Читать книгу Woorde is soos wors - Rona Rupert - Страница 9
Ses
ОглавлениеDit was nie moeilik om deur haar plan te sien nie. Aan die manier waarop sy dit gesê het, het ek gehoor dat sy nie gevra het of ons wíl nie, sy het gesê ons móét. Niks wat ek gesê het, sou enige verskil gemaak het nie.
Ek wou haar te lyf gaan, ek moes myself keer. “Wie is julle?” het ek gevra.
Meneer Van der Walt het geantwoord. “Ek is jammer,” het hy gesê, “ons moes verduidelik het. Ons is van Kinderwelsyn, en ek is jammer dat ons oor sulke onaangename dinge met jou moet praat.”
Ek het hom gehoor, en ook nie. “Maar dit is onmoontlik,” het ek gesê, “ons kan nie vir Ma in die steek laat nie. Wie sal vir Linda sorg wanneer Ma saans by die viswinkel werk? En waar sal sy geld vandaan kry om vir ons losies te betaal?”
Dit het vir my goed geklink, veral toe ek gepraat het van die geld. Maar dit was die eerste ding wat juffrou Hanekom weggepraat het. “Sy sal nie daarvoor hoef te betaal nie,” het sy gesê. “Luister nou, ek sal alles verduidelik.”
Ek wou niks verduidelik hê nie, ek wou nie hoor wat sy sê nie. Ek wóú nie. Linda, waar sy op die verpleegster se arm gesit het, het naderhand grootoog na my gekyk. En ek het na juffrou Hanekom gekyk. Haar hare was kort geknip en reguit, soos ’n seun s’n, met ’n gordyntjie oor haar voorkop, en haar gesig was rond en bleek, met puisies. Sy het gesukkel om haar r’e reg te sê.
Ek het gewens ons het nooit na meneer Hansen toe gegaan nie. Maar Ma was só siek dat ons móés, en ek het geweet ek sou weer dieselfde gedoen het, as ek moes oorbesluit. Dit is altyd my troos: dat Ma ’n dokter nodig gehad het, en dat ons nie anders kon nie.
Ek het juffrou Hanekom geïgnoreer, en nie verder na haar geluister nie. “Het die dokter vir Ma medisyne gegee?” het ek die verpleegster gevra.
“Ja …” het sy gesê, en die botteltjie moes weer opgetel.
“Dit sal nie help nie,” het ek gewaarsku. “Linda sal nie nog eet nie; as sy klaar is, is sy klaar.” Al wat sy nou nog sou eet, en ek het dit amper vir haar gesê, want ek het van haar gehou, is chips. Dit is haar lieflingskos.
“Én hy het vir haar ’n inspuiting gegee,” het sy gesê, “en ek sal môreoggend weer kom, en haar kom was en gemaklik maak.” Sy en Linda het nogal na mekaar gelyk; ’n mens sou kon dink sý is haar ma.
“Luister,” het juffrou Hanekom weer gesê, “ons het nog nie klaar gepraat nie …”
“Ons het,” het ek byna vir haar geskree, “of het jy miskien al gehoor van ’n baba van twee wat die hele middag alleen in ’n woonstel kan bly, en vir haar kos maak, en, as dit donker word, self die lig aansit en uittrek en gaan slaap?”
Sy het haar vererg, en na meneer Van der Walt gekyk. Hy het geantwoord: “Wat sy in gedagte het, is dat jou ma dalk haar werksure kan verander as sy nie soggens so baie was- en strykgoed en skoonmaakwerk het om te doen nie. Dan kan sy, terwyl sy werk, die kleintjie in ’n bewaarskool laat bly en vroeër huis toe kom.” Hy het rustig gepraat, en nie so opgewonde soos sy geklink nie. Maar hy het ongelukkig gelyk. “Dit sal vir haar gesondheid beter wees,” het hy gesê, “en julle kan vir haar kom kuier, net soos ander kinders wat op kosskool is.”
Ek was seker daar moet iets wees wat ek kon doen. Soos byvoorbeeld, om hulle te vra om weg te gaan en nooit weer terug te kom nie. Maar dit het nie so uitgewerk nie. En my hart was nie daarin nie; ek weet nie wáár my hart toe was nie.
Almal was stil. In ’n ander woonstel het ’n radio hard gespeel.
“Jou ma het seker baie swaar gekry,” het die verpleegster sag gesê. Sy het Linda se gesig en hande met die nat vadoek wat op die tafel gelê het, afgevee en nie na my gekyk terwyl sy praat nie. “Sy is net vel en been.”
Dít het my gekry. Ek het probeer onthou of Ma maer of vet was, maar al wat ek kon onthou, was haar oë. Hulle is donkerbruin, baie donker, en aan haar oë kan ’n mens altyd sien wat sy dink.
“Dit is moeilik vir jou,” het meneer Van der Walt gesê – en ek kon sien hy bedoel dit, “maar jy is baie volwasse; jy sal kan verstaan dat julle nie so kan aanhou nie.”
“Waarheen sal ons moet gaan?” het ek na ’n lang ruk gevra. As dit dan móét. Ek het na hóm gekyk vir ’n antwoord.
“Ek wil dit so probeer reël dat julle al vier na dieselfde plek toe gaan, sodat julle nog bymekaar kan wees. Ek wil St. Andrew’s probeer; die kinders wat ons daar het, is almal gelukkig. En die meeste van hulle het ook ouers – een, of albei – wat hier in die Kaap rond woon.”
“En dit sal jou ma niks kos nie,” het juffrou Hanekom weer uit haar beurt uit gesê. Nie ek óf hy het haar geantwoord nie. Maar ek was lus om vir haar te sê sy kan haar geld hou.
“Julle sal selfs partykeer oor ’n naweek vir haar kan kom kuier,” het meneer Van der Walt belowe.
“Maar eers later,” het sy hom weer in die rede geval, “of sy kan na julle toe kom.”
“Weet Ma?”
Die verpleegster het vinnig geantwoord: “Laat haar vandag eers uitrus, dan kan julle môre met haar daaroor praat. Moet dit ook nie met die kleintjies bespreek voordat sy daarvan weet nie.”
Gelukkige Mita. Gelukkige Hester. Gelukkige Georgie. Maar met hom het ek ’n fout gemaak, het ek kort daarna agtergekom.
“Sy het nooit gekla nie,” het ek gesê en gewonder, toe ek dit klaar gesê het, waarom ek daaroor praat asof dit verby is. Ek wou haar verdedig en ek het nie geweet hoe nie.
“Dis reg,” het meneer Van der Walt gesê, “maar nou moet julle háár ’n slag in ag neem, nou is dit júlle beurt om nie te kla nie.”
Ek kon niks sê nie. Hy het opgestaan, en met sy hand aan my skouer geraak. “Môremiddag sal ek en juffrou Hanekom weer kom, dan kan ons verder daaroor praat.” Ek het bly sit. Hy het agter my stoel kom staan. “Ek is jammer, Josias,” het hy weer gesê, en nog ongelukkiger geklink as vantevore.
Hy en juffrou Hanekom is daar uit. Hulle het die deur laat oopstaan en ek het gehoor hoe hulle met Mita en Hester op die treetjies praat. Toe ek Hester hoor lag, het ek vir die eerste keer weer aan die Sirkus gedink. Ek het my lam geskrik. “Hoe laat is dit?” het ek die verpleegster gevra.
Ma het die horlosie van Pa eers later toe ons weg is, vir my gegee; sy het dit eers self gedra. Die verpleegster s’n was aan ’n ketting, onderstebo vasgesteek teen haar bors. “Halfvyf,” het sy gesê.
Ek het agter die man aan die treetjies afgehardloop; hulle was al amper onder toe ek hulle inhaal.
“Sal ek nog by die Sirkus kan aanbly?” het ek hom gevra. Hy het verbaas gelyk. Ek dog hy verstaan nie. “Die Jeugsirkus,” het ek gesê. “Weet meneer daarvan?”
“Natuurlik,” het hy gesê, “gesonde buitemuurse aktiwiteite word altyd aangemoedig.” Dit het geklink of hy ’n toespraak hou. Maar toe word hy weer mens: “Ons stuur julle nie trónk toe nie, Josias.”