Читать книгу Die AA tot OE van seks - Riette Rust - Страница 14
ОглавлениеHy het gesê hy sou versigtig wees, dat jy niks het om te vrees nie. Dis toe dat jy begin uitsien het na jul eerste seks. Julle was al ’n jaar saam en jy het geweet die verhouding is ernstig. Jy het kerse aangesteek en roosblare op die bed gestrooi. Hy het yskoue vonkelwyn gekoop … Nooit in jou wildste nagmerrie sou jy kon dink dat julle nie seks sou kon hê nie, omdat jou vagina in die proses “toegetrek” het.
Ná die katastrofiese nag was jy heel waarskynlik verlig toe jy uiteindelik hoor jou probleem het ’n naam: vaginisme (of vaginismus).
Vaginisme en pynlike seks is heel algemeen, maar gelukkig hoogs behandelbaar. Al wat jy moet doen, is om so gou moontlik hulp te kry.
Die Kapenaar Annerien Basson* (30) en haar man, Zak* (29), was al drie jaar getroud, maar albei steeds maagde.
“Ek het reeds vroeg in ons verhouding vir Zak gesê dat dit vir my as Christen verkeerd sou wees om seks buite die huwelik te hê. Ek is grootgemaak met die ‘waarde’ dat buite-egtelike seks sonde is,” vertel Annerien. “Zak het ook só grootgeword.
“Hoewel ons albei verskriklik uitgesien het na ons troudag, het die gedagte aan seks my vreesbevange gemaak. As ek terugkyk, verstaan ek hoekom. Daar is trouens verskeie redes: Al die vrae wat ek as kind oor seks vir my ma gevra het, het sy geantwoord met: ‘Ek sal jou later sê.’ Dit het nooit gebeur nie. Ek moes hoor ek moet ’n maagd bly, ‘want ’n meisie wat by ’n ou slaap, is goedkoop’. Die man verloor alle respek vir jou, het sy bygevoeg. My ma het my boonop gereeld van veneriese siektes en vigs vertel. Seks het vuil en gevaarlik geklink.
“In graad vier het my ouer suster gewys na twee sprinkane wat op mekaar sit, en gesê: ‘Dis wat mense ook doen.’ Ek wou haar nie glo nie en het haar uitgevra. ‘Pa en Ma moes dit ook doen om ons te kon hê,’ het sy toe gesê. Dit het so barbaars geklink.
“Vir nagte daarna kon ek nie slaap nie. Ek is geleer my vagina is privaat. Hoe kon ’n man so iets aan ’n vrou doen?
“Ek was skaars elf toe ek begin menstrueer het. ‘Nou is jy ’n vrou … wat swanger kan word,’ het my ma gesê.
“Die hele affêre was vir my traumaties. Ek was boonop die eerste in my klas wat ‘vrou geword’ het. Daarby het menstruasie elke maand met intense pyn gepaardgegaan.
“Toe my beste vriendin trou, wou ek onmiddellik weet hoe die eerste seks was. ‘Baie seer,’ het sy gesê.
“Op ons huweliksnag was ek so vreesbevange dat ek ’n angsaanval gekry het. Ná ’n lang bad het ek uiteindelik gekalmeer, maar die oomblik toe ek my man se ereksie sien, het ek weer bang geword. Hoe sal hy in my kan pas?
“Ons kon dit glad nie regkry nie. Dit was so seer! Zak was skaam en gefrustreerd, hy het dan ‘so mooi sag’ met my gewerk. Ek het gehuil. Met elke poging daarna ook.
“Later het ons die probleem begin ignoreer. My man het my omgepraat om wedersydse masturbasie te probeer. Dit was maar ’n onbeholpe affêre.
“Ons het albei geweet iets belangriks ontbreek, maar ek het gedink my probleem sal vanself verdwyn. Dit het nie gebeur nie, en ná drie jaar – steeds as maagd – het ek ’n seksuoloog gaan sien. Ná fisioterapie, die gebruik van ’n verdowende room en dilators, asook sielkundige hulp, alles oor etlike maande, het ons pynlose seks gehad! Onlangs het ek dit selfs begin geniet.
“Nou besef ek daar is wél hoop vir vroue soos ek. Tog lê daar nog baie werk aan ons huwelik voor.”
Vaginisme is die onwillekeurige sametrekking van jou bekkenvloerspiere – daardie deel wat jy toeknyp om die urienvloei te onderbreek – tydens ’n poging tot penetrasie, hetsy deur seks of ’n voorwerp soos ’n tampon of spekulum (tydens ’n mediese ondersoek).
Daar is twee soorte vaginisme: As jy aan primêre vaginisme ly, was jy reeds met jou eerste seksuele ervaring vreesbevange. Jou knypspiere het daarom in ’n spasma gegaan. Indien jou maat dit wel reggekry het om jou gedeeltelik te penetreer, was dit baie seer.
Of jy kan aan sekondêre vaginisme ly. Dit beteken dat jy al voorheen pynlose penetrasie gehad het, maar dat die vrees en spiersametrekking eers later ontstaan het. Dit kan weens die een of ander trauma wees, soos komplikasies toe jy gekraam het.
Die algemeenste simptoom van vaginisme tydens ’n poging tot seks word dikwels deur mans beskryf as “soos om teen ’n muur vas te druk”. Jy kan ook sukkel om enigiets anders, soos ’n tampon of vinger, in jou vaginale opening te sit.
As jy aan vaginisme ly, kan jy dalk terselfdertyd ’n ander sindroom, miofassiale pynsindroom, hê, wat rektale pyn of ’n skerp brandpyn in jou vulva veroorsaak.
HOEVEEL VROUE IS LYERS?
Suid-Afrikaanse statistieke vir vaginisme is nie beskikbaar nie, ook nie gedetailleerde data vir die meeste ander lande elders ter wêreld nie, maar na raming het een uit vyf vroue pynlike seks.
Nie almal met vaginisme soek hulp nie, dus is die beskikbare data ook baie wisselvallig. Baie vroue is skaam en verleë. Sommige word verkeerd gediagnoseer en dink dan hulle kan nie gehelp word nie.
Vaginisme is egter hoogs behandelbaar. Dit verg gewoonlik net heelwat tyd en toewyding van julle albei, asook van ’n multidissiplinêre span gesondheidswerkers.
Gaan net dadelik vir behandeling. Hoe langer jy wag, hoe langer kan die herstelfase wees.
OORSAKE
Die oorsake van vaginisme is dikwels sielkundig, maar dit verskil van vrou tot vrou. Baie Suid-Afrikaanse vroue het in ’n streng godsdienstige huis grootgeword en kan dalk daarom wanopvattinge oor seks hê.
Of dalk is jy as kind seksueel, fisiek of emosioneel mishandel. ’n Spannings- en angsversteuring kan deel van die probleem wees.
Daar kan ook ’n fisieke rede wees waarom jou spiere in spasma gaan, soos ’n skewe ruggraat of heupprobleem. Die spasma kan dan tot in jou bekkenvloerspiere strek.
Of jy kan aan ’n velsiekte soos lichen-sklerose ly. Dis ’n outo-immuunsiekte wat onder meer jou vulva en anale area aantas. Die kleur en tekstuur van die aangetaste vel verander en dit jeuk gewoonlik erg. Dit kan ook brand. Dié velsiekte word met kortisoonsalf behandel, wel onder dokterstoesig, want daar is ’n verhoogde risiko vir kanker.
Ekseem of herhaalde infeksies kan die senuwees rondom jou vulva irriteer. Dit kan weer veroorsaak dat jou knypspiere in ’n spasma gaan. Spesifieke salwe help vir dié probleem.
Hoewel baie vroue glo dat hul vagina nie groot genoeg is vir penetrasie nie, is dit ver van die waarheid. ’n Vagina is gemaak vir enige grootte penis.
Indien jou ginekoloog sê jou vaginale opening is te klein en dat ’n operasie nodig is, kry nóg ’n kundige se mening. ’n Operasie is net in hoogs uitsonderlike gevalle nodig. As jy onnodig geopereer sou word, kan jy emosioneel skade ly – juis omdat die operasie dalk nie suksesvol was nie. Dit kan ook bloot suksesvol wees omdat jy daarna glo dat jou vaginale opening nou wel groot genoeg is. Jy is dan nie meer so bang nie, die spiere van jou bekkenvloer ontspan en penetrasie is moontlik.
Stel eers vas wat presies jou vaginisme veroorsaak voor jy enige behandeling oorweeg. Vaginisme begin dikwels as ’n fisieke toestand en kry dan ’n sielkundige komponent by.
Jy kan ook vaginisme laat behandel voor jy die eerste keer seks het. As jy sukkel om ’n tampon gemaklik te gebruik, kry dadelik hulp. Dit kan die verskil tussen ’n onvervulde, traumatiese sekslewe en ’n gelukkige sekslewe en sterk verhouding beteken.
OPLOSSINGS
1. ’n Verdowende vaginale room
Die doel van dié room (soos Remicaine-jel of Emla-room) is om die oorgestimuleerde senu-eindpunte te verdoof sodat seks nie so pynlik is nie.
2. Fisioterapie
Die fisioterapeut moet nagraadse opleiding in bekkenvloerterapie hê, asook genoeg ervaring van vaginisme. Sy (of hy) werk dan uitwendig én inwendig.
Jy word geleer hoe om jou bekkenvloerspiere te laat ontspan en ook om self dié spiere te kan beheer. Indien jy knoppe in jou vagina ontwikkel het – byna soos spierspasmas in jou skouers – kan die fisioterapeut dit diskreet uitvryf.
Jy sal oefeninge kry om tuis te doen sodat jou spasmas algaande kan verminder. Die fisioterapeut sal jou mettertyd leer dat iets (soos ’n tampon of penis) wél jou vagina kan penetreer, dat jy beheer daaroor het en dit kan toelaat as jy sou wou.
3. Dilator-terapie
Wanneer jy gereed is daarvoor, sal jy geleer word hoe om ’n dilator, oftewel verwydingsinstrument, in jou vaginale opening te plaas – vir sowat ’n halfuur per dag. Jy sal mettertyd verskillende groottes beproef – van so klein soos ’n oorstokkie tot by die heel grootste, wat groter as ’n normale penis is. Die spiere word só gerek en jy leer dat jy sélf iets in jou vagina kan sit, sonder pyn. Dis ’n belangrike komponent van jou sielkundige behandeling.
4. Seksterapie
Tydens seksterapie sal jy die sintuiglike fokustegniek aanleer. Dit beteken dat seks met (’n poging tot) penetrasie vir ’n tyd lank nie toegelaat word nie, maar wel eers wanneer jy ten volle gereed is daarvoor. Gedurende dié tyd sal jy en jou maat mekaar weer sensueel (deur jul sintuie) kan leer ken, deur aanraking en streling. Só kan julle jul emosionele en fisieke intimiteit begin herstel – sonder druk van enige kant af.
5. Psigoterapie
Omdat die sielkundige oorsake van vaginisme dikwels vroeëre seksuele trauma of ’n negatiewe seksopvoeding insluit, moet jou liggaamsgeheue aandag kry. Só kan die effek van trauma op ’n onbewuste en dieper vlak behandel word.
Kognitiewe gedragsterapie sal jou leer om anders te dink oor seks, om ’n positiewer benadering daarvan te hê.
6. Botoks
Indien nie een van die ander metodes vir jou vaginisme gehelp het nie, kan jy behandeling met botoks oorweeg. Maar dis die laaste uitweg vir spierontspanning en is selde nodig. Botoks vir vaginisme is nog in die eksperimentele fase.
Met dié prosedure (wat tot ’n uur kan duur) word jy onder bewuste sedasie of narkose geplaas. Hierna word jy met ’n lokale verdowingsmiddel ingespuit en kry jy verskeie eenhede botoks. Dié inspuitings word tussen verskillende spiere van jou bekkenvloer verdeel. Jou spiere ontspan, waarna ’n groot verwydingsinstrument in jou vaginale opening geplaas word. Jy word daarmee wakker en assosieer dan nie die instrument met pyn nie. Trouens, vir baie vroue is dit glad nie seer nie. Hulle voel nie eens die instrument nie!
Hierna word jy geleer om die dilator te verwyder en self terug te plaas. Jy neem dit saam met instruksies huis toe.
Botoks is egter nie ’n kitsoplossing nie. Al die ander behandelingsmetodes móét eers beproef word.
DIE SIELKUNDIGE EFFEK
As jy aan vaginisme ly, dink jy dalk jy is nie volkome vrou nie, of selfs abnormaal. Die probleem, indien onbehandeld, is ooglopend skadelik vir jou selfbeeld.
Vaginisme is egter nie net jou probleem nie. Dit kan ’n reuse-effek op jou maat hê: Hy kan verwerp voel, en ook skuldig omdat hy seksuele behoeftes het en weet dat seks jou seermaak. Hy kan woedend wees, nie noodwendig vir jou nie, maar vir die probleem. Natuurlik kan die situasie hom ook frustreer want, nes jy, het hy seksuele behoeftes.
Jou maat kan vrees dat jou vaginisme nie sal regkom nie, selfs dat julle nooit kinders sal kan hê nie. Hy kan dalk ook verkies om ’n ruk elders te gaan bly om só te probeer vergeet.
Erektiele disfunksie of premature ejakulasie kan nóg ’n gevolg van vaginisme op hom wees. Of hy kan sukkel om te ejakuleer, of ’n lae libido ontwikkel.
Vaginisme kan tot konflik tussen julle lei. Op die ou end kan julle dalk intimiteit geheel en al vermy, juis omdat dit met pyn, frustrasie en ’n gevoel van mislukking gepaardgaan. Julle hou dalk ook op om behoorlik te kommunikeer.
Indien julle nie hulp soek nie, kan die effek op jul verhouding vernietigend wees. Daarby mag jou maat ook nie sy gevoelens van frustrasie, woede of stres ontken nie. Hy behoort dit met ’n sielkundige of seksuoloog te gaan bespreek.
Jul stresvlakke sal begin afneem sodra jy behandeling vir jou vaginisme begin kry. Julle sal weer behoorlik kan kommunikeer en só emosioneel nader aan mekaar raak. Jou maat se seksuele disfunksie sal gewoonlik spontaan regkom en julle sal normaal seks kan hê.
Die pad wat julle tot hier gestap het, kan selfs jul verhouding laat versterk. En jou maat sal waarskynlik ook, ten spyte van sy frustrasie, empatie met jou hê.
’n Maagdelike geboorteOnbehandelde vaginisme lei dikwels tot egskeiding. ’n Kinderlose huwelik dra baiekeer by tot die spanning.Sommige vroue wat aan vaginisme ly, raak egter wél swanger omdat penetrasie met moeite, gedeeltelike penetrasie of selfs ejakulasie tussen die labia (skaamlippe) tot swangerskap kan lei.Kunsmatige inseminasie word ook soms oorweeg, veral as die man en vrou in alle ander opsigte gelukkig is. Die gevolg kan ’n maagdelike geboorte wees.Dis egter dikwels onnodig, want vaginisme kán behandel word. Klop net aan vir hulp. |
JUL EERSTE SEKS
Berei só voor
Doen Kegeloefeninge (genoem na ene dr. Arnold Kegel) voor julle die eerste keer seks het om só die styfheid van jou bekkenvloerspiere te laat verdwyn: Trek die spiere saam wat jy gebruik om urien in te hou, hou dit so vir enkele sekondes en laat ontspan dit weer. Jy móét die spiere weer laat ontspan. Doen hierdie oefeninge daagliks verskeie kere ná mekaar.
Probeer dié metode ná ’n paar dae se oefen: Doen die Kegeloefeninge terwyl jy een vinger in jou vagina hou. ’n Smeermiddel sal help. Gebruik later twee vingers en nóg later drie. Jy sal kan voel of jy die regte spiere saamtrek en ook gewoond raak aan iets wat jou vagina penetreer.
As jy dit nie regkry nie, probeer weer. Jy is gereed vir seks as jy drie vingers kan inhou. As jy bly sukkel, kry professionele hulp.
DIT KAN HÝ DOEN
Raad vir hom
Besef dat vaginisme nie die vrou in jou lewe se skuld is nie. Haar bekkenvloerspiere trek onwillekeurig saam, sy doen dit nie doelbewus nie. Soos gesien, kan emosionele én fisieke faktore ’n rol speel.
Wees deurentyd positief en geduldig terwyl jou maat behandel word. Ondersteun haar en moedig haar aan. Sorg dat jy presies weet watter stappe sy moet volg, dat jy die probleem verstaan. Wees aan haar sy terwyl sy behandel word.
Moenie intimiteit afskeep nie, selfs al is penetrasie nie moontlik nie. Bevredig mekaar op ander maniere, soos deur sensuele of seksuele aanraking. As julle intimiteit heeltemal sou vermy, kan jy meer verwerp en skuldig voel en kan julle verhoudingsprobleme ontwikkel.
Moenie druk op jou maat sit om gepenetreer te word nie.
Vier elke stap wat julle nader aan ’n oplossing bring: Masseer haar, gee vir haar ’n klein geskenk of bederf haar met ’n spesiale ete.
Wys vir haar dat jy lief is vir haar. As jul verhouding liefdevol is en op respek gebaseer is, sal die behandeling soveel gladder verloop.
BEREI JUL KINDERS SÓ VOOR
Leer jou kinders dat seks binne ’n stabiele verhouding goed kan wees. Stuur steeds – volgens jul waardes – positiewe boodskappe oor seks uit. Beslis nie dat dit vuil is of iets waaroor nie gepraat mag word nie.
Jy kan wel die gevare en risiko’s van seks uitspel, maar lig jou kinders oor alle aspekte daarvan in. Beantwoord vrae soos hulle van jongs af kom. Moenie net die klem op die fisiologiese laat val nie. Jy mag maar vir jou kinders vertel dat seks binne ’n stabiele, liefdevolle verhouding lekker is. Ook dat dit ’n geestelike band tussen die betrokkenes smee.
Leer jou kind om trots te wees op haar liggaam en vrede te maak daarmee. Dit sal ook goed wees as sy masturbeer om só haar lyf te ontdek voordat sy die eerste keer seks het. Moet haar beslis nie aanspreek as jy dalk op haar sou afkom nie. Sê net: “Ekskuus, ek sien jy wil privaat wees.”
Indien jy agterkom jou dogter sukkel om ’n tampon te gebruik, moedig haar aan om eers iets kleins, soos ’n oorstokkie, te probeer. Sy behoort dit vir ’n halfuur per dag in te hou en stelselmatig ’n groter (skoon!) voorwerp te probeer, soos die heel kleinste tamponaanbringer. Neem haar na ’n seksuoloog of seksuele gesondheidspraktisyn as sy aanhou sukkel.
Probeer eerder vaginisme verhoed as dat jou dogter ’n traumatiese eerste sekservaring het.