Читать книгу Skadukant - Rika Cloete - Страница 5

HOOFSTUK 1

Оглавление

“Hier is die berig,” sê Liam en tik met sy vinger op die voorblad.

Deirdre weet hy verwag ’n onmiddellike reaksie, ’n erkenning dat sy hom gehoor het. Dat wat hy nou vir haar wys, belangrik is.

Sy laat rek egter moedswillig die stilte. Laat die koerant soos ’n stille beskuldiging tussen hulle op die ontbyttafel lê.

Toe trek sy dit uiteindelik nader. In dik swart hoofletters staan daar: Moord op Murraybaai.

Haar oë spring heen en weer oor die kort beriggie en sy neem skaars die woorde in. Wat veel eerder haar aandag wil trek, is die kleurfoto van die vrou op linkerhand. Maar sy weier om daarna te kyk, wíl dit nie sien nie. Sy wil nie nou met daardie beeld gekonfronteer word nie, al is dit reg voor haar.

Dit voel asof tyd stilstaan, asof sy in ’n onbekende sfeer dryf waarin dit ál moeiliker raak om asem te haal. Asof haar longe soos ballonne geswel het en dreig om by haar ribbekas uit te beur. Soos donderweer eggo haar hartklop in haar ore. Maar ten spyte daarvan voel sy lig, soos ’n voël in vlug. Net so vry ook.

Deirdre forseer haarself om te fokus, om na die foto te kyk.

Sy eien die effens skewe voortand wat altyd in ’n breë glimlag gewys het en die bruin kykers wat eintlik te groot was vir die delikate elfie-gesig. Dan die hoë wangbene en asblonde hare wat wars om die vrou se kop staan. En laastens die geblomde rokkie wat in ’n taamlik wilde tuin oor die jong lyf span.

Hanna in gelukkiger dae. Toe sy nog geleef het.

Deirdre kyk op na Liam, maar hy sê nie ’n woord nie. Sy lees die berig ’n tweede keer, dié slag meer sorgvuldig.

Murraybaai – Die erg geskende lyk van Hanna Loubser (22) is vroeg gisteroggend op die Murraybaaise strand naby Hermanus deur ’n drawwer ontdek. Haar man, Riaan, het aan ons verslaggewer bevestig dat sy ongeveer vyftien weke swanger was toe die moord gepleeg is.

Niemand is nog in verband met die misdaad in hegtenis geneem nie en die publiek word dringend versoek om met insp. Tienie Engelbrecht van Hermanus se SAPD-tak in verbinding te tree met enige inligting wat moontlik van hulp kan wees.

Sy konsentreer vir ’n oomblik op die vetgedrukte nommer wat volg en skuif dan die koerant van haar af weg.

Toe Liam gister die nuus gebring het, wou sy dit nie glo nie. Die skok was net te groot. Soos ’n stommerik het sy oor en oor gevra of hy seker was dis wel Hanna se lyk wat verlate en vermink op die strand gelê het. Asof hy sy eie sekretaresse nie sou herken nie – die vrou wat al die afgelope vier jaar vir hom werk, wat elke oggend en middag gedienstig sy tee aandra. Maar meer nog, asof hy sy minnares se liggaam nie bo ’n duisend ander vroue s’n sou uitken nie. Sy kon sy ontsteltenis sien, het geskrik toe hy sy kop soos ’n kind in haar skoot druk en aan die huil raak. Tog was daar steeds iets onwerkliks aan.

Hier is die bevestiging nou, swart op wit.

Hanna is dood. Vermoor.

Nee, protesteer Deirdre se brein weer, dit is heeltemal onmoontlik. Hanna was veels te jonk om te sterf. Sy was ’n blote kind!

Vanselfsprekend het sy Hanna én Liam op ’n gereelde basis doodgewens. Sy het geweet van die affair, al het Liam gedink sy is salig onbewus daarvan. Watter vrou wat haar man liefhet en dié intense pyn en teleurstelling ervaar, sou nie sulke gedagtes hê nie? Watter normale mens wat vir ’n jonger model ingeruil word, sal nie só ’n emosionele reaksie hê nie? Maar nie dít nie. So iets het sy Hanna nooit toegewens nie.

Sy voel Liam se afwagting aan. Hy wil hê sy moet iets sê, die onhoudbare stilte verbreek. Maar wat? Moet sy simpatie betuig? Hom vertroos? Die verwyte uitskree wat sy al so lank opkrop? Sy weet nie wat om te sê of doen nie, maar sy moet probeer, sy kan nie soos ’n strooipop hier bly sit nie.

Die probleem is dat die woorde aanhou om in haar keel vas te steek. Elke moontlike klank voel na doringdraad wat sy moet afsluk om te keer dat dit haar tong aan flarde skeur, en dan gebeur dit uiteindelik tog maar met haar binnegoed. Weer en weer.

Oplaas kry sy haar stembande om te gehoorsaam.

“Ek weet regtig nie wat om te sê nie, Liam. Behalwe dat ek verskriklik jammer is oor wat met Hanna gebeur het.” Selfs vir haar eie ore klink sy bot. “En vir jou. Ek is jammer vir jou ook,” voeg sy by, maar wonder dadelik daaroor.

Is sy werklik jammer vir hom? Vir hierdie man wat haar gevoelens so vertrap het?

“Dis presies wat jy gister gesê het, ja. Jammer. Net jammer. Wat beteken ‘jammer’? ’n Jong, onskuldige vrou is vermoor. Iemand wat ons albei goed geken het. Hemel, Deirdre. Jy sit daar soos ’n koue vis. Wat van my? Wanneer gaan jy ’n slag uitreik na my toe? Jy kon dit nie eens oor jou hart kry om aan my te raak toe ek gister by jou kom huil het nie. Verstaan jy nie hoe erg dit vir my was om op haar verminkte lyk af te kom nie?” Liam slaan hard met sy vuis op die tafelblad en spring op. “Jy het ys in jou are. ’n Hart van klip. Jy is meer dood as Hanna, Deirdre!”

“Hoe kan jy so wreed wees?” Die kwaad binne haar bars los. “Ek weet van julle, Liam.”

“Weet wat?”

“Ek weet van die,” sy spoeg die woord uit, “verhouding.”

Sy oë rek. Die skok op sy gesig gee haar ’n oomblik lank genoegdoening, laat haar op die stelling voortbou.

“Jy mag dalk so dink, maar ek is nie onnosel nie. Julle het my daagliks met julle affair verneder. Die hele dorp lê vol daarvan. Die prokureur en sy wulpse klein sekretaresse, wat die kat in die donker knyp terwyl sy arme, niksvermoedende vrou soet by die huis vir hom sit en wag. Altyd die laaste om te weet, die een wat verneuk word. Behalwe dat ek dit geweet het, Liam. Ek weet al baie lank.”

Liam het van die skok herstel en kap terug: “A, ek sien. Dit gaan eerder oor jou en jou ellendes as oor Hanna. Of oor my. Van al die moontlike geleenthede kies jy hierdie een om my te beskuldig en verwyte rond te slinger. En dít terwyl ek heeltemal getraumatiseer is. Besef jy wat so iets aan ’n mens doen? Ek sal nooit daardie verskriklike beeld uit my gedagtes kan kry nie. Nooit nie.”

Hy vertel van die wurgstreep, die wonde en merke. Bly toe eers lank stil voordat hy verder praat, hees.

“Maar dit was nie al nie. Die monster het Hanna se buik oopgesny en die fetus verwyder. Die holte daarna met goue verf bygekom. Kan jy jou dit indink? Om ’n klein dingetjie wat nog nie eens die lig gesien het nie só wreed te laat sterf. Nog voor hy of sy die kans gekry het om te leef.”

Sy lyf ruk en trane loop oor sy wange.

Deirdre sluk swaar. Die pyn in sy stem … Is dit net die ontsteltenis van ’n man wat sy minnares kwyt is? Of is daar meer as dit? Kan dit die sekerheid, die waarheid wees waarvan sy tot dusver weggeskram het? Dat dit ook die hartseer is van ’n pa wat sy kind verloor het.

“Die kind. Dit was joune,” sê sy byna fluisterend.

Liam antwoord nie, kyk net na haar.

’n Swaar gewig kom lê op die krop van haar maag en dreig om haar te laat wegsink. Dwarsdeur die vloer en dieper en dieper, tot in die donkerste duisternis. Sy sal dit eintlik verwelkom, as sy net uit hierdie ontsettende oomblik kan ontsnap. Hoe kan die lewe so genadeloos wees?

Sy wonder of Riaan Loubser weet wat die ware toedrag van sake is. Vanaf die eerste oomblik toe sy hom by ’n jaareindfunksie van Liam se prokureursfirma ontmoet het, kon sy sien dat hy sy vrou op ’n byna kinderlike manier liefhet. Hanna, wat pas daar begin werk het, het haar man kom voorstel. Riaan was beleefd, skaam. Hy het net oë vir sy Hanna gehad. Haar opgepas soos ’n skat.

Drie jaar later, toe die nuus kom dat Hanna swanger is, kon hy nie uitgepraat raak oor die eerste kindjie wat op pad is nie. Aan elke geduldige oor op die dorp het hy dit uitbasuin, oorstelp van vreugde. En so besorgd dat hy Liam summier omgepraat het om haar net halfdag te laat werk.

Toe daardie aand. Die aand toe hulle almal saam op haar, Deirdre, se aandrang gaan uiteet het om die Loubsers se swangerskap te vier. Met die oorontwikkelde sesde sintuig van ’n ouer vrou, het sy instinktief geweet iets is nie pluis nie. Sy het gedink sy doen goed deur die geselligheid te reël. Sy was bly vir Hanna se onthalwe, wou die jongmense ’n bietjie bederf. Maar sy kon aanvoel dat daar onderstrominge was wat haar en Riaan uitsluit. Liam se opmerklike stilte. Hanna se aangeplakte vrolikheid.

Ja, sy hét toe reeds geweet van die verhouding. Dalk selfs in haar onderbewussyn ’n vermoede gehad oor wie die baba se regte pa is.

“Jou bliksem.” Die kragwoord val hard in die vertrek en sy draai eers haar kop weg, voor sy hom reguit aankyk en vra wat sy wil weet: “En Riaan? Weet hy van die kind, Liam? Dat dit joune is?”

“Natuurlik weet hy nie. Dit sal hom heeltemal vernietig,” antwoord hy, steek ’n sigaret aan en teug diep.

Deirdre kyk na die wit halfmaantjies van haar naels aan die punte van haar bewende vingers. Ander vrae bly in haar maal. Dit is asof hulle die afskuwelike moord uitkanselleer. Asof haar eie pyn en soeke na antwoorde op hierdie oomblik meer betekenisvol is as die realiteit waarmee hulle nou te kampe het.

Wat is beter? Om te weet dat die persoon wat voor God trou aan jou gesweer het, jou bedrieg en ’n kind saam met ’n ander persoon verwek het? Of om soos Riaan te lewe, sonder die vaagste benul van wat aangaan? Of is dit ewe erg?

En die baba? Hoe moet sy daaroor voel? Hanna se swangerskap was amper soos kommentaar op haar eie onwilligheid om ’n ma te wees.

Nadat sy en Liam getroud is, wou sy nie dadelik kinders hê nie. Daar was eerstens haar loopbaan as skilder om aan te dink: ’n beurs aan die Slade-kunsskool in Londen en die kans om moontlik nog ’n groot naam in die bedryf te word. ’n Baba sou dit alles omverwerp. Buitendien het sy nie kans gesien om Liam so vroeg in hulle huwelik al met iemand anders te deel nie. Later het onsekerheid en angs haar nog meer huiwerig gemaak, en toe heeltemal verlam. Hoe kon sy Liam vertel van die diepgewortelde vrees dat sy dalk nie ’n goeie ma sou wees nie? As aangenome kind het sy eerstehandse ervaring gehad van ontoereikende ouerskap en verwerping. Daardie trauma sal haar vir ewig bybly. Hy sou dit nie verstaan nie, al sou hy ook hoe hard probeer. Sy het dus bly wegskram van die onderwerp, terwyl hy aanhou wag en hoop het. En nou is die vervulling van daardie hoop, hoewel deur ’n ander vrou, ook verydel.

Dit sou seker verstaanbaar wees as sy haat teenoor Hanna se ongebore baba gekoester het, die produk van Liam se ontrouheid en iemand wat hom uiteindelik van haar sou kon wegneem indien hy of sy die kans gegun is. Maar vreemd genoeg kon sy die kind nie haat nie – juis ómdat dit Liam se vlees en bloed was. Die band tussen pa en kind het haar ook op ’n manier met hulle verbind; Liam was haar man en deel van haar, nes die kind deel van hom was.

“Ons sal die een of ander tyd oor die ding móét praat,” waag sy dit.

Liam loop soos ’n ingehokte dier op en af in die kombuis. Die mure druk hom klaarblyklik vas net soos vir haar, maar nie een van hulle durf nou weghardloop nie.

Toe hy tot stilstand kom, is dit reg langs haar.

“Gaan jy niks sê nie?” vra sy oënskynlik kalm, maar haar hart klop woes.

Liam stoot sy digte swart hare terug oor sy voorkop en sy sien die golfies van kleur wat sonlig deur die venster daarop maak. ’n Skitterende reënboog teen ’n donker naghemel.

“Wil jy hê ons moet nou sit en derms uitryg oor iemand wie se lyk skaars koud is?” kom dit bars. “Wat wil jy hê moet ek sê? Daar is niks om te sê nie. Jy weet mos nou.”

“Jy skuld my ’n verduideliking, Liam. Dit is die minste wat jy kan doen. Ons is getroud, indien jy vergeet het. En in my boek beteken dit nog iets.”

“Deesdae ook maar net in naam, ja.” Hy glimlag wrang. “Ons idees van hoe ’n huwelik behoort te wees, verskil hemelsbreed. Volgens my deel mense wat getroud is en mekaar liefhet nie net ’n daaglikse lewe nie. Hulle deel ook intimiteit.”

“En volgens my hardloop die een nie dadelik en gaan soek troos in iemand anders se arms, net omdat die ander een nie heeltyd en altyd gereed staan vir seks nie,” antwoord sy venynig terug.

“Intimiteit bestaan nie net uit seks nie, Deirdre. Dit gaan oor nabyheid. Om jou lewensmaat te laat voel dat hy vir jou iets beteken. Dat jy vir hom omgee. Om nie in ’n wêreld van jou eie verlore te raak ten koste van alles en almal anders nie.”

“Ek is ’n kunstenaar, Liam. Ek moet myself in my werk verdiep, één word daarmee,” probeer sy verduidelik, al het sy gedink hy verstaan. “Anders is dit waardeloos en vals. Dis hoekom dit lyk asof ek soms afwesig is.”

“In jou werk verdiep? Één word daarmee? Hoe ironies!” Hy kyk spottend na haar. “Ek hou van die woord ‘soms’. Jy vat nóóit aan my nie, beweeg elke keer weg as ek toenadering soek, maak asof ek nie bestaan nie. En as ons die slag saamslaap, is dit so onpersoonlik dat ons dit netsowel kon gelos het. Dit het niks met jou werk te doen nie, Deirdre. Want dit was nie altyd só nie.”

“En daar is ons nou terug by die slaapkamer. Arme Liam. Toe moes Hanna maar vir my instaan, nè?”

“Dit het niks met Hanna te doen nie!” skerm hy aggressief. “Dit het met óns te doen. Met jou en met my.”

“Dit het álles met Hanna te doen, Liam!” skree sy. “Jy het my verneuk nog voordat ons dinge kon uitwerk en nou maak jy asof dit alles my skuld is. Dit gaan ek nie aanvaar nie. Onthou net: jy is nie ál verontregte in hierdie huwelik nie. Ek moes ook opofferings maak. Een daarvan was om na hierdie afgeleë skindernes toe te trek sodat jy ’n eie regspraktyk kon vestig voordat jy veertig word. Dit was jou groot droom. Maar ek is sielsongelukkig hier. Wat van my behoeftes? My drome? Ek het dit prysgegee ter wille van jou geluk. En wat het dit gehelp? Net mooi niks. En wat het ek nou daarvan? Ook niks. Nie eens vir jou nie.”

Deirdre se hartklop is dawerend in haar ore en naarheid dreig om haar te oorweldig. Sy forseer dit terug. Die sigaretrook wat in die lug hang, help ook nie.

“Laat ek net gou jou geheue verfris.” Liam se stem is kil. “Om hiernatoe te trek was ’n gesamentlike besluit. Jy het so goed soos ek geweet Murraybaai is ’n blote spikkel in vergelyking met Kaapstad, maar jy het my verseker dat ’n klein kusdorpie die perfekte plek sou wees om jou in jou kuns uit te leef. En ons sou meer tyd vir mekaar hê juis omdat dit minder gejaag is as die stad. Veral wat my werk betref. Ons was besig om uitmekaar te dryf, het jy gesê. Ons doen niks meer saam nie. Daarom was dit die perfekte oplossing. Nou verwyt jy my daaroor. En gepraat van opofferings: wanneer presies het jy gedink om met ’n gesin te begin? Om uiteindelik ’n ma te wees?”

“Wat maak dit saak? Jy en Hanna het mos reeds werk daarvan gemaak.”

Toe sy sy gesigsuitdrukking sien, is sy sekondes lank spyt oor wat sy kwytgeraak het. Sy verdriet is byna tasbaar. Dan is die gevoel verby. Dit is die één ding wat hy nie nou voor haar deur moes kom gooi het nie. Nie nadat hy ’n klug van hulle huwelik gemaak het nie.

“Sê wat jy wil sê, Liam. En kry klaar. Ek wag.”

“Jy weet wat ek wil sê.”

“Nee. Jy gaan dit sê. Direk. In my gesig. Ek gaan dit nie vir jou doen nie.”

Liam se oë is liggroen poele. Sy lippe is bleek. Hy huiwer. Enige oomblik nou, dink sy. Die gewraakte woord: egskeiding.

“Deirdre, ek …” begin hy en druk sy sigaret in die asbak op die wasbak dood.

Haar bravade verdwyn in die niet. Sy wil nie hê hy moet dit sê nie. Sy wil dit nie hoor nie. Haar kop begin liggies duisel en die naarheid stoot weer in haar keel op.

Hy staar na haar, maar asof hy haar nie sien nie. Eerder asof hy haar soek, iewers waar sy lank gelede was.

“Liam …”

Hy draai om en begin wegstap. Sonder om te groet. Sonder om terug te kyk.

“Liam, wag! Daar is iets …” roep sy agterna, maar hoor die voordeur toeklap.

Deirdre se lyf ruk. Sy voel hoe die trane teen haar wange afloop, warm soos vingers op haar vel. Sy huil egter geluidloos. Toe sy op die koerant afkyk, swem die hoofopskrif voor haar oë en word Hanna se foto ’n waas van kleur.

Sy druk haar hand oor haar mond en moet hardloop om by die badkamer uit te kom.

* * *

Die vloer is koud onder haar en Deirdre maak haar oë oop. Al wat sy onthou, is die paniek, die wanhoop en die donkerte wat oor haar uitgesak het toe sy op haar knieë voor die toilet was.

Sy kom orent, lig haar regterarm en kyk na die voortjies wat die teëls in haar vel gemaak het. Daar is ’n aaklige, bitter smaak in haar keel en sy loop wasbak toe om haar mond uit te spoel. Toe sy in die spieël kyk, is sy geskok.

Haar dik rooi poniestert hang losserig teen haar nek af. Die rekkie moes met al die beweging skietgegee het. Sy is doodsbleek, maar haar nek het nog ligrooi vlekke wat deur die inspanning van die opgooiery veroorsaak is.

Sy lyk skielik vir haarself oud. Veel ouer as haar vyf-en-dertig jaar. Daar is plooie aan weerskante van haar mond wat nie werklik nuut kan wees nie, maar wat sy nie ken nie. En die sproete oor haar neus en wange, wat sy weet gewoonlik ’n speelse indruk maak, is dof. Hoewel nie so leweloos soos haar oë nie. Blou poele sonder enige vonkeling, want daarvoor het ’n mens lig van binne nodig.

Toe pak die naarheid van ’n vroeë swangerskap haar opnuut en moet sy nog ’n keer oor die toiletbak gaan hang.

Skadukant

Подняться наверх