Читать книгу Woorde is soos wors - Rona Rupert - Страница 7
Vier
ОглавлениеDenis het my die Woensdagoggend net na elfuur by die hospitaal kom oplaai.
“Tóé,” het dokter Slabbert op sy laaste rondte gesê, “erken nou maar dat dit lekker was hier!” Dit was, op ’n snaakse manier.
Meneer Murdock, wat op die bed die naaste aan myne gelê het, het gesê, toe ek hom groet: “Sien, jy het die jeug aan jou kant, jy kan al huis toe gaan. Maar ek gun jou dit. Ek het my beurt gehad.”
Die vorige aand het die besoekers sy bed toegestaan. Hy was baie trots daarop. “Nege, altesaam,” het hy later gespog, “en almal familie.” Elkeen het vir hom iets saamgebring. Toe hulle weg is, het hy links en regs koek en vrugte uitgedeel, vir ons, en vir die verpleegsters ook.
“Onthou net, u mag nie daarvan eet nie,” het die suster hom herinner.
“Moenie bekommerd wees nie,” het hy gesê en vir haar ooggeknip. Maar sy het rede gehad om te wees, want daardie nag het hy baie pyn en nagmerries gehad, en hy het so in sy slaap gekerm, dat die stil man in die hoek later sy klokkie gelui het en by die nagverpleegster daaroor gekla het.
Denis het vir my een van sy hemde saamgebring wat groot genoeg was om oor die gips aan te trek, en een van my heel langbroeke.
Halfeen het Georgie en die ander kleintjies van St. Andrew’s uit die skool gekom. Die matrone het my kom roep. “Kom eet saam met hulle,” het sy gesê, “dan kan jy en Georgie by mekaar sit.” Gewoonlik eet ons apart.
Hy het my nie daar verwag nie. Toe hy my sien, spring hy my amper om. “Georgie!” het ek gekeer, want ek was verleë, omdat hy begin huil het, en Georgie huil nooit nie. “Wat is dit met jou?” het ek hom gevra. Ek was dankbaar dat die ander wat gewoonlik saam met my eet, nie daar was vir die performance nie.
“Kyk hoe lyk jou arm!” het hy vir my gesê.
“Dis niks.” Ek het hom langs my laat sit. En toe ons ons kos kry, het ek hom gevra, net om hom te laat bedaar: “En wanneer het jy toe weer teruggekom?”
Sy gesig het dadelik anders gelyk. “Ek het nie teruggekom nie. Hulle het my teruggebring.”
“Ek sal nog met jou daaroor moet raas,” het ek gesê. “Wanneer was dit?”
“Maandagaand, dink ek,” het hy gesê.
Ek het niks verder gevra nie. As Georgie sy lippe so op mekaar knyp, laat hy hom van niemand dwing om te praat nie. Ek het na hom gekyk, en onthou hoe die wind hom eendag weggewaai het toe ons nog almal by die huis gewoon het.
Ma het Georgie kafee toe gestuur om ’n brood te gaan koop. Ek het waterpokkies gehad – ek het daarmee begin – en die meisies was al twee verkoue. Die suidoos het hom dié middag glo regtig van die sypaadjie af tot in die straat gewaai. ’n Man wat dit sien gebeur het, het hom opgetel en in sy motor huis toe gebring. Dit het geklink asof hy met Ma wou raas: “Mevrou moet hom liewer by die huis hou as die wind so waai,” het hy gesê. “Hy kon raakgery gewees het.”
Ma het hom bedank. “Baie dankie vir die moeite, meneer, ek waardeer dit.” Maar toe hy weg is, het sy Georgie styf teen haar vasgedruk en gesê: “Volgende keer moet jy éérs die brood koop.”
Daardie aand het ons nie brood vir ete gehad nie. En die volgende dag het Mita en Hester ook uitgeslaan, en ’n dag later Linda, die baba. Net Georgie het nooit waterpokkies gekry nie. “Die wind het dit daardie aand weggewaai,” het Ma gesê, “dit was sy geluk.”
Ma sien altyd die blink kant. Selfs oor Pa. “Hy het seker maar moeg geword vir die gesukkel,” het sy gesê toe Mita eenkeer die moed bymekaargekry het om haar te vra, “daarom is hy weg. Maar eendag is eendag, dan kom hy hier aan met ’n motor met vier deure waarin ons almal kan ry, en met ’n beursie vol geld in sy sak. En dan sal hy sê: ‘Ek het na julle verlang.’”
“Wat-gaan-jy-eerste-vir-jou-koop-as-Pa-kom?” het een van ons geliefkoosde speletjies geword. Skoene met hoë hakke, sê Mita. ’n Fiets, sê Hester. ’n Perd, sê Georgie. ’n Huis, sê ek. Dan het Ma altyd gewaarsku: “In die huis sal julle almal moet help aan die kant maak!”
Maar ek het altyd geweet dit is net ’n speletjie. Ek is darem nie meer sewe soos Georgie, of agt-en-’n-half soos Hester, of elf soos Mita, of twee soos die baba nie; al speel ek saam. Ek glo nie meer alles wat ek hoor nie. Maar ek dink Ma glo dit nog partykeer.
As Ma nie toe ook – toe ons al almal daarmee klaar was – waterpokkies gekry het nie, het ons miskien nog by haar in Dundonaldstraat gewoon. Maar dit help nie om so daaroor te dink nie. Ek het nie eens in die hospitaal iemand so siek soos sy sien lyk, toe sy dit gehad het nie.
Die middag toe ek van die skool af kom, het ek geskrik, want sy het ons skaars gegroet. “Eet julle maar,” het sy gesê. Haar stem was droog en dik; ek kon skaars verstaan wat sy sê.
Wát om te eet, was die vraag. Al wat daar in die huis was, was ’n halwe winkelgesnyde brood waarvan die snye begin omkrul het. In die kombuiskas was ’n oop blik waatlemoenkonfyt met miere in, en ’n toe blik gemaalde ingelegde vis. Die melk was suur.
Gelukkig het Linda niks nodig gehad nie, want sy het agter Ma se rug gelê en slaap. Dit was net ek en Mita en Hester en Georgie wat moes eet. Ek het die brood en die vis deurmekaar gemaak en in die pan in olie probeer bak. Maar die koekies wou nie heel bly nie en ons het later die krummels met ’n lepel in ons borde geskep, en tamatiesous, wat Mita in die yskas gekry het, bo-oor gegooi. Dit was nogal lekker.
Toe ons klaar geëet het, het ons weer gaan kyk hoe dit met Ma gaan. Hester het begin huil. As ek ’n meisiekind was, sou ek ook gehuil het. Ma se hele gesig was vol blasies, en sy het nie geantwoord toe ons met haar praat nie. Ek onthou nog hoe ek gedink het: asseblief, Ma, moenie nóú so siek wees nie, ons begin dan vanmiddag oefen vir Junie se sirkusprogram, en as ek nie daar is nie, verloor ek my plek.
“Dóén iets, Sias,” het Mita gesoebat, “jy’s die oudste, jy moet wéét wat om te doen!” Ek het gewens ek hét geweet wat om te doen.
Ons woonstelblok is ’n ou gebou. Ons het ’n woonkamer en ’n slaapkamer en ’n badkamer en ’n klein kombuisie. Ons woon en eet in die woonkamer, en ek en Georgie het daar geslaap. Die meisies het by Ma en die baba in die kamer geslaap.
Ons woonstel, nommer 12 A, is die laaste een in die gang op die tweede verdieping, en ons weet skaars hoe die mense lyk wat in die een net langsaan ons woon. Hulle is omtrent nooit daar nie, of as hulle daar is, slaap hulle die hele tyd.
Die opsigter van die woonstel is ’n ou man, meneer Hansen. Hy het ’n groot rooi neus. Hy pes kinders wat op die trappe rondsit. Hy jaag ons altyd op, woonstel toe, of af, na die agterplaas toe.
Ma het nie kans gehad om mense te leer ken nie, want sy het elke middag by die viswinkel in Victoriastraat gaan werk. Dan het ons die baba opgepas. Saans het sy nooit voor nege-uur huis toe gekom nie, en soggens het sy huis aan die kant gemaak en die wasgoed gewas.
Ek het weer na Ma gaan kyk. Sy het baie stil gelê. Pa het ’n niggie wat in Kraaifontein woon, maar ons was laas nog saam met hom daar, het ek gedink; meneer Hansen was die enigste mens vir wie ek kon vra om ons te help.
Met voete wat sleep, is ek die treetjies af na hom toe. Ek het Hester met haar rooi gehuilde oë saamgeneem. As hy mý nie jammer kry nie, sou hy hom darem seker oor haar ontferm.