Читать книгу Skadukant - Rika Cloete - Страница 7

HOOFSTUK 3

Оглавление

Twee weke later stap Deirdre haar ginekoloog se ontvangsarea binne.

Die plek is gerusstellend. Groot, gemaklike seemsleerstoele domineer die vertrek en die rubberplante in koperpotte gee dit die gevoel van ’n voorstedelike sitkamer. ’n Pragtige bos Sint Josefslelies trompetter in ’n kristalvaas op die toonbank tussen ’n klompie lêers. Sy weet al wanneer die telefoon lui, is dit op ’n gedempte toon. Net enkele kort klankies wat nie skril op die oor is nie. Die koue, kliniese omgewing wat sy met dokters assosieer, is hier heeltemal afwesig.

Nadat sy by die ontvangsdame aangemeld het, gaan sit Deirdre in die naaste stoel. Senuweeagtig stapel sy haar slimfoon, in sy toeklapomhulsel, en haar bos sleutels in ’n hopie op die armleuning. Sy het nie vandag ’n handsak saamgebring nie, want sy het nie weer lus vir die ontvangsdame se skewe kyk as sy daarin begin rondkrap om na iets te soek nie. Dis altyd ’n deurmekaarspul en sy sukkel haar dood om selfs haar sleutels raakgevat te kry. Sy het sommer haar bankkaart in ’n gleufie van die foon se omhulsel gedruk; meer het sy tog nie nodig nie.

Toe besef Deirdre met ’n skok dat sy nie haar bestuurderslisensie saamgebring het nie. Genade! Sy is so vergeetagtig die afgelope ruk. Dit moet die swangerskap wees wat dit veroorsaak. Meer hormone, meer probleme. Ook maar goed Murraybaai is nie deurtrap van verkeersbeamptes nie. Vandag moet sy wraggies nie onnodig draaie ry nie, net direk hiervandaan huis toe gaan.

Sy kyk af en sien dat haar plat balletskoene amper in die digte vesels van die mat verdwyn. Die slooprok span om haar skoot en haar handpalms is sweterig-taai soos dit op die armleunings rus. Bang dat sy die delikate leer sal vlek, lig sy haar hande op en vroetel met haar kraag.

Terwyl die ontvangsdame met haar rekenaar besig is, laat Deirdre haar blik dwaal na die geraamde afdrukke van skilderye deur Gustav Klimt. Die Weense kunstenaar se kenmerkende gebruik van goud en baldadige bont kleure vorm ’n skerp kontras met die aardsheid van die mat en die meubels. Elkeen van die skeppings is ’n viering van vrouwees. Naaktheid, sensualiteit, seksualiteit. En swangerskap.

Die ontvangsdame onderbreek haar gedagtes: “Suster Kemp moet net gou u bloeddruk en urine toets, en daarna sal dokter Katz u sien, mevroutjie.”

Met vingers oortrek van goue ringe lig die gesette vrou die volgende lêer van die stapeltjie af en beduie vir Deirdre om haar na die suster toe te volg.

Nadat die roetinetoetse gedoen is, stap sy en suster Kemp na die dokter se spreekkamer.

Deirdre se senuwees knaag steeds. Soos Tertia gesê het, enigiets kan enige tyd verkeerd gaan. Sê nou net die lewe wat in haar groei, is besig om abnormaal te ontwikkel? Wat gaan dan gebeur? Die afgelope ruk het sy beslis nie na haarself gekyk soos ’n verwagtende vrou moet nie. Die spanning, die eensaamheid … alles maak haar gedaan. En dit is waar – op haar ouderdom kan ’n swangerskap vir seker gevaarlik wees. Hoe sal sy ’n gestremde kind kan hanteer as ’n gesonde, normale een al na te veel voel?

Dis nou al meer as twee maande wat sy op haar eie klaarkom. Na regte moes Liam vandag hier gewees het om haar by te staan. Die vorige kere ook. Die situasie waarin sy is, het immers nie vanself tot stand gekom nie – dit verg twee partye om ’n kind te maak. Sy weet egter sy kan hom nie vir sy afwesigheid verkwalik as sy hom nog nie van die swangerskap vertel het nie. As hy en Hanna net nie –

Dokter Katz se “Kom binne” onderbreek haar gedagtegang en suster Kemp maak die deur oop en beduie sy moet instap.

Die sagte lig van die bankierslamp op die tafelblad laat die dokter se kop groter en gladder lyk as wat dit is. Deirdre vind dit steeds moeilik om sy ouderdom te bepaal, want bleskoppe is bedrieglik en laat die gesigte dikwels jonger lyk as wat hulle regtig is.

Dokter Katz se donker uitpeuloë beweeg altyd heen en weer in hulle kasse en die ronde dunraambrilletjie druk diep in sy pofwange. Hy herinner haar aan ’n belese brulpadda, ’n karakter in ’n kinderboek.

“Mevrou O’Brien, dis goed om u weer te sien,” groet hy. “Sit gerus.” Hy neem die toetsuitslae wat suster Kemp na hom uithou en bedank haar met ’n kopknik voordat sy die spreekkamer verlaat.

Deirdre gaan sit in die stoel voor hom en peuter weer met haar kraag.

“Het u nou al u man oor die swangerskap ingelig?”

“Nee, hy weet nog nie, dokter.” Sy kyk anderpad om dokter Katz se oë te vermy.

“Dink u nie dit het tyd geraak nie? Hy het die reg om te weet. Dis tog nie ’n skande nie.”

Deirdre vervies haar op die plek. Hoe durf hy so ’n neerbuigende houding inslaan? Sy het hom nie van haar huislike omstandighede vertel nie en dit is nie sy plek om sielkundige te speel nie.

“Ék kan weliswaar die nuus vir myself hou,” vervolg hy, “maar verder is daar geen waarborg nie. U weet hoe skinder die mense. Buitendien, u liggaam gaan kort voor lank die praatwerk namens u doen. Hoekom die geheimhouding?”

“Dit is baie gekompliseerd,” antwoord sy kortaf. “Ek sal hom sê. Sodra die tyd reg is.”

“Nou ja, mevrou O’Brien, dit is u besluit …” Hy kyk vinnig na die uitslae en staan toe op. “Dit lyk vir my alles in orde. Kom gerus deur. Laat ons gaan loer of dit ’n seuntjie of ’n dogtertjie is.”

“Kan ons vandag dan al sien?”

“Ons kan. Enige voorkeur?”

“Nee, dokter. Solank die baba net gesond is. Dit is nou al wat saak maak.”

Sy weet Liam sal vrek oor ’n dogtertjie. Rugbywedstryde en kwajongstreke is nie vir hom nie. Hy wil bederf. Rokkies en lintjies en poppe koop. Dis waarna hy uitgesien het. Aan haar maak die geslag absoluut geen verskil nie. Dis ’n kind, ’n verantwoordelikheid.

In die volgende vertrek ontklee sy agter ’n afskorting, knoop die liggroen manteltjie agter haar nek vas en gaan sit op die bed.

Sy kyk na die diplomas en graadsertifikate wat teen die een muur hang. Dit is indrukwekkend, eintlik onvanpas op ’n dorpie soos dié. Iewers in Kaapstad of Johannesburg sal dit beter hoort. In Hermanus miskien nog. Maar hier? Murraybaai is nou wel skilderagtig, maar sy kan nie dink dat ’n spesialis van dokter Katz se kaliber hom hier sou wou vestig nie. Dalk was daar ’n sensasionele skandaal wat hom gedwing het om hierheen te trek. ’n Verhouding met ’n pasiënt wat hom probeer afpers het, miskien?

Die blote gedagte om op Murraybaai te kom wegkruip as gevolg van ’n skandaal, laat haar byna hardop lag. ’n Slegter keuse kan daar nie wees om die aandag van jou af te kry nie. Sy het al deeglik met die dorpsmense se bemoeisiekheid kennis gemaak. Hulle snuffel alles uit. Hoe dit presies werk, weet sy nie, maar van privaatheid is hier geen sprake nie. Om nie te praat van hoe hulle haar aan die begin aangegaap het oor haar kleredrag nie! Die los, bont kaftans en rokke, bonkige juwele, sandale en ongetemde rooi hare – veels te hippie-agtig. En dan nog die feit dat sy ’n skilder is – heeltemal ongehoord. Dis tog nie ’n winsgewende, “ordentlike” werk nie. Dat sy nie by die alewige geskinder wou betrokke raak nie, was nog ’n groter doring in die vlees. Siestog, die arme prokureur. Met so ’n vrou moet hy seker al sy dae hê. Kyk sy darem na hom soos dit ’n goeie eggenote betaam? En waar is die kinders? Almal het tog kinders. Dis die normale verloop van die lewe.

Dit het byna in ’n magstryd ontaard. Deirdre O’Brien versus Murraybaai se mense. Ja, sy het die stories oor haar gehoor. En die stertjies wat aangelas is ook. Oor haar sonderlinge, sku persoonlikheid. Die bespiegelings oor haar kinderloosheid. Terwyl nie een die moeite gedoen het om haar werklik te leer ken of die waarheid uit te vind nie. En dit is so vervelig soos enigiets.

Ag, dit is simpel om selfs net vlugtig te oorweeg dat daar ’n skandaal in dokter Katz se lewe kon gewees het, betig sy haarself. Deesdae verdink sy in elk geval die hele wêreld en sy maat van ontrouheid, agterbaksheid en oneerlikheid. Sy het ’n neurotiese paranoia as dit by vertroue kom. Dit is nie regverdig om ’n onskuldige man oor dieselfde kam te skeer as vir Liam nie. Dalk wou dokter Katz net ’n rustiger lewe op ’n klein dorpie kom hê, soos dit ook hulle idee was, en dan later hier aftree. En daarmee is tog niks verkeerd nie.

Sy wag dat die dokter die bed verstel en lê dan terug teen die kussing sodat hy met die sonar kan begin.

“Reg vir die onthulling, mevrou O’Brien?”

Deirdre knik en weet dit is nie baie oortuigend nie.

Die sonarapparaat voel koel en glad soos dit heen en weer in die jel oor haar opgehewe maag gly. Die ronding is nog nie baie groot nie, maar is sonder twyfel daar. Dokter Katz se kaal kop blink in die helder lig en hy kyk elke nou en dan skerp na die skermpie langsaan om die hoek vir die perfekte beeld te kry.

“Dis ’n steeltjie. Mevrou O’Brien, jy gaan mamma word van ’n seuntjie. En sover lyk hy vir my blakend gesond. Kyk gerus.”

Deirdre wil nie op die skerm kyk nie, wil niks van die kind weet nie. Maar dan dwing sy haarself tog. Asof dit ’n magneet is, bly haar blik op die beeld vasgenael. Sy sien die koddige vormpie wat in haar baarmoeder lê, identifiseer die hartklop. Hoor dit toe dokter Katz die volume van die apparaat opdraai.

Dis ’n seun. Haar en Liam s’n. En hy leef.

Onverwags begin daar ’n vlinder in haar maag dartel. Verskeie emosies spoel tegelyk oor haar, verwar haar, ontstel haar, maak haar sowel bang as gelukkig. Sy is stom voor hierdie wonderwerk, weet nie hoe om dit te hanteer nie. Dit is mooi, so mooi om ’n nuwe lewe te aanskou.

Sy huiwer ’n rukkie en besluit dan om die dokter se opinie nietemin te vra oor dit wat haar meteens kwel. As daar nou iets met die baba sou gebeur … Nee. Daar mag nie. Sy moet seker maak dat haar seuntjie veilig en gesond bly. Dat daar geen kans is dat sy hom gaan verloor nie.

“Ek het net ’n vinnige vraag, as u nie omgee nie, dokter?”

“Ja, mevrou?”

“Is dit normaal om af en toe floutes te kry wanneer ’n mens verwag? Dit het begin met die oggendnaarheid en het nog nie opgehou nie.”

“Dit is nie ongewoon nie, mevrou O’Brien. Veral nie gedurende die eerste trimester nie. Die floutes word veroorsaak deur hormone wat tydens swangerskap vrygestel word. Dit laat die bloeddruk daal en veroorsaak duiseligheid. Daar is geen rede tot onnodige kommer nie, maar u moet maar versigtig wees. Moenie van nou af baie bestuur nie en probeer veral om stres te vermy. Sorg ook dat u meestal tussen mense is, sodat daar iemand is om te help wanneer dit gebeur.”

“Dankie, dokter.” Sy glimlag. “Ek voel nou baie meer gerus. Dis seker vreemd, maar vir die eerste keer voel ek regtig opgewonde oor die swangerskap. Ek gaan hierna sommer gou ’n draai by die winkels oorkant maak om te kyk vir ’n stelletjie blou klere.”

* * *

Tydens die rit huis toe, ná haar inkopies, oorheers die swangerskap Deirdre se gedagtes. Haar blik dwaal kort-kort na die sakkie met die kruippakkie en donssagte sokkies op die passasiersitplek.

Sy probeer hard om op die pad te konsentreer, maar haar aandag word verder afgetrek deur die ongemak van haar geswolle enkel toe sy die koppelaar intrap.

Haar liggaam maak werklik amok deesdae. Die ekstra gewig, moeisamer bewegings, konstante moegheid, slapeloosheid, sooibrand, hoofpyne – al die natuurlike tekens waaraan ’n verwagtende vrou moet gewoond raak.

Gaan sy regtig ma word?

Die mees onomstootlike bewys is natuurlik die sonarfoto wat dokter Katz ná die ondersoek aan haar oorhandig het. Daardie piepklein fetus, niks langer as vyftien sentimeter nie, maar reeds ’n hand vol. Perfekte beentjies teen die boepmagie opgekrul waaruit die naelstring pronk. Toe-oog soos ’n klein voëltjie en duimpie in die mond.

Fionn.

Dit is wat sy hom gaan noem. Want sy weet hy gaan blond wees. Blond en dapper, soos Fionn mac Cumhiall in die Ierse mites waarvan Liam haar vertel het toe hulle as studente saam gekuier het.

Dit was die stories waarmee hy grootgeword het; ’n poging van sy pa om die gesin se Ierse kultuur te bewaar. Sy ma, ’n Boeremeisie in murg en been, het weer vir hom die heldeverhale van Racheltjie de Beer, Wolraad Woltemade en Klara Majola vertel. Dit was ’n liefdevolle kompetisie tussen die twee om hulle enigste seun só te vermaak – en soveel anders as die manier waarop Deirdre grootgeword het. Op die ouderdom van vyf weggeneem van haar pa en ma, en met geen aanklank tussen haar en haar aanneemouers nie. Nooit die gevoel dat sy iewers tuishoort nie. Net ’n bestaan.

Ja, Fionn moet dit wees. Soos die groot, sterk man wat toentertyd insig verwerf het deur aan die Salm van Wysheid te raak en daarna aan sy duim te suig. Behalwe die bloed wat deur Fionn se are vloei, sal dit ook ’n band tussen pa en seun wees.

’n Swaar sug kom oor Deirdre se lippe. Sy sal seker ’n poging moet aanwend om Liam op te spoor en vir hom te sê van die baba. Sy het reeds veels te lank gewag. Sy het gedink hy sou uit sy eie terugkom, sodat hulle dinge kon uitpraat. Dat daar berou aan sy kant sou wees. En aan hare miskien vergifnis, al weet sy dit sou moeilik kom. Eers dan wou sy hom vertel, sodat sy kon seker wees dat hy terug is vir háár en nie net oor die baba nie.

Sy wonder hoe Liam sal reageer wanneer hy uitvind. Sal hy opgewonde kan wees so kort ná die tragedie? Sal hy haar ooit glo? Miskien sal hy dink dat dit bloot ’n set van haar is om wraak te neem omdat hy haar verkul het. Dat sy haar kans mooi afgewag het om hom terug te betaal, boonop nadat hy soveel verloor het. En dan sal sy hom moet oortuig dat hy die pa is. Met datums, bloedtoetse, die hemel weet wat nog alles. Hy sal haar van ontrouheid verdink omdat hy self agter dié deur staan. Het sy werklik lus om deur daardie hel te gaan?

Glad nie. En sy is sommer van voor af woedend.

Die dag toe Liam by daardie voordeur uit is, het hy sy besluit gemaak. Hy het haar eenvoudig aan haar eie lot oorgelaat. Verdien hy dan om te weet wat verder met haar gebeur? En maak dit uiteindelik saak?

Hy is nou besig om te rou, om oor sy verlies te probeer kom. Sy kan dit verstaan, veral wat die kind betref wat saam met Hanna gesterf het. En ja, Hanna se dood was ’n geweldige slag vir almal wat haar geken het. Hy is dalk een van dié vir wie dit die diepste geraak het. Maar was hy werklik lief vir haar? Het hy ’n toekoms saam met Hanna gesien en betreur hy dit dat hy van daardie moontlikheid beroof is? Of was sy net ’n tydverdryf omdat hy onvervuld in sy huwelik was?

Volgens Liam is sy wat Deirdre is die skuldige een. Die een wat onttrek het, wat hom so te sê tot in ’n ander vrou se bed gedryf het. Beteken dit dan dat hy nog iets vir haar voel? Treur hy ook oor die verlies van húlle verhouding? Hoe dit ook al sy, dit is verby …

Nee wat, besluit sy, hy hoef nie te weet nie. Fionn is hare, en hare alleen. Soos wat Liam veronderstel was om hare te wees.

Deirdre kom agter dat haar slape liggies begin klop het en sy berei haar voor op die hoofpyn wat sy weet binne minute gaan volg. Dit laat haar altyd voel asof sy van alles rondom haar afgesny is en net die pyn kan ervaar. Sy hoop nie dit is die voorteken van ’n floute nie. Sy moet by die huis kom en gou ook.

Toe sy by die oprit indraai, trek ’n wolk voor die son in en word dit koeler. Sy is dankbaar vir die bietjie lafenis, want die hitte laat haar baie sweet en maak die kloppende hoofpyne erger. Dalk het sy dit vandag oordoen, sy sal moet rus. Ten minste ’n kort rukkie gaan lê.

Sy druk die afstandbeheerder en die motorhuisdeur gaan knarsend oop. Die motor kom met ’n ligte ruk in die garage tot stilstand en sy draai na die passasierskant toe om die sakkie van die sitplek op te tel. Sy kan die ronding van haar maag voel en dit laat haar glimlag. Daar sal seker nou enige dag ’n roering in haar buik wees. ’n Skop dalk? ’n Ligte geborrel? Iets soos die fladdering van ’n vis se stert? Dan mik sy om die paneelkissie oop te maak sodat sy haar foon kan uithaal.

Skielik word die deur aan haar kant oopgepluk. Sy is dadelik bewus van die gevaar, voel hoe vrees haar beetpak.

’n Kaper! Hier in haar eie motorhuis!

Die raad wat sy al so dikwels in geselsprogramme op die radio gehoor het, flits deur haar kop. Moenie jou aanvaller in die gesig kyk nie, dit sal hom meer gerus maak dat jy hom nie maklik sal kan identifiseer nie. Gee jou samewerking. Gee hom die motorsleutels, jou beursie, foon, net wat hy wil hê. Dit kan jou lewe red. Moenie probeer terugbaklei nie.

Deirdre draai haar kop stadig weg. Probeer wys dat sy haar aanvaller nie wíl sien nie. Hy moenie die indruk kry dat sy iets wil doen om haarself te beskerm nie.

Dit voel of ’n gil in haar keel sit wat wag om uit te breek. Moet sy dit dalk maar laat uitkom? ’n Moontlike verbyganger se aandag probeer trek?

Sy ruik skerp, suur sweet. Iets soos ’n soeterige vrot vrug. Dit wil haar laat naar word.

Toe voel sy ’n kragtige hand oor haar mond sluit, met ’n sakdoek daarin. Sy probeer dit wegdruk, kry al hoe moeiliker en minder asem, verstik.

Die laaste waarvan sy bewus is, is ’n diep donkerte wat haar omvou.

Skadukant

Подняться наверх