Читать книгу Skadukant - Rika Cloete - Страница 4

VOORAF

Оглавление

Haar voete is mooi, maar effens geswel. Die pienk lak aan haar toonnaels skree teen die wasbleekheid van haar vel en ’n fyn rosie, kunstig getatoeëer, pryk op haar regterenkel.

Liam kyk hoe golfies teen haar hakke aanklots voordat dit in wit skuim oor die grinterige sand uitrol. Sy het sagte voetsole, daar is nie ’n enkele barsie te sien nie. Sy het haarself altyd goed versorg.

Die gety is aan die inkom, die oggendson hoër. Haar kaal liggaam roer in die skommeling van die water, word dan weer stil.

Hy volg die lyne van haar bene met sy oë. Maar net tot by haar knieë. Verder kan hy nie kyk nie. Nie nou nie.

Ná ’n oomblik dwing hy homself om op haar hande te fokus. Die vingers is ontspanne, plek-plek nerfaf. Are loop in fyn strepies oor die bokante waar hy al so dikwels gestreel het. Haar arms is wyd aan weerskante van haar uitgestrek. Soos iemand wat besig was om ’n sandwaaier te teken en toe skielik net opgehou het.

Sy oë wil-wil na haar borste beweeg, maar hy draai eerder sy blik na haar gesig toe. Dit is half weggedraai en haar oë is gesluit. Asof sy slaap. Haar lippe is blou, diepblou. En die effense wipneus lyk nou skerp. Glibberige donkergroen en swart wiere het in haar hare vasgekoek. ’n Paar klein skulpies en sandkorrels nestel in haar oor. Hy kan die lelike pers streep oor haar keel net-net tussen die haarslierte uitmaak.

’n Dooie meermin.

Hy oorreed homself om tog na haar borste te kyk. Die tepels moet afgesny wees, die areolas lyk versnipper. Oral op die geronde, sagte vlees is daar duidelike merke; miskien bytmerke, hy kan nie seker wees nie.

Sy maag maak ’n draai. Hy kan dit nie keer nie en moet eenkant toe staan om hom oor te gee aan die naarheid.

Toe kyk hy weer, want ook dit kan hy nie keer nie. Hy moet sién.

Haar buik is netjies in die dwarste oopgesny en uitmekaargetrek. Gestolde vet pêrel in galsterige kraletjies óm die vernielde ingewande en waar haar baarmoeder moet wees, is daar ’n gat. Daar waar die kind nie lank gelede nie nog knus en veilig was. Hulle kind. Nou is daar niks – niks behalwe die goue verf in en om die wond nie. Duisende sterretjies vasgevang in donker bloed.

Hy haal diep asem, word weer naar.

Toe voel hy in sy sweetpakbroek se sak vir sy foon om die polisie se noodnommer te skakel.

Skadukant

Подняться наверх