Читать книгу Skadukant - Rika Cloete - Страница 10

HOOFSTUK 6

Оглавление

Spierwit.

Dit is wat Deirdre sien toe sy haar oë oopmaak.

Oral is dit wit, behalwe vir die kort pastelgeel gordyne links van haar wat voor ’n venster hang. Ook die man met die fronsende gesig aan die ander kant van die bed dra ’n wit oorjas.

Dit neem ’n paar sekondes voordat sy besef hy is ’n dokter – en die plek waar sy haar bevind ’n hospitaal. Toe sy om haar kyk en sien sy lê in ’n privaatsaal, spoel daar ’n gevoel van ontsaglike verligting oor haar.

“Mevrou,” sê-vra die dokter en toe sy nie reageer nie, kom dit meer dringend: “Mevrou?”

Hy moes haar trouring gesien het.

Sy rig weer haar oë op hom, voel die dowwe klop in haar slape en wag dat hy moet voortgaan.

“Mevrou, ek is dokter Halgryn. En u is in die hospitaal op Hermanus. Hoe voel u vanoggend?” Hy kyk ondersoekend na haar, amper asof hy verwag dat sy iets moet verduidelik.

“Hoe het ek hier gekom?” vra sy en haar stem klink hol.

“Om die waarheid te sê, dit is wat ek by u wil uitvind,” antwoord hy egalig, maar sy bespeur tog ’n waaksaamheid. “Van die personeel het u glo laas nag in ’n erge toestand voor die ongevalle-ingang aangetref. Die portier het u onmiddellik in ’n rystoel gesit en ingebring. Verder weet niemand van sout of water nie. Onthou u niks daarvan nie?”

“Iemand het my opgelaai …” begin sy stamelend. “Ek weet nie wie …”

Toe raak sy aan die bewe. Dit kom alles terug, so helder.

“Kom ons los dan maar eers die moeilike vrae vir later.”

Sy weet die dokter probeer haar gerusstel, maar sy word nie kalmer nie. Hy wink ’n verpleegster nader en vra dat sy ’n inspuiting moet voorberei.

“Kan u vir my sê wat u naam is?” wil hy nog weet toe die verpleegster reeds ’n naald in haar arm druk.

“O’Brien. Deirdre O’Brien,” antwoord sy en vryf oor haar keel.

“En waar woon u?”

“Murraybaai,” kry sy uit voordat sy weer in ’n donkerte wegsink.

* * *

Die beelde wat voor haar afspeel, skep saam ’n skrikwekkende indruk, soos in ’n rillerfliek. ’n Koevoet. ’n Stuk elektriese koord. Maskers wat grynsend deur glasbottels vir haar loer. ’n Oop venster. Bome, digte bome. ’n Lywige, sensuele rooikopvrou op purper linne. Naelstringe wat op die vloer lê en krul soos slange. Goue reën. ’n Skalpel. En sy dink aan die woord “Siembamba”. En “Pappa”.

Niks maak sin nie. Sy onthou, maar onthou ook nie. Dit is ’n droomwêreld waarin sy haarself nie kan vind nie. Sy tas rond, vasgevang soos in ’n glashok met die waarheid koggelend aan die ander kant. Dit is daar, maar buite bereik. Al wat werklik en eg is, is haar lyf en die deurdringende pyn wat daarin woed.

Sy raak weer bewus van ’n intense leegheid. Vryf oor haar opgehewe onderbuik, nou net ’n holte waarin geen lewe meer groei nie. Dit gaan die een of ander tyd na die normale toestand terugsak, asof daar nooit iets binne-in was nie.

Fionn.

Sy leun oor en druk die rooi knoppie langs die bed.

Voetstappe kom haastig in die gang af en die jong verpleegstertjie loer by die deur in. “Mevrou? Kan ek help?”

“Gaan roep die dokter, asseblief. Maak gou!”

Die verpleegster hoef haar egter nie te gehaas het nie. Dokter Halgryn moes in die omtrek gewees het, want hy verskyn binne ’n halfminuut langs Deirdre se bed.

“Mevrou O’Brien, wat makeer? Het u pyn?”

“Ons moet die polisie so gou moontlik hier kry. Dit was hy!”

“Wie?”

Deirdre hou nie van die manier waarop hy na haar kyk nie. Hy dink sy yl, sy kan dit sien. Dat sy haar varkies verloor het.

“Die moordenaar. Dit was hý!” roep sy uit.

Hy kyk na die verpleegster, wat nader staan met ’n spuitnaald, maar Deirdre hou haar hand omhoog.

“Moenie my inspuit nie! Ek onthou. Dit wás die moordenaar.”

“Waarvan praat u, mevrou O’Brien?”

“Hy wou hom hê – vir Fionn … Hy wou vir Fionn hê.”

“Mevrou O’Brien, asseblief. U praat heeltemal deurmekaar. Kalmeer nou eers en sê vir my, wie is Fionn?”

“My baba, dokter. Fionn was my seun.” Die laaste woorde kom fluisterend. Sy voel byna sy oortree deur dit te sê.

Dokter Halgryn kug. “Uit die algemene ondersoek wat ek gedoen het toe u hier aangekom het, het ek vasgestel dat u ’n miskraam gehad het, ja. Ek is jammer oor u verlies, mevrou. Dit is ’n baie moeilike ding om te oorkom.”

“Ek weet my baba is dood. Ek het dit geweet lank voordat ek hier aangeland het, dokter Halgryn. Die miskraam is sý skuld.”

“Bedoel u dit is u man se skuld?” Deirdre sien die takserende kyk in sy oë. “Is hy die moordenaar waarvan u praat?”

Sy besef hy dink aan gesinsgeweld, mishandeling.

“Verstaan u nie wat ek vir u probeer sê nie?” Deirdre is radeloos. “Ek praat nie van my man nie. Hy weet nie eens dat ek swanger was nie. Ek praat van die monster wat daardie jong vrou … Hanna Loubser … oopgeslag het vir die fetus. U moes tog van die moord gehoor het? Die lyk van die jong vrou wat op Murraybaai se strand gekry is? Dit is hy. Die man wat my ontvoer het, is die moordenaar. Ek was gelukkig genoeg om uit sy kloue te ontsnap. Maar Fionn …”

Die naam bly haar ontstel. Sy het dit vir hom gegee, hom só van nog net ’n fetus in haar seun omskep. Hoe verwerk ’n mens ooit die dood van jou kind? Dit is vir haar verpletterend. Onder normale omstandighede is dit al verskriklik, maar só? Sy voel dit is ’n nagmerrie waaruit sy nooit sal kan ontvlug nie.

“Mevrou O’Brien,” begin die dokter huiwerig, “is u seker u ly nie …”

“Ek weet wat u gaan sê. Dat die skok van die miskraam my so aangetas het dat ek nie meer reg kan dink nie. Dat ek hallusineer, drogbeelde vir myself opbou oor die Murraybaai-moordenaar net omdat die verlies so groot is. Dat ek op ’n uiters irrasionele manier uit alles probeer sin maak.

“Maar dink net ’n bietjie na. Die omstandighede waaronder ek by die hospitaal gekom het, is uiters verdag. Is dit nie? Ek weet nie wie my hierheen gebring het nie, dit moes ’n barmhartige Samaritaan gewees het wat nie geïdentifiseer wou word nie. Mense wil goed doen, maar nie werklik betrokke raak nie. Die persoon moes gedink het die polisie kan ingeroep word, dalk kom dit in die nuus, dalk word sy of haar lewe ontwrig …”

Deirdre sien haar argument is stadig maar seker besig om in te sink – ook maar goed, want sy het nie veel krag oor om hom verder te probeer oorreed nie.

“Om die waarheid te sê, ek het die polisie reeds in kennis gestel,” sê dokter Halgryn. “Dit is standaardpraktyk in so ’n geval. Ek kon uiteraard nie toe al weet wat dit alles behels nie. Maar ’n vrou in u toestand wat voor die hospitaal afgelaai word? Dit het my dadelik laat dink dat u deur u man of vriend aangerand is. Ek het later vermoed die ‘simpatieke gebaar’ was as gevolg van die miskraam. In ieder geval verwag ek nou elke oomblik iemand van die polisie.

“Maar, mevrou O’Brien, ek moet net eers seker maak. As dit wel, soos u sê, die moordenaar was wat u ontvoer het, gaan die polisie u baie indringend ondervra en dit gaan vir u uiters vermoeiend wees om alles te moet herroep. Sien u in hierdie stadium kans daarvoor? U is nog baie broos en met dié dat die fetus …”

“Dokter Halgryn, daar loop ’n man daar buite rond wat tien teen een nou reeds sy volgende slagoffer soek. Ons kan nie tyd mors nie. Dit gaan hier oor lewe en dood. Ek sal die ondervraging so goed ek kan deursien. Ek het nie ’n keuse nie. Ek móét.”

“Nou goed dan. Maar net as u toelaat dat ek ingryp sodra die perke na my mening oorskry word. Ek is verantwoordelik vir u welstand en terwyl u onder my sorg is, kan ek nie toelaat dat u tot so ’n mate uitgeput of ontstel word dat dit u gesondheid affekteer nie. Het ek u woord daarvoor?”

“Natuurlik. Ek verstaan.”

“Buitendien,” sê hy en kyk streng na haar, “die lewe is kosbaar. As ’n mens ’n tweede kans gegun word, moet jy jouself ekstra goed oppas.”

“Ek het nie veel oor om te verloor nie, dokter. Dit wat vir my belangrik was, is van my weggeneem. Maar ek wil ’n ander vrou dit spaar. Al wat nou saak maak, is om nog so iets te verhoed.”

“Is daar enigiemand wat ek kan kontak om u te kom bystaan, mevrou O’Brien? U man, ouers, ’n vriendin dalk? Ek dink die ondersteuning van geliefdes is nou baie belangrik. Daar kan ook vir u ’n traumaberader gereël word indien u een wil hê.”

Wat kan sy sê? Vir Liam het sy nog nie weer met ’n oog gesien nie en sy gaan haarself nie verneder deur hom te laat kom nie. Sy weet nie eens of hy nog enigsins omgee nie; of sý nog omgee nie. Haar aanneemouers het haar so te sê afgeskryf met haar agtiende verjaardag, die oomblik toe hulle verantwoordelikheid teenoor haar tot ’n einde gekom het. Dit is dus ook nie ’n opsie nie. En vir Tertia sien sy nie kans nie. ’n Traumaberader sal sy wel oorweeg, maar nie nou nie. Eers later wanneer sy meer gereed voel daarvoor.

“Daar is niemand nie, dokter Halgryn,” sê sy beslis. Tot tyd en wyl is sy sterk genoeg om alleen hierdeur te kom.

Skadukant

Подняться наверх