis die deel wat aan die buitekant van jou lyf sit. (Sien die "Die vulva" illustrasie.)

Ons behoort ook eerder die woord “skaamlippe” deur die regte naam, “labia”, te vervang. Skaamlippe laat dit klink of ons skaam behoort te wees vir dié besonderse deel van ons lyf.

Laat vaar tog daardie troetelname. Jou vulva is nie ’n “blommetjie”, “snuifie”, “koekie” of “daar onder” nie. (Selfs Oprah Winfrey praat van die vi-jay-jay.) Sê dit ’n slag hardop: vulva!

So nie, wat moet ons kinders dink? Dat ons vulva ongewens is en daarom ’n eufemistiese woord nodig het? Dis tog net so ’n belangrike deel van jou lyf soos jou arm of jou been!

• Praat openlik oor seks en besweer só wanpersepsies, mites, vrese en inhibisies. Selfs as jy ’n Christen is, beteken dit nie jy mag nie oor seks praat nie. Reeds in Bybelse tye was vroue opgewonde oor hul seksualiteit. Die vrou in Hooglied is uitgesproke daaroor wanneer sy sê “… my borste is soos torings”. Haar man sê weer vir haar: “Jou liggaam is ’n lushof.” Hoe mooi.

Jy hoef nie uit jul bed te praat nie – dis tog privaat – maar gesels gerus met ’n vriendin oor seks in die algemeen. Oorweeg saam vrae soos: Wat is ons definisie van seks? Is orale seks regtig seks? Waaroor gaan seks alles, die lyflike uitgesluit? Dink oor wat seks vir jou beteken. Verbreed jou definisie. Seks gaan tog oor veel meer as net penetrasie. Jy het ook geestelik en emosioneel seks, daarom knoop jy dikwels ’n verhouding met jou seksmaat aan. Seks is nie net ’n funksie van die lyf nie.

Bespreek dié dinge, ook met jou maat, sodat julle mekaar se sieninge kan verstaan en kan respekteer.

Gebruik ander forums om openlik te gesels, en neem deel aan of volg besprekings – of dit oor die radio of op televisie, in koerante of tydskrifte is.

As jy dalk sukkel om “sekstaal” te praat, vra ’n seksuoloog se hulp of lees daaroor na om só die terminologie te leer ken.

• Moenie versluierde taal gebruik nie: ’n Slegte man het nie met sy dogter “gelol” nie, hy het haar seksueel gemolesteer, misbruik of verkrag. Sulke dade verdien nie versagting nie!

• Moenie stereotipeer nie: As jy glo alle mans is geestelik sterk en on-emosioneel, sal jy teleurgesteld wees as joune op ’n dag sou huil. Jou maat moet homself by jou kan wees. So nie, kan julle van mekaar vervreemd raak.

As jy glo dat mans seksgedrewe is en vroue maar net seks het vir hul mans se onthalwe, sal jou siening jou daarvan weerhou om jou eie seksualiteit te geniet, of sal jy dink daar is groot fout met jou omdat jou libido groter as jou maat s’n is.

As jy ’n tuisblyma is omdat jy glo dit word van vroue verwag, maar jy hunker daarna om te werk, is jy beslis nie getrou aan jouself nie.

• Moenie neerhalend praat van iemand wat ’n ander seksuele oriëntasie as jy het nie. Dis geweldig kwetsend. Oor hoe seksuele oriëntasie gevestig word, weet die mediese wetenskap nog maar min.

• Praat liewer van “veiliger” as “veilige” seks: Ons moet wegbeweeg daarvan om seks net met siekte en dood te verbind. Onveilige seks is die teenoorgestelde van veilige seks, en die enigste veilige seks is geen seks. Dink só daaroor: Seks kan selfs binne ’n verhouding of die huwelik onveilig wees, soos wanneer jy verkrag sou word – dit kan ook emosionele verkragting wees – of as jou maat ontrou is en jou vigs gee.

• Gesels met jou maat oor jul verwagtinge van seks: Nie almal verstaan seks op dieselfde manier of het dieselfde verwagtinge daarvan nie. Seks een keer per week is dalk vir jou voldoende, maar jou maat het miskien ’n behoefte aan drie keer. Groot verskille kan tot konflik en ongelukkigheid lei.

• Praat met jou maat oor jul wanpersepsies van seks, die effek daarvan in jul bed en wat julle daaromtrent te doen staan.

• Gesels met mense wat ’n positiewe benadering van seks het: As jy jou heeltyd omring met negatiewe of konserwatiewe sieninge, kan dit jou ontmoedig om jouself as ’n seksueel bevryde vrou te sien, of jou selfs laat begin glo wat hulle glo.

• Praat oor jou behoeftes: Moenie dink alle mans weet hoe om ’n vrou te plesier nie. Meer as 18 persent van die vroulike deelnemers aan die Health24-peiling van 2010 het “nog nooit” veelvuldige orgasmes gekry nie, en ’n volle 34 persent gee “soms” voor dat hulle ’n orgasme kry! Sê vir jou maat waarvan jy hou. Daar is vroue wat ná tien of meer jaar in ’n huwelik steeds ’n maagd is. Hulle ken self nie hul lyf nie en weet daarom nie wat vir hulle lekker is nie. Hoe kan hulle vir ’n man riglyne gee?

As jy agterkom jou maat se kennis skiet tekort (en daar is heelwat sulke mans), vertel hom spesifiek waarvan jy hou, soos dat hy jou klitoris stimuleer en sy vingers, mond of ’n vibrator gebruik.

3. Laat vaar jou onkunde

Baie vroue glo steeds onwaarhede – mites soos dat masturbasie sonde is en orale seks of seksspeelgoed uit die bose, dat jou seksuele plesier ondergeskik aan ’n man s’n is, of, nog erger, dat seks ’n plig is. Sulke (wan)opvattinge word onbewustelik deel van jou seksuele bagasie en weerhou jou daarvan om jou ten volle te kan oorgee. As jy hierdie mites glo, kan veelvuldige orgasmes of selfs ’n enkele, eerste orgasme jou bly ontwyk. Laat vaar liewer jou onkunde!

4. Leer jou lyf ken

Mans vat van kleins af aan hul penis om te kan urineer, maar ons word nie geleer om só aan onsself te raak nie. Ons anatomie is boonop inwendig, wat dit ook moeiliker maak.

Veral meisies word ontmoedig om te masturbeer en só hul lyf te leer ken, want vroue se seksualiteit word dikwels verdring. Health24 se 2010-peiling wys juis daarop dat meer as 11 persent van Suid-Afrikaanse vroue nog nooit gemasturbeer het nie. Byna 50 persent het gesê hulle masturbeer “net soms”.

Hoeveel van ons het al ons vulva met ’n handspieël bekyk? As jy nie weet hoe jou liggaam lyk of funksioneer nie, hoe sal jy weet hoe om plesier daaruit te kry?

5. Maak vrede met jou lyf

Baie van ons het ’n ding oor ons lyf. Die werklikheid is dat net een persent van die bevolking – die supermodelle – perfek gebou is. Boonop word hierdie een persent met behulp van Photoshop nog mooier gemaak. Moet dus nie te hoë verwagtinge hê van ’n dieet of oefening nie. Nie almal is soos ’n supermodel gebou nie.

As jy nie jou lyf aanvaar soos dit is nie, sal jy jou nie seksueel behoorlik kan uitleef nie. Jy sal heeltyd oor dit of dat bekommerd wees, dat jou maat sal sien jou borste begin hang, of dat hy daardie ekstra vakansierolletjie om jou maag voel … Wees tog realisties. Mans hou in elk geval meestal nie van brandmaer vroue nie. Kurwes (maar ook nie te veel nie!) doen dit vir hulle. Soos een dit aan my gestel het: “Selluliet is wonderlik. Dit wys ’n vrou het al gelééf en dat sy dalk al kinders gehad het. So ’n vrou het tog ook meer te sê as ’n negentienjarige.”

6. Fokus

Jy kan nie lekker seks hê as jy nie heeltemal afskakel en jou aandag in daardie intieme oomblikke ten volle aan jou maat gee nie. As jy net daar lê omdat jy op daardie oomblik dink aan die wasgoed of die kinders se huiswerk, sal jy nie in die bui wees vir eksperimenteer of jou aan ’n goeie orgasme kan oorgee nie. Om nie eens te praat van hoe jou maat daaroor sal voel om met ’n lyk seks te hê nie!

7. Neem meer dikwels die voortou

Jy is glad nie voor op die pram as jy jou maat verlei nie! Hy is nie altyd in die bui om die aanvoorwerk te doen nie; daarby laat jou toenade­ring hom begeerlik voel en getuig dit van selfvertroue. As jy ’n goeie selfbeeld het, is jy vir ’n man die sexyste ding op aarde.

Dis daarom jammer om te lees wat Health24 se peiling hieroor laat blyk: Sowat 52 persent van die vroue inisieer “net soms” seks. Ons eksperimenteer ook nie sommer daarmee nie. Omdat baie van ons nie in voeling met ons eie seksualiteit is nie, probeer ons nie opwindende dinge nie. Dit is daarom nie juis ’n verrassing nie dat net 39 persent van die vroulike deelnemers aan daardie peiling gereeld orale seks het.

8. Sit die pret en humor terug in die slaapkamer

Pret help om seks lekker te maak en opwindend te hou, maar nie almal besef dit nie. In Health24 se peiling het 68 persent van die vroue gesê hulle glo “glad nie” daarin om rolle in die slaapkamer te speel nie (soos om voor te gee jy is ’n verpleegster of onderwyseres). Daarby het 83 persent nog nooit vir hul maats gepaaldans nie!

Seks is nie net ernstig nie. Leef fantasieë saam met jou maat uit. (Lees “Ek wil Madonna wees, hy Superman” in Hoofstuk 14.) Beproef ’n seksspeelding met ’n naam soos tongelong, of ’n seksposisie wat slangelang heet, en laat dinge hul gangelang gaan … ’n Verhouding waarin daar baie gelag word, kan nie sommer ten gronde gaan nie. (Lees “Kom in voeling met jou innerlike sekskat” in Hoofstuk 11, “Sit ’n slag jou bene om my nek” in Hoofstuk 13, en “Gee jou sekslewe w[r]oema” in Hoofstuk 15.)

9. Sien om na jou seksuele gesondheid

Jou seksualiteit is ’n belangrike deel van wie jy is. Dit kan jou ook baie vreugde verskaf. Sien daarom om na jou geslagsgesondheid. Dit sal jou ook help om ’n gesonde verhouding met jou vulva op te bou en respek vir jou lyf te hê.

Die statistieke vir sterftes weens servikale kanker (jou serviks is die nek van jou uterus, oftewel baarmoeder) is ’n bewys daarvan dat baie vroue nie na hul seksuele gesondheid omsien nie. Een uit elke 35 vroue in Suid-Afrika sal aan dié soort kanker sterf, en wêreldwyd gaan ’n vrou elke twee minute aan die siekte dood.

Servikale kanker word die stille dood genoem, want die simptome tree eers in ’n gevorderde stadium na vore. Daar is gelukkig deesdae ’n (duur) inspuiting – Gardasil of Cervarix – teen die menslike papilloomvirus wat servikale kanker kan veroorsaak. Tieners of jonger vroue wat nog nie seksueel aktief is nie, kan dit as ’n voorkomende maatreël kry. Gaan gereeld vir ’n ginekologiese ondersoek en papsmeer, lank voordat die simptome kop uitsteek.

10. Kyk na alternatiewe

As jy die slag werklik nie lus het vir seks nie, moenie summier nee sê nie. Gee dit kans, jou lyf word gou wakker. So nie, geniet mekaar op ander maniere: bad saam, sorg vir ’n sensuele massering of wedersydse masturbasie. Onthou, seks is ’n reis, nie ’n eindbestemming nie. En op dié reis word intimiteit (en jul verhouding) versterk.

11. Laat jouself toe om jou oor te gee

Jou lyf is jou grootste seksorgaan, maar jou brein is belangriker. As jou brein vir jou sê jy mag nie seks geniet nie, of jy beskou jou vulva as vuil, sal jy nie ’n spontane sensuele en seksuele wese wees wat seks geniet nie. Sensualiteit is ’n lieflike, lyflike ervaring van intimiteit op liggaamlike én geestelike vlak.

12. Wees bereid om die verantwoordelikhede te dra

As jy besluit om seksueel aktief te word, vra jouself af of jy die verlies van jou maagdelikheid sal kan hanteer. Vir sommige vroue ís dit ’n kwessie as die man by wie hulle die eerste keer geslaap het, nie met hulle trou nie.

Vra jouself ook af of jy dit sal kan verwerk as jou seksmaat nie gereed is vir ’n emosionele verbintenis nie. Of sê nou jy kom agter jy het vaginisme? Of jy word swanger? Dit gebeur steeds in vandag se dae.

Jy sal beskerming vir jou rekening moet kan neem. So nie, sal jy moet kan saamleef met MIV of ’n ander seksueel oordraagbare siekte wat jy weens onbeskermde seks gekry het.

Seks is beslis veel meer as bloot ’n fisieke ervaring.

13. Wees bewus van die patriargaat

Kom weg van die siening dat seks iets is wat ’n vrou vir ’n man “gee”, of wat aan haar “gedoen” word. Jy en jou maat geniet tog jul seksua­liteit sáám.

Moenie toelaat dat mans en vroue teen mekaar afgespeel word nie. Fokus minder op geslagsverskille, en eerder op jul vennootskap. Akkommodeer mekaar se idees. Mans en vroue is nie dieselfde óf algehele teenoorgesteldes nie, maar albei geslagte se behoeftes, persepsies, belangstellings en prioriteite behoort ewe veel gewig te dra. So nie, sal ’n gelyke vennootskap waarin respek, liefde en emosionele vervulling seëvier nie moontlik wees nie.

14. Beproef terapie

As jy jou ouers se voorbehoude oor seks geërf het en daarom ’n negatiewe seksuele bloudruk het, stel gedragsterapie op die proef om jou wanopvattinge en voorbehoude af te takel. Jou siening van seks sal van nuuts af – en positief – opgebou word. So nie, kan jou negatiewe bloudruk jul seksuele geluk ondermyn.

Daarbenewens is kennis en kommunikasie belangrik. Lees soveel moontlik na oor al die aspekte van seks. Raadpleeg erkende bronne en vakkundiges.

As jy uiteindelik vriende met jou vagina, of jou vulva, gemaak het, sal jy van jou onnodige inhibisies ontslae wees en veel opwindender, kreatiewer en avontuurlustiger in die bed te werk kan gaan!

* Die Gräfenberg-kol, oftewel G-kol, word volledig in “Die groot O” (Hoofstuk 7) bespreek.

Die AA tot OE van seks

Подняться наверх