Читать книгу Woorde is soos wors - Rona Rupert - Страница 5

Twee

Оглавление

Iemand het oor die luidspreker geroep: “Denis … Denis … Denis … dit is dringend, Denis … kom asseblief na die voorste ingang toe …”

Denis is die sirkusbaas; hy ís die Sirkus. Hy lyk soos ’n boemelaar, maar hy is roekeloos en regverdig. Daar is niemand by die Sirkus wat nie mal is oor hom nie, of hulle dit wys of nie.

Bob en die konstabel was besig om met mekaar te praat. Ek het geweet dat dit oor my was, maar ek het nie na hulle geluister nie. Wat gebeur het, wou ek so gou as moontlik vergeet, soos van party rillerprente, anders sou ek nooit in my lewe weer alleen in die donker wou loop nie.

“Hy vra hoe oud jy is,” het Bob getolk, asof die konstabel die vraag in ’n ander taal gevra het. Bob het die boonste knoop van sy hemp losgemaak en sy dasknoop geskuiwe, asof hy benoud was. Sy das het los om sy nek gehang. Dit was vir my snaaks, want Bob is altyd baie netjies, hy is die netjiesste mens wat ek ken. Sy hemp is altyd tot bo vasgeknoop en daarby dra hy áltyd ’n das, en ’n pak klere. Hy het twee pakke, ’n gryse en ’n bloue met strepe, en hulle knieë en elmboë is al blink van ouderdom. Hy het grys hare en hy dra ’n bril en hy moet ten minste sestig wees, het Carsten Latsky gesê.

Carsten Latsky sê Bob was ’n beroemde akrobaat toe hy nog jonk was, en dat hy lank in Amerika in ’n groot sirkus die ster was. Nou dril hy ons akrobate, van die vloer af, met sy hoed op die sitplek langs hom, asof hy op pad is iewers heen, werk toe, of kerk toe. Iemand wat hom oor die straat sien loop, sal maklik die fout maak en dink die skraal ou mannetjie werk in die bank.

“Hoe oud is jy?” het hy my weer gevra. Die hele Goeiehoop-sentrum het gewieg. Ek het gewonder of dit so voel as ’n mens vliegtuig ry. “Josias?”

Ek het probeer konsentreer. “Twaalf,” onthou ek toe.

“Twaalf,” het Bob vir die konstabel gesê. Hy het dit neergeskrywe.

Denis het met sy hare orent daar aangekom, sy papiere nog in sy hand. “Hallo,” het hy vir my gesê; vir die konstabel het hy geknik. Hulle het eenkant toe gestaan en met mekaar gesels. Toe het die konstabel hom gegroet en geloop. ’n Ent weg het hy van my onthou, omgedraai, en vir my ook tot siens geroep. “Beterskap!” het hy gesê.

Ek het vir hom met my heel arm gewaai. Bob het “Cheers!” geroep.

Denis het my opgehelp. Hy het bekommerd gelyk. “Kan jy loop?” het hy gevra.

Ek het ’n grap probeer maak. “Dis nie my béne wat ek nie kan roer nie,” het ek gesê, en opgestaan. Maar toe ek staan, moes ek aan sy arm vashou.

“Goed,” het Bob gesê, “dan gaan ons ander maar weer met die oefening aan, terwyl julle gou hospitaal toe gaan.” Hy het dit laat klink asof dit iets was om na uit te sien. Maar sy gesig was ernstig. Toe ons om die draai na die treetjies gaan, het ek omgekyk. Hy het nog daar gestaan. Toe hy sien ek kyk om, het hy vir my gewaai.

Denis het sy hand onder my gesonde linkerarm gehou, en ons is die treetjies voetjie vir voetjie af. Dit het gevoel asof ons nooit by die laaste een kom nie.

Ek moes op die onderste treetjie sit solank Denis die sirkuskombi gaan haal het. Hy het die deur oopgemaak en my ingehelp. “Gelukkig is Groote Schuur naby,” het hy gesê toe hy die enjin aanskakel. Ek het op my tande gebyt. My arm het begin swel en net die beweging wat ek met die inklim gemaak het, het ’n pyn in hom laat wakker word waarvan ek liewer nie wou weet nie. ’n Plaaspad kon nie meer geskud het nie. Al wat ek kon regkry, was om nie ’n geluid te maak nie.

Denis het links afgedraai na die hospitaal toe. Dit het vir my meer na ’n paleis as na ’n hospitaal gelyk. Hy het by ’n ingang met twee groot houtdeure en ’n bolig wat met hout- en glaspatrone versier is, stilgehou. Die lig het daardeur geskyn. Een van die deure was oop. Regs van ons was die stadsliggies en hoë palmbome wat heen en weer buig in die wind. Ek het nie die moed gehad om af te klim nie.

Denis het my baie versigtig uitgehelp. ACCIDENT UNIT. Ons het by die oop deur ingegaan. Daar was ’n toonbank, en ’n jong man wat ’n toebroodjie agter die glas sit en eet het, het vir Denis gevra of hy ons kon help.

Ek het op die houtbank teen die muur gaan sit, onder PASIËNTE WAGTEND OP GENEESHEER, en my regterarm met my linkerhand in posisie probeer hou. Ek wou nie daarna kyk nie en het elke geskrewe woord in die portaal gelees.

Onder PERSONE BEHALWE PASIËNTE WAG LANGSAAN het ’n man en ’n vrou met geel hare gesit. Haar hand was verbind en dit het gelyk asof sy gehuil het. Hulle het al twee stil voor hulle sit en uitkyk en nie met mekaar gepraat nie. Anderkant hulle was twee swaaideure. GEEN DEURGANG was op hulle geskrywe.

Denis het met ’n vorm in sy hand langs my kom sit. Hy het gesug, sy geel ou bolpen uit sy hempsak gehaal, die vrae op die vorm hardop gelees, en my antwoorde ingevul.

“Wat is u van?”

“Olwage,” het ek saamgespeel. My leesstof teen die mure en bokant die deure was op; hy het net betyds gekom.

“Wat is u voorletters?”

“J.J.,” het ek gesê.

“Wat is u eerste naam?”

“Josias,” het hy self geantwoord. Ek het geknik. Dit was soos ’n blokkiesraaisel. Maar die pyn in my arm wou nie ophou nie.

“Verstrek asseblief u geboortedatum – indien nie beskikbaar, u ouderdom.” Denis het na my gekyk en geglimlag. Dit het my beter laat voel. Ek het my oor sy kommer begin bekommer. “U geboortedatum,” het hy my herinner.

“Drie-en-twintig Oktober,” het ek gesê. Toe moes ek eers twaalf van die jaartal aftrek.

“Waar woon u?”

“Dun …” het ek begin sê, en toe onthou. “St. Andrew’s.”

“U permanente woonadres?” Daar kon ek hom toe tog Dundonaldstraat laat skrywe. Ma woon nog daar.

My keel het skielik dik gevoel. “Ek is naar.”

Denis het vinnig opgestaan en hom amper vasgeloop in die GEEN DEURGANG-swaaideur wat iemand toe net van binne af oopstoot. Dit was ’n witjasdokter. Ek kon hom ruik. Op ’n rooi plaatjie op sy bors was sy naam geskrywe: DR. S. SLABBERT.

En toe tref ’n onderbreking my, soos wanneer mens ’n storie lees, en jy per ongeluk twee blaaie tegelyk omblaai. Maar in ’n boek kan jy terugblaai, en ek kon nie weer later nie.

Woorde is soos wors

Подняться наверх