Читать книгу Woorde is soos wors - Rona Rupert - Страница 8

Vyf

Оглавление

Hester wou nie met my saamkom nie, ek moes haar soontoe sleep. Sy was bang vir meneer Hansen en het weer begin huil toe ek aan sy deur klop.

Hy het die deur op ’n skrefie oopgemaak en gesukkel om ons raak te sien. Hy het nie sy bril opgehad nie. Dit het gelyk asof hy geslaap het en nog nie heeltemal wakker was nie.

“Wat is dit?” het hy gevra.

“Mamma gaan dood!” het Hester gesnik, en harder gehuil.

“Nee, meneer Hansen,” het ek vinnig gesê, want ek was bang hy verstaan verkeerd en bel die polisie, “sy is baie siek; sy praat nie meer met ons nie. Kan meneer asseblief die dokter laat kom?”

Hy het dadelik anders gelyk en die deur wyer oopgemaak. Hy het ons ingenooi, tot by die potplant in die gang. “Wag hier vir my,” het hy gesê, “ek trek net gou my skoene aan.” Toe hy terugkom, het hy sy bril ook op, en hy het ’n appel in sy hand gehad wat hy vir Hester gegee het. “Toe maar nou,” het hy vir haar gesê, en vir my het hy begin uitvra oor Ma se siekte.

Terwyl ek hom van die waterpokkies vertel, en van Ma wat nie antwoord as ons met haar praat nie, het ’n papegaai in ’n kou op die eetkamertafel die hele tyd aangehou met vra: “Waar’s die pos? Waar’s die pos?”

Meneer Hansen het die kou aan ’n haak in die gang opgehang en saam met ons na ons woonstel toe gegaan.

Ons woonsteldeur het oopgestaan en Mita en Georgie het op die treetjie vir ons sit en wag. Hy het hulle skaars raakgesien.

Ek het hom deurgeneem na Ma toe. Hy het haar net een kyk gegee. “Ek gaan bel die dokter,” het hy gesê, en weer by Mita en Georgie en Hester verbygeskuur, sonder om iets te sê. Hester het langs hulle gaan sit.

“Hy sien ons nie eens raak nie,” het Mita gesê.

Hester het self die eerste hap uit haar appel gebyt, en dit toe rondgestuur, sodat almal daarvan kon kry. “Maar vandag is hy anders,” het sy gesê.

Voordat die appelstronkie wat Georgie op die trapportaal van die onderste verdieping gegooi het, bruin was, was die dokter daar. Ek het hom na Ma toe geneem. Hy was skaars by haar, toe roep hy my. “Waar werk jou pa?”

Die vraag wat ek haat. “My pa is in die Transvaal,” het ek gesê. Of in Durban. Of in Port Elizabeth. Maar daardie dag het ek gesê: in die Transvaal. Ek het dadelik geweet hy weet.

“Het jy sy adres?” het hy gevra. Hy het in sy sak na iets gesoek en nie na my gekyk nie, waaroor ek bly was.

“Nee,” het ek gesê.

Hy het twee telefoonnommers op ’n stukkie papier geskrywe wat hy uit sy sakboekie geskeur het, en dit vir my gegee. “Gaan vra die opsigter om asseblief hierdie nommers te skakel,” het hy gesê.

Kort daarna het ’n verpleegster opgedaag. Hester het by die voordeur gaan staan, en haar dopgehou. “Is sy baie siek?” het sy gevra toe sy die kans kry.

Die verpleegster het met haar geglimlag. “Sy is,” het sy gesê, “maar sy sal weer gesond word. Jy kan maar gaan speel. Bly net hier onder rond, dan kan ek julle roep as ek julle nodig het.”

“Nodig het waarvoor?” het Mita gevra.

“O,” het sy gesê, en ek kon sien hoe sy soek na ’n rede, “sommer, ek weet nie …”

Die meisies was daarmee tevrede, en hulle is die trappies af, maar nie Georgie nie. Hy het geweier om van die deur af pad te gee. “Ek bly by Ma,” het hy gesê, en bly sit. Hy was só bleek en beslis dat die verpleegster nie eens met hom probeer redeneer het nie. Ek het besluit om hom geselskap te hou.

Kort nadat die verpleegster daar aangekom het, is die dokter weg. Ek moes hom gaan wys waar die opsigter se woonstel is. Daar het hy my gegroet en gesê hy kom die volgende oggend weer. Hy het gewag totdat ek die treetjies begin klim het voordat hy aan meneer Hansen se deur geklop het.

Toe het ek geweet iets is aan die kom, maar ek kon nie dink wát nie. Ek het weer by Georgie gaan sit, en my bekommer oor die sirkusoefening. As die verpleegster weg is, kan ek ook gaan. Dit is gelukkig nog vroeg genoeg, het ek gedink, net solank ek teen drie-uur daar wegkom.

So het ek sit en dink toe ’n man en ’n vrou die treetjies opkom, en na ons deur aangestap kom. Hulle het vir ons geknik en geklop. Die verpleegster het hulle ingenooi en die deur tussen hulle en ons toegemaak.

“En nou?!” het ek vir Georgie gevra. Ek het gevoel asof iemand my iewers op my bors ’n hou gegee het. “Ek dink ek moet die meisies gaan roep,” het ek gesê.

Maar voordat ek kon, het die verpleegster my kom roep. “Ons wil iets met jou bespreek,” het sy gesê.

“En Georgie en die meisies?”

“Ek wil na Ma toe gaan,” het Georgie gesê.

“Jy kan maar,” het sy gesê en sy oor geknyp, “en die meisies kan maar nog speel.”

Hy is by Ma in die kamer in, en sy het my aan die ander twee voorgestel. “Juffrou Hanekom,” het sy gesê, “en meneer Van der Walt.”

Juffrou Hanekom het langs die tafel gesit met Linda op haar skoot. Sy het vir haar uit ’n botteltjie iets pienks en papgedruk gevoer. Ek het gewonder waar sy dit gekry het, en wat sy sou gesê het as sy weet wat Linda alles eet. Sy lyk soos ’n slaappop wat sal breek as sy val, maar eintlik is sy taai, én slim.

“Ons wil met jou gesels,” het meneer Van der Walt gesê.

Aan sy stem kon ek hoor dat hy nie eintlik wou nie. Ek het na hom gekyk. Hy het ’n dikraam-bril gedra, en sy hare was kort geknip en baie glad gekam, die bietjie wat hy gehad het. Ek het gedink ek sou van hom kon hou, as ek hom op ’n ander plek leer ken het.

“Sit,” het hy gesê. Ek het regoor Linda en juffrou Hanekom gaan sit.

Toe begin hulle my uitvra: Waar is my pa? Ons is nie heeltemal seker nie, het ek gesê, hy het nog nie weer laat weet nie. Hoe lank gelede is hy weg? Toe ek tien was, net nadat Linda gebore is. Ek het daaraan gedink hoe Ma hom altyd verdedig en ook, soos sy, begin sê dit is net ’n kwessie van tyd voordat hy terugkom; maar hulle het nie na my geluister nie. En toe het ek kwaad geword en begin wonder hoe ek hulle by die huis kon uitkry, maar ek kon aan niks dink wat ek kon doen nie.

Meneer Van der Walt het ongemaklik gelyk. “Verskoon my dat ek vra,” het hy gesê, “maar waarvan lewe julle?”

“Ma werk smiddae en saans by ’n viswinkel,” het ek gesê, “dan sorg ons vir Linda.” Linda het sonder waarskuwing, soos haar manier is, die volgende lepeltjie pienk moes netjies uit die juffrou se hand geklap.

Ek kon haar seker gewaarsku het. Linda maak altyd so as sy genoeg gehad het. Laat hulle vir hulleself sorg, het ek gedink.

Juffrou Hanekom het Linda vir die verpleegster aangegee en opgespring om haar trui te probeer skoonvee. En terwyl sy so met die nat vadoek in haar hand staan en vee voor haar bors, sê sy: “Dink julle nie dit sal julle ma help as julle vier groter kinders in ’n koshuis gaan bly nie?”

Woorde is soos wors

Подняться наверх