Читать книгу Skadukant - Rika Cloete - Страница 9

HOOFSTUK 5

Оглавление

Dit is so stil tussen hulle dat sy die getik van haar horlosie kan hoor. Sekondes wat soos ure voel.

Nou eers kom Deirdre agter dat die liedjie nie meer speel nie. Die man het dit waarskynlik afgeskakel om haar reaksie op alles wat hy doen sonder enige steuring te kan indrink. Soos iemand wat ’n kunswerk uit alle hoeke bestudeer of ’n eksotiese smaak op sy tong tot op die laaste wil geniet.

Sy verwag elke oomblik dat hy gaan sny.

Meteens begin haar maag kramp. Dit kom soos golwe oor haar, een na die ander.

Die gewag raak ondraaglik. Sy wil vir hom skree om klaar te kry sodat sy kan uitbloei en doodgaan, dat hierdie hel net kan endkry. Maar hy bly met die lem oor haar buik streel, mik dié kant en dan daardie kant toe. Heen en weer skuur die skerp punt oor haar; hy begeer om die vel te deurdring, maar wil die bevrediging bly uitstel.

Die krampe hou nie op nie. Sy wil duiselig word van die pyn. Sy kners op haar tande, wriemel.

“Wat maak jy? Lê stil!” beveel hy.

Sy kan nie antwoord nie. Sy kan skaars asemhaal.

Iets breek binne haar, vloei uit haar uit. Is dit bloed? Water? Het hy haar oopgesny? Sy kan nie sien nie, sy voel net die hitte teen haar bene afloop. Haar liggaam ruk geweldig en toe weet sy:

Dit is verby. Sy het vir Fionn verloor en hier is niemand om haar te help of hom nog te probeer red nie. Haar angs het ’n miskraam veroorsaak. Haar eie liggaam het haar folteraar voorgespring deur self haar kind te vermoor.

“Wat het jy gedoen!” skeur die kreet agter die masker uit.

Hy moes die bloed gesien het. Dit verwar hom, werp sy hele plan omver. Hy is steeds oor haar gebuig, die skalpel nou bewend in sy hand.

Toe hy sy kop na haar toe terugdraai, sien Deirdre vir die eerste keer sy oë duidelik deur die splete. Dit boor deur elke vesel in haar. Daar is geen irisse nie, alles is pikswart. Dit kan net gekleurde kontaklense wees, want sulke oë is nie normaal nie.

“Jy het my kind vermoor! Jý!” skree hy.

Hy laat die skalpel klingelend langs haar op die vloer val en voel tussen haar bene. Toe hy sy hande te voorskyn bring, is hulle dieprooi. Hy skud hulle en sy is bewus van druppels wat louwarm op haar gesig val.

“Sien jy dit? Jy het hom doodgemaak, jou teef.”

Hy druk sy hand by haar in, sy vingers tastend. Sy sluit haar oë en probeer dink dat dit dokter Katz is wat haar ondersoek. Hy gaan haar nie seermaak nie, net seker maak dat alles reg is. Sy is veilig, niemand gaan haar iets aandoen nie.

“Jy is leeg,” sê hy. “En my kind lê hier op die koue sement.”

Die fetus en nageboorte moes afgekom het.

Nog ’n kramp pluk in haar lyf, maar die leegheid is erger. En dit is nie bloot fisiek nie, Deirdre voel dit tot in haar siel.

Fionn … Hy is dood. Leweloos in ’n plas bloed tussen haar dye. Nog voordat hy regtig mens was.

Die skaduwee wat die man oor haar gooi, verdwyn toe hy opspring. Heen en weer storm hy voor haar verby met sy hande teen sy ore gedruk, sy kop aan die skud. Wat gebeur het, het hom alle beheer laat verloor.

“My kind is dood … My kind is dood …” mompel hy eers, maar skree dit dan uit. Sonder ophou.

Dit lyk of hy van haar vergeet het, of ten minste vir ’n tydjie. Deirdre skuif so onopsigtelik moontlik in die rigting van die skalpel. As sy dit net in die hande kan kry!

Maar sy moet dit stadig vat. Sy wag ’n paar oomblikke. Dit voel asof daar niks in haar oor is nie en sy wil amper lag oor die makabere toneel wat voor haar afspeel – ’n gemaskerde moordenaar wat kerm oor ’n miskraam asof dit sy eie verlies is. Sy hou egter haar gesig uitdrukkingloos, bang dat enige emosie ’n nuwe uitbarsting kan ontketen.

Die skalpel is nou sentimeters van haar af. Sy durf nie ’n geluid maak nie. Al wat sy moet doen, is om te strek en dit op te tel. Dis reg, moedig sy haarself aan, amper daar …

Sy voel die instrument in haar hand. Sy moet kalm bly, nie oorgretig wees nie. Daardie lem is vlymskerp. ’n Verkeerde beweging en sy sny haarself.

So versigtig as wat sy kan, druk sy die skalpel onder haar lyf in. Die verligting is van korte duur, want Pappa het weer van haar bestaan bewus geraak.

“Jy is ’n nikswerd. Nie ’n ma se agterent nie. Jy het my kind vermoor en daarvoor gaan jy betaal.”

“Nou weet jy ook hoe dit voel,” sê sy en konsentreer daarop om leedvermakerig te klink. “Nie soveel pret om aan die ontvangkant te wees nie, nè? Ek is nie meer bang vir jou nie, maak wat jy wil.”

“Ek haat jou, haat jou, haat jou!” gil hy en spring op en af soos ’n kind wat nie sy sin kon kry nie.

“Ek gee nie om nie. Jy kan my maar haat soveel as wat jy wil. Dis jy wat misluk het, nie ek nie.”

Haar woorde ruk hom tot stilstand. Sy weet hy gluur haar aan deur die masker, dat hy onseker is oor wat om nou te doen.

Sy wil eintlik byvoeg dat sy in elk geval reeds alles verloor het, dat alles wat vir haar saak gemaak het tot niet is en dat dit ’n verlossing sal wees om te sterf. Saam met Fionn. Maar sy gaan nie. Om die een of ander rede kan en wil sy nie die bietjie mag wat sy oor hom gekry het, inboet nie. Dit is ’n rare gevoel om beheer te hê oor iemand van wie jou lewe afhang. Om te weet dat die bordjies dalk, hopelik, verhang is en jý gaan bepaal of jy sterf of nie. Dit versterk haar drang om te oorleef.

“Ek het nie misluk nie, hoor jy my?” skel hy. “Dis nie my skuld nie!”

“Dis nie hoe dit vir mý lyk nie,” daag sy hom uit met spot in haar stem.

“Ek sal jou wys. My kind is hier.”

Hy vlieg om na die tafel toe. Deirdre kan bottels hoor rinkel en weet nie watter haas hy hierdie keer uit die hoed gaan pluk nie.

Sy is bewus van die skalpel onder haar rug, verbeel haar dit sny in haar vel in. Sy wil skuif, maar kan dit nie nou waag nie. Kan nie sy aandag onnodig op haar vestig nie. Hy het van die skalpel vergeet en sy mag hom nie daaraan herinner nie. Dit is dalk haar uitkoms.

Hy het blykbaar gevind waarna hy gesoek het.

“Hierso, kyk.”

Hy hou ’n glasbottel op en sy word gedwing om haar kop te lig om te kan sien. Die pyn is nog oral, maar dis onbenullig in vergelyking met wat sy moet aanskou.

Agter die glas, in ’n vloeistof wat sy aanneem formalien is wat ietwat vertroebel het, is ’n fetus. ’n Klein, volmaak gevormde mensie met geslote oë. Sy kan net-net die stuk naelstring sien wat uit die lyfie kom, die skakel met sy ma wat te vroeg geknip is.

“Die ma,” sê hy en spoeg minagtend op die vloer, “se naam was Hanna.”

Haar onderlyf reageer op daardie woorde. Begin ruk … Sy moet dit in bedwang hou, anders gaan haar binneste verder skeur. En die skalpel – sy gaan haarself seermaak as sy nie stil lê nie.

Dít is dus wat hierdie maniak in die bottels wil bewaar. ’n Gesinnetjie van ander mense se ongebore kinders, soos insekte vasgevang in amber.

Sy kan nie meer na die figuurtjie kyk nie.

“Dis genoeg!” roep sy uit.

Dan tref dit haar soos weerlig. En Fionn? Wat van hom? Sal hy as gevolg van die miskraam ten minste nie só opeindig nie? Gaan hy dit gespaar bly om in formalien uitgestal te word omdat hy nie lewendig in die wêreld gekom het nie?

Die man loop na die tafel om die bottel terug te sit. Hy raak met van die ander doenig en sy hoor hoe hy ’n deksel afskroef, dan vloeistof ingooi.

Toe hy na haar toe terugdraai, hou hy ’n soortgelyke bottel as die vorige op en sy voel van voor af siek. Gaan hy tog –?

“Dié een is vir my seuntjie,” sê hy en kom nader.

Nee. Hy gaan nie vir Fionn in ’n bottel sit nie! Nie solank sy hier is om dit te verhoed nie.

Sy probeer orent kom, druk haarself regop. Voel agter haar om die skalpel raak te vat.

Sy gaan hom doodmaak. Hier en nou.

Hy kom tot by haar, dwing haar bene verder uitmekaar en tel dan die fetus sorgsaam van die sementvloer af op. Voor Deirdre enigiets kan doen, word die liggaampie in die vloeistof gedompel, die bottel toegeskroef en dit terug by die ander op die tafel geplaas.

Daar is iets soos die skuur- en kreungeluide van swaar masjinerie in haar kop. Dit verjaag alle rasionele gedagtes behalwe een. Sy span al haar wilskrag in om op te staan, ignoreer hoe haar bene wankel en storm dan op die gemaskerde man af.

Sonder veel moeite stamp hy haar van hom af weg. Sy slaan neer en die skalpel kletter iewers op die sementvloer.

Haar liggaam is so seer dat sy eenvoudig nie weer orent kan kom nie. Die terugbaklei is heeltemal uit haar uit.

“Lê nou en dink na oor jou sondes,” beveel hy met ’n doodse stem. “Ek gaan eers eet. Maar ek is netnou terug om met jou af te reken. Jy gaan nie hiermee wegkom nie, dit belowe ek jou.” Met ’n grinnik tel hy die skalpel op. “En ek vat dié saam sodat jy nie weer gedagtes kry nie.”

Hy skakel die lig af en sy hoor die deur agter hom toeklap. Sy wag om te hoor of hy dit sluit, maar die geluid kom nie. Net voetstappe wat sagter word, ’n skuifgeluid, en toe ’n enjin wat aangeskakel word en stadig wegsterf.

* * *

Hoeveel langer sy nog kan uithou, weet sy nie. Maar sy moet hier wegkom en haar enigste kans is nóú. Sy mag dit nie verspeel nie.

Eers na ’n paar sekondes kom Deirdre agter dat sy huil. Sy snuif, lig haar hand om die trane van haar wange af te vee. Wat help dit om hier te sit en tjank? Sy moet eerder vinnig dink wat om te doen.

Toe slaan dit haar soos ’n voorhamerhou. Sy hou haar hande op, draai hulle voor haar in die rondte. Pappa het nou wel die skalpel saamgeneem, maar hy het skynbaar in sy woede vergeet dat sy die beweging van haar ledemate terug het. Hy het haar nie vasgebind nie.

Haar kop is sommer dadelik helder en sy kry nuwe moed. Sy moet dink aan moontlikhede, ’n plan maak om te ontsnap. Sy kyk om haar, wik en weeg.

Dan onthou sy van haar foon. Waar is dit? Het hy dit in haar motor gelos of sou hy dit miskien saamgebring het om die ontvoering na ’n roof te laat lyk? As dit iewers in die werkswinkel lê, kan sy iemand bel …

Nee. Dis belaglik. Hy is nie so onnosel om dit oop en bloot vir haar gebruik te laat rondlê nie.

Haar bene wil onder haar meegee toe sy orent kom, maar sy durf nie talm nie. Hy kan baie binnekort terug wees.

Die slooprok sak teen haar lyf af en plek-plek moet sy die materiaal regtrek omdat haar bene taai is. Dit kan haar bewegings belemmer, besef sy. Dit is reeds op een plek aan die onderkant geskeur, dit het seker gebeur toe hy so hardhandig daaraan gepluk het. Sy skeur die materiaal verder af, sodat die rok nou net tot onder haar knieë hang.

So saggies moontlik beweeg sy na die deur, maak dit oop. Al wat sy aantref, is ’n gang wat na ’n ander deur lei. ’n Swaar skuifdeur wat beslis van buite gegrendel is. G’n wonder hy het dié keer nie die moeite gedoen om haar toe te sluit nie. Sy loop soontoe, stoot en trek daaraan, enigiets om dit oop te kry, maar dit is tevergeefs.

Deirdre loop terug in die gang af, klik die werkswinkel se lig aan en begin elke area bestudeer.

Toe sien sy dit.

Een van die vensters is op ’n skrefie oop. Al wat sy moet doen, is om dit verder oop te stoot en dan uit te klim. Wat egter in die pad is, is die diefwering. Maar miskien … Die yster is kwaai geroes en met inspanning en die regte gereedskap kan sy dit dalk oopkry …

Die klein koevoet wat tussen twee hamers teen die muur hang, is ’n seën. Adrenalien bou in Deirdre op toe sy dit afhaal.

Die diefwering is van die ou soort, nog aan die binnekant vasgesit. Sy maak die venster so ver moontlik oop, dring die koevoet tussen die metaalstawe in en beur vir al wat sy werd is. Mettertyd kry sy dit reg om dit wyer oop te buig. As sy net aanhou, sal sy kan uit.

Die veraf gebrom van ’n enjin klink opeens op, word harder soos dit nader kom.

Dis te laat. Hy is terug.

Daar gaan nooit genoeg tyd wees om hier uit te wurm nie. Hy sal haar op heterdaad betrap en dan is haar doppie geklink.

Haar oog val op die materiaal wat sy van haar rok afgeskeur het. Sy gaan tel dit op en smyt dit vinnig by die venster uit – om die illusie te skep dat haar rok vasgehaak het terwyl sy ontsnap het. Sy sit die koevoet netjies teen die muur neer. Toe gryp sy ’n skroewedraaier om haar mee te verdedig en gaan kruip agter die groot draaibank weg. Haar hart klop woes in haar keel en haar asem slaan amper weg toe die deur oopgaan en sy skaduwee op die vloer val.

“Mamma, ek is terug!” roep hy vrolik uit. “Mamma?”

Daar is die geluid van sy seilskoene soos hy na binne beweeg. Dit hou op.

Die oop venster. Hy moes dit gesien het en nou dink hy sy is weg.

Sy voetstappe beweeg vinnig in daardie rigting. Daar is die geklingel van metaal; hy moes die koevoet omgeskop het. Sy kan nie sien of hy by die venster uitkyk nie, maar hoor hom onderlangs vloek. En toe klap sy voetstappe in die gang af. Buitentoe.

Sy hoor geeneen van die deure toegaan nie. Sy woede het hom weer nalatig gemaak.

Nóú. Dit is tyd om uit hierdie hool te kom.

Fionn …

Wat van hom? Moet sy hom net hier los, in die bottel? Sy kan hom tog nie saamneem nie, of kan sy? Nee, sy sal hom hier moet los. Om heeltyd die bottel te moet vashou terwyl sy vlug, is onsinnig. Dit sal in die pad wees, sy kan nie die kans waag nie. Maar … Nee. Hy is nie die Fionn waartoe hy moes ontwikkel het nie. Sy moet daardie lewelose fetus agterlaat, anders kan sy alles netsowel laat staan.

Angsbevange maar doodstil beweeg sy in die gang af, die skroewedraaier in haar hand vasgeklem. Toe is sy by die deur uit.

Voor haar sien sy in die dowwe maanlig ’n grondpad wat deur digte bome kronkel. Die man is daar, sy hoor hom roep voor sy hom gewaar.

“Mamma, waar is jy? Ek sal jou kry! Jy sal nie wegkom nie.”

Deirdre moet haarself in die donkerte aan die kant van die huis klein maak toe hy terugdraai en in ’n motor spring. Die enjin vat en hy trek weg, af met die grondpad. Selfs in die skraps maanlig kan sy stof agter die voertuig sien opslaan. Sy kon egter niks spesifieks omtrent die motor uitmaak nie, nie eens die kleur nie. Tog wou dit bekend voorkom.

Daar is nie tyd om daaroor te tob nie. Hy is besig om haar te soek – ’n jagter wat sy prooi agternasit.

Toe sy seker is dat hy haar nie in die truspieëltjie sal kan sien nie, hardloop sy tot tussen die bome. As hy terugkom, sal sy hom sien voor hy háár sien. Die motor se ligte sal hom verraai en dan sal sy wegkruip. En aanbeweeg. En wegkruip. Kat-en-muis totdat sy veiligheid bereik.

Haar liggaam kan egter nie veel meer vat nie. Deirdre weet dit is nie lank voordat sy gaan inmekaarstort nie. Maar sy sal aanhou tot dan, dit belowe sy haarself.

Sy sukkel deur die lang gras. Droë takke krap haar kaal bene en haar voetsole is al gaar, want haar skoene is sag en nie van die stewigste nie. Sy kom egter nie vir ’n oomblik tot stilstand om te rus nie. Sy kan dit nie bekostig nie.

Bly aan die beweeg, moenie ’n stilstaande teiken word nie, por sy haarself aan.

Tussen die bome gewaar sy ligte en dit spoor haar nog verder aan om deur te druk. Dit lyk soos straatligte en kan nie meer ver wees nie. Sy moet net uithou.

En toe, uiteindelik, die pad.

Sy staan op die strook grond langs die teerpad en sien kopligte aankom. Haar hart hamer in haar bors. Sê nou dit is hy?

Die ligte kom nader. Verblind haar byna. Sy voel soos ’n nagdiertjie wat in ’n soeklig vasgenael is, heeltemal te lam om te beweeg.

Dit maak ook nie meer saak nie.

Die laaste bietjie energie verlaat haar. Toe die motor langs haar tot stilstand kom, gaan haar hand oop en besef sy dat sy nog die hele tyd die skroewedraaier vasgehou het. Sy hoor dit val.

Dan vou haar bene onder haar in.

Skadukant

Подняться наверх